Saturday, August 3, 2013

E244 - 1 JH 2:6 - DIE NAVOLGING VAN JESUS

Lees mens die Nuwe Testament met 'n oop gemoed, kan jy tot net een slotsom kom, naamlik dat net dissipels, oftewel navolgers van Jesus, ware Christene is. Noem jy jouself dus 'n Christen, maar volg nie in Jesus se voetspore nie, bedrieg jy jouself, en is jy 'n huigelaar.
    Luister wat sê die Here Jesus self: "As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees" (Jh 12:26). En luister wat skryf die leier van die apostels: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in Sy voetspore kan volg" (1Pt 2:21).
    Natuurlik word nie van ons verwag om Hom in alles na te doen nie. Talle aspekte van Sy lewe was uniek aan Sy Messiaanse sending. Maar in sóveel dinge was hy die volkome en universele mens. Met Hom kan enigeen identifiseer  -  ongeag ouderdom, tydvak, kultuur, lewenstandaard, intellektuele vermoë, geleerdheidspeil, geslag.

Waarin lê ons navolging van Jesus?

1.    Ons moet Jesus se heilige lewe navolg

So stel die apostel Johannes dit: "Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (1Jh 3:3). Natuurlik kan ons nie Sy volmaaktheid bereik nie. Almal van ons het nog soveel oorblywende sonde. Maar sonder twyfel moet sekere van Sy karaktertrekke ook óns heiligmaking en navolging kenmerk.

1.1    Eerstens moet innerlike opregtheid my lewe beheersl. Christenskap is 'n hartsaak. Kom dit nie uit jou diepste wese nie, is dit gewoon nie eg nie. Lees mens die Evangelies, sien jy dat daar één ding is wat die Here Jesus nie kon verduur nie  -   huigelagtigheid.

1.2    Tweedens moet my lewe gekenmerk word deur konsekwentheid en bestendigheid. My waardes en gerigtheid moet koersvas bly, jaar in en jaar uit. Per slot van rekening volg ek die universele en tydlose voorbeeld.

1.3    Derdens moet my lewe een wees van toewyding en nougesetheid. So stel Paulus dit in Fl 2:15: "Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld" (Fl 2:15). En kan dit meer radikaal gestel word as in 1Kor 7:29-31: "Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan."

2.    Ons moet Jesus se gehoorsaamheid navolg

As daar een ding is wat die Here Jesus se lewe gekenmerk het, is dit gehoorsaamheid aan Sy Vader. Trouens, dis die onderliggende en samebindende beginsel van Sy genoegdoening en versoeningswerk. Die regsbasis vir die redding van sondaars het Hy daargestel deur Homself as Hoëpriester in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader te offer.
    Luister na Fl 2:5, 8: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: ... Hy was gehoorsaam tot in die dood ..."
    Veral vier dinge het die Here Jesus se gehoorsaamheid gekenmerk.

2.1    Eerstens was Sy gehoorsaamheid vrywillig en blymoedig. So voorsien die Messiaanse Ps 40 dit: "Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U woord is my hele lewe" (v.7-9). En die Hebreërskrywer eggo dit as hy Christus aanhaal: "Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: 'Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is." (Hb 10:5-10). Waarlik, klaende, morrende en langtand-Christenskap voldoen net eenvoudig nie aan die Here se standaarde nie.

2.2    Tweedens was Jesus se gehoorsaamheid vry van selfbelang. Hy was totaal gerig op die eer van die Vader. Altyd het dit vir Hom oor die belange en wil van Sy Sender gegaan. Aan die einde van Sy tyd hier op aarde kon Hy in opregtheid en eerlikheid bid: "Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen (Jh 17:4)." Dis duidelik, vir selfsug is daar in 'n Christen se lewe geen plek nie. Ja, almal van ons ken die stryd teen hierdie gewetenlose en immerteenwoordige indringer, maar oorwinning begin met die erkenning dat dit geen bestaansreg het nie.

2.3    Derdens is Sy gehoorsaamheid altyd gekenmerk deur werksywer. Hoewel Hy oënskynlik nooit gespanne en oorhaastig was nie, was Hy kennelik steeds bewus dat die tyd kort is. As Hy 'n blinde genees, sê Hy: "Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat my gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie." (Jh 9:4). Onthou dit altyd, ons as Sy volgelinge, is eweneens rentmeesters van ons tyd.

3.    Ons moet Jesus se naasteliefde navolg

Is Jh 13:34-35 nie van die Here se bekendste woorde nie? "Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle disspels van My is."
    Veral drie dinge het Sy naasteliefde gekenmerk.

3.1    Eerstens was Hy altyd vol empatie. Keer op keer lees ons dat Hy innig jammer vir die mense gevoel het. Matteus stel dit so: "Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie" (Mt 9:36).

3.2    Tweedens het Sy liefde tot uitdrukking gekom in diensbaarheid en selfverloëning.
    Destyds was dit die geringste onder die slawe se taak om gaste  -  wat met oop sandale oor stofpaaie aangestap gekom het  -  se voete te was voordat hulle die huis of eetvertrek binnegaan. Nadat Hy hulle voete in die bovertrek gewas het, sê die Here Jesus dan vir Sy dissipels: "As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel ..." (Jh 13:14-15). En nooit het Hy Sy dissipels méér gedien, as toe Hy hulle met Sy bloed gewas het nie.
    Luister na Paulus: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy wat in die gestalte van God was ... het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word ... " (Fl 2:5-8). Verstaan ons nou iets meer van Jesus se roeping: "Neem jou kruis op en volg My"? In ons lewens is daar geen plek vir selfsug, selfvertroeteling en selfbejammering nie. Christenskap is dienskneg-wees!

3.3    Derdens het die Here Jesus Sy liefde in algehele nederigheid uitgeleef. Daarom kon Hy vir Sy dissipels sê: " ... leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart ... " (Mt 11:29). Niks is meer strydig met ware Christenskap as hoogmoed nie.
   
4.    Ons moet Jesus se lyding navolg (Eng. "suffering")

Hoe kan mens Jesus hierin navolg? Christene moet tog nie lyding soek nie. Natuurlik nie. Ons is nie smartvrate nie! Maar mens kan ook sê dat ons nie lyding ten alle koste moet probeer vermy nie  -  en volg jy Jesus getrou en kompromieloos, gaan swaarkry, ontbering en smarte vir seker jou pad kruis (Rm 8:17; 2Kor 4:10vv; Kol 1:24).
    Petrus gebruik 'n baie sprekende beeld as hy oor lyding in 'n Christen se lewe praat: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg" (1Pt 2:21).
    Baie interessant is Petrus se woordkeuse. Die woord, "voorbeeld" (Gr. hupogrammos) kom uit die opvoedkundige wêreld van destyds. As 'n kleintjie vir die eerste keer skool toe is, het hy 'n vlak pannetjie vol byewas gekry. Die onderwyser het dan die Griekse alfabet met 'n stilus in die was geskryf  -  waarna die kleintjie met sy eie stilus versigtig oor en oor die groefies moes volg. So het hy geleidelik gewoond geraak om die letters te vorm. Nou gebruik Petrus hierdie beeld om vir ons te verduidelik hoe versigtig ons tree vir tree in Christus se voetspore moet volg  -  soos daardie klein seuntjie of dogtertjie die onderwyser se groefies moes volg  -  al sou dit lyding en vervolging, hoon en smaad vir ons meebring.
    Hierdie dinge moet ons nie verbaas nie. Die Here sê daar is 'n kruis wat ons moet opneem in ons navolging van Hom. Die kruis was 'n instrument van teregstelling. Dit sinspeel op die prys van dissipelskap. Gratis is die genade van God; nooit goedkoop nie.
    Vervolging en lyding kom vir dissipels tipies op vier maniere tot uitdrukking.

4.1    Eerstens is daar natuurlik properse vervolging. Dit neem verskillende gestaltes aan. Selfs in ons dag moet baie Christene oor die wêreld heen elke jaar die hoogste tol betaal. Duisende sit in tronke vir hul geloof. En elke ware Christen ken tot 'n mindere of meerdere mate verwerping, diskriminasie en spot.

4.2    Tweedens hou gehoorsaamheid dikwels allerlei ontberinge in. Dink aan die swaarkry van party sendelinge wat hulleself in moeilike omstandighede afsloof. Dink aan die plesiere en geriewe van hierdie wêreld wat mens jouself ontsê ter wille van die Here en Sy evangelie. John Wesley het byvoorbeeld vir amper vier jaar grootliks op artappels geleef, sodat hy meer kon hê om vir die armes te gee.

4.3    Derdens is daar ons Hemelse Vader se tugtinge en kastydinge wat alle ware kinders van God deelagtig is. En moenie dink die Landbouer se snoeiskêr is 'n ligtelike saak nie (Jh 15). Het jy al 'n wingerd gesien pas nadat dit gesnoei is. Dis so kaal dat dit lyk asof dit nooit weer gaan herstel nie. Om die beeld van Christus in ons te vorm, sny diep.

4.4    Vierdens is daar die lyding wat die stryd teen die vyande van ons siele meebring. Ons veg die stryd op drie fronte: teen die wêreld, die duiwel en die sondige natuur, Veral laasgenoemde, die vlees, is die ergste. Die stryd daarteen hou net nooit op nie.

5.    Ons moet Jesus se ewigheidsgerigtheid navolg

Van die Here Jesus sê die Hebreërskrywer: "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins .. " (Hb 12:2). Hy was dus duidelik ingestel op die loon wat na kruis en opstanding op Hom gewag het.
    Hierin het Paulus sy Here nagevolg: "Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie." (1Kor 9:25-27). En inderdaad was die lourierkrans deurgaans in die apostel se visier.
    Om in die lig van die ewigheid te leef, is volgens die Nuwe Testament een van die uitstaande kenmerke van 'n ware gelowige se lewe.
    Die groot Amerikaanse prediker en teoloog, Jonathan Edwards, het gereeld gebid: "Lord, please stamp eternity on my eyeballs!"

Troos vir sukkelaars

Die Bybel het baie troos vir die van ons wat gebroke is, omdat ons so ver tekort skiet in ons najaging van die verhewe roeping om Christus te volg.
     Iemand wat deur die Gees wederbaar is, se nuwe hart dring hom of haar om die voorbeeld van die Here na te volg. Maar die swakheid van die vlees, die teenstand van die Duiwel, en die suigkragte van die wêreld, bring mislukkings sonder tal mee. Tog bly 'n dissipel se versugting steeds dié van die Psalmdigter: "As ek tog maar net op 'n vastekoers kan bly en my aan U voorskrifte kan hou!" (Ps 119:5).
    Vir die opreg-gebrokene herinner die Woord van God weer en weer: sulke mislukkings hef nie jou regverdiging op nie! Onthou, ons verlossing berus ten diepste nie op óns gehoorsaamheid nie, maar op die volmaakte gehoorsaamheid van Chrístus. Ten diepste is redding objektief; dit lê buite ons! Wat sou geword het van ons as dit nie so was nie? Wie sou gered kon word?
    Gebrokenheid oor dissipelskap-mislukkings word wonderlik deur die Heilige Gees in ons lewens gebruik. Ons swakheid word soos klokslag in geestelike wins omskep. Midde-in ons mislukkings leer ons ons eie harte en God se standaarde beter ken. Ons leer om sonde meer en meer te haat. Ons raak net dankbaarder oor Christus se volmaakte middelaarskap. En, les bes, groei ons in ons liefde vir die Here. Elke keer as ek die spoor byster raak, as die kruis my in die grond indruk, as ek wanhopig wil opgee, gebruik die Here dit ten goede. My trots word gekasty, my eie-geregtigheid gesnoei, ek kry meer waardering vir genade, ek verlang sterker na die hemel, en ek raak al hoe meer gereed vir die dood. En omdat God se krag in swakheid volbring word (2Kor 12:9-10), word hierdie krom stok  -  ja, ék  -  al hoe bruikbaarder om reguit houe mee te slaan.
    Onthou, die Here het 'n behae in my hartseer oor my mislukkings. Dawid het dit verstaan: "Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart, sal U, o God, nie verag nie" (Ps 51:19).
                                                                                                              Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment