Wednesday, July 31, 2013

E259 - Rm 5:12-21 - ADAM EN CHRISTUS - die hart van Romeine

Ons het reeds in diepte gekyk na Rm 5:1-11 (E202-E207), waar die apostel oor die vrug van regverdiging skryf. Nou begin hy in 5:12 oënskynlik met 'n totaal ander tema. Dit is so. En tog begin hy die gedeelte met "daarom" (OAV), wat impliseer dat daar 'n verband met die voorafgaande is. Om hierdie verband te verstaan, is belangrik om ons teksgedeelte na behore te vertolk.
    Allereers moet ons in gedagte hou waarmee Paulus in hierdie deel van sy brief besig is. Hy is besig om die ewige sekuriteit van diegene wat geregverdig is op elke denkbare manier in sy lesers se gemoedere vas te lê. Dis die oorhoofse tema.
    Vra ons egter hoe verse 12-21 aan die voorafgaande koppel, is die antwoord nie so eenvoudig nie. Kommentatore verskil. Waarskynlik is die mees bevredigende uitleg die volgende:
    In verse 9-10 word die sekerheid van diegene wat geregverdig is se komende redding uitgespel. Dit staan vas dat ons met God versoen is en "deur die lewe van sy Seun gered sal word" (10b).

Mense word in Christus gered

Toe ons 5:1-11 behandel het, is uitgewys dat dit gaan oor ons lewenseenheid met Christus  -  die fundamentele beginsel van ons redding. Dit is die onwankelbare rotsbodem van ons ewige sekuriteit. Christus het rééds verheerlik opgestaan; dus is die uiteindelike opstanding van diegene wat met Hom verenig is (wat in Hom is) 'n noodwendigheid.
    Hierdie paragraaf is waarskynlik die mees uitgebreide behandeling in die Bybel van die gelowige se organiese lewenseenheid met Christus. Die verband tussen 5:1-11 en 5:12-21 lê dus hierin: Paulus vat die laaste fundamentele gedagte van die vorige paragraaf en vou dit hier vir ons oop.
    Benewens bogenoemde verduidelik die apostel hier ook vir ons die beginsel onderliggend aan sy hele betoog in Rm 1:18-3:20. Hy toon aan dat álle mense, Jode sowel as heidene, skuldig voor God staan en onder Sy toorn verkeer. Hier gee hy vir ons die worteloorsaak van die universele verskynsel van die radikale verdorwenheid van die natuurlike mens.
    Ter wille van duidelikheid moet verstaan word dat die erfsonde twee komponente het: die erfskuld (die ganse mensheid is in Adam skuldig en doemwaardig voor God), en die erfsmet (die sondige natuur waarmee elke mens gebore word  - wat uiteraard aanleiding gee tot eindelose persoonlike sondes in elkeen se lewe).
    As mens die Nuwe Testamentiese geheimenis van ons lewenseenheid met Jesus Christus begin verstaan en na waarde skat, word dit vir jou die mees wonderskone verlossingsmusiek. Niks is grootser as dit, of bring meer verwondering, of bied meer troos en sekuriteit nie. En as jy eers só vasgegryp word, begin jy hierdie waarheid orals in die Nuwe Testament raaklees  -  veral in Paulus se geskrifte. Niks het hom meer gefassineer nie. Oor en oor gebruik hy die uitdrukking "in Christus".
    Dit is dus geen wonder nie dat talle kommentatore hierdie paragraaf as die hoogtepunt van die brief beskou. Anders Nygren sê: "the point where all the lines of (Paul's) thinking converge, both those of the preceding chapters and those of the chapters to follow." Martyn Lloyd-Jones verwys na hierdie gedeelte as "the very heart and centre" van die brief.
    Dis asof die apostel hier met 'n kragtige teleskoop in sowel die verre verlede as in die verre toekoms intuur. En so gee hy vir ons 'n bykans ongeëwenaarde panorama van God se ewige raad en onuitspreeklik kosbare verlossingsplan in Christus. Ja, die ganse mensdom is in die uiterste ellende gedompel deur (in) hulle hoof, Adam. Maar eweneens het 'n nuwe en verloste mensheid ontstaan in Christus Jesus  -  húlle Hoof.

Oorsig oor die paragraaf

Die basiese punt van hierdie 10 verse is dit: soos die ganse mensheid onder God se oordeel verkeer, omdat Adam se sondeskuld aan hulle toegereken word, net so word gelowiges in Christus geregverdig, omdat Sý sondelose geregtigheid aan húlle toegereken word.
    Die onderliggende beginsels van redding en verlorenheid is dus presies dieselfde  -  dis die gevolg van wat 'n Ander, 'n Verteenwoordiger, 'n Verbondshoof, gedoen het!

●    5:12-14: Sonde het in die wêreld ingekom deur die eerste mens, Adam. So het die dood, wat die gevolg is van sonde, na alle mense versprei. Alle mense het op een of ander manier in Adam gesondig. En niemand kan hierdie universele verskynsel van sonde en die dood ontken nie. Dis vaster as die berge.
    Hoewel die apostel sekerlik in die eerste instansie hier aan die liggaamlike dood dink, strek dit vir seker veel verder: dit sluit ook die ewige dood in.

    ○    In 5:13-14 onderbreek Paulus sy argument. Die vergelyking tussen Christus en Adam word in werlikheid eers in v.18 verder gevoer. Eers wil hy sy stelling in v.12 verduidelik  -  'n stelling wat vir die ongelowige tot groot aanstoot is. Sy argument loop só:
    Aangesien sonde die oortreding van 'n wet is, kan daar geen sondeskuld sonder 'n wet wees nie (13).
    Voorts, aangesien alle mense tussen Adam en Moses gesterf het, ook babas (waarop Paulus sinspeel as hy praat van mense wat nie op dieselfde manier as Adam oortree het nie), beteken dit dat almal skuldig was aan die oortreding van een of ander wet (14).
    Hierdie wet kan nie dié van Moses wees nie. Hy het immers toe nog nie geleef nie. Meer nog, aangesien babas nie kan sondig nie, beteken dit verder dat die diepste grond vir daardie mense se skuld ook nie hulle oortreding van die natuurlike wet kan wees nie  -  waarvan Paulus in 2:14-15 praat.
     Daar bly dus net één moontlikheid oor: daardie mense was skuldig op grond van Adam se sonde.
    Hierdie waarheid word oor en oor beklemtoon: deur die oortreding van een het baie gesterf (15); op die oortreding van een het die oordeel gevolg (16); deur die oortreding van een het die dood heerskappy gevoer (17); een oortreding het gelei tot veroordeling vir alle mense (18); baie het deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword (19).
    Alle mense is dus ten diepste skuldig te wyte aan één man se sonde  -  selfs nog voordat hulle
baie persoonlike sondes daarby gevoeg is.

    ○    In v.14b word Adam 'n "voorbeeld" van Christus genoem (OAV). Wat bedoel Paulus daarmee?
    Soos wat Adam die hoof en verteenwoordiger is van die ganse mensheid wat uit hom voortgekom het, so is Christus die hoof en verteenwoordiger van diegene wat deur 'n ware geloof met Hóm verenig is. Die een se sonde het vir sy afstammelinge die dood gebring; die ander se geregtigheid het vir Sý mense die lewe gebring.

●    5:15-17

Voordat Paulus voortgaan met die vergelyking tussen Adam en Christus, wil hy alle misverstande uit die weg ruim. Ja, daar is 'n wonderlike parallel tussen Adam en Christus, maar tog is daar ook radikale verskille tussen hulle. Waar die gevolge van Adam se sonde skrikwekkend negatief is, is die gevolge van Christus se gehoorsaamheid onuitspreeklik heerlik. Nog meer, dit het nie bloot die effekte van die sondeval kom ophef nie, dit het baie, baie verder gegaan as dit  -  dis veel "oorvloediger" (15).
    Gelowiges ontvang 'n "oorvloed van genade" (17). Christus se middelaarswerk maak voorsiening vir die vergiffenis van al ons persoonlike sondes ("baie oortredings" - 16). Nog meer, dit bring nie net vergiffenis nie, dit maak dit ook vir God moontlik om ons "die gawe van die geregtigheid" te skenk (Gr. 17, OAV). En nóg meer, teenoor die voortgaande mislukking van Adam se nageslag, "heers" diegene in Christus "in die lewe." (17, OAV).
    Ons leie  -  in God se kluis  -  wat van hoek tot kant bekrap was met groteske verhale van tragiese mislukking, afstootlike sonde en verdoemende skuld, is nou nie net skoon gevee nie; dis vol geskryf met verhewe getuienisse van volmaakte en heilige gehoorsaamheid aan die Here!

●    5:18-19

Die vergelyking waarmee v.12 begin het, word nou uiteindelik voortgesit. Die hoofgedagte van hierdie paragraaf kry ons dus in die eerste vers (12), saam met hierdie twee verse: net soos mense veroordeel word op grond van die toegerekende sondeskuld van Adam, word hulle geregverdig op grond van die toegerekende geregtigheid van Jesus Christus.
    Die NAV mag ons dalk verlei om v.19 verkeerd te verstaan (baie het deur die ongehoorsaamheid van een mens "sondaars geword"). Die OAV waak teen so 'n mistasting met sy gebruik van "gestel".
    Die betrokke werkwoord word twee keer in v.19 gebruik. Basies beteken dit om formeel in 'n definitiewe kategorie geplaas te word. In hierdie geval is daar twee kategorieë: die van sondaars en die van regverdiges. Dis 'n handeling van juridiese of wetlike aard. Dikwels word dit ook gebruik as iemand in 'n posisie van gesag aangestel word  -  soos 'n regter (Hd 7:27, 35), of 'n goewerneur (Hd 7:10). Dit word ook gebruik vir die bevestiging of ordening van diakens en priesters ("aanstel", in Hd 6:3; Hb 5:1; 7:28; 8:3).
    Die punt wat ons dus goed moet verstaan, is dat dit nie hier gaan oor 'n morele verandering nie, maar oor 'n verandering in wetlike en objektiewe status. In Adam is baie sondig en skuldig; in Christus is baie regverdig en onskuldig.
    Dis waarom Paulus so dikwels die woord "toereken" in hierdie verband gebruik (vgl. Rm 4 waar dit 11 keer voorkom). Ook dit is 'n formele en wetlike term, en dui basies op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek ‒ om te debiteer of te krediteer.

●    5:20-21

Hier klaar Paulus 'n moontlike misverstand in sy lesers se gemoedere op. Tussen Adam en Christus het Moses gekom; hoe pas die wet in die prentjie?
    Anders as wat baie dink, het God nie die wet gegee as morele leer waarteen mense na die saligheid moet opklim nie. Die teendeel is waar (5:20a). Nee, die wet is bloot gegee om sonde te definiëer en uit te lig. En, natuurlik, hoe beter mens die sondigheid van sonde sien, hoe meer waardeer jy genade. En tot daardie mate het dit Godvererende vrug in ons lewens.
    Paulus sluit dan hierdie grootse gedeelte af deur net weer te herinner dat alles in en deur Jesus Christus gebeur.

Slot

Duideliker as enige ander plek in die Bybel onderstreep hierdie paragraaf dat God na die ganse mensheid deur die eeue kyk as ingedeel onder twee hoofde  -  Adam, wat die dood gebring het, en Christus, wat die lewe gebring het. Niemand het dit beter raakgevat as die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680) nie:

    There are but two men standing before God, Adam and Christ  -  and between them these two men have all other men hanging from their girdles.

    God het nog altyd met die mens gewerk deur 'n verteenwoordigende verbondshoof. Die geskiedenis van die wêreld kan saamgevat word in wat as gevolg van Adam se optrede gebeur het  -  én as gevolg van wat Jesus Christus gedoen het en steeds doen.
    Die heel diepste probleem van enige mens is nie sy of haar persoonlike sondes nie. Dis selfs nie sy sondige natuur nie. Die mees fundamentele probleem van die mens  -  van elke mens  -  reeds vanaf geboorte, trouens, vanaf ontvangenis (want ook ongebore baba's kan sterf), is die erfskuld. Elke mens word gebore as deel van 'n gevalle mensheid in Adam en onder God se verwerpende toorn. Daar is maar één oplossing  -  Jesus Christus, wat Sy lewe gegee het vir baie (ook ongebore baba's).
    Ons wat met Jesus Christus deur 'n ware geloof verenig is, moet verstaan dat ons nie net as individue vergewe en regverdig verklaar is nie  -  wonderlik soos dit is  -  maar ons het deel geword van die nuwe mensheid; trouens, van die nuwe skepping in Christus (Ef 2:15). Die mens Christus Jesus is die Hoof daarvan. Hy is die eerste onder baie broers en susters.
    Mense wat aanstoot neem aan die Bybelse openbaring oor die erfsonde, veral die erfskuld  -  omdat dit kwansuis onregverdig sou wees dat soveel miljoene mense te wyte aan één man se sonde moet ly  -  is kortsigtig en dwaas. Want só trek hulle 'n minagtende streep deur die mees fundamentele beginsel van hulle enigste hoop op redding.
    As alle mense dan deur hulle stamvader, Adam, in ellende gedompel is, ontvang een en elkeen wat gered word dit eweneens op grond van húlle Verbondshoof se verdienste  -  en op grond daarvan alleen.
    En met Hóm word 'n sondaar net deur die geloof verenig!
                                                                                                             Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment