Sunday, April 14, 2013

Mt 3:1-17; 11:7-15; Jh 3:22-4:3 - DIE DOPER EN DIE DOOP

"WIE MOET GEDOOP WORD EN OP GROND WAARVAN?", is 'n vraag waarmee die kerk al vir eeue worstel. Die doop is egter die oortjies van die seekoei. Daaronder lê onder meer die kwessie van kerkbeskouing. Bestaan die kerk net uit gelowiges, of uit gelowiges én hulle kinders? En hierdie vraag hou weer verband met die verhouding tussen die Ou Verbond en die Nuwe.
    Dat daar sterk kontinuïteite tussen die Ou en die Nuwe Verbond is, staan vas. Maar wat van die diskontinuïteite? Hoe radikaal is die verskille? In die Ou Testament was die kinders deel van die verbondsvolk, soos hulle besnydenis getuig. Geld dit ook in die Nuwe Testament? Of is die verskil sodanig dat mens nie meer kan sê dat Christene se kinders vanself deel van die gemeente is nie. Het die kinderdoop die besnydenis vervang of nie?
    Kardinaal belangrike lig op die kwessie van die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond word gebied deur die werk en prediking van Johannes die Doper. Dit loon oor en oor die moeite om behoorlik daarna te kyk.

'N REUSEFIGUUR

❏    Gewis is dit betekenisvol dat al 4 Evangelies met Johannes die Doper se prediking afskop ‒ as iets van 'n voorwoord tot die Here Jesus se publieke bediening.

❏    Ook die apostels het kennelik 'n hoë dunk gehad van die openbaringshistoriese betekenis van Johannes se werk as wegbereider van die Messias (Hd 10:37; 13:24).
    Opvallend is dat die apostel in eersgenoemde uitspraak spesifiek Johannes se dóóp as die beginpunt van alles beskou.

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat die vroeë kerk Johannes se optrede beskou het as die waterskeiding tussen die ou bedeling van belofte en die nuwe bedeling van vervulling in Christus.
    'n Betekenisvolle uitspraak kry ons in Mt 11:7-15 (gelees). Dit lei tot 'n paar belangrike afleidings:

    •     Die Ou Testamentiese profetiese boodskap bereik sy klimaks in Johannes se optrede. Hy is die grootste van die profete. Hy is trouens meer as 'n profeet. Al die profete het gesê dat die Messias sou kom, maar Johannes kon sê dat Hy inderdaad gekom het: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Jh 1:29).

    •     Hoewel sy geskiedenis in die Nuwe Testament opgeteken is, is hy in werklikheid nog deel van die Ou Testamentiese bedeling. Die koninkryk kom ná sy optrede en die kleinste in die koninkryk is groter as hy. Dis asof hy wydsbeen staan ‒ een voet in die bedeling van verwagting, een voet in die bedeling van vervulling. Hy gee as 't ware die fakkel van God se openbaring en verlossingsplan oor aan die Here Jesus Christus.

    •     Johannes die Doper se optrede en prediking is dus die skarnierpunt tussen twee bedelings, twee epogte. Niemand met enigsins 'n geheelbeeld op die Skrifopenbaring , sal die geïntegreerde deurlopendheid tussen die Ou en die Nuwe verbond geringskat nie. Maar ewe belangrik is dit om die radikale diskontinuïteit tussen die oue en die nuwe te verreken. Inderdaad kan ons praat van twee bedelinge wat weliswaar onderling verbonde is, maar tog ook totaal verskillend is. Dis beloftes wat vervul is ‒ en die vervulling is veel heerliker as wat die beloftes ooit kon suggereer. Skaduwees het tot substansie oorgegaan!
    Nêrens word dit kragtiger beklemtoon as in die boodskap van Hebreërs nie. Só stel die skrywer dit byvoorbeeld in 8:13: "Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn" (vgl. v.7-13).

❏    Dus, onontkombaar: Johannes se optrede en prediking in die Bybelse openbaring was kardinaal belangrik en koersveranderend.

UITSTAANDE KENMERKE

❏    As Johannes dan so 'n belangrike figuur is, en as hy nie verniet die Doper genoem word nie, moet ons aanvaar dat die lig wat hy op die doopkwessie laat skyn in vele opsigte rigtinggewend is.

1.    Johannes begin met iets radikaal nuut (Vgl. Mt 3).
Die Doper roep die Israel van sy dag dringend op tot bekering in die lig van die naderende koms van die Koning uit die hemel. In God se boord lê die byl al teen die wortels van dié bome wat nie die vrug van bekering dra nie. Die Here se skop waarmee Hy die koring en die kaf op Sy dorsvloer gaan skei, is reeds in Sy hand. Nie langer gaan die onheilige vermenging van eg en vals wat die Ou Testamentiese verbondsvolk gekenmerk het, voortduur nie. En daar is net één manier om die vuur van God se oordele vry te spring: sondebelydenis en bekering, verseël met 'n waterdoop. Van nou af gaan die Godsvolk net bestaan uit bekeerde en gedoopte mense wat nie skaam is om hulle openlik en formeel by die Koning te skaar soos Sy wegbereider voorskryf nie!
    Die ou bedeling is verby; God begin op 'n nuwe manier werk. Dis Jode wat hier opgeroep word om hulle af te skei van volksgenote wat nie die verbond uitleef nie. Afstamming van Abraham is nie genoeg nie; al wat tel, is bekering. Dis besnedenes wat hier gedoop word!

2.    Jesus identifiseer openlik met die nuwe koers wat ingeslaan word.
Jesus is besny. En Hy het geen sonde om te bely nie. Daar is niks om afgewas te word nie. Tog dring Hy daarop aan om gedoop te word ‒ deur een wat nie werd is om sy skoene vas te maak nie. So is dit God se wil! Waarom? Daar kan net een rede wees: Jesus skaar Hom openlik by die bekeerde oorblyfsel ‒ diegene vir wie Hy reddend gekom het. Meer nog, Hy wys vir hulle die pad aan. Só sal dit van nou af in Sy koninkryk wees.

3.    Jesus sit Johannes se dooppraktyk voort.
As Jesus Sy publieke bediening begin, gaan ook Hy voort met bediening van die bekeringsdoop. En dis kennelik nie vir Hom 'n randsaak nie: Hy maak en doop meer dissipels as Johannes (Jh 4:1). Dit ontstel die wegbereider egter nie; inteendeel. Dis die Vader wat die mense na Sy Seun toe laat stroom (Jh 3:27). Die Bruidegom moet immers meer word (3:30). Só sal dit van nou af in die koninkryk van God werk!
    Betekenisvol is die mededeling dat die Here Jesus self nie gedoop het nie, maar Sy dissipels dit laat doen het (Jh 4:2). Waarom? Hulle is besig met opleiding!

RADIKAAL NUUT OP GOD SE GESAG

❏    Mt 21 werp bevestigende lig op ons onderwerp. Die Joodse leiers vra vir Jesus wie Hom die gesag gegee het om die vorige dag die handelaars uit die tempel te dryf (12-13; 23). Met Sy wedervraag plaas die Here hulle dan in 'n lastige dilemma: waar het Johannes die gesag gekry vir sy bekeringsdoop? Sê hulle dit was van God, moet hulle verduidelik waarom hulle hul nie onderwerp aan Johannes se boodskap nie. Sê hulle dit was menslike voorbarigheid, kom hulle in die moeilikheid by die volk wat Johannes sterk aanhang (24-27).

❏    Twee dinge blyk uit hierdie gesprek:
    Eerstens: Johannes het gesag uit die hemel gekry ‒ om 'n nuwe koers in te slaan. Dit was 'n nuwe hoofstuk in die ontwikkeling van God se verlossingsplan.
    Tweedens: Die gesprek gaan eintlik oor Jésus se gesag. Deur dus na Johannes se gesag te verwys, koppel Hy Homself en Sy werk aan die Doper. Hulle twee loop hand aan hand; hulle is beide deur die Vader gestuur.

ENKELE GEVOLGTREKKINGS

❏    Johannes se doop is nie, soos die besnydenis, 'n teken van toetrede tot die nasionale volk van Israel nie; dis 'n teken van toetrede tot die Koning se volk. En dis iets totaal anders.
    Álle seuntjies in Ou Testamentiese Israel moes besny word ‒ selfs slawe wat vanuit die heidendom aangekoop is (Gn 17:12-13). Dit verskil dus radikaal van Johannes se "doop van bekering tot vergifnis van sondes" (Mk 1:4, OAV) ‒ wat in die koninkryk waar daar nie meer man of vrou is nie aan beide geslagte bedien moet word (Gl 3:28).
    Só het die vroeë kerk dit verstaan. Vir seker het die apostels nie vir die Joodse Christene geleer dat die babadoop in die plek van die besnydenis gekom het nie. Want hulle het steeds voortgegaan om hulle seuntjies te besny. En hulle het baie sterk daaroor gevoel. Hd 21:17-24 sê dat die Joodse gelowiges in Jerusalem knorrig was vir Paulus toe hulle verneem het dat hy Joodse bekeerlinge in die verstrooiing geleer het om nie meer hulle kinders te besny nie. En onthou, dit gebeur omtrent vyf-en-twintig jaar ná Pinkster.
    Waarom het Joodse Christene hulle babaseuntjies besny, maar nie gedoop nie? Hulle het in die spore van Jesus en Sy voorganger geloop. Hulle het verstaan dat die nuwe verbond 'n nuwe teken van toetrede het: "die doop van bekering tot vergifnis van sondes."

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat Johannes ‒ met sy kompromielose aandrang op sondebelydenis voor die doop ‒ afgesien het van die Ou Testamentiese beginsel van "jy en jou nageslag". En hierin volg Jesus en Sy dissipels die Doper na.
    Om nou daarop aan te dring dat die beginsel van "jy en jou nageslag" weer ná die Here Jesus se hemelvaart in plek geskuif het, is algeheel onhoudbaar. Dwarsdeur die Bybel het God se openbaring 'n voortgaande en ontwikkelende karakter. Die openbaringsgeskiedenis is lineêr, dis progressief en kumulatief, dit maak nie allerlei jakkalsdraaie nie!

❏    Waarom doop Paulus die dissipels van Johannes in Efese dan weer? (Hd 19:1-7). Daar is 'n reuse inhoudsverskil tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. In die paar dekades tussen die twee gebeurtenisse het enorme stukke Godsopenbaring bygekom. Van die kruis en die opstanding het die Doper nie geweet nie ‒ en dit lê aan die hart van die Christelike doop. Maar dat die Christelike doop op die openbaringshistoriese verlengingslyn van Johannes se doop lê, is so duidelik soos daglig.

❏    Is dit verbasend dat die Nuwe Testament soos die graf swyg oor die doop van babas? Dit kan nie anders nie. Die evangelies se eerste hoofstukke berei ons reeds daarop voor. Die openbaringshistoriese reus, Johannes die Doper, verduidelik vir ons waarom dit so is: die doop is vir hulle wat hulle bekeer, hulle sonde bely, en die Koning uit die hemel omhels. Die burgers van Sy koninkryk is hulle wat in nederige afhanklikheid hulle kruis opneem en Hom volg. Sy gemeente bestaan uit die wat met 'n bruidsliefde hulle lewe aan Hom wy.

❏    Sekerlik red die doop nie. In Sy genade red God mense wat nie aan al Sy voorskrifte hou nie. Maar allermins gee dit ons 'n vrypas om Sy duidelike bevel in die wind te slaan. In elk geval gaan dit nie ten diepste om jou en my redding nie; dit gaan om die Here se eer. En wat verheerlik Hom meer in hierdie wêreld as 'n kerk wat waarlik kerk is?

❏    Beteken dit dat die Here Sy rug op ons kinders gedraai het? Allermins! Maar soos alle mense moet ook húlle die koninkryk binnegaan soos die Here Jesus en Sy voorganger ons leer.
                                                                                                              Nico van der Walt
                                                                              E: nico.vanderwalt@reformed.org.za

Sunday, March 31, 2013

E-PREEK No.243 - Mk 16:6 - JESUS CHRISTUS SE OPSTANDING - persoonlik, histories, liggaamlik

Een van die waarhede wat die Skrif in lesers se harte wil ingrafeer, is dat Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood. Wat 'n triomfantelike vers is Mk 16:6 nie: "Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie!"
    Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit saam met die kruisiging keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Hd 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Lk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasies in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Hd 1:21-22).
    In die briewe kom die opstanding gereeld ter sprake en die betekenis daarvan word haarfyn uitgewerk. Gewis het die apostels in 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding geglo en daarvan getuig  -  en dit saam met kruis en Pinkster as die essensie van die evangelie beskou.

Waarom so belangrik?

Daar is veral 3 redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus waarlik opgestaan het  -  en waarom Christene deur die eeue dit so glo en preek.

●    Dit is die onomstootlike bevestiging van die Here Jesus se persoonlike aansprake.
Sonder blik of bloos het Jesus dikwels verbysterende aansprake gemaak. Hoeveel maal het Hy nie gesê dat Hy die Seun van God en God die Seun is; dat Hy vervulling van Ou Testamentiese profesieë is; en dat Hy die wêreld se Regter is nie?
    Sou hierdie aansprake nie wáár wees nie, is niks wat Hy ooit gesê het werklik betroubaar nie, allermins Sy beloftes. Hoe kan ons weet dis waar?
    Op aarde is Sy aansprake deur talle asemrowende tekens en wonders bevestig. En dit moes beslis Sy dissipels gehelp het in hulle geloof.
    Maar dan word Hy gekruisig en sterf! En almal twyfel. Is dit die einde van net nóg 'n versteurde se grootheidswaan? Die Emmausgangers het byvoorbeeld hiermee geworstel: "Ons het so gehoop dat dit Hý is wat Israel sou verlos" (Lk 24:21).
    Op die derde dag gebeur die grootste en finaalste van alle tekens egter! Dit is presies wat Hy lank tevore belowe het (Jh 2:18-22). Sy opstanding was die onbetwisbare bevestiging van Sy hemelse gesag en sending. Die Emmausgangers verstaan dit as hulle Hom herken. En hulle hardloop al die pad terug Jerusalem toe  -  12 km  -  net om te gaan vertel: Hy is presies wie en wat Hy gesê het Hy is!
    Ja, ja, ek weet ons was nie daar om die wonders en die opstanding te beleef nie. Ons moet bloot glo! Dankbaar is ek vir die woorde aan  Tomas: "Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo."

●    Dit is die onfeilbare waarborg dat Sy middelaarswerk deur die Vader aanvaar is.
Is daar regtig vir my versoening gedoen? Kan ek regtig die dood met vertroue tegemoet gaan? Die Nuwe Testament antwoord duidelik: As jy in Christus ingevlug het, vir seker! Waarom? Hy het opgestaan!
    Die Jode het eeue gewag vir die Messias. Ten spyte van die volk se aanvanklike opgewondenheid oor Jesus, raak hulle algaande ontnugter, want Hy vestig nie die nuwe politieke bedeling wat hulle verwag het nie. Die kruisiging, teken van God se vervloeking (Dt 21:23), is dan die laaste strooi. Tog, as hulle Hom spottend uitdaag om van die kruis af te kom (Lk 23:35-36), sit daar nog 'n sprankie hoop in. Sou Hy nie dalk op hierdie dramatiese oomblik met 'n goddelike kragtoer kom nie? Maar Hy sterf!
    Die opstanding is egter God se uitverkiesende handeling. Dít is die Vader se proklamering dat die Seun Sy reddingsmissie volmaak voltooi het (Rm 1:4; Hd 17:31). Alle eise van geregtigheid is bevredig  -  die uitverkorenes is onomkeerbaar losgekoop!
    Sonder die opstanding het ons geen versekering gehad dat Christus se werk enige gewig by God dra nie  -  maar nou staan dit vaster as die berge!

●    Dit is Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van ons verlossing.
Terwyl die regsbasis vir die uitverkorenes se verlossing finaal daargestel is aan die kruis, word die uitwerk daarvan eers met hulle heerlikmaking voltooi. Met hierdie werk bly Christus steeds besig.
    Hoe werk Hy hier op aarde uit wat uitstaande is? Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees! (Hd 2:32-36). Die Nuwe Testament is vol hiervan.
    As Profeet is Hy Here van die oes, wat werkers in die oes uitstuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig (Mt 9:36-38). As Priester tree Hy vir ons by die Vader in, ten einde ons in volkomenheid in (Gr) te red (Hb 7:25; vgl. ook Jes 53:12; Rm 8:34; Hb 9:24; 1Jh 2:1). As Koning regeer Hy oor ons, onderwerp Hy Sy vyande en oordeel Hy hulle (Hd 17:30-31; 1Kor 15:24-28; Ef 1:20-23).
    Elke Christen weet die Here moes sterf sodat mense gered kan word, maar hoeveel besef dat dit net so noodsaaklik was dat Hy weer moes léwe!
       
Sonder die opstanding - alles tevergeefs

In 1 Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (v. 14,17). Vernietigend sou die implikasies vir ons geloof wees.

    •    Die apostels se prediking was dan sonder inhoud en gevolglik tevergeefs (v.14). Hulle navolgers  -  tot vandag toe  -  het dan 'n leuen geglo en 'n dooie verlosser vertrou.

    •    Ons geloof was dan tevergeefs (v.14). Die hand waarmee ek weer en weer na Christus gryp, het dan net lug gegryp. Die wedergeboorte waarvan ek getuig, was dan net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, absoluut futiel!

    •    Ons was dan nog gevangenes van ons sondes (v.17). Dan was ek steeds geestelik dood en in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel  -  en steeds onder die toorn van God (Ef 2:4-10).

    •    Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore wees (v.18). Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!

●    "Wag!", protesteer iemand. "Ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van, byvoorbeeld, die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste voort in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid."
    So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (1Kor 15:19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood, nl.  verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, en beërwing van die ewige saligheid!
    Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons!" (v.32).
    Kennelik het sy Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!

Die historisiteit van die opstanding

Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan  -  persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
    Daar is meer hieroor te sê, maar ek hou by die Bybelse argument. Honderde mense het die opgestane Christus gesien, en wanneer die apostels daarvan getuig, leef die meeste van hulle steeds  -  om die egtheid en betroubaarheid van die apostoliese getuienis te bevestig (1Kor 15:5-8).
    Natuurlik leef die apostels vandag nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte, waarvan die historiese outentisiteit bo alle twyfel vasstaan.

Wat beteken die opstanding van Christus vir my lewe hier en nou?

●    Party teoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
    Daar was wel 'n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  -  tussen kruis en opstanding. En hulle was die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina! Die oomblik toe hulle egter besef  dat Hy opgestaan het, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedrykste lewens ooit te leef.
    Herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  -  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het!

●    Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort  -  met ingrypende, ervaarbare en waarneembare effekte!
    Wat is die aard van hierdie effekte? Paulus werk dit o.a. in Rom 6 en Ef 1:19-2:7 uit.
    In Rom 6 sê hy dat die gelowige nie net saam met Christus gekruisig is nie, maar dat hy ook saam met Hom opgestaan het. En wat is die gevolg? Hy kán eenvoudig nie in sonde volhard nie, maar lei 'n nuwe lewe (v.4), 'n lewe van heerskappy oor sonde.
    Ons kan eenvoudig nie daarvan wegkom nie:  'n Ware Christen se lewe is ánders as die van die ongelowiges  -  en dit het enorme getuieniswaarde.
   
Wat beteken Christus se opstanding vir my in die hiernamaals?

●    As ek in Christus is, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding!
Volgens 2Tim 1:10 het die Here deur Sy opstanding die mag van die dood verbreek. En 1Kor 15:20-23 verseker ons dan dat daar 'n onbreekbare band is tussen Sý opstanding en die opstanding van diegene in Hom (vgl. ook Rm 8:11).
    Sy opstanding en ons opstanding is bloot twee fases van een en dieselfde proses  -  die vervolmaking van God se nuwe mensheid: Hy, die Eersteling, en Sy gemeente wat mettertyd volg!

●    As ek in Christus is, sal die Vader my aanvaar soos Hy Sy Seun aanvaar het.
    Almal sal opstaan en vir ewig leef (Jh 5:28-29), maar nie almal sal aanváár word nie. Vir diegene in Christus is daar egter geen veroordeling nie, maar heerlike liefdesaanvaarding!
    In Rm 8:31-34 daag Paulus as 't ware die hele wêreld uit om Saulus die moordenaar skuldig te bewys. Sy argument kom hierop neer: Wie sal my veroordeel met só 'n Middelaar? Ek het in Hom ingevlug; ek skuil in Hom; ek is met Hom verenig deur die geloof. Wat van Hom waar is, is van my waar! Wie my skuldig wil bevind, moet Hóm eers skuldig bevind. Nee, vir God se verwerping vrees ek nie. Hy het my Plaasvervanger se offer aanvaar; Hy het dit bekragtig deur Hom op te wek  -  gewis sal Hy my ook opwek en aanvaar!

Is Christus se opstanding sentraal in jou diepste oortuigings (net soveel soos die kruis)? Is Sy opstanding die hoeksteen van jou salige hoop?
                                                                                                         Nico van der Walt


*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.  
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.     Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

Friday, March 29, 2013

E-PREEK No.250 - JH 19:28-37 - DIT IS VOLBRING!

Vandag is Goeie Vrydag. Ons dink met dankbaarheid terug aan Jesus Christus se kruisiging, toe Hy die ewige dood wat ons verskuldig was, namens ons ondergaan het.
    Ten diepste is dit waarom Hy mens geword het  -  Hy het gekom om te kom sterf. Ja, ja, Hy het vir ons gewys hoe om te leef  -  dwarsdeur Sy openbare bediening het Hy vir ons geleer hoe lyk 'n lewe wat Hom behaag en verheerlik. Maar dit was ondergeskik aan Sy eintlike motivering en doel. Ek sê weer, Hy het gekom om te sterf.

●    Wat ek nou wil doen, is om aan te toon dat Christus se kruiswerk absoluut genoegsaam is vir die redding van die heel ergste sondaars wat hierdie wêreld ooit gesien het. Maar, natuurlik, dan moet so 'n sondaar sy algehele vertroue in die verdienste van Christus stel, sonder om enigsins op enige eie-verdienste staat te maak.
    Eers dan, en niks vroeër nie, skuif die hele kwessie van gehoorsaamheid en goeie werke in die prentjie in. Ek beklemtoon dit só, omdat daar so baie kerkmense is vir wie Christenskap feitlik uitsluitlik gaan oor 'n lewe van goeie werke en  godsdiens.  'n Duisend maal, nee! Jesus Christus het nie bloot gekom om ons voor te gaan in binne-wêreldse moraliteit nie, uiters belangrik  -  lewensbelangrik!  -  soos dit is. Maar hieroor het ons dit nie nou nie.
    Nee, Hy het gekom om te sterf!

Jesus se enkelhartige gerigtheid

●    In Mt 20:28 sê die Here Jesus self vir ons waarom Hy na hierdie wêreld toe gekom het: om "Sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

●    Die Here se wonderlike publieke bediening van barmhartigheid en goeie werke was alles 'n voorspel tot Sy uiteindelike verwerping, veroordeling en finale teregstelling. Sy kruisdood was die klimaks en hoofonderwerp van die goeie nuus, oftewel die evangelie. Oor en oor vertel die Evangelieskrywers hoe die Here Jesus, veral tydens die laaste maande van Sy bediening, Sy dissipels op die hart gedruk het dat die eintlike doel van Sy koms na hierdie wêreld toe was om te kom sterf.

    •    Onmiddellik na die uiters betekenisvolle moment, as Petrus namens die dissipels bely, "U is die Christus, die Seun van die lewende God" (Mt 16:16), sê Hy in al drie die Sinoptiese Evangelies: "Van toe af het Jesus dit duidelik vir Sy dissipels begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly ... en dat Hy doodgemaak moet word ..." (Mt 16:21; Mk 8:31; Lk 9:22).

    •    Net hierna lees ons dat Hy op die berg van verheerliking met Moses en Elia oor Sy "uitgang" praat (Gr. exodus) wat Hy "in Jerusalem sou voltooi" (Lk 9:31). En kort daarna sê Hy dit nogeens vir Sy dissipels (Mt 17:22-23; Mk 9:31; Lk 9:44).

●    Mens kan dit verstaan dat die dissipels Sy woorde nie kon begryp nie. Volgens hulle sou dit die mislukking van Sy sending beteken. Want in hulle agterkoppe was nog altyd die verwagting dat Hy in daardie dae Sy koninkryk hier op aarde gaan oprig. Selfs ná Sy opstanding het hulle steeds vir Hom gevra, "Here is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?" (Hd 1:6).
    Mens kan verstaan, dat Jesus moes sterf, was sekerlik vir hulle ondenkbaar en verwarrend. Maar, uiteraard, toe die Evangelies jare later geskryf is, het hulle al goed begryp waaroor alles gegaan het.

●    As Jesus se onwrikbare gerigtheid dan was om
met Sy versoeningsdood die uitverkorenes as ewige bruid vir Hom los te koop, moet die vervolmaking van ons erfenis in Hom mos ook óns enkelhartige passie wees  -  naamlik die ewige heerlikheid saam met Hom as Sy bruid. Dit móét tog, nie waar nie!
    Luister na Hb 12:1-3: "... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ... Hou Hom voor oë ..."

Ou Testamentiese Messiaanse profesieë

●    Eintlik moes die Here Jesus se gerigtheid nie 'n verrassing vir Sy dissipels gewees het nie. Die Ou Testament is immers vol profetiese vooruitskouings na die komende Messias en Sy lyding.

    •    Reeds direk na die sondeval reageer Adam in die geloof op God se belofte (Gn 3:20). Hy noem sy vrou "Eva":  lewegewer (Hb). Daarmee bely hy sy geloof dat sy vrou die grootmoeder gaan word van die lewendes  -  en veral van die Saad wat die slang se kop gaan vermorsel  -  díé Lewende (Gn 3:15).
    God aanvaar Adam se geloofshandeling. Hy maak vir hulle velklere (21). Daarvoor moet Hy diere slag  -  waarskynlik 'n vooruitwysing na die komende offerstelsel, wat weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord "versoening" beteken immers om te bedek.

    •    Sentraal in die offerdiens was die boodskap dat die dood van 'n plaasvervangende offer  -  wat God self sou voorsien  -  in die volheid van die tyd versoening tussen Hom en Sy volk sou bewerkstellig.

    •    Dan was daar die talle Messiaanse profesieë. Van hulle is geeneen meer duidelik as die Kneglied van Jes 52:13-53:12 nie. En let op hoe uitdruklik Sy plaasvervangende lyding uitgespel word en dat Hy die sondes van baie op Hom sou neem (53:4-6, 12).

Die apostoliese prediking

Die Here se kruisdood om vir Hom 'n bruid los te koop, en Sy opstanding, was die hart van die apostoliese prediking.
    Net 'n enkele voorbeeld of twee. In 1Kor 1:23 skryf die apostel: "... maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin...".
    En dan in die volgende hoofstuk: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde" (2:2).

Dit is volbring!

●    Die Here word dan inderdaad buite Jerusalem gekruisig. En net voordat Hy finaal sterf, roep Hy die mooiste woord in die ganse Bybel uit: "Tetelestai!" (die sesde kruiswoord  -  Jh 19:30). Dit beteken: "Dit is volbring!", maar in Grieks is dit 'n enkele woord.
    Kom ons besin kortliks oor hierdie uitroep.

    •    Die werkwoordstyd is die perfektum, wat in Grieks nie net wil beklemtoon dat die werk waarvoor Hy gekom het, afgehandel is nie, maar veral ook dat die gevolge daarvan vir altyd sal voortduur.

    •    Hierdie is dus nie die weeklaag van iemand wat oorwonne boedel oorgee nie. Dit is die dankbare jubeling van Een wat weet dat die taak waarvoor Hy gekom het triomfantelik afgehandel is en dat dit vir altyd so sal bly. Niemand  -  ook nie Satan en sy hordes demone  -  kan Sy werk ongedaan maak nie.

    •    Die talle Ou Testamentiese Messiaanse profesieë is almal vervul  -  behalwe natuurlik die wat moet wag vir die Koning se terugkoms. Die tipes en skaduwees en beeldspraak van Ou Testamentiese godsdiens word finaal soos vergeelde ou dokumente weggesluit in God se kluis van vergetelheid.

    •    Niks, maar niks, is uitstaande nie. Die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid wat Sy vader van elke mens vereis voordat hy of sy gered kan word, is in Hóm vervolmaak. God se wet is vervul. En die vloek vir oortreding daarvan is namens dermiljoene lewens vanuit alle eeue en nasies gedra.

    •    Die pad na die ewige saligheid saam met hulle hemelse Bruidegom, is finaal en permanent oopgestoot vir elke begenadigde van God. En geen valhek sal ooit daar opgerig word nie.

    •    Waarlik, hierdie is die hoogtepunt van Johannes se evangelie  -  indien nie van die hele Bybel nie! Die enigste uitsondering is dalk die oomblik van Christus se opstanding.

Ten slotte

Nou mag daar tog mense onder ons wees wat wonder of Jesus se kruisdood werklik alles afgehandel het  -  mense wat wonder of jy nie tóg darem iets van jou kant af moet bydrae nie. Daar mag mense wees wat wonder of ons nie dalk te veel van Jesus se uitroep, "dit is volbring!", maak nie. Per slot van rekening is daar so ontsaglik baie op die spel vir 'n mens, dat jy eenvoudig nie kan bekostig om hier 'n fout te maak nie.
    Vir seker moet ons hierdie dinge glo  -  net gló  -  as ons gered wil word. Maar tog kom die Vader sulke Thomasse tegemoet. En is ons nie maar almal twyfelaars nie? Hoe doen Hy dit?

●     As die Here Jesus die laaste asem uitblaas, skeur die voorhangsel in die tempel  -  van bo na onder. Hoe kom dit ons kleingeloof tot hulp?
    Eerstens, die feit dat dit van bo na onder skeur, sê vir ons dat dit God self is wat dit skeur.
    Tweedens maak dit die pad na die allerheiligste oop  -  die woonplek van God alléén tot op daardie moment. Net die hoëpriester kon eenmaal per jaar met 'n offer daar ingaan. Nou egter is dit oop vir elke kind van God om toe te tree  -  net wanneer hy wil.

●    Dat hierdie 'n geweldige moment is, blyk uit die feit dat die aarde skud en die rotse uitmekaar bars. En baie gelowiges wat dood was, word opgewek  -  om daarmee te toon dat die dood van Jesus as die Middelaar die opstanding van diegene wat deur 'n ware geloof vir altyd met Hom verenig is, onomkeerbaar waarborg.

●    Net 'n laaste versekering. Die eeue-oue Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal, sluit wonderlik vertroostend af. Psalm 22:23-32 beskryf die verlossingsvreugde en ewige sekuriteit van God se begenadiges. En dan eindig die Psalm, wat begin met "My God, my God, waarom het U my verlaat?", met 'n enkele Hebreeuse woord  -  vertaal met, "Hy het dit gedoen!" (OAV).
    En dan kom die Septuaginta  -  die Griekse vertaling van die Ou Testament  -  eeue later, maar tog ook meer as twee eeue vóór die Here Jesus se kruisdood, en vertaal hierdie enkele Hebreeuse woord met 'n enkele Griekse woord: "tetelestai!".

●    Waarlik, versoening deur Christus se gestorte bloed aan die kruis, sal steeds die hart van die evangelienuus bly, die skerp punt van alle ware prediking, die tema van die verordeninge van doop en nagmaal, en die inhoud van ons lofprysing   -  tot in ewigheid. Soos Op 4 & 5 dit stel: Die ouderlinge, en die lewende wesens, en tienduisende maal tienduisende engele, en alle skepsele in die hemele en op aarde, sal die Lam se lof besing: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie." En die hele skepping sal uitroep: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
                                                                                                             Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.     Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

Sunday, February 17, 2013

E-PREEK No.32 - EKS 33:7-34:10 - DIE WESE VAN DIE EWIGE LEWE [2]

VEERTIEN RIGLYNE VIR DIE PAD ONDERWEG NA DIE LEWE WAT WARE LEWE IS.
1.    Ek moet verstaan dat ek geen hoër roeping het as om die kennis van God na te jaag nie.
    Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV).
    Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."
    Die Westminster Shorter Catechism, v&a 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."

2.     Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel.
    Dit lê aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34). Dis waaroor dit gaan: ons 'n volk vir Hom, Hy 'n God vir ons.

3     My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die  Gewer, en nie bloot Sy gawes nie!
    Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?

4    God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.
    Enersyds is die mensgeworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus Christus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God."
    Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!
    Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).

5    Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.
    Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring  -  die natuur  -  gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik  -  die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het. Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet.
    Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid  -  veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond  -  bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).

6    Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie.
    Dis immers tydens gebed dat ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.
    Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

7.     Die kennis van God lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op.
    Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.

8.     God openbaar Homself nét aan kinderlike en diep afhanklike geloof.
    Nooit is ons so afhanklik en nooit is geloof meer noodsaaklik, as wanneer ons met hierdie selfopenbaring van Hom besig is nie. Augustinus het gesê: "As jy nie glo nie, sal jy nie verstaan nie." Dis so eenvoudig soos dit. En die ou Puritein, Thomas Watson, het gesê: "Geloof is die hoofslagaar van die siel."
     Hb 11:6 is in hierdie verband van die allergrootste belang: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy ís, en ’n beloner is van die wat Hom soek" (OAV). Die mens kan baie regkry sonder geloof, maar niks wat God behaag nie.
    Sonder geloof is daar geen sprake van redding nie. Maar meer nog, in ons elke dag se wandel met die Here lê ons geloof aan die hart daarvan. Dis hoe die onsienlike sienlik word, en die onmoontlike waar. Dis die hande waarmee ek Sy geskenke vasgryp.

9.    God openbaar Homself net aan nederige mense.
    Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.
     Dis waarom die Here Jesus in Mt 11:25-27 sê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling ... niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak."

10.    Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie.
    Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV). "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (Jer 29:13, OAV).
    Alle godsmanne en -vroue deur die eeue, in Bybelse tye en daarna, het die kennis van die Here met 'n opregte erns gesoek  -  of nog sterker gestel, met 'n heilige honger.
    Mens vind dit by Moses. Watter aangrypende hoofstukke is Eks 32-34 nie! Reeds in 33:11 lees ons dat die Here direk met Moses gepraat het, soos 'n man met sy vriend. Dan kom Moses diep onder die indruk van sy gewigtige roeping om die volk te lei  -  wat hom laat bid: "As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend ("U weë" in die OAV), sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk" (13).
    Hierop antwoord die Here: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam" (17). Maar Moses, sekerlik baie dankbaar dat die Here sy versoek toestaan, is egter bang dat hy bloot die vermoë ontvang om God se weë te ken en die volk reg te lei. Wonderlik soos dit alles is, is daar iets wat hy nóg meer begeer, waarsonder hy nie wil lewe nie. En hy is bang die Here stop duskant dit: "Laat ek tog net u magtige verskyning sien!" ("u heerlikheid", OAV) (18).
    God se reaksie is positief, maar gekwalifiseerd: Goed, Hy sal al Sy majesteit voor Moses laat verbygaan. Maar Moses moet verstaan dat daar perke is. Geen mens kan God in Sy volle glorie sien en bly lewe nie. Daarom sal die Here Sy dienskneg onder Sy hand in 'n rotsskeur wegsteek totdat Hy verby is. Dan sal Hy Sy hand wegneem sodat Moses Hom darem van agter af kan sien (19-23).
    Die vervulling vind ons in Eks 34:5-7: "Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
    As Moses daarna by die Here pleit om tog, ten spyte van die volk se verskriklike sonde, hulle God te bly, gaan God voort en hernu weer die verbond met hulle (10).
    Min dinge in 'n mens behaag God meer as 'n  begeerte soos dié van Moses. En as ons daarin volhard, sal Sy Gees ons kapasiteit om Hom te ken steeds verruim, ons verlange na Hom verintensifeer, en, uiteraard, ons begeertes meer en meer vervul.

11.    Die kennis van God is vir hulle wat intens begeer om heilig te leef en Hom in toegewyde liefdesgehoorsaamheid te dien.
    Die mens is na God se beeld geskape. Die sondeval het dit egter ernstig geskaad. Die reddingsproses in Christus is onder meer 'n herstel van God se beeld in die mens. Gelykvormigheid aan Christus  -  die volmaakte Mens  -  is waarheen die Here met ons op pad is (Ef 4:23-24; Kol 3:10). Dis waarom ons geroep word om heilig te wees soos God heilig is (1Pt 1:15-16), en om volmaak te wees soos ons Vader in die hemel (Mt 5:48).
    Sekerlik kan nie ál God se attribute in die mens tot afskynsel kom nie, maar talle wél  -  besonderlik Sy goedheid, barmhartigheid en liefde. En hierdie karaktertrekke sal in ons ontwikkel tot die mate wat ons hulle in Hóm begryp en bewonder. Dis een van die redes waarom ons moet groei in Godskennis.
    In hierdie verband is die Here Jesus se uitspraak in Jh 14:21, 23 van die allergrootste belang: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."

12.    Die kennis van God is vir diegene met 'n aanbiddende hartsgesteldheid.
    God het ons geskep en herskep sodat ons Hom kan verheerlik. En dis onder meer met die oog op aanbidding dat die Heilige Gees ons dieper in Godskennis inlei  -  want 'n aanbiddende hart is nie net die wortel van meerdere Godskennis nie, dis ook die vrug daarvan.
    Sonder uitsondering het diegene in die Bybel wat een of ander direkte ontmoeting met God gehad het, God begin aanbid. Weer en weer lees ons dat hulle soos Johannes op Patmos neergeval en soos dooies bly lê het (Op 1:17).

13.    Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12).
    Ons leer God veel eerder in die valleie ken, as op die bergpieke. Nie alleen sien ons dit weer en weer in die lewens van die heilges deur die eeue nie  -  elke ware gelowige ken dit aan eie lyf.

14.    Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.
    Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak. Ware Christelike belewing is dikwels korporatief van aard  -  so wil die Here dit.
    Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.

Nico van der Walt

E-PREEK No.31 - JH 17:3 - DIE WESE VAN DIE EWIGE LEWE [1]

Daar is baie waarhede wat vasbeton moet wees in ons oortuigings en harte voordat ons in waarheid kan sê ons is Christene. Voorts het elke dissipel van die Here Jesus 'n hele klomp prioriteite wat sy lewe in beslag neem. Maar vir ons mag daar nooit iets belangrikers wees as om God te ken nie. Soos Jesus hier bid: dis die wese van die ewige lewe. Meer as enigiets, sal dit ons lewens tot in alle ewigheid in beslag neem  -  dié van ons wat deur geloof met Christus verenig is.

❏    Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die belangrikheid van die kennis van die Here:
    Jer 9:23-24 (OAV): "So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae ...".
    Hosea praat baie hieroor. In 2:17-19 (OAV) belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken ..." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).
    En so kan ons voortgaan: Spr 9:10 (OAV); Eks 33:13vv; 2Pt 1:2-3 (OAV); 1Jh 2:3-4; 4:7-8.

WAT IS DIE KENNIS VAN GOD?
❏    Allereers moet ons drie penne goed inslaan:

    •    Eerstens: sowel die Hebreeus as die Grieks vir "ken" is vol en gelaaide begrippe: om deur waarneming, oordenking en ervaring te ken. Dit het dus te doen met sowel objektiewe kennis as subjektiewe belewing.
    Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. Gen 4:1:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).

    •    Tweedens: as mens Bybels wil omskryf wat die kennis van God behels, val dit op hoe dikwels dit in verband gebring word met 'n begrip en 'n belewing van Sy attribute, oftewel, die uitnemendhede van Sy karakter. Byvoorbeeld: Jer 9:24 (OAV) en Hos 2:18-19.

    •    Derdens, soos met alle kennis en verhoudinge, is daar ook hier sprake van graadverskille. Elkeen moet homself dus beoordeel: is dit tipies van my lewe; herken ek dit in myself?

❏    Kennis van God behels drie onderskeibare, maar onskeibare elemente.
        Kennis van God is:

Begrip van wat God Drie-enig oor Homself openbaar,
wat saamhang met
'n voortgaande, bewustelike en persoonlike wandel met Hom,
wat meebring
insig in Sy wil en weë

❏    Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het.
Dit het daarom te doen met denke en studie.
    In1Jh 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".
    Omdat die kennis van God méér is as op hoogte wees met feite oor Hom, reken sommige hulle kan wegkom daarsónder  -  en dis 'n fatale fout! Presies dít is die rede waarom God so baie oor Homself aan ons geopenbaar het.
    Sonder gedissiplineerde, denkende en biddende bestudering van wat God oor Homself in die Skrif openbaar, verval ons in 'n moeras van subjektiewe en eensydige willekeur. En misleiding is onvermydelik: ons skep 'n god na óns beeld. Dit lei dus tot effektiewe afgodery en al die verwronge lewensuitinge wat noodwendig daaruit voortkom.
    Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing  tevrede moet wees.
    J.I.Packer sê oor die bestudering van God se karakter: "No topic is greater, grander, or more important, and by the same token none is more demanding. It is the theological Mount Everest, and no one ever masters it or does it full justice."

❏    Die tweede element het te doen met gemeenskap met God.
Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV). Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring en word op minstens twee maniere beleef:

In dit wat God vir my doen: in gelowige herkenning, dankbare belewing en vererende erkenning van Sy attribute in aksie in my lewe
en
in hoe ek in respons vir Hom leef: in geloofsvertroue in Hom, asook liefdestoewyding en dankbare gehoorsaamheid aan Hom.

    Ons mag nooit by die bloot teologiese ophou nie. God het Homself nie aan die mens geopenbaar met die oog op die intellektuele en die spekulatiewe nie. Nee, Hy het Homself aan ons geopenbaar sodat ons Hom daarvolgens sal aanbid, liefhê en dien. Dis waarom die Bybel, as dit oor God praat, nie volstaan met abstrakte mededelings oor Hom nie, maar soos klokslag deursteek na die belewing van Sy attribute in persoonlike en alledaags-menslike terme.
    Nooit beskou die Bybel 'n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit meer as van die kennis van die Here nie.
    Hierdie beklemtoning help ons om nie in 'n bloot serebrale en skolastiese Godsbeskouing te verval nie  -  iets wat leerstellig baie suiwer mag wees, dog terselfdertyd emosioneel en geestelik morsdood.
    Maar ewe belangrik is dit om te beklemtoon dat die wandel met God nie 'n bloot subjektivistiese en mistieke dialoog met Hom is nie.
    Enersyds wandel ek met God as ek steeds gelowig deur die bril van die Woord na my ganse lewe kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang Sy intieme betrokkenheid by my raak.
    Andersyds wandel ek met God as ek steeds gelowig die praktiese implikasies uitleef van dit wat Hy oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.
    Só word die genadeverbond  -  dat die Here  vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees  -  'n daaglikse ervaringswerklikheid.
    Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe. Neem byvoorbeeld Ps 139. Hy skryf oor God se verhewe karaktertrekke  -  Sy alwetenheid, almag en alomteenwoordigheid. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.
    Hier in Ps 139 word die Naam van die Here 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer. Dus, in Dawid se diepste godsdiensbelewinge is daar eintlik net twee betrokkenes  -  hyself en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".

❏    Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë.
    Volgens die NIV pleit Moses só in Eks 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you." Ps 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."
    Dit gaan hier oor 'n wysheid en 'n voortgaande vernuwing van denke wat my help om mý rol in die uitwerk van God se wil vir my lewe duidelik te onderskei. Rm 12:2 vat dit raak: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."
    Hierdie saak het egter met meer as my persoonlike gehoorsaamheid te doen. Dis ook 'n insig in hoe die Here normaalweg in hierdie wêreld, in Sy kerk en met mense werk of nie werk nie. Dis 'n begrip van Sy ordes en die toepassing van Sy universele beginsels. Dis 'n verstaan van Sy voorkeure en afkeure  -  van dit wat Hom behaag en dit wat Hom vertoorn.

WAT SÊ DIT VIR ONS?
Tot sover vir die oomblik oor ons tema. Eintlik het ons nog net 'n paar fondasieklippe in posisie geplaas. Ek beoog om in 'n volgende preek te praat oor die praktiese riglyne vir ons najaging van die kennis van die Here. Dís eintlik waaroor dit gaan.
    By wyse van afsluiting wil ek net 'n enkele oproep tot julle rig: Gaan besin lank en diep en eerlik oor dit wat ons vanmôre behandel het!
    Veral moet jy jouself afvra of jy gebalanseerd en Bybels-verantwoordelik met die Here wandel. Is al drie die elemente van wat dit beteken om God te ken dus teenwoordig in jou lewe? En het jy werklik 'n persoonlike verhouding met die Here? Sit Sy vingerafdrukke dus op jou elke dag se bestaan? Is Hy by jóú betrokke. Sien jy dit raak? En leef jy 'n lewe van geloofsvertroue, liefdestoewyding en beginselvaste, kompromielose gehoorsaamheid aan Hom? Is jy aan Hóm toegewy?
    Waarom is hierdie sulke belangrike vrae? As jy 'n vreemdeling daarvoor is, glo ek dat ek met Bybelse mandaat vir jou kan sê dat jy heel waarskynlik nog nie die ewige lewe het nie!
    Moenie maar klakkeloos aanvaar dat jy nog altyd 'n goeie kerkmens en gelowige was nie. Want talle van ons kom uit agtergronde waar bedenklike skeeftrekkings oor hierdie saak aan die orde van die dag was  -  of dit nou 'n eensydige beklemtoning van die bloot verstandelike was, en of dit 'n emosionalistiese oorreaksie daarteen was.
    Nee! Nee! Toets jouself of jy met die ware Jakob besig is (2Kor 13:5). Want die Skrif waarsku ons oor en oor teen verkeerde leringe, teen selfmisleiding en teen 'n verwagting oor die ewige saligheid wat tevergeefs mag blyk te wees.
    En as jy die toets dop? Dan kom jy in nederige verootmoediging na Hom toe en pleit om Sy genade  -  totdat Hy jou verhoor. Hy belowe om diesulkes aan te neem en vir hulle te gee wat nodig is.
    Mag die Here een en elkeen van ons begenadig met 'n nugtere, volwasse, voete-op-die-grond en Geesverligte self-beoordeling!

Nico van der Walt

Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.29 - HD 9:1-9 - WAT 'N BEKERING!

Naas die gebeure rondom die menswording en dood van Jesus Christus, was daar beswaarlik 'n meer rigtinggewende gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis as die bekering van Saulus, oftewel Paulus van Tarsus. Want watter mens, behalwe die Here Jesus, het 'n dieper merk gemaak op die ontwikkeling van die wêreld se denke en historiese ontwikkeling?
    Hierdie bekering is dan seker ook die mees beroemde van alle bekerings. Selfs ongelowiges ken die verhaal. Lukas, die outeur van die boek Handelinge, skryf drie keer uitvoerig daaroor. Hier in ons teks beskryf hy dit self, en twee keer hierna berig hy hoe Paulus in sy redes self daarvan vertel het (Hd 22:1-16; 26:9-18).

'N DIEPER KYK NA HIERDIE BEKERING
Mens hoor dikwels dat mense praat van 'n Damaskuspad-bekering  -  dat jy dit gehad het, of nie gehad het nie. Daarmee word dan gesinspeel op Saulus se dramatiese ommeswaai na Christus toe.

Die bekering van 'n hater van die gemeente
Inderdaad was dit 'n dramatiese bekering. Dink maar aan die Saulus voordat dit gebeur het.
    Voor hierdie hoofstuk verwys Lukas drie maal na Saulus. In 7:58 word gesê dat hy die mense se klere opgepas het toe Stefanus gestenig is. In 8:1 skryf hy dat die jong Fariseër die moord goedgekeur het. En in 8:3 vertel hy van hierdie godsdienstige yweraar se hatige vervolging van die gemeente.
    Lukas se taalgebruik beklemtoon Saulus se bittere en meedoënlose vervolging van Jesus se dissipels. Calvyn sê hy was soos 'n wilde en bloeddorstige ondier.
    Handelinge 8:3 sê dat Saulus die kerk probeer "uitroei" het. In buite-Bybelse Grieks verwys dit na 'n roofdier se uitmekaarskeur van 'n karkas.
    In 9:21 lees ons dat die mense stom verbaas was toe hulle hoor dat die vervolger van die gemeente tot bekering gekom het en die evangelie verkondig. Is dit nie die man wat die Christene wou "uitroei" nie, vra hulle dan. Die woord wat hulle gebruik, sou mens met vermorsel of verwoes kon vertaal. Paulus self gebruik hierdie woord twee keer in Galasiërs as hy sy vervolgingswaansin voor sy bekering beskryf (1:13, 23).
    Paulus het voor sy bekering "dreiging en moord geblaas" (9:1). Ook hierdie uitdrukking sou kon verwys na die gegrom en gesnork van wilde diere.
    G'n wonder nie dat Paulus jare later kon sê dat hy die Christene só gehaat het dat hy "uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg (het), selfs tot in die buitelandse stede (26:11, OAV).
    Waarlik, dramaties was hierdie man se ommekeer gewis. Binne dae het die woedende en wilde wolf 'n lam geword  -  nog meer, 'n herder.

Daar was 'n voorbereidende werk van die Gees.
Het Saulus se bekering regtig so in 'n oogwink plaasgevind soos mense dink?
    Sekerlik is hy in 'n oomblik verander van iemand vol siedende haat, tot 'n gebrokene wat met sy hele hart die Here se wil wou doen.
    Maar moenie dink dat die Here nie vóór die Damaskuspad met Saulus gepraat het nie.

    •    As die apostel in Hd 26 vertel wat met hom gebeur het, sê hy dat, toe hy op die grond val, die Here vir hom gesê het: "Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop" (v.14, OAV). Die beeld praat van 'n skerp voorwerp waarmee 'n wilde dier getem word. Die implikasie is dat die Here reeds vir 'n tyd lank besig was om Saulus in te breek.
    Is daar aanduidings hiervan in die Skrif? Inderdaad! Die Here het Saulus oor 'n tydperk voorberei vir die Damaskuspad.
    Wat was die prikkels waarteen hy geskop het?

    •    Ons kan aanvaar dat Saulus selfs in die tyd wat hy die Christene so gehaat het, met twyfelgedagtes geworstel het. Hy en Jesus was omtrent ewe oud en dis hoogs waarskynlik dat die jong rabbi die Here destyds gesien en gehoor het. Hoe sou hy dan  -  só intelligent en só ingelig oor die Ou Testamentiese Messiaanse profesieë  -  nie soms gewonder het oor die merkwaardige Man van Nasaret nie?

    •    Nog 'n prikkel moes Stefanus se martelaarskap gewees het. Hierdie godvrugtige man se kragtige preek en merkwaardige getuienis móés eenvoudig 'n indruk op die ywerige godsdienstige gemaak het. Het hy nie met sy eie oë gesien hoe Stefanus se gesig voor die Joodse Raad soos dié van 'n engel lyk nie?

    •    Die skerpste prikkel in Saulus se vlees was egter sy eie gewete. Ja, hy kon later skryf dat hy in terme van uiterlike wetsonderhouding onberispelik was (Fl 3:6). Maar hoe jy uiterlik vaar, is één saak; wat in jou binneste aangaan, is iets anders. Daarom beken Paulus in Rm 7:7vv dat dit wat in sy hart aangegaan het, hom gery het. Veral die tiende gebod  -  dié teen sondige begeertes  -  het hom mettertyd van sy verdorwenheid oortuig.
    'n Mens se gewete haal jou uiteindelik in  -  altyd. Niks word kragtiger deur die Heilige Gees in Sy oortuigingswerk gebruik nie.

    •    Wat ons dus moet raaksien, is dat Saulus se Damaskuspad-ervaring nie net 'n skielike bekering was nie, maar ook voorafgegaan is deur 'n lang oortuigingsproses van die Heilige Gees.

In sy bekering was Saulus nie passief nie.
Die Here se genade vir Saulus was nie só dwingend dat sy wil en keuse uitgeskakel was nie.
    Ja, die Here het hom só verneder dat hy op die grond geval het, sê John Stott in sy Romeine-kommentaar, maar Hy het Saulus nie verbrysel nie. Hy het nie van hom 'n robot gemaak nie. Dis nie dat sy denke en wil geen rol gespeel het nie.
    As die Here vir hom vra, "... waarom vervolg jy My?", rig Hy hom tot Saulus se rede en gewete.
    En Saulus was nie só oorweldig dat hy nie kon praat nie. Hy vra immers: "Wie is U, Here?" As die Here dan antwoord: "Ek is Jesus ... Dit is vir My wat jy vervolg", het dit so diep in sy wese ingesny dat hy vir die res van sy lewe 'n onstuitbare yweraar vir Christus se eer, evangelie, koninkryk en kerk was.
    Les bes kan Saulus 'n opdrag uitvoer. Hy kan opstaan en na Damaskus toe stap.

PAULUS SE BEKERING WAS 'N SOEWEREINE WERK VAN DIE HERE
❏    Ten spyte van dit alles, moet mens terselfdertyd onderstreep dat ook hierdie bekering 'n stuk soewereine genade van God was.
    Die hele gebeurtenis is tog onmiskenbaar 'n inisiatief van die Here  -  die lig uit die hemel, die stem, die onweerstaanbare krag. God het besluit dat Saulus se oomblik van heil aangebreek het. En so sou dit onontkombaar wees.

❏    Voorts het Paulus nooit daarvoor moeg geword om in sy latere geskrifte te beklemtoon dat die Here soewerein op sy lewe beslag gelê het nie. Daarom skryf hy in Gl 1:15-16: "Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep." Paulus gaan dan voort om sê dat God Sy Seun aan hom geopenbaar het, sodat hy die evangelie onder die heidennasies sou verkondig.

❏    Paulus se oortuiging dat hy deur soewereine genade gered is, word treffend onderstreep deur sekere uitdrukkings wat hy gebruik.
    In Fl 3:12 skryf hy dat hy "deur Jesus Christus gegryp is" (OAV). Die woord word soms gebruik vir 'n arrestasie. Spesifiek in Paulus se geval het dit ironies gebeur pas voordat hy by Damaskus kon uitkom om die Christene in hegtenis te neem.
    In 2Kor 4:6 vergelyk hy sy bekeringservaring met God se soewereine skeppingswoord: "Laat daar lig skyn uit die duisternis." Só, sê hy, het die Here 'n lig in sy hart laat skyn om hom te verlig met die kennis van die heerlikheid van God. Dit, sê hy dan, is die lig wat van Jesus Christus uitstraal.
    In 1Tm 1:14 skryf hy dat die Here hom oorlaai het met Sy genade en met geloof en liefde. Die beeld wat hy gebruik, sê letterlik dat dat die Here se genade hom oorspoel het soos 'n rivier in vloed.

❏    Stott onthou na aanleiding hiervan in sy kommentaar 'n aantal metafore wat C.S. Lewis in sy outo-biografie (Surprised by Joy) gebruik as hy oor sy eie bekering praat. Lewis skryf dat die Here hom ingekatrol het soos 'n hengelaar 'n vis. Hy het gevoel soos 'n muis wat deur 'n kat gejaag word, of soos 'n jakkals wat deur 'n trop honde ingehaal word. Dit was asof die Heilige Gees hom soos 'n meesterskaakspeler geleidelik in 'n skaakmat posisie ingemaneuvreer het.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Dink 'n oomblik terug aan jou eie bekering.
Die omstandighede en manier van elkeen se bekering tot Christus as Profeet, Priester en Koning, is uniek. Elkeen van ons het sy of haar eie storie.
    Dit was meer of minder dramaties; ons was op verskillende ouderdomme; soms was daar 'n lang en geleidelike aanloop, soms was die stryd gou-gou verby; soms was daar trane van sondeberou, soms is ons gewoon verras deur die vreugde van verlossing.
    Maar daar was ook altyd die gemeenskaplike. Ten minste kan ons dít sê: altyd, altyd was dit 'n bekering tot Jesus Christus. Haal Hom uit die prentjie uit, en jy het per definisie nie bekering nie.

2.    Diegene wat tans nog teen die prikkels skop, moet weet dat hulle ontmoeting met Jesus Christus onontkombaar vir hulle voorlê.
Die Woord van God sê dat elke knie voor Hom sal buig. Mag die Here in Sy goedheid gee dat joune nog in die genadetyd sal buig. Want onthou, miljoene der miljoene se knieë sal eers buig wanneer dit te laat is.
    Ek mag dus nie hierdie geleentheid laat verbygaan sonder om heethoofdige weerstaners van die Heilige Gees op te roep tot bekering nie. Kom nóú na die Here toe, solank jy nog kan. Genade is steeds beskikbaar. En dis gratis  -  selfs vir Christus-haters, soos Saulus van Tarsus!

3.    Julle wat vir onbekeerde dierbares bid, moenie moed verloor nie  -  al vat dit hoe lank!
As die mees onwaarskynlike bekeerling van die eerste eeu soos met 'n oogknip omgedop kon word, wie, maar wie kan Koning Jesus se genade-arrestasie weerstaan?
    En onthou, jou gebede is ingeweef in die uitwerk van God se raadsplan!

4.    Is jy ook vol aanbiddingsverwondering oor ons Koning wat van haters met skuim om die mond, lewenslange liefdesyweraars maak?
Waarlik, vir ons wat deur Sy genade gearresteer is, maak niks méér sin as om Hom met onverdeelde harte lief te hê en te dien nie!

Nico van der Walt

E-PREEK No.23 - JES 58:13-14 - SONDAGSEËN!


Dis Sondag van Paasnaweek. Vrydag het ons in die besonder gedink aan die kruisiging; vandag aan die opstanding van die Here.

OPSTANDINGSDAG! FEESDAG!

❏    Eintlik is élke Sondag 'n herdenking van Christus se opstanding.
    Só belangrik het die vroeë kerk die opstanding van Christus beskou, dat hulle tipies op die eerste dag van die week (die opstandingsdag) bymekaar gekom het vir gesamentlike aanbidding (1Kor 16:2; Hd 20:7)  -  eerder as op die sewende dag, soos die Jode in terme van die tien gebooie. Dit beteken nie dat hulle die wet in eie hande geneem het nie. Die Here Jesus self het al 'n aanduiding gegee dat dit moet gebeur, nie net deur op die eerste dag van die week op te staan nie, maar ook deur op hierdie dag aan Sy dissipels te verskyn (Jh 20:19, 26) en die Heilige Gees uit te stort (Hd 2:1; Lev 23:15-16).
    Nog meer, die dissipels het begin praat van die "dag van die Here", eerder as van die sabbat.
    Baie duidelik het die apostels die vroeë kerk op hierdie weg gelei. Johannes vind dit dan ook nodig om spesifiek te vermeld dat hy op "die dag van die Here" in aanbidding was toe Christus aan hom verskyn het (Op 1:10).

❏    As ek dit nie mis het nie, dink ek baie mense wat hulleself Christene noem, het 'n al hoe meer traak-my-nie-agtige houding oor Sondag en kerkgang. Dis vir seker 'n godonterende neiging.
    Daarom moet ons weer oor Sondag besin. En die eerste ding wat ons moet vasvat, is die feestelike karakter van hierdie dag. Verloor ons dit, verloor ons iets wesentlik in ons geloofsbelewing. Dis 'n tragedie as dit 'n dag van moets en moenies word  -  langgesig-dag. En as kerkgang 'n plig en selfs 'n pyn word, is iets drasties verkeerd.
    Luister wat sê C.H. Spurgeon in April 1879 vir sy gemeente: "Ek weet dat baie van julle vir julle Sondae leef. Dis asof die dae van die Here vir julle soos die sporte van 'n leer is waarlangs julle die lewenspad loop. Dís wanneer julle jul geestelike kos kry; dís wanneer julle die rus van die Here ervaar. Julle vreugde is oorvloedig as reddende en vrye genade Sondag na Sondag verkondig word." (The full harvest, p.290, vry vertaal).

JESAJA 58
❏    Jes 58:13-14 werp wonderlike lig op die saak waaroor ons praat  -  op die gewigtigheid, maar ook op die kosbaarheid van die dag van die Here.
    In die hoofstuk ontmasker Jesaja die huigelagtigheid van die volk. Hulle lewe in sonde, maar is vroom verby as dit by godsdiens kom. Baie duidelik het hierdie skynheiligheid tydens die Sabbatte hoogty gevier. Dit spreek die Here dan deur Sy profeet in v.13-14 aan. As hulle die voorregte en vreugdes van die sabbat behoorlik wil ervaar, is daar voorwaardes om aan te voldoen.

Voorwaardes vir sabbatsvreugde (v.13)
Net eers twee opmerkings. Eerstens, die OAV is 'n baie goeie letterlike vertaling van die Hebreeus. Tweedens, let daarop dat hier geen sprake is van die bloot seremoniële nie. Nee, dit gaan oor 'n hartsgesteldheid. Elke Nuwe Testamentiese Christen kan dus volledig daarmee identifiseer.

    •    Vers 13a wil hê ons moet verstaan waarvoor die dag gegee is, en dus waarvoor dit níé gegee is nie. Die Hebreeus kom hierop neer: weerhou jouself daarvan om die dag wat ek vir Myself geheilig het, aan te wend vir jou eie plesier. Dit is die Here se dag. Dit gaan nie oor jóú vreugdes en belange nie.

    •    Vers 13b dring aan op die regte hartsinstelling ten opsigte van die dag wat die Here vir Homself geheilig het. Twee dinge word genoem:
    Jy moet jou verlustig in die dag. Jy moet waardering daarvoor hê; dit moet jou vreugde wees.
    Jy moet die dag eer, omdat die Here dit vir Homself afgesonder het. Jy moet dus respek hê vir die dag. Dit moet dit met alle erns bejeen.

    •    Vers 13c onderstreep die noodsaak om die implikasies van bogenoemde prakties uit te leef. Drie dinge word spesifiek genoem:
    Jy moet nie jou gewone gang gaan nie. Dis met ander woorde nie net nóg 'n dag van die week nie; dit moet 'n eiesoortige karakter hê. Moenie dieselfde dinge doen as op die ander ses dae nie. Jy moet "rus" van jou wêreldse verpligtinge en plesiere.
    Jy moet nie die dag aanwend in eie belang en vir plesier nie. Dis 'n dag vir die Here en Sý dinge.
    Selfs ons gesprekke moet die Here eer. Die Hebreeus sê bloot ons moenie ons eie woorde praat nie. Dit impliseer 'n sekere selfdissipline wat jou weerhou van 'n ydele en lawwe gebabbel, en lei tot gesprekke wat opbouend en Godverheerlikend is.

Beloftes vir gehoorsames (v.14).
'n Drieledige belofte en 'n versekering word gegee.

    •    Jy sal vreugde vind in die Here. Jy sal die skoonheid en heerlikheid wat in Sy attribute en werke geopenbaar word, al hoe duideliker sien. Jy sal Sy grootheid, goedheid en heiligheid al hoe meer waardeer. En jy sal in opregte dankbaarheid en liefdestrou daarop reageer.
    Innige en vreugdevolle liefdesgemeenskap tussen die Here en Sy mense, is waaroor dit gaan.

    •    Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde (OAV). Die uitdrukking kom oorspronklik voor in Dt 32:13  -  in die lied van Moses. Dit sinspeel op die oorwinning oor hulle vyande wat die Here aan Sy volk gee. Die Nuwe Testamentiese ekwiwalent is uitdrukkings soos "meer as oorwinnaars" (Rm 8:37) en die feit dat mense in Christus saam met Hom in die hemele sit  -  van waar hulle heers oor die duiwel, die wêreld en die vlees (Ef 2:6).
    Kan jy sien? Getroue onderhouding van die dag van die Here is 'n kragtige genademiddel!

    •    Jy sal die erfdeel van jou vader, Jakob, geniet (OAV). In die Ou Testament sinspeel hierdie uitdrukking veral op die erfenis van die land Kanaän (Ps 105:8-11). In die besonder gaan dit oor welvaart en voorspoed in die land (Ps 144:12-15).
    Die belofte het dus te doen met die praktiese belewing van verlossing. Nuwe Testamenties sou ons kon sê dat dit gaan oor al die voorregte en vreugdes wat die Here aan Sy dissipels belowe.

    •    Hierdie beloftes, indien die voorwaardes nagekom word, staan vaster as die berge: "Ek, die Here, het dit gesê" (NAV). Gehoorsaamheid sal gewis gemeenskap met God, oorwinning oor sonde en verlossingsgenot meebring.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Nuwe Testamentiese kwalifikasies moet ons vertolking van die vierde gebod beheers.
Dit is so dat die Here Jesus en Sy dissipels hulleself baie meer vryhede op die sabbat veroorloof het as wat die Joodse godsdiensleiers kon duld.
    Maar ons moet verstaan dat die skrifgeleerdes nie naastenby die gees van die Ou Testament verteenwoordig het nie. Hulle oortuigings is gevorm deur die Mishnah, 'n opsomming van Joodse mondelinge tradisies en oorleweringe sedert die ballingskap. Hierin het die rabbi's gepoog om die praktiese implikasies van die wet tot in sy fynste besonderhede uit te spel. In die proses is die grens na die belaglike dikwels oorgesteek. Wat die sabbat betref, word nie minder nie as 39 soorte werk verbied. So, byvoorbeeld, is twee naaldwerksteke en die skryf van twee letters as buite perke beskou (terwyl één in elke geval as toelaatbaar beskou is). Selfs die aansteek of blus van 'n vuur, is as oortreding van die gebod beskou.
    Hierteenoor het die Jesus met Sy voorbeeld en lering mense weer teruggeroep na die ware betekenis van die wet. Dáárvan het Hy nie een "letter of letterstrepie" misken nie (Mt 5:17-20). Ons kan dus aanvaar dat Hy 'n lewende vergestalting was van alles wat ons teks wil sê. In elk geval is daar niks daarin wat in stryd is met Nuwe Testamentiese aanbidding in gees en waarheid nie.

2.    Laat ons dus waak teen twee dwalinge.
Enersyds is die versoeking altyd daar om die dag van die Here te gebruik in eiebelang of vir selfbevrediging.
    Andersyds moet ons ten alle koste vermy om, soos die Jode, voorskriftelik te raak met 'n klomp moets en moenies. Sulke wettisisme versmoor die feestelike karakter van die gebod.

3.    Laat ons doelbewus en planmatig die dag van die Here vul met dit waarvoor dit bedoel is.
Dis 'n rusdag. As ons waarlik die ander komponent van die vierde gebod nakom  -  naamlik om vir ses dae toegewyd te werk  -  sal hierdie geleentheid om jou batterye te laai, week na week ervaar word as 'n genadegawe uit die hand van ons Hemelse Vader. Maar dit gaan nie oor leeglê en slegwees nie; dit gaan oor konstruktiewe heropbou. Daar is nie net 'n uitputtende week agter my nie, daar lê ook 'n harde week van roepingsvervulling voor.
    Dis 'n aanbiddingsdag. Wat 'n seën is dit om 'n dag te hê waarop ons, sonder die week se gejaag, rustig in ons binnekamers kan verkeer en saam met geliefde broers en susters die Here kan ontmoet!
    Dis 'n dag vir goeie werke. Meeste Christene is só besig deur die week dat hulle beswaarlik tyd het vir Christelike dienswerk en uitreiking. Dis 'n derde rede waarom ons hierdie dag het. Laat ons dus, soos Jesus, ons ook wy aan goeie werke.

4.    As dit dan nodig is, laat ons ons Sondae met beslistheid reformeer.
Die verantwoordelikheid om hieroor te besin en dan sterk leiding te neem, rus onontkombaar op ouers, veral op die hoofde van huise.
    Dink weer na oor dinge soos: lang reise op 'n Sondag, Sondagkoerante, TV, sport, inkopies, kreunende kostafels wat huisvroue se Sondae opeis en huisgenote laat uitpass vir ure.
    Neem besliste besluite oor jou en jou gesin se bywoning van eredienste. Bywoning van twee dienste op 'n Sondag is nie 'n Bybelse voorskrif nie, maar dis vir seker in lyn met die gees van Jes 58. En bring jou kinders saam. Los hulle by die huis om voor die TV te lê, en jy sal die bittere vrugte pluk!
    Hoor ek iemand sê, ons raak nou wetties? Nee! Ons praat van 'n hartsgesteldheid. Selfdissipline wat vir die regte redes uit 'n hart van toewyding kom, is vir geen oomblik in botsing met die beginsel van Christelike vryheid nie; inteendeel.

5.    Laat ons jaloers waak oor hierdie kosbare kleinood  -  die dag van die Here.
Dis só 'n wonderlike gawe uit die hand van ons Hemelse Vader, dat ons dit met alles in ons vermoë moet bewaar teen die aandrange van die sondige vlees en die God-vyandiggesinde wêreld.
    Onthou Jes 58:13-14 dus. Maak erns met v.13 se voorwaardes vir seën. En begroet die vervulling van v.14 se beloftes met geloofsverwagting.
    En onthou die Here se opstanding. Omhels jubelend die implikasies daarvan! Só het die vroeë Christene mekaar Sondae gegroet: "Die Here het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!"

Nico van der Walt