Tuesday, July 26, 2011

E-PREEK No.81 - HB 10:19-22 - LAAT ONS TOT GOD NADER

TERWYL DIE HEBREËRSKRYWER REEDS ETLIKE KERE KORTLIKS NA DIE PRAKTIESE IMPLIKASIES VAN SY LERING VERWYS HET (BV. 4:14-16), BEGIN HY VANAF 10:19 MET SY VOLWAARDIGE TOEPASSING.
Voordat hy in v.22 met direkte opdragte begin, herbevestig hy in v.19-21 net eers sy basis deur die voorafgaande lering kernagtig saam te vat. Hierheen het sy hele betoog gevoer! Hieroor gaan dit uiteindelik! Dis die spits, die hoogtepunt, die klimaks, die heel heerlikste van ons roeping. Ja, ons moet sendingwerk doen; en liefdesdiens. Ja, ja, 'n duisend dinge! Maar niks, niks, niks is belangriker as dankbare, aanbiddende liefdesgemeenskap met die Drie-enige nie. Dis die hart van Christen-wees.
Dit gaan nie net in die Hebreërboek hieroor nie. Die hele Bybel is vol hiervan. Kom ons kyk daarna.

Die Ou Testamentiese agtergrond

# Die Eerste Gebod gaan oor die Wie van ons aanbidding: ons moet die regte God aanbid! Maar dis nie al nie. Ons moet Hom ook op die regte manier aanbid. En daaroor handel die Tweede Gebod: oor die hoe van ons aanbidding.
God is Gees en wil in gees aanbid word - vanuit die innerlike mens, in opregtheid en in geloof [1].
Die Tweede Gebod (Eks 20:4-6; Deut 5:8-10) verbied die gebruik van allerlei hulpmiddels wat die noodsaak van aanbidding in gees en geloof onnodig maak. Dit verbied die inskuif van sintuiglik-waarneembare dinge tussen mens en God; dinge wat 'n direkte - noem dit maar, oop verhouding - met Hom verdring; dinge waarmee die mens in sy tyd-ruimtelike gebondenheid makliker mee kan identifiseer - dinge waarmee die natuurlike mens homself mee kan bluf dat hy die ware God aanbid.
En as die Tweede Gebod dit negatief stel, stel die Here Jesus presies dieselfde beginsel positief in Jh 4:21-24: "God is Gees; en die wat Hom aanbid moet in gees en waarheid aanbid" (v.24, OAV).

# Die vraag ontstaan nou onvermydelik waarom die Here dan soveel uiterlike seremonies tydens die Ou Verbond ingestel het?
God se volk was destyds soos kinders, en Hy het hulle as sodanig gehanteer. 'n Kind funksioneer grootliks op sy sintuie, eerder as volgens rasionele en logiese denke (daarom spreek prentjies so tot hom). Ou Testamentiese seremonies was soos prentjies. Dit het die essensiële waarhede oor God en Sy verlossingsplan aan hulle gekommunikeer.
Paulus verduidelik dit in Galasiërs.
Die seremoniële wette was soos 'n kinderoppasser wat tot en met die koms van Christus vir Israel moes bewaar van heidens-godsdienstige idees en praktyke (3:23-25).
Waarom het God hulle nie al destyds volwasse gemaak nie? Waarom moes daar so lank gewag word? Was die saligheid dan nie van die begin af deur die geloof nie? Inderdaad! Dis dan hoe Abraham gered is (3:6). Toe die seremoniële Wet 430 jaar later gegee is (3:17), het God nie bedoel dat die saligheid van toe af op 'n ander manier verkry moes word nie (3:21-22). Hierdie Wet is egter vanwee die sonde, die gebrokenheid en onvermoë van die mens gegee (3:19). As sodanig moes dit 'n hulpmiddel vir hulle geloof wees.
Hoe lank moes dit voortduur? Tot en met die koms van Christus, in die volheid van die tyd. Want dis aan Hóm, as die Saad van Abraham, wat die belofte van die nasies as erfdeel gegee is (3:16).
Toe Christus se versoeningswerk afgehandel is, kon die Heilige Gees gestuur word (Hd 2:33). En dis Hý wat die Godsvolk bo die vlak van kinders uitlig - wat hulle mondig maak, sodat hulle nie meer prentjies nodig het nie. Presies dit is Paulus se punt in Gl 4:1-7: Gelowiges is sedert die vervulling van die beloftes volwasse en het gevolglik nie meer die oppasser (die seremoniële wette) nodig nie.
En dis hiérdie werk van die Gees wat gelowiges nou toerus om God in gees te aanbid, dus vanuit 'n opregte hart en in geloof.

# God het van die begin af geen behae in seremonies, sondermeer, gehad nie. Reeds in die Ou Testament sê Hy dit meer as een keer (Jes 1: 11, 14; Amos 5:21).
Nodig soos dit inderdaad is, put die argitek van 'n pragtige gebou geen vreugde uit die steierwerk tydens konstruksie nie. Hy wag ongeduldig vir die dag as dit finaal gesloop gaan word en sy pragstuk in al sy glorie sal pryk. Net so het God geen finale behae gehad in die steierwerk van Ou Testamentiese seremonies nie.
Lees byvoorbeeld Jer 3:14-19. Die Verbondsark was die hart van die Seremoniële Wet - die simbool van God se heerlike teenwoordigheid onder Sy volk. Maar hier lees ons van God se verlange (v.19) na die dag dat Sy volk nie langer met simbole, selfs die heiligste van simbole, méér behep sal wees as met Hom nie. Nee, Hy wil Sy volk as "seun" hê, en hulle oorspoel met die lieflikste van erfenisse. En bowenal, Hy wil "Vader" genoem word deur mense wat deur absoluut niks van Hom af weggelok kan word nie (vgl. Gal 4:6-7!). Insiggewend, voorwaar!

Die aller Nuwe Testamentiese voorreg

# Die Hebreërskrywer het presies verstaan waarom dit gaan. Reeds in 4:14-16 skets hy die kroon van Nuwe Testamentiese voorregte. Dis waarheen God van die begin af met Sy volk oppad is! En uiteindelik het die dag nou aangebreek!
Wat het die deurbraak bewerkstellig? Wie het dit moontlik gemaak? Ons het 'n groot Hoëpriester wat deur die hemele deurgegaan het! Dis Hý wat die pad vir ons oopgemaak het om met vrymoedigheid voor die genadetroon te verskyn! Dis Hy! Dis Hy!

# Vanaf Hb 5:1 word die idee van hierdie volmaakte Hoëpriesterskap dan uitgewerk. Algaande beskryf die skrywer die ontwikkelingsgang van God se plan om deur die middelaarswerk van Christus vir Homself ware aanbidders daar te stel.

# Uiteindelik bring dit ons by hoofstuk 10.
Christus het goed verstaan waarom Hy na die wêreld toe moes kom. Die Ou Testamentiese offerdiens was alles uiterlik en voorlopig - en nie naastenby wat die Vader regtig wou hê nie. Nee, Hy wou Sy Seun se liggaam as offer hê! (10:5-10).
Hierdie offer was die eens en vir altyd afgehandelde fondament vir die vervolmaking van God se plan. Nou sou God se innerlike herskeppingswerk in Sy gunsgenote 'n werklikheid kon word - dit waaroor Jer 31 profeteer (10:12-18).

# Die onmiddellik daaropvolgende verse is nou glashelder: "Terwyl ons dan ... vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het, deur die voorhangsel heen, dit is Sy vlees, en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree ..." (10:19-22, OAV).

# Die ryk betekenis van die skeur van die voorhangsel (10:20) tydens die kruisiging (Mt 27:50-53; Mk 15:37-38), is ook nou glashelder.
Hierdie eeue-oue simbool van die mens se uitsluiting uit die allerheiligste, skeur aan flarde as die heel laaste Offer sterf - omdat die volmaakte en finale Hoëpriester dwarsdeur dit loop! Nooit, tot in ewigheid sal dit weer opgehang word nie. Seremoniële aanbidding - uiterlike en tydelik - is finaal iets van die verlede!
Meer nog. Dit skeur van bo na onder (Mt 27:51; Mk 15:38). Dis die Váder - jubelend en triomfantelik - wat dit skeur! Niks kan meer die opstanding en die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees verhoed nie. Na eeue kan God se kinders nou mondig word. Binne weke sal hulle Hom in gees en waarheid aanbid - soos nooit vantevore nie!

# Die grootsheid van hierdie saak kan nie oorbeklemtoon word nie!
Duidelik soos daglig is dit waarom bloot uiterlike godsdiens en seremonies sedert Golgota so afstootlik vir God is. Vormgodsdiens minag die Vader se ewige begeerte en plan, dit misken die afgehandelde werk van Christus, dit beledig die Heilige Gees, dit vertrap ons onbeskryflik heerlike erfenis in Christus.
Kan kerse en togas en kruise en wierook God behaag? Of 'n bloot meganiese, onnadenkende liturgie (al is dit teologies hóé suiwer)? Of simplistiese en sentimentele koortjies wat oor en oor gesing word ter wille van atmosfeer en belewing?

# Kan jy sien watter vreugde dit vir die Vader is as Sy kinders in hulle binnekamers, en veral ook in die gemeente, Hom in gees en waarheid aanbid - begripvol en opreg in die vryheid en volheid van hulle Nuwe Testamentiese erfenis? Sien jy waarom sulke aanbidding een van die tien pilare van die ware godsdiens is - en waarom die nalating daarvan so 'n vernietigende effek op die kerk het?

Hebreërs 10:22 nader bekyk

# "Laat ons tot God nader." Die Grieks beklemtoon die herhaalde en gebruiklike doen hiervan.
Wat beteken dit om tot God te nader? Volgens v.19 beteken dit "om in die heiligdom in te gaan". Dit is waar God is, waar Hy in Sy heiligheid woon. Meer spesifiek is dit om "na die troon van genade" te gaan (4:14-16). Dís waar die Vader Sy onverdiende guns aan Sy kinders uitdeel.
Dit gaan hier oor innige gebed, oor aanbidding.
En dit berus op Jesus Christus se volmaakte Hoëpriesterskap. Daarom is die pad oop - "die nuwe en lewende weg". Nie meer kan net die Levitiese hoëpriester eenmaal per jaar ingaan nie, maar elkeen in Christus - enige tyd enige dag, weer en weer, met die allergrootste vrymoedigheid!

# Hoe moet ons tot God nader?

* Die ware aanbidder het 'n opregte hart. Hy of sy is eerlik en sonder huigelagtigheid, skyn of selfbedrog.

* Die ware aanbidder nader die troon in volle geloofsekerheid - met 'n onwankelbare vertroue in die volkomenheid van Christus se middelaarswerk.

* Die ware aanbidder het nie meer 'n skuldige gewete nie. Hy het sy sondevergiffenis in die geloof omhels. Hy verstaan die gronde daarvoor.

* Die ware aanbidder se liggaam is gewas met skoon water. Feitlik vir seker gaan dit hier oor die waterdoop. Hy weet dus nie net dat hy vergewe is nie, hy het dit ook gehoorsaam, openlik, formeel en publiek bely volgens die Here se voorskrif.

Ware gebed en aanbidding is om nederig en afhanklik en afwagtend, in vrymoedige geloof, met my lof, dankbaarheid, behoeftes en voorbidding na my hemelse Vader in Sy heiligdom te gaan - in die wete dat ek met die Middelaar van die genadeverbond verenig is, en dat Sý verdienste die enigste, maar genoegsame grond vir hierdie voorreg is.

Ek het netnou verwys na die prioriteit van sendingwerk. Maar wat is die doel van sending? Om mense van die hel te red? Natuurlik! Maar die uiteindelike rede is veel groter. Dit gaan oor liefdesaanbidders in elke volksgroep op aarde!

[1] In Jh 4:21-24 bedoel Jesus nie in die eerste instansie met "aanbidding in gees" (OAV; NIV; ESV) aanbidding "deur die (Heilige) Gees" (NAV) nie, maar opregte hartsaanbidding.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment