Sunday, April 14, 2013

Mt 3:1-17; 11:7-15; Jh 3:22-4:3 - DIE DOPER EN DIE DOOP

"WIE MOET GEDOOP WORD EN OP GROND WAARVAN?", is 'n vraag waarmee die kerk al vir eeue worstel. Die doop is egter die oortjies van die seekoei. Daaronder lê onder meer die kwessie van kerkbeskouing. Bestaan die kerk net uit gelowiges, of uit gelowiges én hulle kinders? En hierdie vraag hou weer verband met die verhouding tussen die Ou Verbond en die Nuwe.
    Dat daar sterk kontinuïteite tussen die Ou en die Nuwe Verbond is, staan vas. Maar wat van die diskontinuïteite? Hoe radikaal is die verskille? In die Ou Testament was die kinders deel van die verbondsvolk, soos hulle besnydenis getuig. Geld dit ook in die Nuwe Testament? Of is die verskil sodanig dat mens nie meer kan sê dat Christene se kinders vanself deel van die gemeente is nie. Het die kinderdoop die besnydenis vervang of nie?
    Kardinaal belangrike lig op die kwessie van die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond word gebied deur die werk en prediking van Johannes die Doper. Dit loon oor en oor die moeite om behoorlik daarna te kyk.

'N REUSEFIGUUR

❏    Gewis is dit betekenisvol dat al 4 Evangelies met Johannes die Doper se prediking afskop ‒ as iets van 'n voorwoord tot die Here Jesus se publieke bediening.

❏    Ook die apostels het kennelik 'n hoë dunk gehad van die openbaringshistoriese betekenis van Johannes se werk as wegbereider van die Messias (Hd 10:37; 13:24).
    Opvallend is dat die apostel in eersgenoemde uitspraak spesifiek Johannes se dóóp as die beginpunt van alles beskou.

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat die vroeë kerk Johannes se optrede beskou het as die waterskeiding tussen die ou bedeling van belofte en die nuwe bedeling van vervulling in Christus.
    'n Betekenisvolle uitspraak kry ons in Mt 11:7-15 (gelees). Dit lei tot 'n paar belangrike afleidings:

    •     Die Ou Testamentiese profetiese boodskap bereik sy klimaks in Johannes se optrede. Hy is die grootste van die profete. Hy is trouens meer as 'n profeet. Al die profete het gesê dat die Messias sou kom, maar Johannes kon sê dat Hy inderdaad gekom het: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Jh 1:29).

    •     Hoewel sy geskiedenis in die Nuwe Testament opgeteken is, is hy in werklikheid nog deel van die Ou Testamentiese bedeling. Die koninkryk kom ná sy optrede en die kleinste in die koninkryk is groter as hy. Dis asof hy wydsbeen staan ‒ een voet in die bedeling van verwagting, een voet in die bedeling van vervulling. Hy gee as 't ware die fakkel van God se openbaring en verlossingsplan oor aan die Here Jesus Christus.

    •     Johannes die Doper se optrede en prediking is dus die skarnierpunt tussen twee bedelings, twee epogte. Niemand met enigsins 'n geheelbeeld op die Skrifopenbaring , sal die geïntegreerde deurlopendheid tussen die Ou en die Nuwe verbond geringskat nie. Maar ewe belangrik is dit om die radikale diskontinuïteit tussen die oue en die nuwe te verreken. Inderdaad kan ons praat van twee bedelinge wat weliswaar onderling verbonde is, maar tog ook totaal verskillend is. Dis beloftes wat vervul is ‒ en die vervulling is veel heerliker as wat die beloftes ooit kon suggereer. Skaduwees het tot substansie oorgegaan!
    Nêrens word dit kragtiger beklemtoon as in die boodskap van Hebreërs nie. Só stel die skrywer dit byvoorbeeld in 8:13: "Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn" (vgl. v.7-13).

❏    Dus, onontkombaar: Johannes se optrede en prediking in die Bybelse openbaring was kardinaal belangrik en koersveranderend.

UITSTAANDE KENMERKE

❏    As Johannes dan so 'n belangrike figuur is, en as hy nie verniet die Doper genoem word nie, moet ons aanvaar dat die lig wat hy op die doopkwessie laat skyn in vele opsigte rigtinggewend is.

1.    Johannes begin met iets radikaal nuut (Vgl. Mt 3).
Die Doper roep die Israel van sy dag dringend op tot bekering in die lig van die naderende koms van die Koning uit die hemel. In God se boord lê die byl al teen die wortels van dié bome wat nie die vrug van bekering dra nie. Die Here se skop waarmee Hy die koring en die kaf op Sy dorsvloer gaan skei, is reeds in Sy hand. Nie langer gaan die onheilige vermenging van eg en vals wat die Ou Testamentiese verbondsvolk gekenmerk het, voortduur nie. En daar is net één manier om die vuur van God se oordele vry te spring: sondebelydenis en bekering, verseël met 'n waterdoop. Van nou af gaan die Godsvolk net bestaan uit bekeerde en gedoopte mense wat nie skaam is om hulle openlik en formeel by die Koning te skaar soos Sy wegbereider voorskryf nie!
    Die ou bedeling is verby; God begin op 'n nuwe manier werk. Dis Jode wat hier opgeroep word om hulle af te skei van volksgenote wat nie die verbond uitleef nie. Afstamming van Abraham is nie genoeg nie; al wat tel, is bekering. Dis besnedenes wat hier gedoop word!

2.    Jesus identifiseer openlik met die nuwe koers wat ingeslaan word.
Jesus is besny. En Hy het geen sonde om te bely nie. Daar is niks om afgewas te word nie. Tog dring Hy daarop aan om gedoop te word ‒ deur een wat nie werd is om sy skoene vas te maak nie. So is dit God se wil! Waarom? Daar kan net een rede wees: Jesus skaar Hom openlik by die bekeerde oorblyfsel ‒ diegene vir wie Hy reddend gekom het. Meer nog, Hy wys vir hulle die pad aan. Só sal dit van nou af in Sy koninkryk wees.

3.    Jesus sit Johannes se dooppraktyk voort.
As Jesus Sy publieke bediening begin, gaan ook Hy voort met bediening van die bekeringsdoop. En dis kennelik nie vir Hom 'n randsaak nie: Hy maak en doop meer dissipels as Johannes (Jh 4:1). Dit ontstel die wegbereider egter nie; inteendeel. Dis die Vader wat die mense na Sy Seun toe laat stroom (Jh 3:27). Die Bruidegom moet immers meer word (3:30). Só sal dit van nou af in die koninkryk van God werk!
    Betekenisvol is die mededeling dat die Here Jesus self nie gedoop het nie, maar Sy dissipels dit laat doen het (Jh 4:2). Waarom? Hulle is besig met opleiding!

RADIKAAL NUUT OP GOD SE GESAG

❏    Mt 21 werp bevestigende lig op ons onderwerp. Die Joodse leiers vra vir Jesus wie Hom die gesag gegee het om die vorige dag die handelaars uit die tempel te dryf (12-13; 23). Met Sy wedervraag plaas die Here hulle dan in 'n lastige dilemma: waar het Johannes die gesag gekry vir sy bekeringsdoop? Sê hulle dit was van God, moet hulle verduidelik waarom hulle hul nie onderwerp aan Johannes se boodskap nie. Sê hulle dit was menslike voorbarigheid, kom hulle in die moeilikheid by die volk wat Johannes sterk aanhang (24-27).

❏    Twee dinge blyk uit hierdie gesprek:
    Eerstens: Johannes het gesag uit die hemel gekry ‒ om 'n nuwe koers in te slaan. Dit was 'n nuwe hoofstuk in die ontwikkeling van God se verlossingsplan.
    Tweedens: Die gesprek gaan eintlik oor Jésus se gesag. Deur dus na Johannes se gesag te verwys, koppel Hy Homself en Sy werk aan die Doper. Hulle twee loop hand aan hand; hulle is beide deur die Vader gestuur.

ENKELE GEVOLGTREKKINGS

❏    Johannes se doop is nie, soos die besnydenis, 'n teken van toetrede tot die nasionale volk van Israel nie; dis 'n teken van toetrede tot die Koning se volk. En dis iets totaal anders.
    Álle seuntjies in Ou Testamentiese Israel moes besny word ‒ selfs slawe wat vanuit die heidendom aangekoop is (Gn 17:12-13). Dit verskil dus radikaal van Johannes se "doop van bekering tot vergifnis van sondes" (Mk 1:4, OAV) ‒ wat in die koninkryk waar daar nie meer man of vrou is nie aan beide geslagte bedien moet word (Gl 3:28).
    Só het die vroeë kerk dit verstaan. Vir seker het die apostels nie vir die Joodse Christene geleer dat die babadoop in die plek van die besnydenis gekom het nie. Want hulle het steeds voortgegaan om hulle seuntjies te besny. En hulle het baie sterk daaroor gevoel. Hd 21:17-24 sê dat die Joodse gelowiges in Jerusalem knorrig was vir Paulus toe hulle verneem het dat hy Joodse bekeerlinge in die verstrooiing geleer het om nie meer hulle kinders te besny nie. En onthou, dit gebeur omtrent vyf-en-twintig jaar ná Pinkster.
    Waarom het Joodse Christene hulle babaseuntjies besny, maar nie gedoop nie? Hulle het in die spore van Jesus en Sy voorganger geloop. Hulle het verstaan dat die nuwe verbond 'n nuwe teken van toetrede het: "die doop van bekering tot vergifnis van sondes."

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat Johannes ‒ met sy kompromielose aandrang op sondebelydenis voor die doop ‒ afgesien het van die Ou Testamentiese beginsel van "jy en jou nageslag". En hierin volg Jesus en Sy dissipels die Doper na.
    Om nou daarop aan te dring dat die beginsel van "jy en jou nageslag" weer ná die Here Jesus se hemelvaart in plek geskuif het, is algeheel onhoudbaar. Dwarsdeur die Bybel het God se openbaring 'n voortgaande en ontwikkelende karakter. Die openbaringsgeskiedenis is lineêr, dis progressief en kumulatief, dit maak nie allerlei jakkalsdraaie nie!

❏    Waarom doop Paulus die dissipels van Johannes in Efese dan weer? (Hd 19:1-7). Daar is 'n reuse inhoudsverskil tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. In die paar dekades tussen die twee gebeurtenisse het enorme stukke Godsopenbaring bygekom. Van die kruis en die opstanding het die Doper nie geweet nie ‒ en dit lê aan die hart van die Christelike doop. Maar dat die Christelike doop op die openbaringshistoriese verlengingslyn van Johannes se doop lê, is so duidelik soos daglig.

❏    Is dit verbasend dat die Nuwe Testament soos die graf swyg oor die doop van babas? Dit kan nie anders nie. Die evangelies se eerste hoofstukke berei ons reeds daarop voor. Die openbaringshistoriese reus, Johannes die Doper, verduidelik vir ons waarom dit so is: die doop is vir hulle wat hulle bekeer, hulle sonde bely, en die Koning uit die hemel omhels. Die burgers van Sy koninkryk is hulle wat in nederige afhanklikheid hulle kruis opneem en Hom volg. Sy gemeente bestaan uit die wat met 'n bruidsliefde hulle lewe aan Hom wy.

❏    Sekerlik red die doop nie. In Sy genade red God mense wat nie aan al Sy voorskrifte hou nie. Maar allermins gee dit ons 'n vrypas om Sy duidelike bevel in die wind te slaan. In elk geval gaan dit nie ten diepste om jou en my redding nie; dit gaan om die Here se eer. En wat verheerlik Hom meer in hierdie wêreld as 'n kerk wat waarlik kerk is?

❏    Beteken dit dat die Here Sy rug op ons kinders gedraai het? Allermins! Maar soos alle mense moet ook húlle die koninkryk binnegaan soos die Here Jesus en Sy voorganger ons leer.
                                                                                                              Nico van der Walt
                                                                              E: nico.vanderwalt@reformed.org.za