Wednesday, July 31, 2013

E264 - JH 13:1-17 - IS JY REGTIG 'N NAVOLGER VAN DIE HERE JESUS?

Mt 16:15-16
As die Here Jesus Sy dissipels vra of hulle weet wie Hy is, antwoord Petrus namens hulle: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."
    Hulle het dus geweet dat Jesus die Messias was  -  die Here, die Koning.
    Sekerlik sou hulle baie hieroor nagedink het. En hulle sou verder gedink het: 'n koning het nie net onderdane nie, maar hy het ook helpers, adjudante, 'n kabinet, ministers.
    Sonder twyfel was dit nie vir spek en boontjies dat Hy húlle twaalf uitgekies het om orals saam met Hom te wees nie  -  nou al vir 2 jaar. Dis so duidelik soos daglig  -  vir seker gaan húlle Sy kabinet word as Hy eers die troon oorvat.
    Daar het egter één tergende raaisel oorgebly. In 'n kabinet is daar altyd 'n eerste minister! En wie gaan Jesus vir hierdie hoë amp kies? Hierdie vraag het gewis die ambisie hoog in hulle laat opvlam.

Mt 18:1-4

In die komende dae en weke sou hulle baie getob het oor wie die hoogste pos gaan kry. Sonder twyfel sou hy uit hulle geledere kom!.
    Dan besluit hulle om die Here reguit te vra: "Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemele?"
    Jesus roep dan 'n klein kindjie om by Hom te kom staan. "Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel." Trouens, sê Hy, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nie eers in die koninkryk kom nie  -  wat staan nog die grootste daarin wees.
    Duidelik weet die Here wat in die dissipels se agterkoppe sit. Vandaar hierdie antwoord. Vergeet van die premierskap, sê Hy, maak allereers seker dat julle wel in die koninkryk kom. Dis tog die belangrikste!
    Waarlik, hierdie is 'n uitspraak van die Here Jesus wat ons nie ligtelik durf opneem nie! Maar hiervan verstaan die klompie dissipels niks nie.

Mk 9:33-37

Dis 'n ruk later. Hulle is op pad. Dan kry die dissipels stry oor wie van hulle die belangrikste is.
    In Kapernaum begin die Here hulle dan met groot geduld leer: As iemand die eerste wil wees, moet hy nie omgee om laaste te wees nie. En hy moet bereid wees om almal se dienaar te wees.
    Hier wil die Here dus beklemtoon dat daar in Sy koninkryk 'n baie hoë premie op diensbaarheid gestel word.
    Hy laat dan 'n kindjie tussen hulle staan en sê: "Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My ... ook vir Hom wat My gestuur het." Hierdie is 'n sprekende voorbeeld. Kindertjies gee nie om as grootmense hulle rondstuur nie. Trouens, hulle is baie trots daarop as 'n oom of tannie hulle só vertrou. Selfs meer as vandag het kinders in die wêreld van destyds geen status gehad nie. En allermins het hulle opdragte gegee; nee, hulle het opdragte ontvang. Dit was vir hulle 'n eer om die grootmense se stuurjongens te wees.
    Maar oënskynlik het die dissipels steeds nie verstaan nie  -  want onmiddellik hierna lees ons van nog 'n voorval..

Mt 19:13-15; Mk 10:13-16; Lk 18:15-17

As die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring sodat Hy hulle kan aanraak, stamp die dissipels hulle daarteen. Maar Hy sê, nee, Hy wil juis hê die kinders moet na Hom toe kom  -  omdat die koninkryk van God vir mense soos die kinders is. Trouens, dis 'n absolute voorwaarde vir ingang in die koninkryk. Mens wil amper wonder of Jesus homself nie verspreek nie. Of is dit dalk 'n drukfout? Maar, nee, Hy gebruik die voorbeeld weer en weer
    Sonder twyfel stel die Here 'n hoë premie op die voorbeeld van hierdie geen-status-mensies. Hoe moet mens dit vertolk.?
    Die antwoord lê daarin dat Christus se koninkryk 'n andersom koninkryk is. En tipies van hierdie koninkryk is opregtheid en diensbaarheid, asook ongeërgdheid oor kleur en titels en aansien en rykdom. Dis hoe kinders is. Presies só moet ons ook wees. Trouens, ons moet al hoe meer so word. Waarlik, niks is meer strydig met die koninkryk van die hemele as snobisme en ambisie en naywer nie.
    Maar steeds het die dissipels nie verstaan nie. En kennelik het hulle bly wonder wie van hulle nommer een gaan word in die komende koninkryk.

Mt 20:20-28

Dis omtrent ses maande na die vorige insident. Jesus en Sy manne is op pad na Jerusalem (17-19). Sonder twyfel weet hulle: nou gaan die dinge begin gebeur. In die hoofstad gaan die poppe dans!
    Jakobus en Johannes se ma is ook saam met hulle. Sy besef die tyd raak min en sy sal vinnig moet spring. Met ambisie wat in haar brand, gaan sy na Jesus toe. Reguit vra sy vir Hom of haar seuns nommer 1 en 2 in Sy koninkryk kan wees  -  of nog beter, nommer 1a en 1b. Jesus moet darem in gedagte hou dat hulle 'n ryk pa het (Mk 1:20). Nog meer, hulle beweeg lankal reeds saam met Petrus in Jesus se binnekring. En as daar een man is wat sy wil voorspring, is dit die voortvarende Petrus.
    In v.22-23 lees ons hoe Jesus haar antwoord  -  en vir die twee seuns, wat duidelik geweet het wat hulle ma vir die Here gaan vra. Hulle was immers net 'n halftree agter haar, of so lyk dit. Nee, sê die Here , dis Sy Vader se prerogatief om te besluit oor mense se posisie en status eendag in die koninkryk van die hemel.
    Duidelik verstaan die dissipels steeds nie dat prominensie in die koninkryk van Christus uitgemeet word met die maatstok van nederigheid en diensbaarheid. As Hy dus voortgaan om met eindelose geduld hierdie beginsel weer op hulle harte te druk (teen hierdie tyd luister al die dissipels), praat Hy in meer uitdruklike terme as ooit vantevore.     Elkeen wat in Sy koninkryk groot wil wees, moet allermins baasspelerig en grootmeneer wees, maar veeleerder diensbaar by uitnemendheid. Nou draai Jesus nie meer doekies om nie  -  mens moet 'n "dienaar" word (Gr. diakonos, 'n bediende) (v.26). En as jy die eerste wil wees, moet jy almal se "slaaf" wees (Gr. doulos, 'n slaaf) (v.27).
    Onthou, in die antieke wêreld het 'n slaaf geen regte gehad nie; uiters dalk 'n paar voorregte (Lk 17:7-10). Iets soos werksure, byvoordele, vakbonde en waardering het nie bestaan nie.
    Die les van hierdie stukkie interaksie tussen die Here en Sy dissipels kan dus só saamgevat word: Grootheid in die koninkryk word gemeet met die maatstok van diensbaarheid.

Lk 22:24-27

Dis 'n dag voor die kruisiging. Die dissipels is vol afwagting. Hulle ambisie bereik 'n hoogtepunt. In Jerusalem is spanning en druk besig om rondom Jesus op te bou. Iets móét nou begin gebeur!
    Dan ontstaan daar weer 'n gestry tussen die dissipels oor wie van hulle die belangrikste is.
    Baie geduldig leer die Here Jesus weer vir hulle dieselfde les as die vorige kere. Mens kan jou indink hoe elkeen van hulle baie verleë en kop onderstebo na Hom luister: "die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is soos die een wat dien ... Ek is in julle kring soos die een wat dien."

Jh 13:1-17


Daardie selfde aand is Jesus en Sy dissipels in 'n bovertrek saam om die paasmaaltyd te vier. Judas is ook daar, hoewel hy reeds besluit het om Jesus te verraai.
    Eensklaps staan Jesus op, trek Sy bokleed uit en bind 'n handoek om sy lyf vas. Dan gooi Hy water in 'n wasskottel. Die dissipels se oë is vasgenael op Hom en die atmosfeer kan met 'n mes gesny word.
    Die dissipels verstaan maar te goed wat aan die gang is. Mense het destyds sandale gedra. En in daardie dorre wêreld, met sy snuifgetrapte stofpaaie, was jou voete behoorlik vuil teen die tyd dat jy by jou bestemming aangekom het. Dit was dan ook die gebruik dat gaste hulle skoeisel by die voordeur gelos het, om dit eers weer aan te trek as hulle vertrek.
    Aangesien mens toe nie aan 'n tafel gesit het vir ete nie, maar op jou sy en elmboog gelê het, het dit beteken dat jou voete nie ver van die tafelgenoot langs jou se neus af was nie. Daarom was dit gebruik om gaste se voete te was voordat hulle plek inneem by die lae "tafel".
     As 'n gasheer 'n vermoënde man was, sou een van sy slawe die gaste se voete gewas het  -  gewoonlik sy mees junior slaaf, aangesien dit as 'n baie nederige werk geag is. Was daar nie 'n slaaf beskikbaar nie, sou die gasheer óf een van die jonger besoekers die taak verrig het.
    In doodse stilte (kan ek my voorstel) stap Jesus dan na die naaste dissipel toe, kniel by hom, was sy voete, en droog dit rustig af met die handoek. Dan tel Hy die skottel op en beweeg na die volgende dissipel toe. En hoewel Jesus presies weet dat Judas Iskariot op die punt is om Hom te verraai, was Hy ook díé se voete.
    As Hy egter by Petrus kom, reageer die impulsiewe karakter op 'n tipiese manier: "Here, gaan U mý voete was?" "As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie", is Jesus se respons dan. Petrus verstaan kennelik iets van die implikasies van Jesus se woorde en roep gevolglik uit: "Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig!" (v. 6-10).
    Uiteindelik voltooi Jesus die sirkel en die dissipels kan die ete met skoon voete nuttig. Nie dat dít op sigself is waaroor dit gegaan het nie. Want dit lyk immers asof die Here self die ete met stofbesmeerde voete genuttig het, want ons lees nie dat iemand Sý voete gewas het nie.
    As die Here Sy bokleed aantrek en weer Sy plek inneem, hou twaalf paar oë Sy elke beweging in doodse stilte dop. "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?" (12).
    In v.13 bevestig Jesus Sy gesag om sulke lewensbepalende lering vir hulle te gee. En inderdaad is die opdrag wat Hy nou vir Sy dissipels gaan gee rigtinggewend vir elkeen wat dit ernstig opneem en daarvolgens begin leef.
    Ons vind die opdrag in v.14: "As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was." Die Grieks beklemtoon dat dit nie 'n eenmalige aksie moet wees nie, maar 'n gereelde handeling  -  weer en weer  -  'n lewensgewoonte. Hulle was waarskynlik verras. Miskien het hulle verwag dat Hy sou sê: "As Ek, julle Here, julle voete gewas het, behoort julle nou ook Mý voete te was." Maar wat hulle nog moet leer, is dat 'n mens Hóm dien as jy Sy broers en susters dien.
    In v.15-17 gee Hy die bevel uitdruklik en onmiskenbaar: Hy het vir hulle die voorbeeld gestel en nou gee Hy die opdrag in soveel woorde. Daar kan dus geen misverstand wees nie. En dis 'n sleutel tot 'n lewe van saligheid. En let op hoe Hy afsluit: "As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen."

Wat sê dit alles vir jou en my?

Natuurlik het hierdie roeping tot diensbaarheid diep en ingrypende implikasies vir elke dissipel van die Here Jesus. En ons sou lank daarmee kon besig wees. Maar kom ons kyk net na die basiese roeping in die algemeen  -  en wat dit vir ons inhou.
    Ons kan aanvaar dat die beginsel van diensbaarheid uiteindelik lewensveranderend in die apostels se harte vasgelê is. Nooit was hulle lewens ooit weer dieselfde nie, veral nie na die vervulling met die Heilige Gees op die Pinksterdag nie. Só radikaal gehoorsaam het hulle hierdie roeping tot diensbaarheid uitgeleef, dat die lewens wat hulle gelei het die wêreldgeskiedenis verander het. En tot vandag toe, tweeduisend jaar later, is hulle name steeds aan dermiljoene mense bekend.
    Waarlik, hulle lewens het volledig opgegaan in diens, in voetewas. Dit het natuurlik 'n bepaalde koers ingeslaan volgens die Here se roeping (dit geld vir elkeen van ons; ons roeping is uniek en persoonlik). Wat hulle betref, kan 'n mens waarlik vra: kan 'n mens jou naaste  -  en uiteraard ook ons Saligmaker  -  meer uitnemend dien, as om die boodskap van die ewige saligheid ver en wyd uit te dra. En dis waarin hierdie manne se lewens hierna volledig opgegaan het, ten spyte van die verskriklike ontbering en lyding wat dit ingehou het. Trouens, een en elkeen van hulle  -  met die uitsondering van Johannes  -  het uiteindelik 'n marteldood gesterf, omdat hulle geweier het om af te sien van hierdie roeping. En wat Johannes betref, het hy so geweldig gely oor sy gehoorsaamheid, dat hy waarskynlik sou verkies het om eerder soos die ander te sterf.
    Ek dink jy sal saamstem, beswaarlik was daar iets in die Here Jesus se opdragte aan Sy dissipels wat Hy sterker beklemtoon het as die roeping tot diensbaarheid.
    En ons vandag, is hierdie roeping werklik ook op ons van toepassing? Vir seker!
    Goed, ons roeping mag anders wees as díé van die apostels. Maar sonder twyfel word een en elkeen van ons wat beweer dat ons navolgers van Christus is, geroep om voetwassers te wees. En onthou, die werkwoordsvorme wat Jesus in v.14-15 gebruik, praat uitdruklik van voortdurende handeling. En al is ons besondere roeping anders, het Jesus en die apostels vir ons gedemonstreer hoe  gehoorsaamheid uitgeleef moet word. Só besig was hulle met die uitnemende, dat hulle nie tyd gehad het vir die belangrike nie  -  om van die irrelevante nie eers te praat nie. Dit was hulle lewenshartstog!
    Sekerlik is geloof in Christus meer fundamenteel as gehoorsaamheid en diensbaarheid. Want dis deur geloof  -  en deur geloof alleen  -  dat ons gered word. Geloof op sigself is egter subjektief en innerlik  -  en as sodanig is geloof onsigbaar. Maar die Bybel leer dat ware saligmakende geloof nie onsigbaar kan bly nie. Dit mond sonder uitsondering uit in gehoorsaamheid en diensbaarheid. En so word geloof dan duidelik sigbaar. Trouens, Jk 2 is duidelik: geloof sonder werke is dood. En op geen wyse kom ware geloof duideliker tot uitdrukking as in 'n lewe van gehoorsame diensbaarheid nie. Omdat die ware kerk dit al vir eeue verstaan, het 'n Latynse spreuk tydens die 16de eeuse reformasie ontstaan: sola fides justificat, sed non fides sola est  -  alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie.
    Niemand hoef dus te wonder of hy of sy saligmakende geloof het nie  -  jou lewe wys dit uit. En dis glashelder duidelik!
    Vra jouself dus af en antwoord so eerlik moontlik: Ly ek 'n lewe van liefdesdiens, sonder om ingestel te wees op kompensasie van watter aard ook al? Doen ek dit uit dankbaarheid vir die diensbaarheid van die Here Jesus in my belang, en in gehoorsaamheid aan Hom as my Koning?
    Jou antwoord, mits dit eerlik is, sal vir jou sê of jy gehoorsaam leef al dan nie. Vir die gehoorsames kan ek dan met vrymoedigheid sê: jou lewe dui daarop dat jy waarlik gered is. Vir die ongehoorsames kan ek ongelukkig niks sê nie. Ek het nie die gesag daarvoor nie. Maar wat ek wel kan sê, is dat jy baie seker moet maak of jy inderdaad gered is. Want nêrens, dink ek, gee die Bybel vir 'n ongehoorsame (en wat ongehoorsaam bly) die versekering van redding nie.
                                                                                                           Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment