Sunday, August 4, 2013

E221 - ROMEINE 13:1-7: DIE KERK EN DIE STAAT [1]

Oor ons onderwerp is geen gedeelte in die Nuwe Testament meer belangrik as Rm 13 nie. Ten minste 4 uiters belangrike beginsels kom na vore in v.1-7.
    Maar voordat ons daarna kyk, kan 'n historiese inleiding baie betekenisvol wees  -  juis omdat die verhouding tussen kerk en staat so 'n  kardinaal belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Dit was deur die eeue 'n intense stryd, en een van die mees invloedryke faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.
    Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier in ons land was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan die kerke  -  veral onder die Afrikaners  -  deur 'n moeilike identiteitskrisis en oorlewingstryd in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.
    'n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat, klaar egter baie vrae op.

'n Radikaal nuwe verstaan van die verhouding tussen kerk en staat
Deur die eeue was daar twee uiterste posisies wat hierdie verhouding betref  -  en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel:

    •    'n Verwarring en oorvleueling van die rolle van kerk en staat in die ordes van God. Dit lei dan baie maklik tot iets van 'n identifisering van kerk en nasie  - soos in die stelling: "die Afrikaners is 'n Christennasie."

    •    'n Radikale skeiding tussen die staat en die kerk, wat tot 'n groot mate neerkom op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk  -  die vox populi (humanistiese sekularisme).

#     Alle voor-Christelike gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur 'n gemeenskaplike religieuse lojaliteit  -  wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.
    Babilon was 'n voorbeeld hiervan. In Dn 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid. Daar was geen sprake van 'n keuse nie.
    Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Weereens, wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie.
    Dis waarom die Jode van Jesus se dag hulle nie daarmee kon versoen om belasting aan die Romeinse keiser te betaal nie. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle hom gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Mt 22:15-22). Maar die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: hier is twee afsonderlike lewenssfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie.
     Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en owerheid só van mekaar geskei nie.

#     Die gemeenskap is dus 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewenssfere. Dit is dus nie homogeen nie, maar heterogeen. Almal hoef nie in dieselfde tempel te aanbid nie. En al verskil twee mense religieus soos dag en nag, kan hulle rustig en in vrede op die markplein met mekaar handel dryf.
    Die Nuwe Testament voer dus iets radikaals nuut in die wêreld van destyds in: 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet feitlik keuseloos.
    Die Here Jesus leer oor en oor:

    •    Die samelewing bestaan uit 2 groepe mense: hulle wat aan Hom behoort, en die res. So praat Mt 7 byvoorbeeld van 2 poorte, 2 paaie, 2 huise, 2 fondasies, 2 bestemmings.

    •     Sy dissipels is ín, maar nie ván die wêreld nie.

    •    Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tog werk dit net as daar intieme kontak is.

    •    In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mt 13:24-30) groei die onkruid tot en met die oesdag sy aan sy met die koring.

    •    Die onderskeide in die saamgestelde samelewing loop soms regdeur gesinne en families: "Ek het gekom om tweedrag te bring 'tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Mt 10:35-36).

#    Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid midde-in die ou mensheid te skep  -  vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.
    Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf oor Christene: "Hulle bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."
     Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie  -  dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.
    Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is do ut des: ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle na jou sal omsien, word geglo.
    Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene  -  "ateïste" deur hulle genoem  -  die gode uitgedaag. En as sodanig was hulle godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om sulke mense te vervolg, is geglo, paai die gode en het as sodanig versoeningswaarde.

Die kerk se sondeval
Die vierde eeu het radikale veranderinge gebring. Ten spyte van felle vervolging het die kerk tydens die voorafgaande eeue met rasse skrede gegroei. Daarteenoor het dit al hoe slegter met die Romeinse Ryk gegaan. Sommige denkers het gevolglik só begin redeneer: aangesien die Christene se God kennelik sterker is as die Romeine se gode, moet die tradisionele gode dalk plek maak vir húlle God. Dan sal dit weer beter gaan met die Ryk.
    Ongelukkig het sommige naïewe Christenleiers hierin 'n geleentheid gesien  -  sonder om die Here Jesus se woorde in ag te neem, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie." Wat hulle betref, sou dit 'n wonderlike koninkryksdeurbraak wees as die Ryk húlle geloof sou aanneem.
    Reeds in 250 n.C. het Origines voorbrand hiervoor begin maak: "As die hele Romeinse Ryk sou verenig in aanbidding van die ware God, sal Hý vir hulle veg." Christelike sakralisme het sy lelike kop begin optel!
     En inderdaad het Christelike sakralisme in die vierde eeue, in die tyd van keiser Konstantyn, 'n werklikheid geword.
    As Konstantyn (274-337) keiser word, erf hy groot probleme. Die Ryk was besig om uit mekaar te val. Maar dan kry Konstantyn volgens oorlewering sy baie bekende visioen: 'n kruis in die wolke. En hy hoor hierdie woorde: In hoc signo vinces (oorwin in hierdie teken!).
    Hieruit is dit duidelik dat Konstantyn min van die evangelie verstaan het, aangesien hierdie sg. visioen 'n radikaal onbybelse betekenis in die kruis inlees.
    Konstantyn het homself wysgemaak dat die evangelie die kuur is wat die Ryk sou red. Daarvoor was dit egter nodig dat die ganse bevolking die evangelie aanneem  -  almal moes in die kerk wees. Religieuse konsensus  -  al was dit onder dwang  -  was die antwoord.
    Hoe gemaak? Die kinderdoop (wat sedert die begin van die derde eeu tot nou toe op 'n baie beperkte skaal in sekere kringe voorgekom het) sou die instrument word om een en elkeen tot die institusionele kerk toe te voeg. Per slot van rekening is dit makliker om iemand water toe te dra, as om hom self soontoe te laat loop. Van nou af sou elke nuwe aankomeling in die Romeinse Ryk só deel van die kerk word. Spoedig sou die hele bevolking, kop vir kop, deel daarvan wees  -  en die Romeinse Ryk sou die heilige Romeinse Ryk word! En hierdie ryk sou 'n nuwe god hê om na hom om te sien.
    Teen die einde van die 300's, onder Theodosius I, het die proses sy volle gang geloop. Die Christelike geloof het die enigste wettige godsdiens van die ryk word  -  tipies van 'n sakralistiese stelsel.

#     Die wiel draai, word gesê. En inderdaad. Want die vervolging wat die Christene altyd gely het, het nou op die aanhangers van die tradisionele heidense godsdienste neergekom. Skielik het die vervolgdes die vervolgers geword, en omgekeerd. Soos altyd, het sakralisme min geduld gehad met jukskeibrekers.
    Ware Christene, wat geweet het waaroor dit regtig gaan, kon die nuwe bedeling met sy vermenging van wêreld en kerk hoegenaamd nie aanvaar nie. En so het die Donatisme ontstaan. Dit was 'n protesbeweging teen die huwelik tussen staat en kerk, asook die tragiese vervlakking wat as gevolg daarvan binne die institusionele kerk ontstaan het.
    Die brandende vraag was nou: wat is die aard van die ware kerk? En in watter verhouding staan dit teenoor die wêreld om hom? Die antwoorde hierop het uiteengeval in twee wedersyds uitsluitende antwoorde.

    •    Die Corpus Christianum-standpunt het gedink in terme van 'n liggaam van Christelikes  -  'n Christelike samelewing, met 'n kerk wat almal voor die voet insluit. Dit was die standpunt van die owerhede en die staatskerk.

    •    Die Corpus Christi-standpunt het gedink in terme van die liggaam van Christus  -  wat as kleiner gemeenskap van ware gelowiges (en net hulle) binne die breëre en ongelowige samelewing bestaan. Dit was die standpunt van die Donatiste en andere wat soos hulle as sektaries gebrandmerk is.

#     Donatisme is uiteindelik onderdruk, en die Rooms Katolieke Kerk is gebore. Van nou af sou Christelike sakralisme en die Corpus Christianum-idee in Europa die septer swaai.

Die sestiende eeuse Reformasie
'n Duisend jaar later sou die eerste Reformatore gekonfronteer word met die sakralisme wat steeds in Europa die botoon gevoer het.
    Aan die begin wou die vroeë Hervormers, Luther en Zwingli, die huwelik tussen kerk en staat ontbind. Ook is dit gedokumenteerd dat hulle aanvanklik wou ontslae raak van dit wat sakralisme in stand hou, naamlik die kinderdoop.
     Die staat het egter onmiddellik met 'n ysterhand ingegryp. Só maklik sou hy nie sy greep op die volk afstaan nie. Want die owerhede het geweet dat jy 'n samelewing beheer as jy sy godsdienstige sentimente beheer. En hierdie beheer sou spoedig uit hulle hande glip as die belydenisdoop algemene praktyk sou word. 'n Groot meerderheid van die samelewing sou hulle immers nie laat doop nie, en hulleself gevolglik nie as gelowiges en deel van die kerk ag nie.
    Voorts het die owerhede geweet dat jy een groot instituut  -  die staatskerk  -  kan beheer, maar dat dit onmoontlik word in die geval van 'n veel kleiner groep mense wat hulle in afsonderlike en onafhanklike gemeentes bevind. Voeg daarby dat sulke gelowiges  -  anders as die massas in die volkskerk wat skaapagtig agter hulle leiers aanstap  -  as 'n reël mense van oortuiging is wat vir hulleself dink, en jy verstaan waarom destyds se staatsowerhede die belydenisdoop met die swaard vervolg het.
    Die Reformatore was dus vasgevang in 'n verskriklike dilemma. Óf hulle moes sterf vir kardinaal belangrike waarheid, óf hulle moes bly lewe om 'n nog meer fundamentele waarheid te verkondig aan 'n Europa in stikdonkerte. Anders as die Anabaptiste (wederdopers), het hulle gekies om die kinderdoop te behou, te bly lewe en voort te gaan met die prediking van regverdiging deur die geloof alleen. En dit sou hulle onder die beskermende vlerke van moeder staat doen.

#    Noodwendig het daar op hierdie punt 'n skeuring in die geledere van die pasgebore reformasiebeweging ontstaan. Die Anabaptiste het die Reformatore van skreiende kompromie beskuldig. Hulle standpunt was dat dit van lewensbelang is dat die kerk waarlik kerk moet wees, en dat dissipels van die Here Jesus bloot die roeping het om Hom te gehoorsaam, terwyl hulle die gevolge in Sy hande laat. In beginsel is hulle natuurlik reg, maar wie van ons sien kans om die Reformatore te veroordeel? Mens het immers begrip vir hulle verskriklike dilemma.
    Inderdaad is tienduisende Anabaptiste in die volgende jare vermoor  -  deur veral die staat en die Rooms-Katolieke Kerk. Maar helaas was die Reformatore en hulle medewerkers se hande nie heeltemal sonder bloed nie. Want kompromie bring altyd insekuriteit, en insekuriteit bring hardvogtigheid.
    Natuurlik moes die Reformatore hulle besluit en standpunt regverdig. Die Ou Testament  -  sakraal in sy boodskap en praktyk as jy hom sonder die Nuwe Testament lees  -  is sonder behoorlike in ag neming van die openbaringsgeskiedenis se ontwikkeling, hiervoor ingespan. Om die kinderdoop te regverdig, is die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond oorbeklemtoon, terwyl die diskontinuïteite verwaarloos is. En gou-gou het Christelike sakralisme en die kinderdoop meer aansien as ooit geniet.

#    Die Reformatore het spoedig begin om belydenisskrifte te skryf  -  waarvoor die kerk van alle eeue hulle innig dankbaar moet wees. Een probleem het egter soos 'n seer duim uitgestaan: sakralisme en die gepaardgaande kinderdoop. En omdat ons van formele belydenisskrifte praat, beteken dit dat die probleem in beton gegiet is.
    Vergelyk die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36.
    Hierteenoor staan die Baptiste van die begin af vir die skeiding tussen kerk en staat. Vandag geld dit natuurlik vir baie ander ook.

Die geskiedenis help ons om vandag te verstaan

Hier het ons die historiese redes vir die hardnekkige vashou aan die kinderdoop  -  'n praktyk wat net eenvoudig nie die toets van 'n nugtere Skrifondersoek kan slaag nie. En hier is die historiese redes vir die sakralisme wat vir soveel jare die Afrikaner se denke oorheers het en verantwoordelik was vir soveel ellende in die Afrikanerpolitiek. En hier is die historiese redes vir baie van die (onnodige) wroeginge waardeur Afrikaner Christene sedert 1994 gaan. Laat ons onthou dat wat ware Christene tans in ons land ervaar, tipies is van die vreemdelingskap wat die ware kerk deur die eeue orals ter wêreld ervaar; tewens, dit gaan met ons nog baie, baie goed.
                                                                                                            Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment