Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.174 - LK 1:35 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [5 van 8] - Die Heilige Gees en Christus [1]

ONS HET REEDS GESIEN DAT OU TESTAMENTIESE PROFESIEË VOORSIEN HET DAT DIE KOMENDE KONING VOL SOU WEES VAN DIE HEILIGE GEES. EN SO WAS DIT INDERDAAD. Johannes stel dit só: "God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking" (3:34).
Dit lê dus voor die hand dat ons in diepte moet kyk na die Here Jesus se Geesvervuldheid - anders mag ons belangrike waarhede mis. So 'n studie dwing mens eerstens om behoorlik te dink oor die persoon van die Verlosser. En tweedens - in die lig van die noue verband tussen die Gees se inwoning in Hom en in Sy dissipels - onderstreep dit 'n aantal uiters belangrike en praktiese implikasies vir ons [1].

Enkele hoekpenne oor die Here Jesus as ten volle God én ten volle mens

Hy is die tweede persoon van die Drie-enige God. Hy is waarlik en ten volle God - ewig, onbegryplik, almagtig, alwetend en alomteenwoordig.
In die volheid van die tyd het Hy egter vrywillig na hierdie wêreld gekom en 'n menslike natuur aangeneem. Terwyl Hy ten volle God gebly het, het Hy ook ten volle mens geword. En so sal dit tot in alle ewigheid bly. Hy het Homself dus verneder ("ontledig" in Fl 2:7, OAV) en die vertoning en gebruik van Sy goddelike attribute tydelik opgeskort [2].
Die feit dat die goddelike en menslike nature in Christus onskeibaar is, beteken nie dat die twee nature vervloei nie. Dit moet dus steeds onderskei word. Die eenheid van die twee nature beteken nie dat die goddelike natuur goddelike eienskappe aan die menslike natuur verleen nie - dit vergoddelik dit nie. Ons moet dus nie in terme van 'n vermenging dink nie - asof Christus 'n nuwe soort wese geword het, minder as God, maar meer as 'n mens. Nee, Christus is en bly volledig en volmaak God, maar Hy is ook volledig en volkome mens.
Baie mense redeneer dat, aangesien Christus ook volledig God is, Hy nie die Heilige Gees nodig gehad het om Sy roeping te vervul nie. Dis nie wat die Skrif leer nie. Hy was in 'n staat van vernedering en na Sy menslike natuur voortdurend afhanklik van die Heilige Gees se werk.
Só volkome mens is Christus dat Hy moes opgroei van 'n baba tot 'n man; Hy is in elke opsig versoek, net soos ons (Hb 4:15); aan die kruis is Hy deur God verlaat (Mt 27:46). Dis waarom die Nuwe Testament oor en oor beskryf hoe die Heilige Gees in Hom gewerk het - van Sy ontvangenis af tot en met Sy verheerliking.

Die menswording

Die Heilige Gees het 'n wesentlik belangrike rol gespeel in die verbysterende gebeurtenis toe die tweede Persoon van die goddelik Drie-eenheid, met behoud van Sy goddelikheid, "mens geword en onder ons kom woon" het (Jh 1:14). Dis Hý wat Maria laat swanger word het - nie die Vader, of die Seun self nie. En allermins was dit Josef. Nee, die Gees het die saad van die lewe in die maagd se baarmoeder geplant - geheimenisvol.
Mt 1:18 sê: "Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom." En Lk 1:35: "Die engel antwoord haar: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek'".
Dit beteken nie dat die ander twee Persone van die Drie-eenheid onbetrokke was by die Seun se menswording nie. Feitlik alles wat God doen, is trinitaries van aard. Maar dis ewe waar dat twee van die Persone dikwels déúr die derde werk - in hierdie geval deur die Heilige Gees.
Die Vader se rol in die menswording word in Hb 10:5 só beskryf: "Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het.'" Hierdie betrokkenheid van die Vader het waarskynlik te doen met Sy soewereine vaslegging van die plan om die Seun volledig te laat mens word en verlossing van sondaars deur Hom te bewerkstellig.
Die Seun se rol is ook uiters belangrik. Hy het Homself volledig en aktief gegee vir Sy missie van vernedering en middelaarskap. Dit was 'n vrywillige en bewustelike handeling. Die apostel stel dit só in Fl 2:6-7: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word."
Die Heilige Gees se werk in die vleeswording was onder meer ook noodsaaklik om Christus se sondeloosheid te verseker - wat natuurlik 'n voorvereiste was vir die Seun se verlossingswerk. Wat Dawid van homself gesê het, geld sonder uitsondering van elke mens: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang" (Ps 51:7, OAV). Daarteenoor was die Here Jesus "... heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars ..." (Hb 7:26, OAV).
Alle mense het onontkombaar - te wyte aan hulle verbintenis met die hoof van die ou mensheid, Adam, en sy sondeval - deel aan die erfsonde. Hierdie aangebore toestand het twee komponente: die erfskuld, wat elke mens strafwaardig voor God maak, selfs voordat hy of sy self in staat is om te sondig; en die erfsmet, oftewel die verdorwenheid en geneigdheid tot sonde, wat elke mens maar te goed in homself ken en rondom hom waarneem. Indien God nie in Sy soewereine genade ingryp nie, neem die erfsonde sonder uitsondering in elke lewe sy vernietigende loop - totdat dit in die ewige dood uitmond.
Deur die Heilige Gees se werk tydens Sy ontvangenis is Christus hiervan gevrywaar. Daar was geen natuurlike band tussen Hom en Adam nie. Hy het as die nuwe Adam gekom - die lááste, trouens - om Hoof van God se nuwe mensheid te wees. In Hom het God met 'n nuwe skepping begin (Rm 5:12-21; 1Kor 15:45-49).
Ja, Hy was inderdaad volledig en waarlik mens - maar uitgesonderd die sonde (2Kor 5:21; Hb 4:15; 1Pt 2:22). Hoewel Hy in elke opsig versoek is, net soos ons, was Hy die Lam - vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek (1Pt 1:19).

Die Here Jesus se groei

Konserwatiewe Christene is soms geneig om die Here Jesus se mensheid te verwaarloos - in reaksie teen 'n ongeloofsteologie wat Sy godheid wil ontken en van Hom net 'n uitsonderlike mens probeer maak. Maar ons moet kompromieloos vashou aan sowel Sy volkome mensheid én Sy volkome godheid.
'n Fassinerende openbaring in die Skrif - wat beklemtoon hoe volkome Hy mens was - is die feit dat die kind, Jesus, moes groei: geestelik, intellektueel en emosioneel.
Soos enige kind het Hy opgegroei: "Die Kindjie het gegroei en sterk geword ... En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei ..." (Lk 2:40, 52).
Hy moes dus deur al die stadiums van menslike ontwikkeling vorder. Hy was 'n pap babatjie wat Homself nie kon help nie. Hy moes leer sit, kruip, loop en praat. Hy was 'n tiener. Sy stem het gebreek; Hy het baard gekry. En hoewel Hy sekerlik 'n merkwaardig begaafde kind was (Lk 2:46-50), moes Hy soos alle kinders leer en ontdek en ontwikkel. Dis interessant dat Lukas Jesus in 'n enkele hoofstuk (Lk 2) agtereenvolgens 'n baba (brephos; v.12, 16), 'n kind (paidion; v.40), en 'n seun (pais; v.43) noem.
Ewe betekenisvol is die feit dat Jesus geestelik gegroei het: "... Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom ... en (Hy het) in guns by God en die mense toegeneem" (Lk 2:40, 52).
Dit lê voor die hand dat bogenoemde groei te doen gehad het met Jesus se menslike natuur; nie met Sy goddelike nie. En hierdie groei - ten minste Sy geestelike groei - moes onder begeleiding en met die bekragtiging van die Gees geskied het.
Hoewel daar nie eksplisiete Nuwe Testamentiese uitsprake is wat bogemelde stelling bevestig nie, sinspeel Jesaja wel daarop in een van sy Messiaanse profesieë: "'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here" (11:1-2).

Mateloos vol van die Gees, maar tog nodig om te groei?

Die vraag ontstaan hoe 'n mens hierdie twee feite in Jesus se lewe met mekaar moet rym. Die antwoord lê daarin dat 'n baba wel onder volkome heerskappy van die Gees kan wees, maar tog nie die gepaardgaande vrug tot uitdrukking kan bring nie. Die heilige natuur was dus latent in Hom, maar kon slegs manifesteer soos die vermoëns waardeur dit tot uitdrukking moes kom, ontwikkel het. Daarom sê Hb 5:8-9: "Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword."

'n Slotwaarheid

As mens besin oor die Skrifwaarhede wat so pas aangesny is, besef jy baie gou dat dit feite is wat jy net in die geloof kan vasgryp. Maar dit moet ons sê van alles in God se verlossingswerk, nie waar nie. Laat ons onthou: "... sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag ..." (Hb 11:6). Laat ons dus hierdie waarhede oor die Here Jesus in ons harte glo tot regverdiging en met die mond bely tot redding (Rm 10:10).

1. Ons sal drie of vier e-preke wy aan die werk van die Heilige Gees in die Here Jesus. 'n Behoorlike preek bestaan uit sowel Skrifuitleg as praktiese toepassing van die betrokke Skrifopenbaring. Maar in hierdie geval gaan dit beter werk as ons eers twee e-preke wy aan die Bybelse gegewens, voordat ons aan die implikasies daarvan aandag gee.

2. By gebrek aan 'n formele Afrikaanse vertaling, volg hieronder 'n Engelse vertaling van die belydenis van die Konsilie of Sinode van Chalcedon (451 n.C.). Sedertdien word dit as die regsinnige formulering van die Bybelse leer oor die persoon van Christus aanvaar deur die Katolieke, Ortodokse en Protestantse strominge: "Herefore, following the holy fathers, we all with one accord teach men to acknowledge one and the same Son, our Lord Jesus Christ, at once complete in Godhead and complete in manhood, truly God and truly man, consisting also of a reasonable soul and body; of one substance with the Father as regards his Godhead, and at the same time of one substance with us as regards his manhood; like us in all respects, apart from sin; as regards his Godhead, begotten of the Father before the ages, but yet as regards his manhood begotten, bearer; one and the same Christ, Son, Lord, Only-begotten, recognized in two natures, without confusion, without change, without division, without separation; the distinction of natures being in no way annulled by the union, but rather the characteristics of each nature being preserved and coming together to form one person and subsistence, not as parted or separated into two persons, but one and the same Son and Only-begotten God the Word, the Lord Jesus Christ; even as the prophets from earliest times spoke of him, and our Lord Jesus Christ himself taught us, and the creed of the fathers has been handed down to us."

No comments:

Post a Comment