Sunday, August 4, 2013

E222 - RM 13:1-7 - DIE KERK EN DIE STAAT [2]

Laas het ons na die kerkgeskiedenis gekyk. Nou kyk ons na 4 beginsels uit Rm 13 voordat ons 'n paar konkluderende opmerkings maak.

Alle regerende gesag word deur
die soewereine God daargestel (Rm 13:1).

❏     God is die oorsprong van alle menslike gesag. Dit geld ook vir staatsgesag.
    Hierdie is 'n hoogs betekenisvolle stelling van God se Woord, veral as mens in ag neem vir wie dit geskryf is. Die Romeinse Christene was onder die hiel van 'n goddelose en heidense regering  -  wat deur gewelddadige verowering en onderwerping aan bewind gekom en gebly het, en diktatoriaal sy onderdane op hulle plek gehou het. Hulle was korrup, en het almal vervolg wat van hulle verskil het  -  in die besonder die gemeente van Christus.

❏     Die vraag is dus nie of die regering onder wie ons ons bevind de jure, oftewel wettig is nie. Die Bybel praat van alle de facto regerings, diegene wat op 'n gegewe moment aan die stuur van sake is.
    Beteken dit dat Christene 'n klomp ruggraatlose papperds moet wees wat maar passief alles aanvaar wat oor hulle kom. Inteendeel! Dit gaan hier daaroor dat Christene weet dat die koninkryk waaraan hulle behoort nie van hierdie wêreld is nie, en dat die uitlewing van hulle roeping hier op aarde grootliks onafhanklik is van wie op 'n gegewe moment op die wêreldse troon sit. Die Here gebruik wie Hy wil om die gevalle mensheid in bedwang te hou en te stuur soos Hy wil. En Sy gemeente gaan onverstoord voort met hulle diens aan God  -  onder meer om sout te wees in 'n samelewing wat wil verrot en veral ook om die evangelie uit te dra.

❏    Baie gelowiges dink dat Christene hoegenaamd nie by politiek betrokke behoort te raak nie. Nee, die Here gebruik orals getuies en instrumente, en Hy lei van Sy kinders om ook daar hulle lig te laat skyn. Wat wel waar is, is dat 'n Christen tweemaal sal dink voor hy hom in die politiek begewe. Dit is per slot van rekening 'n gevaarlike omgewing vir die gelowige, en 'n lewe van dissipelskap kan daar baie kompleks wees.
    Dit is baie betekenisvol dat die vroeë Baptiste, wat baie swaar gekry het onder die hiel van die owerhede, ronduit bely dat dit in orde is vir 'n Christen om ‘n "magistraat" te wees  -  'n term wat alle politieke ampte dek (1689 Baptistebelydenis, h.24, par. 2).

Die taak van 'n regering is om behoorlike orde te handhaaf daar waar hy verantwoordelik is (Rm 13:3,4,6).

❏     Elke ingestelde outoriteit het uiteraard sy eie gesagsfeer. Daar is hy verantwoordelik, nie wyer nie. Gesag en toerekeningsvatbaarheid loop altyd hand aan hand, en noodwendig kan niemand aanspreeklik gehou word vir dit wat buite sy grense gebeur nie. Dit geld orals, of dit nou die werksplek is, of die gesin, of die gemeente, of die samelewingsowerhede.

❏     Diegene wat in ons teks ter sprake is, moet sosiale en burgerlike geregtigheid, vrede en orde handhaaf. Hierdie taak het twee kante. Positief moet hulle dit wat sosiaal en burgerlik goed en reg is, bevorder en verdedig. Negatief moet hulle ongeregtigheid, misdaad en geweld bekamp.

    •     In Rm 13 is daar 'n sterker beklemtoning van die negatiewe. Terwyl 'n regering vryheid en lewensruimte vir sy burgers moet verseker, doen hy dit grootliks deur die kragte van selfvernietiging en wanorde in 'n gevalle wêreld te bedwing. Dit is dus in Sy algemene genade dat God regerings instel.

❏     Soos wat regerings hulle opdrag uitvoer, skep hulle 'n konteks waarin die raadsplan van God sy loop kan hê, stel hulle 'n kanaal daar waarin die koms van die koninkryk kan vloei (1Tm 2:1-2).

❏     Uiteraard het 'n regering baie geld nodig om sy taak te verrig. En aangesien die owerhede in God se diens staan, beveel Hý ons om ons belastings getrou te betaal  -  nie net inkomstebelasting nie, maar ook alle ander vorms daarvan, soos B.T.W., lisensies, eiendomsbelasting, ens.
    Dit word spesifiek deur ons teks (6, 7), asook ander gedeeltes in die Nuwe Testament  beklemtoon (Mt 22:15-22; Mk 12:13-17; Lk 20:19-26).

Die mag van die swaard word aan regerings verleen sodat hulle goeie orde kan handhaaf (Rm 13:4)

❏     Aan die fondasie van elke staat lê sy Godgegewe reg om dwang te gebruik. Die Here weet dat hy in 'n sondegevalle wêreld sy taak moet volbring.
    Die voorwaarde vir goeie orde in 'n samelewing is onderlinge respek en konsiderasie, maar die gevalle mens is ongeneeslik hebsugtig en selfsugtig. Helaas, wat baie mense betref, is méér dus nodig as opvoeding en suggestie. 'n Ferm en sterk hand van afdwinging is noodsaaklik.

    •     Wanneer nodig kan die staat se mag van dwang tot uiterste maatreëls strek. Die "swaard" in v.4 is meer as 'n simbool van gesag; dit dui op die mag van lewe en dood. Die algemene manier destyds om die doodstraf te voltrek, was onthoofding met 'n swaard (nogal ironies dat die skrywer hiervan só gesterf het).

Dit is God se opdrag dat alle mense hulle moet onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is (Rm 13: 1, 5b).

❏     Die woord "onderwerp" impliseer dat die verantwoordelikheid vir 'n ordelike samelewing in die eerste instansie by elke individuele burger lê  -  en wel daarin dat hy "homself onder die owerheid plaas" (Gr. letterlik). Christene neem hierdie roeping uiteraard ernstig op.

❏     As 'n Christen homself, sover dit enigsins moontlik is, aan selfs 'n heidense owerheid onderwerp, impliseer dit ten minste 2 dinge:
    Eerstens sê dit dat hy 'n respek het vir God se instelling. As sodanig bring hy hulde aan die groot en soewereine Wetgewer.
    Tweedens lewer dit 'n getuienis teen die wetteloosheid en gevallenheid van hierdie wêreld.

❏     Dit beteken nie dat 'n Christen se gehoorsaamheid aan die owerheid ongekwalifiseerd is nie. Soos alle menslike gesag, is ook hierdie gesag relatief. Daar is bepaalde grense wat regerings nie mag oorsteek nie. Wanneer is burgerlike ongehoorsaamheid geregverdig? As die regering iets beveel wat God in Sy Woord verbied; en as hy iets verbied wat God in Sy Woord beveel. (Hd 4:19; 5:29, 40-42).
    Die Bybelse aksent is egter op onderwerping, eerder as op die reg tot ongehoorsaamheid.

❏     Les bes moet ons gesindheid teenoor die owerhede nie net passief wees nie, maar ook aktief: ons word beveel om vir hulle te bid (1Tm 2:1-2).

'n Aantal konkluderende opmerkings

1.    Sowel kerk as staat is instellings van God.

2.    Kerk en staat word egter geroep om in verskillende sfere in God se diens te wees.
Die kerk werk in die area van God se besondere genade: evangelieverkondiging en die redding van sondaars, aanbidding, pastorale sorg, ensomeer.
    Die staat werk in die area van God se algemene genade. Dit moet sover moontlik menslike verdorwenheid weerhou om tot totale ontbinding te ontaard. En dit moet goeie orde in die samelewing handhaaf, sodat dit leefbaar bly in 'n gevalle wêreld.

3.    Beide instellings het van God 'n swaard ontvang om sy taak te verrig.
Die staat het 'n swaard van staal; die kerk die swaard van die Gees.
    Die kerk moet hom by sy roeping hou. Nooit mag hy die swaard van staal hanteer nie. As die kerk hierdie swaard opneem, is dit altyd tot oneer van God. Geen uiterlike dwang kan immers 'n ware Christen voortbring nie. Die swaard van staal kan oor 'n mens se liggaam heers, nooit oor sy gees nie.
    En sou die staat die swaard van die Gees probeer hanteer, lei dit altyd tot chaos in die kerk. Wat weet die ongelowiges van God se ordes en weë en waarheid? (1Kor 2:6-16). Aanbidding, om vir God aanneemlik te wees, moet uit die mens se hart kom. Gedwonge verering sal Hom tot in ewigheid nie behaag nie. Meer nog, die kerk verloor sy essensie  -  hy raak tewens antagonisties daarteen  -  as sy voorskrifte tot wette verhef word vir hulle wat net gebore en nie ook wedergebore is nie.
    Slegs die Gees van God kan die mens se hart verander en beheer  -  en Hy doen dit deur die Woord van God. En die staat moet dit respekteer. Daarom mag die regering mense se gewetens en godsdiensbeoefening nooit probeer beheer nie  -  ongeag hoe verwronge en vals dit ook al mag wees. Hy moet bloot die ruimte daarvoor daarstel.

4.    Die ware kerk het geen behoefte aan 'n vennootskap met die staat nie; hy vermy dit trouens soos die dood self.
Die skeiding tussen kerk en staat is 'n nie-onderhandelbare beginsel.
    Sekerlik sal die kerk nooit vervolging soek nie, maar eerder as om kompromieë aan te gaan wat hierdie beginsel betref, sal hy vervolging in die gesig staar. Onaangenaam en pynlik soos dit mag wees, toon die geskiedenis keer op keer dat die kerk, soos ‘n wingerdstok onder 'n snoeiskêr, onder vervolging gedy.
    Dit beteken dat die staat se vyandskap die gemeente van Christus nooit in die diepste sin van die woord kan bedreig nie. Dit kan bloot die konteks verander waarin hy sy roeping moet vervul.

5.    Tog leer die Skrif nie dat die staat en die kerk niks met mekaar te doen het nie.
Die kerk skep nie kultuur nie, maar dit beïnvloed kultuur  -  en politiek is 'n belangrike deel van 'n samelewing se kultuur.
    Waar die evangelie ook al verkondig word, daar raak die samelewing gemeng, bestaande uit diegene in Christus en diegene in Adam. Daarom kan daar nie iets soos 'n Christelike kultuur wees nie (as kultuur dan die erfenis van 'n samelewing in sy geheel is). Daar kan slegs 'n kultuur wees waar die evangelie se invloed tot 'n meerdere of mindere mate waargeneem kan word.
    Nooit plaas die Nuwe Testament 'n sogenaamde Christelike kultuur teenoor 'n heidense kultuur nie. Dit leer dat die kerk en sy evangelie 'n suurdeeg is in welke kultuur dit ook al teenwoordig mag wees. Die Skrif is doodtevrede om die Christen se stem bloot by al die ander stemme in die kultuurkoor te plaas.
    Hieruit volg dat die kerk die evangelie positief moet verkondig, en uiters versigtig moet wees om as kerk enige politieke verklarings te maak. Waarskynlik is dit die heel beste as hy hom geheel-en-al daarvan weerhou. Nee, die kerk se spreke word gehoor in die stemme van sy lidmate in hulle hoedanigheid as burgers met godvrugtige waardes en oortuigings.
                                                                                                        Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment