Saturday, August 3, 2013

E116 - JH 14:1-3 : DIE BRUID VAN CHRISTUS

Dis die aand voor die Here Jesus Christus se kruisiging. Hy is saam met Sy dissipels in die bovertrek. Om regtig te verstaan wat Hy hier vir hulle sê, moet mens die kultuur-historiese agtergrond in ag neem. Kom ons kyk daarna.

Die Joodse huwelik

Die Joodse huweliksluiting het drie fases gehad: die verlowing, die wagperiode en die eenwording.

Die verlowing
'n Verlowing destyds was veel meer gewigtig as tans. Reeds by hierdie geleentheid is die huweliksverbond tussen die man en die vrou gesluit.
    Dit is voorafgegaan deur die jongman se besoek aan die pa van die jongmeisie op wie hy sy oog gehad het. Hy het dan sy hartsbegeerte aan die oom bekend gemaak, en as dié hom die versoek laat welgeval het, is daar onderhandel oor 'n bruidsprys, oftewel die lobola. Dit kon hy dadelik en kontant betaal, maar baie dikwels sou hy dit oor 'n tydperk afbetaal. Só moes Jakob byvoorbeeld sewe jaar vir elk van sy twee vrouens werk (Gn 29:18-30).
    Die verlowing was 'n uiters gewigtige verbondsluiting, wat geformaliseer is as die twee jongmense saam wyn uit 'n beker gedrink het.
    Na hierdie seremonie sou hulle so goed soos man en vrou wees  -  behalwe dat hulle nie seksueel één sou word nie. Die bruid was nou geheilig, oftewel afgesonder vir die bruidegom, en omgekeerd. Dit was dan ook die staat waarin Josef en Maria was toe sy swanger geraak het met die Messiaskind. Josef se geweldige ontsteltenis toe hy daarvan hoor, is dus heeltemal begryplik.

Die wagperiode
Hierdie tydperk kon jare duur (soos in Jakob se geval), maar twaalf maande was algemeen.
    In hierdie tyd het sowel die bruidegom as die bruid bepaalde verantwoordelikhede gehad. Afgesien van die bruidsprys se afbetaling, moes die jongman 'n blyplek vir hom en sy bruid gereedkry. Die bruid weer, moes haarself en haar bruidsuitset, oftewel haar trousseau, gereed kry  -  en veral haar trourok.

Die eenwording
Wanneer die dag van hulle finale eenwording in die huwelik aangebreek het, het die bruidegom sy bruid gaan haal vir die huweliksfees. Tipies sou hy 'n klomp vriende saamgeneem het, en dikwels het hulle eers teen die aand by haar huis aangekom.
    Intussen sou die bruid opgewonde gewag het. Sy het sekerlik snuf in die neus gehad min of meer wanneer die jongmanne sou opdaag, maar uiteraard, in die wêreld van destyds kon dit maklik 'n dag of twee vroeër of later gewees het.
    Ook die bruid het vriendinne gehad wat haar bygestaan het. Dikwels het hulle buite gewag om die aankomende manne betyds te sien.
    As die bruidegom binne hoorafstand was, sou een van die jongmanne hard roep om die klomp meisies te waarsku dat hulle gereed moet wees.
    Uiteindelik sou die klompie jongmense al laggende, singende en dansende terug vertrek na die plek van die huweliksfees. En elkeen sou 'n fakkel of 'n lamp dra om te kan sien. Dis nie moeilik om jou die uitbundige vreugde, opgewondenheid en afwagting van so 'n optog in te dink nie.
    'n Hoogtepunt van die fees was wanneer die bruid se sluier gelig is en sy bekendgestel is. Sekerlik het talle snuf in die neus gehad wie sy was, maar nou was dit oop en bloot en amptelik.
    Hierdie fees het as 'n reël ook heelwat meer om die lyf gehad as óns onthale vandag. Dit kon so lank soos sewe dae duur! (vgl. Rig 14:12, 14 -18).

Toepassing in die Nuwe Testament

Baie huweliksbeelde in die Skrif raak nou duideliker.
    Die kerk is die bruid van Christus (Op 19:7-8).
    Christus het gekom om ons  -  dié wat waarlik aan Hom behoort  -  aan Hom te verloof. Die verhouding tussen ons en Hom word ook die verbond genoem. Ook hierdie huwelik is verseël met die drink uit 'n gemeenskaplike beker. Dit geskied nie net eenmaal nie, maar weer en weer (1Kor 11:25). Die kulminering van hierdie verlowing of huwelik sal egter eers eendag gebeur tydens die bruilofsmaal van die Lam (Lk 22:14-18).
    Ons hemelse Bruidegom het sommer dadelik die bruidsprys betaal. En wat 'n prys was dit nie! (vgl. AH 52). Vir seker is dit 'n aanduiding van hoe kosbaar Hy die bruid ag.
    Toe is die Here Jesus terug na die Vaderhuis toe  -  om vir ons plek gereed te gaan maak (Jh 14:2-3).
    Die kerk is vir Christus afgesonder. Sy flankeer nie met ander minnaars in hierdie wêreld nie  -  sy raak nie wêreldgelykvormig nie. Sy hou haar besig met die regkry van haar trousseau en trourok.
    Wanneer die bruid in haar volheid gereed is, sal Christus terugkom vir die vervolmaking van die huwelik. Dan sal die verlowingstyd verby wees.
    Wanneer ons hemelse Bruidegom terugkom, sal Hy 'n gevolg saambring  -  al die engele (Mt 25:31).
    As die Here terugkom, sal die aartsengel roep en God se trompette sal weerklink (1Ts 4:16). En ons sal vir altyd by die Here wees.
    In die Vaderhuis sal jubelend feesgevier word. Die Bybel noem dit die bruilofsmaal van die Lam. En dit sal nie net vir sewe dae duur nie, maar vir ewig.
    Ook by hierdie geleentheid sal die bruid publiek en finaal bekendgestel word. Só stel Kol 3:4 dit: "Wanneer Christus ... geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word." En Rm 8:19: "Die skepping sien ... daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is."

2Kor 11:2-4 : So lyk 'n ware gemeente

As mens 2Kor 11:2-4 lees, sien jy hoe die apostel die gemeente van Korinte beskou. Hy sien hulle as 'n meisie wat hy aan Een Man toegesê het as Sy bruid en wat hy vlekkeloos na Hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar hy is bang dat hulle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus. Hy sê dit omdat hulle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat die apostels verkondig. En hulle neem maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as wat hulle by Paulus geleer het."
    Hier sien Paulus die gemeente as 'n jongmeisie wat aan Christus verloof is. Ja, die kulminering van die huwelik het nog nie plaasgevind nie, maar die verlowing is 'n voldonge feit. En die apostel se taak is om hulle voortdurend hieraan te herinner en aan die verantwoordelikhede wat dit inhou.
    Waarvoor beywer die apostel hom met 'n ywer wat van God kom (en stel in die proses 'n voorbeeld vir alle pastors deur die eeue wat sou volg)?
    Paulus beywer hom vir die maagdelikheid en vlekkeloosheid van die bruid. Hier gaan dit oor die gemeente se heiligheid (2).
    Paulus beywer hom vir die bruid se onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus. Hier gaan dit oor die gemeente se liefde vir Christus (3).
    Paulus beywer hom dat die bruid nie verlei sal word om 'n ander Jesus, 'n ander gees, of 'n ander evangelie as die ware aan te hang nie. Hier gaan dit oor die waarheid van die gemeente se geloof, oortuigings en toewyding.
    As mens bogenoemde in sy volle omvang vertolk, kan jy sê dat dit die hart is van wat die Here van ons verlang. Die res is óf daarby inbegrepe, óf kom vanself, óf is onbelangrik.
    Ons sou voorts kon sê dat die gemeente waarvan dit nie waar is nie, 'n ontroue, ontugtige, losbandige en sedelose "kerk" is.

'n Heilige bruid

Hoe lyk 'n heilige bruid, oftewel gemeente? (Onthou, die mense en nie die instituut nie, is die gemeente).
    Mens sou lank hieroor kon praat. Maar dinge wat die Woord van God baie sterk beklemtoon, is onder meer die volgende (die OAV word veral aangehaal):
    'n Ware gemeente jaag dit na om sonder vlek of rimpel voor die Here én voor die wêreld te leef  -  heilig en sonder gebrek (Ef 5:25-27).
    'n Ware gemeente weet dat vriendskap met die wêreld, vyandskap met God is (Jk 4:4). Daarom vlug hulle vir die begeerlikheid van die vlees en die oë, asook die grootsheid van die lewe (1Jh 2:16).
    'n Ware gemeente dien nie God én Mammon nie. Hulle weet die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins (1Tm 6:6).
    'n Ware gemeente weet hulle is vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld. Hulle is op pad na die ewige stad as vrou van Christus. Daarom slaan hulle nie hulle penne híér te diep in nie.
    'n Ware gemeente ken die vrese van die Here en bewe vir Sy Woord (Jes 66:2).
    'n Ware gemeente word deur godvrugtige ouderlinge gelei en bewaak hulle nagmaalstafel.
    'n Ware gemeente maak erns met hulle onderlinge verhoudinge.

'n Verliefde bruid

Kan 'n huwelik voltrek word as die bruid in die verlowingstyd met ander minnaars flankeer en haar bruidegom nie meer liefhet nie? In Op 2 lees ons dat ons werke, arbeid en volharding nikswerd is nie as ons ons eerste liefde verloor het. En Jh 17:3 sê vir ons baie duidelik dat Christenskap nie die najaag van 'n ideologie is nie, maar 'n persoonlike verhouding. Daarom is gebed so belangrik  -  dis die bruid se liefdesbriewe. Elke bruid droom oor haar huwelik. Net so bedink Christene gereeld "die dinge wat daarbo is" (Kol 3:1-4). Hulle het die Here se verskyning lief (2Tm 4:8). Hulle is heelhartig ingestel op Christus en Sy eer  -  Hy vul hulle hele blikveld.

'n Waarheidsbruid

Ware gelowiges ondersoek hulself gedurig of hulle nie besig is met 'n ander Jesus, 'n ander gees of 'n ander evangelie nie. Daarom is die prediking in só 'n gemeente ondersoekend en deurtastend.
    Jesus roep ons om ons kruis op te neem, maar talle gemeentes roep mense om hulle in 'n "ander Jesus" se Naam te kom geniet. Selde hoor jy in so 'n gemeente dat mens moet afsien van jou dierbares en jouself en jou besittings. Dikwels word só gevlug vir die dwaling van verlossing deur werke, dat 'n verlossing sonder gehoorsaamheid gepreek word.
    En word daar nie dikwels 'n "ander gees" gepreek nie? Hierdie gees wederbaar mense sodat niemand dit agterkom nie. En sy taak is om van Christenskap 'n bokjol te maak.
    En 'n "ander evangelie" preek vir helgedoemdes "vrede, vrede". Dis nie tweesnydend nie.

Die trourok

Hoe berei die bruid haar trourok voor? Openbaring 19:7-8 sê vir ons. Elke regverdige daad is nóg 'n stekie daarin. As jy dan inderdaad in Christus is, hoe gaan jy eendag voor Hom staan  -  met 'n asemrowende trourok en 'n sleep, of halfkaal met net die minimum om jou skaamte te bedek?

                                                                                                              Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment