Saturday, August 3, 2013

E243 - MK 16:6 - JESUS CHRISTUS SE OPSTANDING - persoonlik, histories, liggaamlik

Een van die waarhede wat die Skrif in lesers se harte wil ingrafeer, is dat Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood. Wat 'n triomfantelike vers is Mk 16:6 nie: "Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie!"
    Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit saam met die kruisiging keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Hd 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Lk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasies in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Hd 1:21-22).
    In die briewe kom die opstanding gereeld ter sprake en die betekenis daarvan word haarfyn uitgewerk. Gewis het die apostels in 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding geglo en daarvan getuig  -  en dit saam met kruis en Pinkster as die essensie van die evangelie beskou.

Waarom so belangrik?

Daar is veral 3 redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus waarlik opgestaan het  -  en waarom Christene deur die eeue dit so glo en preek.

●    Dit is die onomstootlike bevestiging van die Here Jesus se persoonlike aansprake.
Sonder blik of bloos het Jesus dikwels verbysterende aansprake gemaak. Hoeveel maal het Hy nie gesê dat Hy die Seun van God en God die Seun is; dat Hy vervulling van Ou Testamentiese profesieë is; en dat Hy die wêreld se Regter is nie?
    Sou hierdie aansprake nie wáár wees nie, is niks wat Hy ooit gesê het werklik betroubaar nie, allermins Sy beloftes. Hoe kan ons weet dis waar?
    Op aarde is Sy aansprake deur talle asemrowende tekens en wonders bevestig. En dit moes beslis Sy dissipels gehelp het in hulle geloof.
    Maar dan word Hy gekruisig en sterf! En almal twyfel. Is dit die einde van net nóg 'n versteurde se grootheidswaan? Die Emmausgangers het byvoorbeeld hiermee geworstel: "Ons het so gehoop dat dit Hý is wat Israel sou verlos" (Lk 24:21).
    Op die derde dag gebeur die grootste en finaalste van alle tekens egter! Dit is presies wat Hy lank tevore belowe het (Jh 2:18-22). Sy opstanding was die onbetwisbare bevestiging van Sy hemelse gesag en sending. Die Emmausgangers verstaan dit as hulle Hom herken. En hulle hardloop al die pad terug Jerusalem toe  -  12 km  -  net om te gaan vertel: Hy is presies wie en wat Hy gesê het Hy is!
    Ja, ja, ek weet ons was nie daar om die wonders en die opstanding te beleef nie. Ons moet bloot glo! Dankbaar is ek vir die woorde aan  Tomas: "Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo."

●    Dit is die onfeilbare waarborg dat Sy middelaarswerk deur die Vader aanvaar is.
Is daar regtig vir my versoening gedoen? Kan ek regtig die dood met vertroue tegemoet gaan? Die Nuwe Testament antwoord duidelik: As jy in Christus ingevlug het, vir seker! Waarom? Hy het opgestaan!
    Die Jode het eeue gewag vir die Messias. Ten spyte van die volk se aanvanklike opgewondenheid oor Jesus, raak hulle algaande ontnugter, want Hy vestig nie die nuwe politieke bedeling wat hulle verwag het nie. Die kruisiging, teken van God se vervloeking (Dt 21:23), is dan die laaste strooi. Tog, as hulle Hom spottend uitdaag om van die kruis af te kom (Lk 23:35-36), sit daar nog 'n sprankie hoop in. Sou Hy nie dalk op hierdie dramatiese oomblik met 'n goddelike kragtoer kom nie? Maar Hy sterf!
    Die opstanding is egter God se uitverkiesende handeling. Dít is die Vader se proklamering dat die Seun Sy reddingsmissie volmaak voltooi het (Rm 1:4; Hd 17:31). Alle eise van geregtigheid is bevredig  -  die uitverkorenes is onomkeerbaar losgekoop!
    Sonder die opstanding het ons geen versekering gehad dat Christus se werk enige gewig by God dra nie  -  maar nou staan dit vaster as die berge!

●    Dit is Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van ons verlossing.
Terwyl die regsbasis vir die uitverkorenes se verlossing finaal daargestel is aan die kruis, word die uitwerk daarvan eers met hulle heerlikmaking voltooi. Met hierdie werk bly Christus steeds besig.
    Hoe werk Hy hier op aarde uit wat uitstaande is? Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees! (Hd 2:32-36). Die Nuwe Testament is vol hiervan.
    As Profeet is Hy Here van die oes, wat werkers in die oes uitstuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig (Mt 9:36-38). As Priester tree Hy vir ons by die Vader in, ten einde ons in volkomenheid in (Gr) te red (Hb 7:25; vgl. ook Jes 53:12; Rm 8:34; Hb 9:24; 1Jh 2:1). As Koning regeer Hy oor ons, onderwerp Hy Sy vyande en oordeel Hy hulle (Hd 17:30-31; 1Kor 15:24-28; Ef 1:20-23).
    Elke Christen weet die Here moes sterf sodat mense gered kan word, maar hoeveel besef dat dit net so noodsaaklik was dat Hy weer moes léwe!
       
Sonder die opstanding - alles tevergeefs

In 1 Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (v. 14,17). Vernietigend sou die implikasies vir ons geloof wees.

    •    Die apostels se prediking was dan sonder inhoud en gevolglik tevergeefs (v.14). Hulle navolgers  -  tot vandag toe  -  het dan 'n leuen geglo en 'n dooie verlosser vertrou.

    •    Ons geloof was dan tevergeefs (v.14). Die hand waarmee ek weer en weer na Christus gryp, het dan net lug gegryp. Die wedergeboorte waarvan ek getuig, was dan net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, absoluut futiel!

    •    Ons was dan nog gevangenes van ons sondes (v.17). Dan was ek steeds geestelik dood en in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel  -  en steeds onder die toorn van God (Ef 2:4-10).

    •    Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore wees (v.18). Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!

●    "Wag!", protesteer iemand. "Ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van, byvoorbeeld, die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste voort in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid."
    So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (1Kor 15:19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood, nl.  verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, en beërwing van die ewige saligheid!
    Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons!" (v.32).
    Kennelik het sy Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!

Die historisiteit van die opstanding

Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan  -  persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
    Daar is meer hieroor te sê, maar ek hou by die Bybelse argument. Honderde mense het die opgestane Christus gesien, en wanneer die apostels daarvan getuig, leef die meeste van hulle steeds  -  om die egtheid en betroubaarheid van die apostoliese getuienis te bevestig (1Kor 15:5-8).
    Natuurlik leef die apostels vandag nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte, waarvan die historiese outentisiteit bo alle twyfel vasstaan.

Wat beteken die opstanding van Christus vir my lewe hier en nou?

●    Party teoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
    Daar was wel 'n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  -  tussen kruis en opstanding. En hulle was die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina! Die oomblik toe hulle egter besef  dat Hy opgestaan het, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedrykste lewens ooit te leef.
    Herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  -  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het!

●    Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort  -  met ingrypende, ervaarbare en waarneembare effekte!
    Wat is die aard van hierdie effekte? Paulus werk dit o.a. in Rom 6 en Ef 1:19-2:7 uit.
    In Rom 6 sê hy dat die gelowige nie net saam met Christus gekruisig is nie, maar dat hy ook saam met Hom opgestaan het. En wat is die gevolg? Hy kán eenvoudig nie in sonde volhard nie, maar lei 'n nuwe lewe (v.4), 'n lewe van heerskappy oor sonde.
    Ons kan eenvoudig nie daarvan wegkom nie:  'n Ware Christen se lewe is ánders as die van die ongelowiges  -  en dit het enorme getuieniswaarde.
   
Wat beteken Christus se opstanding vir my in die hiernamaals?

●    As ek in Christus is, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding!
Volgens 2Tim 1:10 het die Here deur Sy opstanding die mag van die dood verbreek. En 1Kor 15:20-23 verseker ons dan dat daar 'n onbreekbare band is tussen Sý opstanding en die opstanding van diegene in Hom (vgl. ook Rm 8:11).
    Sy opstanding en ons opstanding is bloot twee fases van een en dieselfde proses  -  die vervolmaking van God se nuwe mensheid: Hy, die Eersteling, en Sy gemeente wat mettertyd volg!

●    As ek in Christus is, sal die Vader my aanvaar soos Hy Sy Seun aanvaar het.
    Almal sal opstaan en vir ewig leef (Jh 5:28-29), maar nie almal sal aanváár word nie. Vir diegene in Christus is daar egter geen veroordeling nie, maar heerlike liefdesaanvaarding!
    In Rm 8:31-34 daag Paulus as 't ware die hele wêreld uit om Saulus die moordenaar skuldig te bewys. Sy argument kom hierop neer: Wie sal my veroordeel met só 'n Middelaar? Ek het in Hom ingevlug; ek skuil in Hom; ek is met Hom verenig deur die geloof. Wat van Hom waar is, is van my waar! Wie my skuldig wil bevind, moet Hóm eers skuldig bevind. Nee, vir God se verwerping vrees ek nie. Hy het my Plaasvervanger se offer aanvaar; Hy het dit bekragtig deur Hom op te wek  -  gewis sal Hy my ook opwek en aanvaar!

Is Christus se opstanding sentraal in jou diepste oortuigings (net soveel soos die kruis)? Is Sy opstanding die hoeksteen van jou salige hoop?
                                                                                                          Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment