Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.171 - HD 19:2 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [2 van 8] - Enkele oriënterende opmerkings

ONS LEEF IN 'N TYD VAN KERKLIKE ONKUNDE EN BABELSE VERWARRING OOR DIE PERSOON EN WERK VAN DIE HEILIGE GEES. Voordat ons dus met 'n Bybelstudie oor die derde Persoon van die goddelike Drie-eenheid as Groot Gawe van die Nuwe Testamentiese bedeling begin, is dit nodig om eers 'n paar oriënterende hoekpenne in te kap.

Onkunde en skeeftrekking

Baie mense - veral lidmate van die ou protestantse denominasies - wat hulleself sonder huiwering Christene noem, sal in hul eerlike oomblikke omtrent dieselfde antwoord oor die Heilige Gees moet gee as die klompie dissipels in Efese: "Ons het nie eens gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie" (Hd 19:2, OAV). En as gesprekke in dié rigting loop, raak hulle benoud. Die onbekende bedreig hulle. Hulle los liewers die onderwerp tussen die bladsye van die Bybel. Die tragiese resultaat is kerklike armoede, stagnasie en dood.
Tog, aan die ander kant, word die 20ste eeu - veral die laaste kwart daarvan - eerder gekenmerk deur 'n wydverspreide en selfs koorsagtige belangstelling in die Heilige Gees. Dit geld veral die gawes van die Gees, oftewel die charismata. Die Pinkster en Charismatiese Bewegings het die aangesig van die wêreldwye kerk waarskynlik permanent verander. Ongelukkig het hierdie strominge grootliks losgebreek van die historiese Christelike geloof en is hulle vandag meermale draers van ernstige skeeftrekkings en selfs dwalinge, wat sowel leer as praktyk betref.
Ons het hier met die gevolge van die tradisionele kerke se onbetaalde rekening te doen. Hulle nalating in lering en praktyk moes noodwendig tot 'n reaksie lei, maar helaas swaai die pendulum dikwels deur tot ketterse uiterstes.

Die geskiedenis

In die geskiedenis van kerk en teologie is die Heilige Gees dikwels verwaarloos. Die 16de eeuse Reformasie het egter besondere stukrag verleen aan die bestudering en bewussyn van die Heilige Gees se persoon en werk. Die reformatore het daarop aangedring dat die sleutel tot insig in God se Woord nie in die institusionele kerk en sy priesterskap lê nie, maar in die verligtende werk van die Gees. Met krag het hulle verkondig dat redding nie voortvloei uit priesters se bediening van die bloedlose offer van die Mis nie, maar uit die Gees se toepassing van Jesus Christus se offer aan die kruis. En die herontdekking van die soewereine aard van God se verlossingsgenade het die Heilige Gees en Sy werk weer midde in die kerk se prediking geplaas. Want as die gevalle mens dood is in sy sonde en alles afhang van God se vrye inisiatiefneming - soos die Bybel uitdruklik leer - beteken dit dat die verwerkliking van redding totaal afhanklik is van die Gees se werk.
Hoewel dit helaas waar is dat die reformatore se nageslag dikwels skuldig gestaan het aan verwaarlosing van die Heilige Gees en Sy werk, geld dit nie vir die reformatoriese belydenisskrifte nie. So het die 1689 Baptiste Belydenis - die konfessie wat ek persoonlik onderskryf - byvoorbeeld in sy 32 kernagtige hoofstukke ongeveer 80 verwysings na die Heilige Gees. En sekerlik is dit betekenisvol dat die twee grootste studies ooit oor die Gees en Sy werk uit die penne van gereformeerde teoloë verskyn het: John Owen (1616-1683) en Abraham Kuyper (1837-1920).

'n Verhewe en belangrike studie

Daar is minstens 2 redes waarom ons in diepte na hierdie onderwerp moet kyk.
Eerstens is dit 'n fundamentele Skriftema, en daar kan geen sprake wees van 'n gespierde geloofslewe sonder 'n behoorlike greep daarop nie. Per slot van rekening is dit ons hoogste roeping om God te ken. En afgesien daarvan dat die Heilige Gees die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid is, is Hy ook die oorsprong en instandhouer van my geestelike lewe. Sonder Hom sou ek steeds geestelik dood gewees het. En sonder Hom kan geeneen van die wesenstrekke van egte Christenskap 'n werklikheid in my word en bly nie.
Tweedens moet ons 'n behoorlike onderskeidingsvermoë ontwikkel as ons nie saamgesleur wil word deur die talle hedendaagse dwalinge nie. Midde in die honderde aansprake op bonatuurlike geesteswerkinge is daar maar één manier om koersvas op koers te bly: weer en weer terug na die onfeilbare norm - die algeheel betroubare en onfeilbare Woord van God!
Dit kan nie oorbeklemtoon word dat ons nooit op subjektiewe ervaringe en belewinge durf bou nie. Hoe kan ons regtig weet waar die oorsprong daarvan lê: in onsself, iets - of iemand! - anders buite ons, of in die Heilige Gees? Die Woord alleen is 'n onwankelbare fondament. Aangesien die Drie-enige God soveel groter as ons is, en in dimensies leef waarvan ons nie eers weet nie, kan ons Hom net ken in soverre Hy Homself aan ons openbaar. Ja, outentieke ervaringe is ook 'n manifestasie van God, maar hoe weet ons dis eg - anders as om dit aan die Skrif te toets?

Twee eensydighede

Mens kan meer van die Heilige Gees ervaar as wat jy van Hom weet. Dit was die tipiese in Nuwe Testamentiese tye. Gewoonlik het nuwe Christene eers die Heilige Gees ontmoet, en dan later die betekenis daarvan begryp. Die apostels was egter nie tevrede voordat Christene behoorlike lering ontvang het nie. Ook in Nuwe Testamentiese tye was daar baie dwalinge en vals aansprake op geesteswerkinge - en, soos nou, was deeglike kennis noodsaaklik om die egte en die namaaksel te onderskei.
Mens kan meer van die Heilige Gees weet as wat jy van Hom ervaar. Dit geld veral vandag vir sommige mense - met die massas inligting wat vrylik beskikbaar is. Hierdie eensydigheid is veel gevaarliker as eersgenoemde. Ons studie mag dus nooit sonder voortdurende toepassing wees nie. Dit moet ons help om toe te neem in praktiese belewing van 'n egte gemeenskap met die Gees.

Die Gees verheerlik Christus

Hierdie is die mees fundamentele maatstaf vir die beoordeling van dit wat daarop aanspraak maak dat dit die werk van die Heilige Gees is. Waar Christus die gekruisigde nie in die middelpunt is nie, waar Hy nie verheerlik word nie, kan gebeure en ervaringe so verstommend wees as wat dit wil, maar dis nie die Heilige Gees se werk nie.
Op hierdie sentrale aspek van die Heilige Gees se werk sal ons vorentoe in besonderhede insak, wanneer ons na die Here Jesus se lering in die bovertrek kyk. Maar intussen is dit belangrik om te onthou dat iemand wat die Heilige Gees in sy denke, oortuigings en lewenspraktyk verwaarloos, Christus nooit behoorlik kan ken nie. En sonder die Gees kan ons ook niks met koninkryksgewig en ewigheidsbetekenis uitrig nie. Christus werk deur Sy Gees, en sonder Hom kan ons niks doen nie.

Die Gees werk deur die Woord

Die Heilige Gees werk in alles wat Hy doen normaalweg deur die Woord (Jh 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23). Al wat mens daarvan weerhou om te sê dat Hy áltyd so werk, is 'n ontsag vir Sy soewereiniteit, asook die wete dat Hy soms in uitsonderlike situasies (soos op sendingfronte en in herlewings) los van die Skrif werk. Maar selfs dan werk Hy altyd in volkome harmonie daarmee. Dit is egter nooit vir ons om sulke uitsonderlike werkinge van die Gees te soek of te probeer bewerkstellig nie. Dit sou 'n onfeilbare resep vir misleiding wees. Soiets is die soewereine prerogatief van God die Heilige Gees alleen.
'n Vergelyking van die parallelle Skrifgedeeltes, Ef 5:18-19 en Kol 3:16, is betekenisvol. Paulus gebruik de Gees en die Woord uitruilbaar - asof hy nie aan die een sonder die ander kan dink nie.
Ons mag dus nooit Woord en Gees skei nie. Sonder die Gees is die Woord geslote; sonder die Woord is alles wat daarop aanspraak maak dat dit werkinge van die Gees is, onkontroleerbaar en dus altyd onder verdenking. Ons durf nooit die heldere definisie en vredevolle sekuriteit van God se Woord los om te gaan ronddwaal in die skemerwêreld van subjektiewe menslike indrukke, opinies en spekulasies nie! Die skemerwêreld van belewingsbeheptheid en geestelike sensasie lê besaai van die wrakke van mense, gemeentes en bewegings wat deur die eeue hulle heil dáár gesoek het.

Menslike verantwoordelikheid

Soos met ons hele erfenis in Christus is ook die inwoning en werk van die Heilige Gees 'n soewereine gawe van God. Dit hef egter nooit ons verantwoordelikheid op nie. Ek moet God se Groot Gawe aktief in die geloof omhels. Ek moet dit, nee, Hóm, met ywer en toewyding soek. En ek moet dit wat ek wel ontvang soos 'n kosbare kleinood bewaar en uitleef (vgl. onder meer Lk 11:5-13; Ef 4:30; 5:18 vv; 1Ts 5:19).

Ondeurgrondelike, soewereine God

Ons mag nooit vergeet nie dat die Heilige Gees die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid is. Daarom moet ons omgang met Hom, asook met waarheid oor Hom, altyd deur eerbiedige skroom beheers word. Tog moet ons persoonlike verhouding met Hom altyd in kinderlike eenvoud, vrymoedigheid en geloof geskied.
Die Skrifopenbaring oor die Gees is diepsinnig en geheimenisvol. Sekerlik moet ons dit ondersoek, orden en formuleer, maar altyd met beskeidenheid en in nederigheid. Oor Hóm kan mens beswaarlik anders as met stamelende lippe praat.
Die Gees is soewereine God. Ons kan Hom dus nooit manipuleer nie. Sy handelinge is nie sonder meer voorspelbaar nie. Ons staan nie met Hom in 'n meganiese oorsaak-gevolg verhouding nie. Soos die wind, waai Hy waar Hy wil (Jh 3:8).

Verantwoordelike omgang met die Woord

Dis noodsaaklik om heel eerste vanuit die Ou Testament en Evangelies die nodige fondamentstene in plek te plaas. In hierdie verband is die Evangelie van Johannes, en in die besonder die Here Jesus se lering die aand voor Sy kruisiging, van die allergrootste belang. Meeste dwalinge oor ons tema het in die verlede uitgemasel omdat mense direk met Handelinge, 1 Korintiërs en ander Nuwe Testamentiese gedeeltes begin werk het, sonder om eers die hoekpenne in te slaan wat die Skrif self vir ons gee.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment