Tuesday, June 21, 2011

E-PREEK No.184 - LK 15:1-32 : HY ONTVANG SONDAARS

DAAR WAS 'N HELE AANTAL PUNTE VAN KONFLIK TUSSEN DIE HERE JESUS EN DIE FARISEËRS. Een daarvan word in hierdie hoofstuk aangesny. Ons lees dat die Fariseërs en skrifgeleerdes ernstig aanstoot geneem het aan Christus se gemaklike omgang met en aanvaarding van "sondaars" (1-2). Na aanleiding daarvan vertel Jesus dan Sy drie bekende gelykenisse van verlorenheid.

Die Fariseërs

Hierdie hoofstuk se boodskap sal net behoorlik tuiskom as ons iets meer begryp van die Fariseërs.
Die Ou Testament is vol van God se aandrange op Sy verbondsvolk se afgeskeidenheid van hulle heidense bure. Die volk se geringskatting hiervan is een van die dinge wat uiteindelik tot die ballingskap aanleiding gegee het. Na die ballingskap is die terugkerende oorblyfsel vasbeslote om hulle aan God se Woord en Wet te hou - spesifiek om heilig te bly en niks met die heidene om hulle te doen te hê nie (Neh 10:28-31).
Soos maar altyd weer gebeur, was daar ongelukkig toe ook mense wat nie die sensitiewe balanse van God se weë verstaan het nie. Daar was diegene wat vergeet het dat die Godsvolk óók as roeping gehad het om 'n seën en 'n lig vir die nasies te wees (Gn 12:1-3; 22:15-18; Jes 42:6; 49:6). Gevolglik het hulle alle kontak met heidene vermy. Tyd laat ons nie toe om na die Fariseërs se fassinerende ontstaansgeskiedenis te kyk nie, maar hulle wortels lê in sulke afskeidings-ekstremisme in die tweede eeu voor Christus.
Hulle naam is sprekend: die Griekse pharisaioi was waarskynlik 'n afleiding van die Aramese woord wat "afgeskeidenes" beteken.
Teen die tyd van die Nuwe Testament het die Fariseërs in fanatisisme verval. Hulle het alle gemeenskap vermy - om nie eers van aanraking te praat nie - met alle nie-Jode, asook met mede-Jode wat hand-om-die-lyf met heidene geloop het. Hulle het wye draaie geloop om die sogenaamde sondaars van hulle dag. En die armes, so het hulle geglo, was arm vanweë hulle sonde (Jh 7:48-49).
Aangesien 90% van die bevolking uit die grootliks ongeletterde en brandarm burgerstand bestaan het, is dit duidelik dat daar maar 'n handjievol mense was wat nie deur die Fariseërs as onrein geag is nie. En niemand is méér deur hulle verafsku, as die prostitute en die Romeine se meelopers, die tollenaars nie.

Jesus se omgang met mense

Só gemaklik was die Here met alle mense, dat dit meermale selfs teen Sy dissipels se grein gegaan het. Waarlik, Sy gesindheid teenoor Sy naaste - wie ook al - was radikaal anders as die van die Fariseërs. Dink maar aan enkele voorbeelde:
Een van die dinge wat geen Rabbi op straat sou doen nie, was om met 'n vrou te praat. En van 'n prostituut het hulle in eiegeregtige afsku teruggedeins. In Simon die Fariseër se huis laat Jesus egter toe dat 'n prostituut Sy voete met haar trane was en met haar hare afdroog. En as sy Sy voete soen en salf, ril Hy nie van verleentheid oor die intimiteit nie. Nee, verduidelik Hy haar optrede, dié wat baie vergewe is, het baie lief (Lk 7:36-50).
By die put van Sigar oortree die Here sekere Joodse konvensies: Hy gee aandag aan 'n Samaritaan; Hy praat met 'n vrou in die publiek; Hy gesels met haar ten spyte van haar sedelose lewe (Jh 4:1-30). Ook vat Hy aan melaatses (Mk 1:40-45) en Hy raak aan 'n lyk (Mk 5:41) - iets wat vir die Fariseërs totaal ondenkbaar was. Een van hulle dank in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar God dat hy nie soos die diewe, bedrieërs, egbrekers - of soos die tollenaars is nie (Lk 18:11). Maar die Here Jesus gaan eet keer op keer by hierdie uitgeworpenes (Lk 5:27-32; 19:1-10). En sonder om 'n oog te knip, stel Hy een van hulle as 'n apostel aan - Levi, oftewel Matteus.

Die skaap, die muntstuk, die seun

❏ In die 3 gelykenisse van Lk 15 verduidelik die Here Jesus waarom Hy sondaars ontvang en saam met hulle eet (2-3). Hy maak geen geheim van Sy empatie met ellendiges, behoeftiges en lydendes nie. Trouens, om na hulle uit te reik, is voorop deel van Sy roeping. Kennelik wil Hy dit tuis bring, ja, dat Sy Vader 'n behae het in mense se redding, maar meteen ook dat hierdie behae gewortel is in 'n onpeilbare liefde vir 'n wêreld in ellende.
Jesus vergelyk God se soekende liefde vir verlore sondaarmense met die van 'n herder wat oor berg en dal na 'n enkele afgedwaalde skaap soek; met die van 'n vrou wat 'n vertrek van hoek tot kant deursoek totdat sy 'n verlore muntstuk opspoor; en met die van 'n pa wat jaar in en jaar uit wag op 'n weggeloopte seun, en hom dan tegemoet hardloop en oorlaai met persente as hy tuis kom.
Daarenteen sluit Hy Sy 3 gelykenisse af met die tragiese sketsing van die oudste seun. Só is die skrifgeleerdes en Fariseërs! Vir verlorenes het hulle niks te sê nie; vir sondaars het hulle geen evangelie nie. Dis omdat hulle niks van hulle eie sonde verstaan nie. En veral is dit omdat hulle geen liefde in hulle harte het nie. Dis waarom hulle Jesus se omarming van verworpelinge as onverskoonbare kompromie met sonde sien. Dis waarom hulle dit nie herken vir wat dit is nie - 'n uitdrukking van God se liefde vir 'n verlore wêreld.

God se liefde

As die Here Jesus in hierdie hoofstuk reageer op die Jode se besware teen Sy uitreiking na die ellendiges van hierdie wêreld, openbaar Hy in die eerste instansie aan ons iets van wie en wat God is. Ja, God is heilig en Hy sal sonde vir geen oomblik duld nie. Maar die Bybel hou Hom ook met groot nadruk aan ons voor as 'n God van liefde. En dis hierdie liefde wat Hom gedring het om die wonderlike evangelieplan in werking te stel. Nóú kan sondaars vergewe en gered word ten spyte van hulle patetiese onmag om self iets aan hulle lot te doen - en dit sonder om die heilige geregtigheid van God enigsins geweld aan te doen.
Kom ons skryf dit op die tafels van ons harte: God het 'n innige vreugde daarin om sondaars te red! Dit behaag Hom, en dit verheerlik Hom. Só belangrik is dit vir Hom dat Hy bereid was om die ondenkbare te doen, naamlik om Sy enige Seun daarvoor op te offer.

Ons roeping tot navolging

Sonder twyfel is dit ons roeping om Jesus se gesindheid teenoor sondaars en uitgeworpenes na te volg: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Deur óns moet Jesus se soet verlossingswoorde op wêreldlinge se ore val. Óns moet hulle weerstand en vrese met liefdesdade oorkom. In óns lewens moet hulle die boodskap van die Vader se liefde kan lees!
Tog misluk Christene - of naam-Christene dan - dikwels hierin. Hiervoor was en is veral 4 misplaaste en sondige houdings verantwoordelik.

Selfvoldane eiegeregtigheid
Sommige het die houding: "Laat die sondaar in sy eie sous braai; hy kry wat hy verdien." Daar is geen empatie nie - en nog minder enige uitreiking.
Te dikwels is die kerk koud en afsydig, selfs antagonisties teenoor buitestaanders. Hoe tragies is die ervaring van'n soekende Ghandi nie, toe hy aan die begin van die twintigste eeu by 'n kerk in Durban die deur gewys is met die woorde: "We don't want any Coolies here!" Dit het hom finaal en met oorgawe in die arms van Hindoeisme ingedryf.
Natuurlik mag die kerk nooit sonde en ongeloof kondoneer nie. Jesus het ook nie. Maar ons moet rekening hou met die bedenklike toestand van die gevalle mens. En bowenal moet ons die Here se gesindheid teenoor hulle hê. Die kerk is nie 'n eksklusiewe klub vir godsdienstig respektabeles nie; dis veeleerder 'n hospitaal vir mense wat dodelik siek is en tot 'n groot mate ernstig olik bly - maar dan mense wat met alles in hulle verlang om gesond te word.

Die vrees vir besoedeling
'n Kloostermentaliteit laat baie gelowiges hulle van sondaars afskei. Die motivering is reg. Ons moet onsself vlekkeloos van die wêreld bewaar. Maar "die wêreld" is nie die mense van hierdie wêreld nie, maar die waardes van hierdie wêreld. Die begeerte is dus reg, maar die afleiding is verkeerd. Nee, onttrekking is nie Bybels nie. Die Here Jesus se gebed in Jh 17:15 is hier belangrik: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar." Hoe sal ons sout en lig wees as ons onsself afskei?
Laat ons dus rustig ons verhoudinge met ongelowiges ná ons bekering in stand hou.

'n Eensydige verstaan van ons roeping
Daar is twee onbybelse beskouings. Aan die een kant, dat dit slegs vir die Here gaan oor die redding van siele en dat die kerk dus slegs die taak het om die evangelie te verkondig. Aan die ander kant, dat alle mense God se kinders is en dat die kerk se taak bloot is om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak. Maar die Here Jesus het beide hierdie beskouinge in 'n gesonde spanning vasgehou. Die mens is nie net siel of net liggaam nie - hy is én siel én liggaam.
Ons moet inderdaad die evangelie onvermoeid verkondig. Maar wat help dit as 'n man spekvet op pad is na die ewige verdoemenis? Sprekend is die talle opgetekende beskrywings van hoe die vroeë kerk groot getalle hongeriges gevoed het en na weduwees en wese omgesien het - gelowig en ongelowig. Wat sê Jakobus? "Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld" (1:27). En sê die Here Jesus nie duidelik vir ons dat die gee van 'n beker water een van dié merktekens van ware redding is nie (Mt 25)?

Luiheid en selfsug
Nog 'n algemene rede vir Christene se rugdraai op die verlorenes van hierdie wêreld, is gewoon ons weersin om betrokke te raak en ons hande vuil te maak. Vir seker kom so 'n soort van uitreiking nie vanself nie. As ons dit nie regkry nie, laat ons bid dat die Here ons harte brandende sal maak vir mense wat Hom nie ken nie. Waarlik, slegs Sý liefde sal ons in die wêreld inlanseer.

Slot

Onder bogenoemde mankemente sit 'n skewe Godsbeskouing. Die God vir wie Jesus openbaar, is 'n God van liefde, Een wat mense liefhet terwyl hulle Sy oordele verdien, Een wat Sy son laat skyn en Sy reën laat val oor regverdig en onregverdig. Ja, voorop in Sy hart - en daarom ook voorop in die Skrif - is die mens se nood aan versoening met Hom. Maar só oorvloedig is Sy geheimenisvolle liefde dat Hy selfs begaan is oor die liggaamlike en maatskaplike welsyn van mense onder Sy toorn. Dís hoe die Skrif Hom openbaar, en dís hoe ons as Sy diensknegte Hom moet gehoorsaam. Ons moet verkondig én ons moet versorg.
Die Christelike lewe is vol paradokse. Ons lewe op die snykant van 'n mes. Een van die moeilikste, maar ook belangrikste balanse om te handhaaf, is ons roepinge tot afskeiding van en betrokkenheid by die wêreld. Dit vra lewenslange konsentrasie.
Mag die Here ons bewaar van 'n onheilige wêreldgelykvormigheid, en eweneens van 'n netso onheilige wêreldmyding. Mag Hy ons steeds meer en meer help om voluit as enkelhartige dissipels op die stofstrate van hierdie wêreld te leef.
Nico van der Walt


Sunday, June 19, 2011

E-PREEK No.163 - HAB 2:4 : OM REGTIG TE LEWE

IN DIE KLOOSTERBIBLIOTEEK VAN ERFURT IN DUITSLAND IS 'N SKILDERY VAN 'N JONG MONNIK, MARTIN LUTHER. Voor hom lê 'n oop Bybel. Die oggendson val helder deur 'n venster op 'n vers wat sy hele lewe sou beheers en die wêreldgeskiedenis ingrypend sou raak: "Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe" (Hab 2:4, OAV). Vroeg in sy monnikkelewe het hy reeds begin worstel om hierdie vers te verstaan. In sy hart het hy aangevoel dat dit 'n wesentlik belangrike sleutel is om die ware geestelike lewe te begryp en te vind.
In nog 'n biblioteek, 40 km suid-oos van Erfurt - die van Rudolstadt - is daar 'n brief van Luther se jongste seun, Dr. Paul Luther, waarin hy skryf dat sy vader in 1544 aan die gesin vertel het van sy besoek jare vantevore aan Rome. Daar het hy op sy knieë uitgeklim teen die sg. trap van Pilatus en aanmekaar die Pater Noster (die Ons Vader-gebed) opgesê, in die hoop dat hy só siele uit die vagevuur sou red. Maar eensklaps het die woorde van Hab 2:4 deur sy gemoed gebrand, en het hy besef dat hy besig is met skreiende bygeloof en kettery.
Terug in Duitsland, uiters ontnugter met wat hy in Rome beleef het, gaan die betekenis van Hab 2:4 mettertyd vir Luther oop. Spoedig bereik hy 'n punt waarvan hy kan sê: "Toe het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure in die paradys van God ingestap." Só begin die sestiende eeuse Reformasie. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is die luike van Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van waarheid te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdryf.
Ons teks, slegs 3 woorde in die Hebreeus, is van die mees gelaaide en invloedryke uitsprake van alle tye. Ons kan trouens sê dat dit aan die hart lê van wat God deur Sy profete en apostels aan ons oor Sy reddingswerk geopenbaar het.

God se antwoord op Habakuk se vraag

Wat beteken hierdie woorde van Habakuk?
Die profeet skryf ongeveer 600 v.C. en worstel met onder meer die vraag waarom God die goddelose Chaldeërs, oftewel die Babiloniërs, wil gebruik om die verbondsvolk te straf. Hy aanvaar dat die volk as geheel skuldig staan voor God en gestraf moet word. Maar wat van die regverdiges? Want saam met hom en Jeremia is daar nog baie ander wat werklik in opregte gehoorsaamheid aan die Here leef. Wat gaan van húlle word in die gerig? Voorts brand 'n tweede vraag in hom: waarom 'n nóg sondiger volk as instrument gebruik om Juda te straf? Hoe rym dit met God se heilige karakter?
Die essensie van God se antwoord kry ons in v.4. Die trotse Chaldeërs en die Here se regverdiges word teenoor mekaar gestel. Die ou Verklarende Bybel vertolk die eerste helfte van die vers só: "Kyk, die opgeblasene. My siel het in hom geen behae nie." Die Babiloniërs sal dus hul "verdiende loon kry" (NAV). Daarenteen sal die regverdige Israeliet bly lewe - deur sy geloof. God se gunsgenote sal dus níé in oordeelstye onder gaan nie. En die enkelvoud in v.4 beklemtoon dat die beginsel kop vir kop geld.
Dus sal God se geregtigheid uiteindelik tog seëvier: sondaars sal sterf, gehoorsames sal lewe.

Verdere lig uit die Nuwe Testament

Habakuk 2:4 word 3 keer in die Nuwe Testament aangehaal (Rm 1:17; Gl 3:11; Hb 10:38). So word die beginsel wat die Here aan Sy profeet deurgee verder oopgevou. Interessant is die feit dat elkeen van die briewe waarin hierdie aanhalings voorkom veral één van die drie woorde in die Hebreeuse teks belig, elkeen 'n ander woord.

Die eerste Hebreeuse woord ("maar die regverdige") word in Romeine oopgevou.

In Hab 2:4 sê God dat dit moontlik is om regverdig voor Hom te wees. Maar hóé? Ons almal is immers sondaars. Juis dít was Luther se krisis. Sy sondebesef het hom party dae amper tot waansin gedryf. Dag na dag het Job se vraag deur sy hart gebrand: Hoe tog sal 'n skepsel ooit regverdig voor sy Maker kan staan? (Job 4:17; 9:2).
Presies dit is wat die Romeinebrief verduidelik. Romeine 1:16-17 is die tema van die brief - dit vat in 'n neutedop die boodskap daarvan saam. En, let op, die aanhaling uit Habakuk is deel hiervan. Die hart van hierdie tema is die uitdrukking, "die geregtigheid van God". Die kerk van die middeleeue het geleer dat dit na God se karakter verwys: Hy is 'n God van geregtigheid. Maar juis dít was Luther se krisis. Hoe sal hy as 'n sondaar ooit die oordele van só 'n God kan ontkom?
Hierdie uitdrukking in die Grieks kan egter ook anders verstaan word. Dis híérdie insig wat die Duitse professor in "die paradys van God" ingelanseer het: die Romeinebrief praat van 'n geregtigheid wat God gee! (OAV). En dis 'n gawe wat Hy vrylik aan alle mense bied, sonder onderskeid. Die enigste voorwaarde is dat jy jou volle vertroue stel in Sy Seun en Sy verdienste.
Regverdiging is 'n juridiese verklaring deur God. Dis 'n inskrywing in Sy boeke, by wyse van spreke. Hiervolgens gebeur twee dinge. Eerstens word die een wat glo se sondeskuld volledig aan Christus toegereken, oftewel gedebiteer. Met Sy kruisdood as Strafdraende Plaasvervanger betaal Hy hierdie skuld (Rm 3:21-31). Tweedens word Christus se volkome gehoorsaamheid aan Sy Vader aan so 'n persoon toegereken - gekrediteer (Rm 4, OAV).
In God se boeke het 'n geregverdigde die status van iemand wat nooit gesondig het nie; meer nog, van iemand wat die Wet volmaak onderhou het.
Dit is moontlik om regverdig voor God te staan!

Die tweede Hebreeuse woord ("deur sy geloof") word in Galasiërs oopgevou.

As Paulus die gemeente in Galasië vestig, verkondig hy die volle raad van God aan hulle: sondaars ontvang God se regverdigverklaring deur geloof alleen - geloof in die Persoon, middelaarskap en verdienste van Jesus Christus.
Maar skaars is die apostel weg, of die dwaalleraars daag op. Die Judaïste het verkondig dat geloof alléén nie genoeg is vir redding nie, maar dat die Joodse seremoniële wette ook onderhou moet word, veral die besnydenis. En spoedig begin die jong gemeente hierdie dwaling glo. Dit ontstel Paulus tot in sy wese. Twee keer roep hy God se oordele oor die misleiers uit - letterlik die banvloek (1:6-10). En hy waarsku met skrikwekkende erns: as julle jul nog laat besny, "sal Christus vir julle geen betekenis hê nie". Dan het julle "julle band met Christus verbreek", en het jul "die genade van God verbeur" (5:2-4).
Die Galasiërbrief beklemtoon dus in die mees uitdruklike terme dat daar net één manier is om God se regverdigverklaring te bekom: om in Christus alléén te glo - sonder om enige vertroue hoegenaamd te stel in eie verdienste. Trouens, om enigsins staat te maak op selfs net 'n kriesel menslike verdienste, addisioneel tot dié van Christus, is diskwalifiserend. Die Here Jesus is óf volkome alleen-redder, of glad nie! En sonder Hom is jy op jouself aangewese. Al wat dan oorbly, is jou eie geregtigheid - jy moet sélf die wet van God nakom (5:3). En onthou, Sý slaagsyfer is 100%; nie 99% nie. A miss is as good as a mile!

Die derde Hebreeuse woord ("sal lewe") word in Hebreërs oopgevou.

Baie mense dink dat 'n bloot eenmalige en tydelike geloof genoegsaam is om jou te red. Solank jy net iewers op 'n punt die Here aangeneem het, sal Hy jou red - ongeag hoe jou lewe daarná lyk.
Wat sulke mense nie besef nie, is dat die geloof waardeur regverdiging kom, iets uniek is. Dit mond áltyd uit in goeie werke en gehoorsaamheid en volharding (Jk 2:14-26). Waarom? Omdat die geloof wat God gee, 'n uitvloeisel is van die wedergeboorte, wat 'n innerlike herskepping van jou diepste wese is. En so 'n herskepte hart is totaal verknog aan Christus - altyd en end-uit. God se verlossingswerk in 'n persoon is 'n proses - 'n geïntegreerde geheel, wat heilige volharding insluit. Het jy dit hoegenaamd, het jy alles wat dit behels.
Dit is presies wat die Hebreërbrief wil tuisbring. Die brief word geskryf aan Joodse Christene wat begin lam raak in die knieë. Die eise van dissipelskap raak te veel. Gevolglik oorweeg hulle om terug te draai na die ou en bekende weë van die Joodse godsdiens. Die skrywer wil hulle egter tot besinning ruk: slegs lewenslange gehoorsaamheid aan Christus en geloofsvolharding in Hom, lei tot die ewige saligheid! Christenskap is 'n wedloop - die prys kry jy eers by die wenpaal.
Dis nie dat gehoorsaamheid en volharding 'n bydrae lewer tot Christus se verdienste nie. Nee, dis omdat ware geloof is wat dit is. Dis lewensveranderend. Dit hou uit en dit hou aan.
Hebreërs 11, wat net ná die skrywer se aanhaling van Hab 2:4 volg, handel oor geloof en die effekte daarvan. Een na die ander Ou Testamentiese geloofsheld word as voorbeeld voorgehou. Wat opval, is dat al hierdie mense se geloof sonder uitsondering oorgaan tot dade. Dit laat Abel 'n beter offer bring. Dit laat Henog met God wandel. Dit laat Noag die ark bou. Dit laat Abraham wegtrek na die beloofde land, dit stel hom in staat om Isak se vader te word, dit laat hom Isak offer. En so gaan die hoofstuk aan en aan. Uiteindelik sluit dit af met die helde van v.32 wat onstuitbaar volhard op die geloofspad en die mees merkwaardige dinge vir die Here regkry (33-38).
Nooit mag ons die ou Latynse gesegde vergeet nie: sola fides justificat, sed non fides sola est (geloof alleen regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie). Ware geloof, daardie geloof wat regverdig, was nog altyd deur die eeue 'n manier van lewe.

Slot

Die beginsel van Hab 2:4 lê aan die hart van God se openbaring aan ons, aan die hart van die evangelie, aan die hart van wat dit beteken om met Christus verenig te wees. Wie dit nie verstaan en beleef nie, is bes moontlik nog nie gered nie - in elk geval nie proefondervindelik nie. Maar wie vanuit sy of haar sondegebrokenheid in Christus invlug en ten volle in Sy volkome Middelaarskap bly vertrou, sal deur God in die volste sin van die woord regverdig verklaar word. En so 'n man of vrou of kind sal waarlik lewe - onmiskenbaar nou reeds, en onuitspreeklik heerlik vir ewig!
Dís wat op Luther gedaag het - en hom deur oop deure in God se paradys laat instap het!

'n Laaste woord

Hierdie was net 'n voëlvlug. Grootse temas is bloot kursories aangeraak. Maar dis wesentlik belangrike onderwerpe waarsonder mens bloedweinig begryp van God se verlossingswerk in Christus. Om hierdie temas behoorlik onder die knie te hê, is kosbaarder as goud. Vir ware Christene is dit 'n onuitputlike bron van troos, dankbaarheid, blydskap en vrymoedige aanbidding. Maar huigelaars word meedoënloos daardeur ontbloot. En met iemand wat nog nie deur 'n ware geloof met Christus verenig is nie, kan niks beter gebeur nie. Want eers as jy kaal voor God staan, word die Middelaar se werk vir jou van meer as bloot akademiese belang.
Nico van der Walt

E-PREEK No.141 - LK 10:25-37 : DIE MAN WAT OMGEGEE HET

HOEWEL DIT IN SY GEVAL NIE UIT 'N OPREGTE HART KOM NIE, HET NIEMAND NOG OOIT 'N GEWIGTIGER VRAAG GEVRA AS HIERDIE WETGELEERDE NIE: "Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"
Dit gee ook aanleiding tot 'n eenvoudige, maar aangrypende verhaal wat deur die eeue 'n onuitwisbare indruk op mense gemaak het.

# Daar is egter nog 'n rede waarom ons met die grootste erns na hierdie gelykenis moet kyk. Hierdie vraag is by net een ander geleentheid aan die Here Jesus gestel (deur die ryk jongman: Mt 19:16; Mk 10:17; Lk 18:18). Nou moet dit sekerlik van die allergrootste betekenis wees dat die Here in beide gevalle op presies dieselfde manier reageer - maar totaal strydig met ons verwagting. Hy verwys die vraagsteller elke keer na die Morele Wet! En uiteindelik roep Hy beide op tot 'n radikale uitlewing van die wet - besonderlik in liefdesaflegging van hulleself ter wille van mense in nood.
Dis moeilik om die konklusie te ontkom dat Jesus wil sê dat die pad na die ewige lewe langs die weg van goeie werke loop! Om dit verder te kompliseer, sê Hy uidruklik aan die wetgeleerde dat hy sal lewe indien hy dit doen (28; vgl. ook 37). Hier is iets wat ons nie ligtelik durf verbygaan nie!

Wie is my naaste?

As Jesus vir die wetgeleerde sê hy moet die wet uitleef om gered te word, tref dit op 'n plek wat seermaak. Met vinnige voetwerk probeer die man uit die hoek kom: "Wie is my naaste?" Dis nie 'n nuwe vraag nie. N.a.v. Lev 19:18 het die Skrifgeleerdes dikwels daaroor gespekuleer. Maar hier kom die Here Jesus met die allerantwoord.

Die gelykenis

# Die ongerepte woestynpad tussen Jerusalem en Jerigo daal 1035 m oor 'n afstand van 28 km. Dis 'n gebied vol spelonke - en baie rowers.

# 'n Reisiger word dan ook beroof en ernstig beseer. Twee medereisigers - eers 'n priester en daarna 'n Leviet - maak of hulle niks sien nie en haas hulle verby die ernstig beseerde slagoffer.
Daar kan meer as een rede wees vir hulle onwilligheid om te help. Dalk was hulle bang die rowers is nog in die omtrek. Of dalk was hulle bang die slagoffer is al dood en sy lyk dus onrein (Num 19:11-16) - wat hulle wagtende seremoniële pligte in die gedrang sou bring. Hoe ook al, beide godsdienstiges het die Ou Testamentiese beginsel vergeet - dat die Here eerder gehoorsaamheid wil hê as brandoffers en diereoffers (1Sam 15:22).

# Dan is daar 'n skokkende wending in die storie. 'n Samaritaan, van alle mense, help die man. Die Jode en Samaritane het mekaar gehaat (Jh 8:48). Tog trotseer die man die gevare en sien so goed hy kan na die beseerde (Jood?) om. Trouens, hy doen veel meer as wat enige redelike mens sou verwag - want hy voel innig jammer vir die slagoffer (33). Hy pas noodbehandeling toe, laai hom op sy rydier na 'n herberg toe, versorg hom daar verder, betaal vir alle onkoste wat daar mag wees en onderneem les bes om weer terug te kom. As iemand ooit 'n tweede myl gestap het, was dit hierdie Samaritaan!

Drie soorte mense

Die slagoffer ontmoet drie soorte mense op pad:
Die rowers lewe volgens die ysterreël: joune is myne!
Die priester en Leviet lewe volgens die silwerreël: joune is joune en myne is myne! Dit moet ons nie verbaas nie. Vir baie jare al het die rabbi's die mens se hoogste morele plig só saamgevat: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie! Die koudste harte hang soms net 400mm onder die suiwerste ortodoksie!
Nee, sê Jesus, die uitnemende pad is die van die Samaritaan. Hy lewe volgens die goue reël: myne is joune! In plaas van die rabbi's se negatiewe moraliteit, is die Here heerlik positief: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê!

Die saakmaak-vraag

Jy vra die verkeerde vraag, sê Jesus dan in werklikheid vir die wetgeleerde (36). Jou vraag oor wie jou naaste is, poog om soveel moontlik mense uit te skakel, want jy wil weet wie regtig kwalifiseer. Die vraag tussen die reëls gaan eintlik oor hoeveel mense jy maar kan verbygaan.
Maar die regte vraag is: is ék 'n nááste vir my medemens? Doen ek wat ek kan vir diegene in nood met wie ek te doen kry?
Óns vra: wie moet ek liefhê, en hoeveel moet ek liefhê? Jesus Christus vra: het jy voor die voet lief?

Die uitklophou

Goed, sê die Here Jesus uiteindelik, jy het My gevra hoe om die ewige lewe te beërf. Jy het laat blyk jy ken die essensie van die Wet. Ek het nou die praktiese implikasies daarvan vir jou uitgespel. Gaan heen; leef dit uit! (37). Die wetgeleerde wou Jesus uitvang - maar hy gaan druipstert weg.

Regverdiging deur werke ?

# In beginsel is dit wel moontlik om deur eie wetsonderhouding gered te word - maar dan moet dit volmaak wees (Gl 3:21; Rm 8:3). Daar is egter een groot probleem: nie een van ons kan eers begin om dit reg te kry nie. Let wel, die probleem lê nie by God se standaarde nie - dié is volmaak. Die probleem lê by die mens. Vanweë sy verdorwenheid doen hy die Wet dag na dag geweld aan - deur oortreding én deur mislukking.

# Is Jesus dus naïef, oor-idealisties, onrealisties, met respek gevra? Was dit vir Paulus om 'n wanopvatting te kom regstel met sy aandrang dat niemand deur wetsonderhouding gered kan word nie en dat 'n ander pad dus noodsaaklik is? Nee! Onthou, ons het met die Woord van God te doen. Hier sit iets baie rykers in!

# Jesus weet die selfvoldane wetsgeleerde - soos ook die ryk jongman - is nog nie gereed vir die Koninkryk nie. Daarvoor is geestelike bedelaarskap 'n absolute voorvereiste (Mt 5:3). Want daarsonder gryp jy nie die Plaasvervanger vas nie - die énigste Middelaar tussen God en sondaars (1Tm 2:5). Die Here stuur die man dus terug na die Wet toe, sodat dié hom kan stroop van sy selfversekerdheid, hom kan verinneweer totdat hy soos die tollenaar van Lk 18:13 in wanhoop om God se genade roep. Eers dán kan daar sprake wees van ware geloof, geloof waardeur Christus se geregtigheid aan sondaars toegereken word.
Ware geloof het twee onmisbare komponente: afhanklikheid en vertroue. Dis afhanklikheids-vertroue! Self-wanhoop is op sig self dus nie genoeg nie. Die negatiewe moet ook met positiewe vertroue afgerond word - en omgekeerd. Uiteindelik kyk ware geloof weg van jou sondige self, om die oë op Christus vas te nael!

* Die feit dat die Here Jesus met sowel die wetsgeleerde as die ryk jongman presies dieselfde strategie volg, moet ons waarsku om die belangrikheid daarvan nie mis te kyk nie. Die koninkryk van die hemele word op net één manier binnegestap - met bedelaarskoene aan! En voordat jy nie moedeloos gespook is met die onbereikbaarheid van God se volmaakte standaarde nie - Sy wet - sal jou trots jou om 't dood nie toelaat om hierdie skoene aan te trek nie.

Dis nie al nie

# Hier durf ons nie stop nie. Mag die Here ons bewaar van 'n goedkoop evangelie wat op hierdie punt 'n sug van verligting slaak en agteroor sit!
Te veel Christene wat hulleself wysmaak hulle is veilig in Christus, glo al wat oorbly is om te wag om hemel toe te gaan. Omdat ons nie deur werke gered word nie, dink hulle werke is nie regtig só belangrik nie. Maar dis 'n noodlottige dwaling!

# Ja, die essensie van ware geloof is afhanklikheidsvertroue. Maar die Bybel is ook boordevol getuienis dat dit altyd 'n spesifieke vrug dra. Trouens, dis al waaraan jy die ware Jakob kan uitken (Jk 2:14-26). En wat is hierdie vrug? Dis 'n hartstog om die werke van die wet te doen (Jer 31:33) - 'n hartstog wat jou lewe vorm vanaf die dag wat jy dit ontvang (Mt 12:33-37).
Niemand kan God se standaarde volmaak haal nie. Maar die nuwe lewe in jou hart dring jou om weer en weer op te staan - en nogeens te probeer.

# In die Skrifgedeelte waarna ons kyk, illustreer Jesus die essensie van die wet - besonderlik die tweede tafel daarvan, die gedeelte oor naasteliefde. Omdat ware, reddende geloof altyd gepaard gaan met 'n hartstog om God se wet te gehoorsaam, beteken dit dat elkeen wat geloof het, iets sal vertoon van wat Jesus die wetsgeleerde beveel. Ware gelowiges klim van donkies af; hulle help diegene in nood; hulle deel uit en volg Christus as Koning!
Wat die Here dus met die wetsgeleerde doen (en met die ryk jongman), is om hom met die liefde wat God vereis tot nederigheid in te breek - sodat hy die liefde wat God gee uiteindelik kan ontvang.

# Iemand sonder 'n hartstog om God te behaag, is sonder 'n nuwe hart - want op die tafels van elke nuwe en herskepte hart is God se wet geskryf. En as jy sonder 'n nuwe hart is, beteken dit dat jy nie wedergebore is nie, en gevolglik nie ware geloof het nie. Daarom sal jy nie die koninkryk ingaan nie.

* In die gedeelte oor die ryk jongman is die dissipels se vraag begryplik: "... wie kan dan gered word?" (Lk 18:26). Die antwoord is bemoedigend, maar kripties: "Wat vir mense onmoontlik is, is vir God moontlik."
Hoe doen God dit? Jesus sê nie. Maar spoedig sou die dissipels dit dramaties voor hulle oë sien afspeel.
In Lk 19:1-10 sien hulle hoe 'n kameel deur 'n naald se oog glip. 'n Ryk man, Saggeus, word 'n verstommende uitdeler. As Jesus dit sien, weet Hy nóg 'n man het 'n nuwe hart by God gekry. En Hy weet dis alles gewortel in Sý Middelaarswerk (10)!
Sien jy dit? Die Here doen die onmoontlike. Hy verander mense deur vir hulle nuwe harte te gee. Daarom is daar wel baie mense wat soos die barmhartige Samaritaan en Saggeus leef. Dis omdat hulle wedergebore is. En daarom sal hulle die koninkryk beërf.

# Les bes is daar nog iets wat ons nie moet miskyk in hierdie gelykenis nie.
In die barmhartige Samaritaan sien ons iets van Jesus Christus se totale self-aflegging ter wille van ons. In Hom sien ons immers volmaakte liefde vir hulpelose en gestroopte sondaars. Hy verbind ons, dra ons, versorg ons. Hy red ons.
En nou is dit onontkombaar duidelik, nie waar nie: Sy volmaakte liefdeswerk ter wille van ons is die diepste grond vir ons onontkombare roeping tot die lewensingesteldheid van die barmhartige Samaritaan.
Nico van der Walt

Saturday, June 18, 2011

E-PREEK No.121 - HD 13:48 : BESTEM VIR DIE EWIGE LEWE

TYDENS DIE EERSTE SENDINGREIS VERKONDIG PAULUS EN BARNABAS DIE EVANGELIE IN ANTIOGIË (HD 13:14-16). DAAR GEBEUR DAN IETS VAN GEWELDIGE BETEKENIS.
Aanvanklik preek die sendelinge vir die Jode, maar hierdie mense wat vir soveel eeue onder God se genadeguns geleef het, verhard hulle daarteen. Die apostels rig hulle dan tot die heidene. En dadelik is daar 'n positiewe respons. Dit vervul die Joodse leiers met afguns. Paulus-hulle reageer sonder om doekies om te draai: die Woord móés eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie. Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies.
Dis die laaste strooi vir die Jode. En mettertyd verdryf hulle die sendelinge uit die stad.

Bestem tot die ewige lewe

As die heidene die evangelie hoor, is hulle verheug. Van hulle word dan ook gelowig. En as hy hieroor skryf, maak Lukas 'n stelling oor God se uitverkiesing van sommige sondaars tot die ewige lewe - so duidelik soos beswaarlik elders in die Heilige Skrif. Wie word gelowig? Wie neem Paulus-hulle se evangelie aan? Die mense wat vir die ewige lewe bestem is! (48).

# Eerstens is die presiese betekenis van die werkwoord "verordineer" (OAV) of "bestem" (NAV), baie insiggewend.
Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas. 'n Paar voorbeelde in die Nuwe Testament sal dit duideliker maak.
Mt 28:16: die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV).
Lk 7:8: die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is.
Hd 22:10: Paulus moet Damaskus toe, waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het.
Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol besluit, vasgelê en vasgemaak is.
Die begrip kan dalk op 'n verdere en verwante idee dui. In buite-Bybelse Grieks word die woord soms gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Dalk sinspeel Lukas op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dn 12:1; Lk 10:20; Fl 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27). F.F. Bruce stel dit só: "many of them believed the gospel - all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ..."

# Tweedens is die werkwoord in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet.
Die woord is 'n perfektum passief partisipium. Vir ons doel beteken dit twee dinge:
Die passief sê dat dit nie iets is wat die mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses. Die handeling is aan hulle gedoen. (Natuurlik het hulle nie end-uit passief gebly nie, maar híérin het hulle geen rol gespeel nie).
Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge steeds geld. Die mense is destyds "bestem" hiervoor - as 't ware in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas.

# Derdens is hierdie mense van Antiogië nie bloot vir 'n geringe en tydelike voorreg geoormerk nie; hulle is vir die "ewige lewe" bestem. Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.

# Vierdens het "almal" wat vir die ewige lewe bestem is tot geloof gekom. Natuurlik word nie bedoel dat niemand van die ander later tot bekering sou kon kom nie - asof hierdie die enigste kans op redding was. Die idee is bloot dat daar 'n onlosmaaklike verband is tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof; en alle uitverkorenes kom tot ware geloof.

# Vyfdens, die feit dat uitverkiesing noodsaaklik is vir redding, impliseer nie 'n soortgelyke verwerping deur God van diegene wat verlore gaan nie.
Diegene wat die evangelie verwerp, doen dit self (46b). Dit verg dus nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval en van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe en onder God se toorn. God sorteer nie die mensheid arbitrêr uit nie - een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, Hy haal sommige as 't ware uit die verlore mensheid uit met die oog op redding. Maar die ander los Hy gewoon in die verlore staat waarin hulle in elk geval verkeer het.

'n Aantal perspektiewe op uitverkiesing

# Die feit dat ons so klinies oor die dinge praat, beteken nie dat ons dit gevoelloos doen nie. Inteendeel! Mens wil ineenstort onder die gewigtigheid daarvan.

# Die sleutel tot 'n verstaan van uitverkiesing lê in aanvaarding van die mens se radikale verdorwenheid. Die natuurlike mens is dood in sy sonde (Ef 2:1). Sonder God se inisiatiefnemende redding kan niemand glo nie.

# Dit is God self wat gekies het (Mk 13:20; 1Ts 1:4; 2Ts 2:13). Sy uitverkiesende barmhartigheid berus dus volledig by Sy eie soewereine wil, nie by die keuse van mense nie (Eks 33:19; Dt 7:6-7; Mt 20:15; Rm 9:10-24; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5).

# Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is (Ef 1:4; 2Ts 2:13; 2Tm 1:9; Op 13:8; 17:8).

# God het bepaalde individue tot die saligheid verkies. Dit is húlle wat tot ware geloof kom - te danke aan Sy herskeppende ingrype.

# God se keuse is totaal onafhanklik van en voorafgaande aan enige geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies word (Hd 13:48; 18:27; Rm 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fl 1:29; 2:12-13; 1Ts 1:4-5; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:9; Jk 2:5). Sy keuse is dus nie gebasseer op enige vooruitgesiene geloof of vroomheid in diegene wat verkies word nie.
Mense gryp na laasgenoemde baie algemene idee, aangesien hulle 'n vrye keuse vir die mens wil verskans. Hulle redeneer só: God het vooruit gekyk en in Sy alwetenheid gesien wie gaan glo, hom of haar daarom verkies, en die persoon se naam toe in die boek van die lewe opgeskryf.
Dis egter 'n dwase argument wat logies geen water hou nie. Want as so 'n persoon dan die dag gebore word, sou dit beteken dat sy naam reeds in die boek van die lewe geskryf staan - hy gáán mos besluit om te glo. Het hy dan nog 'n vrye keuse?

# Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe - waarby ek wel eenhonderd persent betrokke is - is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing (Ef 1:4, 2:10; 2Pt 1:10-11). Niemand kan dus uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.

# Omdat uitverkiesing 'n verkiesing vanuit verlorenheid tot redding is, is dit nooit die oorsaak dat nie-uitverkorenes verlore gaan nie. Alle mense is immers van nature verlore. 'n Verkiesing tot die ewige verdoemenis is nie nodig nie. Dis sonde, hulle eie sonde, wat mense in die hel laat eindig.
Uitverkiesing verontreg dus geeneen nie.

# Uitverkiesing staan nooit in die weg van 'n nie-uitverkorene wat opreg begeer om gered te word nie. Dis gewoon nie 'n begeerte wat 'n nie-uitverkorene kry nie - in elk geval nie opreg nie. Nee, so 'n begeerte is die gevolg van die Gees se oortuigingswerk, en só werk Hy net in uitverkorenes.

# Die gelykenis van die groot maaltyd in Lk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot maaltyd is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom.
Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!

# Daar sit niks onregverdig in uitverkiesing nie. Dit werp nie 'n enkele skadukolletjie op God se geregtigheid nie. Dis nie die verlorenes wat kry wat hulle nié verdien nie; dis diegene wat gered word. So werp die uitverkiesing meer lig op God se liefdevolle genade as enigiets anders!

# God kon besluit het om alle mense te red. Hy het immers die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om niemand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie (soos in die geval van die gevalle engele, die demone). Tog het Hy nie op een van hierdie moontlikhede besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde. En omdat Hy algeheel en onbetwisbaar soewerein is, mág Hy dit doen.

# Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe waar is. Die Bybel is immers ook vol oor ons verantwoordelikheid.

# Nuwe Testamentiese getuienis oor die uitverkiesing is oorweldigend. Mens kan nie glo daar is steeds mense wat dit ontken nie.
Daar is veral twee groot redes waarom mense hulle teen uitverkiesing verset. Sommige word gedryf deur 'n trots wat weier om te erken dat die mens radikaal verdorwe is en gevolglik nie sy eie heil kan uitwerk nie. Maar die meeste wil naief God se eer kwansuis red, omdat hulle dink uitverkiesing werp 'n skaduwee oor Sy liefde en regverdigheid. Maar, onthou, uitverkiesing is nooit die oorsaak dat enigeen verlore gaan nie - dis altyd 'n mens se eie sonde.

# Kom, laat God God wees in ons denke. En laat ons nederig voor Hom buig in ons algehele afhanklikheid.

# 'n Sprokie: Eendag, lank, lank gelede het 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlikste gehuggie van sy pa se koninkryk binnegery. Toe hy stilhou en uitklim, het 'n swetterjoel vuil kindertjies in vodde om krot-hoeke geloer. Hy het reguit na 'n meisiekind toe gestap, seker die vuilste en beslis die lelikste van die klomp, haar sagkens aan die hand gevat, en in haar oor gefluister: "Ek het jóú as my bruid gekies!".
Was dit die prins se goeie reg om te kies? En wat het die meisiekind nié gesê nie? Verseker nie: "Dis onregverdig! Wat dan van Truia en Sophie en Dollie?"
Nico van der Walt

Friday, June 17, 2011

E-PEEK No.55 - 1KOR 7:14 : SAL MY KINDERS GERED WORD?

WAT LÊ NADER AAN GELOWIGES SE HARTE AS DIE REDDING VAN HULLE KINDERS? En wat breek hulle harte meer as kinders wat hul rûe op die Here en Sy evangelie draai?
Baie Christene glo dat die Here anders met húlle kinders werk as met ongelowiges s'n - amper asof Hy twee stelle standaarde het. Meeste van hulle baseer dit op 'n bepaalde verstaan van die genadeverbond. Die probleem is net dat sóvele wat in Christenhuise groot word, hulle opvoeding mettertyd oorboord gooi, of niks verder kom as 'n bloot kulturele soort Christenskap nie.
Dit laat die vraag in ons harte brand: het Christenouers enige grond om te verwag dat hulle kinders ook gered sal word?

1Kor 7:14

As dit gaan oor die redding van hulle kinders, gryp baie ouers na 1Kor 7:14. Kyk net hoe stel die NAV dit: "Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God." Dit is egter 'n sterk bevooroordeelde parafrase wat duisende ouers aan die slaap sus. Veel nader aan die Grieks is die OAV: "Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig" [1]
Die idee van heiligheid kom drie keer in die teks voor. Hieroor twee opmerkings.

# As om te heilig sou beteken om te red, sou dit beteken dat kinders gered word op grond van een of beide ouers se geloof. Maar, om konsekwent te wees, sou ons dan ook moet sê dat 'n gelowige vrou haar ongelowige man se redding verseker, en omgekeerd.
Duidelik kan dit nie wees wat die vers wil sê nie!

# In die konteks wil Paulus iemand wat tot die geloof gekom het ontmoedig om van 'n ongelowige huweliksmaat te skei. 'n Belangrike rede word in v.14 aangevoer. Om iets te heilig, beteken om dit eenkant neer te sit, om dit af te sonder (Eng. to set apart). Paulus sê dus vir die Christen: Jou ongelowige eggenoot, asook jou kinders, is opsygesit. Hulle is besonder bevoorreg. Waarom? Die ongelowige leef heeldag saam met iemand wat die aangename geur van Christus versprei. En die kinders kan die evangelie van kleins af hoor. Na alle waarskynlikheid sal dit daartoe lei dat ook hierdie huisgenote uiteindelik tot geloof sal kom. Moet dus nie loop nie - die Here wil jou in hulle lewens gebruik!
So 'n verklaring maak natuurlik al die sin in die wêreld. Want feitlik almal wat tot geloof kom, kom tot bekering na aanleiding van hulle kontak met een of meer Christene. En veral geld dit in die gesin.

Kom ons dink bietjie dieper

In die soeke na 'n Bybelse perspektief op die saak, moet 3 groot beginsels in balans of jukstaposisie gehou word - beginsels waarvan ons die samehang dikwels nie kan deurgrond nie.

1. Die beginsel dat God as 'n reël middellik en organies werk.
Die begrip middellik dui op 'n onregstreekse en indirekte werkswyse - op die gebruik van allerlei middele, omstandighede, instrumente en agente om 'n doelwit te bereik. Veral staan dit vas dat God Sy kínders as instrumente en medewerkers gebruik.
Die begrip organies wil sê dat daar gewoonlik 'n aaneenlopende verband is tussen die dinge wat die Here doen. Die een ding lei tot die ander. Daar is 'n oorsaak-gevolg-relasie.
Wat sê dit oor ons en ons kinders? Ten minste twee dinge.
Eerstens: die Christelike opvoeding, lering en voorbeeld wat kinders in die ouerhuis en gemeente kry, speel 'n baie groot rol in die bekering van derduisende. Ons het dus goeie Bybelse grond vir die vertroue dat die Here ons insette en voorbeeld, asook ons deelhê aan 'n ware Nuwe Testamentiese gemeente, middellik sal gebruik in die bekering van ons kinders.
Tweedens: die gebede van Sy kinders word deur God ingeweef in die uitwerk van Sy raadsplan - ook dus ouers se gebede vir hulle kinders. En om ons aan te moedig tot getroue gebedsbetrokkenheid by die koms van Sy koninkryk, belowe Hy om op ons gebede ag te slaan; trouens, laat smaak Hy ons gereeld gebedsverhoring. Laat ons daarom voortdurend, gelowig en met verwagting vir ons kinders bid! Al is hulle nog baie klein, is elke gebed 'n fondamentklip wat in plek geplaas word waarop godvrugtige lewens in latere jare gebou sal word.

2. Die beginsel van menslike en individuele verantwoordelikheid.
As dit oor menslike verantwoordelikheid gaan, is Esegiël 18 die Bybel se locus classicus. Oor en oor verseker hierdie hoofstuk ons dat elke individu self voor God verantwoordelik en aanspreeklik is. Die basiese beginsel word in v.20 só gestel: "Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra."
Wat sê dit vir ons en ons kinders?
Eerstens: ouers wat hulle plig versuim om hulle kinders volgens Bybelse voorskrifte op te voed, moenie verbaas wees as hulle in later jare die bittere vrugte daarvan moet pluk nie. Nog meer, as jy die opdrag ontduik om die rentmeesterskap van jou kinders ernstig op te neem, sal die Here eendag hulle bloed van jou hand eis.
Tweedens: kinders wat die toegewyde opvoeding, lering en voorbeeld van heilige ouers oorboord gooi, moenie verwag om die regverdige en skrikwekkende toorn van God te ontkom nie.
Derdens: Eseg 18 bevat van die aangrypendste oproepe tot bekering in die ganse Skrif (v.23, 30-32). Die Here put geen vreugde uit die dood van 'n sondaar nie; nee, Sy behae lê in mense se bekering en die lewe wat daaruit voortkom. Laat elkeen van ons wat skuldig is - hetsy as ouer, hetsy as kind - hom of haar dus hartgrondig bekeer. En onthou, bekering het die neiging om uit te kring; trouens, diegene wat naaste aan jou is, word feitlik altyd ingrypend ten goede geraak. Besef jy watter langtermyn effekte jou bekering (of verharding) op jou kinders kan hê - en selfs volgende geslagte?
Hou dit enige troos in vir ontroue ouers wat al 'n onbekeerde kind aan die dood afgestaan het? Beswaarlik kan mens meer sê as dít: die berou van súlke ouers sal dieper wees as die van andere - en die offer wat God meer as enigiets behaag, is 'n gebroke gees en 'n verslae hart (Ps 51:19).
O, mag diegene vir wie die uurglas nog nie leeggeloop het nie, die daadkrag hê om reg te stel wat hulle tot nou toe nagelaat het!

3. Die beginsel van God se soewereiniteit.
Dis vir ons grootliks 'n geheimenis hoe die mens se verantwoordelikheid en God se soewereiniteit - besonderlik Sy vrymag in die redding van sondaars - presies met mekaar te rym is. Maar dat beide sake vasstaande Bybelse waarhede is, kan deur geen eerlike en regsinnige Bybelleser ontken word nie.
Dwarsdeur die eeue het van die mees toegewyde gelowiges se kinders soms verlore gegaan - sonder dat dit terug herlei kon word tot ouerlike mislukking. Ouers kan eenvoudig nie hulle kinders se harte verander nie. Hulle kan net getuig; nie oortuig nie. Wedergeboorte is iets wat net God kan skenk. Geloof is 'n gawe van die Here.
Waarom gaan sommige verlore, al het hulle die evangelie aan moedersknie geleer? Die heel diepste redes bly gewoon vir ons verskuild. God is soewerein, en Hy openbaar nie alles aan ons nie. Ons begrip is te beperk; ons leef in mindere dimensies as Hy.
Daarom, laat ons as ouers alles doen wat ons kan om ons kinders reg groot te maak en reg te leer - volgens die Here se geopenbaarde wil. Laat ons heilig voor hulle lewe. Laat ons sonder ophou vir hulle bid. En laat ons dan die res nederig in God se soewereine hand laat - in die wete dat Hy die Alwyse, Algoeie en Almagtige is wat op Sý tyd en op Sý manier doen wat Hom behaag en verheerlik.
God se soewereiniteit moet ons nie bedreig nie; inteendeel. Baie oningeligtes het iewers die idee vandaan gekry dat hierdie attribuut van God wil sê dat Hy wispelturig doen net wat Hy wil en nie wil nie - ten spyte van ons mense se beste pogings. Nee! Die algoeie God se soewereiniteit funksioneer nooit in stryd met die res van Sy karakter en attribute nie. Wat meer is, in Sy liefde het Hy nie net besluit om Homself te verhéérlik nie, maar ook om dit te doen deur die redding van sondaars - en om Sy kinders as medewerkers in die proses te gebruik. En as Hy in Sy soewereiniteit besluit het om iemand te red, sál Hy dit doen - ongeag hoe balhorig en weerbarstig so 'n persoon ook al is. Daarom, sonder God se soewereiniteit en uitverkiesende genade was daar geen kans dat ons kinders - in sonde ontvang en gebore - ooit gered sou kon word nie. Wie anders as net Hy sou immers hulle harte van klip kon vervang met harte van vlees?

'n Laaste woord

# Kom ons benader dit eers negatief. As jy 'n huigelagtige lewe voor jou kinders leef, deur Sondae by die kerk vol vroom praatjies te wees, maar deur in die week soos 'n duiwel te leef, moet jy nie verwag dat hulle as volwassenes die Here sal dien nie (natuurlik gebeur dit soms wel in God se oneindige genade). As jy nie jou kinders volgens die ordes van die Here groot maak nie, saai jy saad wat kort voor lank hartverskeurende en bitter vrug in jou lewe gaan dra. Laat dit ná om jou kinders te dissiplineer en te tugtig, en jy gaan nog baie trane oor hulle stort. En ergste van alles, jy sal eendag voor die Here (saam met hulle) aanspreeklik gehou word vir hulle verwerping van Christus en Sy evangelie.

# Maar kom ons sluit af op 'n positiewe noot. Wees getrou aan jou roeping as ouer, en jy het alle rede om te verwag dat jou kinders gered sal word! Die feit dat God - wat middelik en organies werk - kinders laat opgroei in 'n ouerhuis waar Hy in gees en waarheid gedien word, is bes moontlik reeds 'n aanduiding van hulle uitverkiesing, en dus van hulle komende bekering en toewyding aan Christus. Die feit dat kinders in Sy soewereine raadsplan toevertrou word aan ouers wat hulle die pad van geloof en verlossing kan en sal wys, is na alle waarskynlikheid 'n sterk vingerwysing dat die Here groot planne met hulle het.
Onthou, terwyl 1Kor 7:14 niks wil sê oor enige outomatiese redding van ons kinders nie, wil dit ons wel op die hart druk dat hulle opsy gesit is, dat hulle besonder bevoorreg is, dat die Here na alle waarskynlikheid ons as instrumente in hulle bekering en redding wil gebruik.

[1] Enige goeie Engelse vertaling sal dit bevestig. Hou in gedagte dat "to sanctify" dieselfde beteken as "to make holy" (vgl. ESV).
Nico van der Walt

Monday, June 13, 2011

E-PREEK No.166 - KOL 2:9 : DIE HERE JESUS CHRISTUS!

DAAR IS IETS WAT EK ALGEMEEN TEËKOM IN DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS en wat my toenemend pla. Sóveel mense, selfs baie wat werklik ernstig is oor hulle Christenskap, het oënskynlik 'n mindere verering vir en belewing van die Here Jesus Christus se verheerlikte majesteit as wat die Nuwe Testamentiese openbaring Hom vir ons voorhou - noem dit maar 'n mindere estimasie. Mens hoor dit aan hoe hulle oor Hom praat, en aan hoe hulle bid (hulle lewenswyse daar gelaat!).
Dis asof sovele in hulle belewing van en verhouding met Hom nie veel verder kom nie as - die wonderlike Man van Nasaret.
Natuurlik is die menswording van God die Seun die mees merkwaardige gebeurtenis van alle tye. Natuurlik moes Hy mens word as kulminering van God se selfopenbaring aan ons. Natuurlik moes Hy as volkome mens ons Middelaar word. Natuurlik kry ons nooit klaar met Jesus van Nasaret nie.
Maar dit was Sy staat van vernedering - 'n skamele drie-en-'n-half dekades lank. Sedert Sy hemelvaart is Hy verheerlik in die hoogste hemel - al vir 2000 jaar lank, en tot in alle ewigheid.
Die Nuwe Testamentiese openbaring oor Jesus Christus is dimensies ryker, grootser, diepsinniger - oneindig meer verhewe. Die apostels en vroeë kerk sou verstom gestaan het oor die oppervlakkigheid van sovele hedendaagse beskouinge oor Christus. Hulle sou dit met verontwaardiging as skreiend onvoldoende en onterend bejeen het. Hulle sou, trouens, ernstige bedenkings gekoester het oor die redding van iemand wie se Christus-belewing só afgewater is.

Aan die regterhand van die Vader

Weer en weer lees ons in die Nuwe Testament dat die Here Jesus sedert Sy hemelvaart aan die regterhand van die Vader sit. Veral die Hebreërbrief onderstreep dit - vyf maal (1:3; 1:13; 8:1; 10:12-13; 12:2). Die apostel Paulus sê dit drie keer (Rm 8:34; Ef 1:20; Kol 3:1). Elders kry ons dit nog drie keer (Mk 16:19; 1Pt 3:22; Op 3:21).
Wat wil die Nuwe Testament so herhaaldelik op ons harte druk? Tot vandag toe is dít waar die persoon sit wat uitvoerende volmag in 'n regering het - aan die regterkant van die seremoniële gesagsfiguur. Só sit 'n universiteitsrektor (ook genoem die Visekanselier) op 'n formele foto regs van die die Kansellier. Die Eerste Minister, wat die sweep klap, sit regs van die seremoniële Koning.
Dat Christus in die hemel sit, gaan dus nie oor rus en passiwiteit nie. Inteendeel, dit gaan oor gesag en aktiewe regering!
Hierdie stuk of tien uitsprake in die Nuwe Testament het hulle oorsprong in Ps 110:1. Die psalm sing oor die komende Messias as Priester (4) en Koning (1-3; 5-7). En presies dit is waarmee die Here Jesus tans besig is. As Koning heers Hy enersyds oor Sy gemeente en die koms van Sy koninkryk; en andersyds is Hy besig om Sy vyande te onderwerp. En as Priester in die priesterorde van Melgisedek (vgl. Ps 110:4; Hb 7) tree Hy by die Vader in vir diegene wat aan Hom toevertrou is.

Lofsange oor Christus se heerlikheid

Dit word algemeen aanvaar dat die Nuwe Testament etlike kernagtige geloofsbelydenisse en lofsange van die vroeë kerk bevat. Luister na twee voorbeelde hiervan en kom onder die indruk van hulle verhewe Christusbeskouing (dalk was Paulus nie die oorspronklike skrywer hiervan nie; dalk het hy bloot algemeen bekende lofsange aangehaal):

# Fl 2:6-11: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: 'Jesus Christus is Here!' tot eer van God die Vader."

# Kol 1:15-20 : "Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen."

Christus is waarlik en volwaardig God

Meer as een maal sê die Nuwe Testament uitdruklik dat die Seun waarlik en volwaardig God is.
Dink aan die inleiding tot Johannes se evangelie: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God ... die Woord het mens geword en onder ons kom woon " (Jh 1:1, 14).
Romeine 9:5 sê van Christus: "Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig!" Titus 2:13 noem Hom ons grote God en Verlosser. Hebreërs 1:8 maak die Messiaanse Psalm 45 op Hom van toepassing: "U troon, o God, staan vir ewig vas ..."

'n Verbysterende uitspraak

Een van die merkwaardigste uitsprake in die Nuwe Testament is Kol 2:9: "Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik" (die OAV volg die Grieks letterlik).
In die vorige vers waarsku Paulus sy lesers om nie toe te laat dat dwaalleraars hulle mislei met bloot menslike tradisies, filosofieë en allerlei godsdienstige voorskrifte wat nie op Christus berus nie. Die rede is dat ons in Hom eenvoudig alles, maar alles het wat ons ooit mag nodig hê - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid.

# Die verbysterende stellings wat die apostel hier maak, geld van Jesus Christus, ja, van Hóm spesifiek, en net van Hom. Hierdie aksent word bewerkstellig deurdat die woorde "in Hom" aan die begin van die sin geplaas word - en dus in 'n posisie van beklemtoning.

# Die woord "volheid" (Gr. pleroma) dui op algehele volledigheid, op die som-totaal van iets. Om dit nóg sterker te beklemtoon, kwalifiseer Paulus dit met "al" - dus ál die volheid, nie net 'n gedeelte daarvan nie.

# Die apostel praat van al die volheid "van die Godheid." Hy gebruik die abstrakte selfstandige naamwoord, wat dui op die wese, op die essensie van God. Hy maak dus die geweldige stelling dat die totaliteit van dit wat God is in Christus woon.

# Hierdie is 'n permanente toestand; trouens, dis vir ewig die geval. Afgesien daarvan dat die teenwoordige tyd gebruik word, word die werkwoord, om te woon, versterk met 'n bepaalde voorvoegsel (Gr. kata) wat die permanensie van hierdie inwoning beklemtoon.

# Dalk is die mees verstommende wat in hierdie vers gesê word die feit dat die volheid van die Godheid vir altyd "liggaamlik" in Christus woon. Hierdie bywoord sinspeel op God die Seun se vleeswording. Wat hier gesê word geld van die mens Christus Jesus. Dit gaan inderdaad ons verstand te bowe. Tog sê dit minstens vier dinge.

* Eerstens, Jesus Christus se twee nature, die goddelike en die menslike, is volmaak geïntegreerd in net één Persoon.

* Tweedens, tot in alle ewigheid sal die Here Jesus óók volkome mens bly. Voor Sy vleeswording was Hy nie mens nie; hierdie natuur het Hy bygekry toe Hy ontvang is in die maagd se moederskoot.

* Derdens, alles wat in hierdie vers gesê word het reeds gegeld van die Here Jesus in Sy vernederde staat. Hoeveel te meer is dit nie nóú van Hom waar sedert Hy verheerlik is nie!

* Vierdens, Hy is ál ons aanbidding waardig - en oneidig meer. Trouens, die dermiljoene mense wat die Vader as bruid vir Hom gegee het, se gesamentlike verering sal tot in alle ewigheid nooit volledig laat reg geskied aan Sy heerlike majesteit nie. Die ewigheid sal ons aanbidding nie uitput nie!

Geen onbelangrike gevolgtrekking nie

Ja, die menswording van God die Seun is oorweldigend, verbysterend, duiselingwekkend. Nooit sal ons daarmee klaarkry nie. Maar, hoewel steeds volkome mens, is Hy nie meer in Sy staat van vernedering nie. En voor Hom sal een en elkeen in die hemel en op die aarde en onder die aarde eendag sy of haar knieë buig - en erken: "Jesus Christus is die Here!"
Onuitspreeklik geseënd is elkeen wat nóú reeds die genade ontvang om Hom te sien vir wie Hy is - en om nóú reeds aanbiddend voor Hom te buig. Wanneer die res op daardie dag heeltemal verslae en oorweldig deur doodsvrees op hulle knieë sak, sal dit vir ewig te laat wees.
Luister na Op 5:11-14: Duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene roep uit: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang!" Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, loof Hom: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!"
Laat ons daarom Sy Naam met die grootste ontsag op ons lippe neem. "Jesus" is die naam van Sy vernedering - maar só is Hy nie meer nie. Nóú is Hy die verheerlikte "Here Jesus Christus"!
Hierdie wete was oorheersend in die geloofsbelewing van die vroeë kerk. Dis waarom hulle selde na God die Seun verwys het as bloot "Jesus". Die apostel Paulus gebruik hierdie naam byvoorbeeld net 25 keer (en dis as 'n reël wanneer hy praat van Sy tyd in Sy vernedering hier op aarde). Daarenteen verwys hy na Hom amper 250 keer as "die Here" (ongeveer 100 keer daarvan in kombinasie met Sy eienaam: "die Here Jesus"). En laat ons dit nie miskyk nie: as Joodse skrifgeleerde was die apostel baie bewus daarvan dat die titel "Here" (Gr. Kurios) twee tot drie eeue vantevore deur die Griekse vertalers van die Ou Testament gebruik is om die Godsnaam JaHWeH te vertaal. Waarlik, die apostels en die vroeë kerk en die Nuwe Testament het nie 'n geringe estimasie van die Here van die here, en Koning van die konings nie!
Mag ons spraak en ons gebede en ons lewens daarvan getuig dat ons volkome en verwonderd eens is met hulle!
Here Jesus Christus, ons aanbid U!
Nico van der Walt

Monday, June 6, 2011

E-PREEK No.18 - LK 23:32-43 : DIE REDDING VAN DIE ROWER

WIE VAN ONS HET NOG NIE OOR DIE DOOD EN WAT DAAROP VOLG, GEDINK NIE? Wat gebeur met ons in die minute en ure na ons gesterf het. Wat van die tyd - dalk eeue - tussen die graf en die opstanding? Wat van dierbares wat reeds heengegaan het? Het hulle tans 'n bewustelike bestaan? Vrae, vrae sonder ophou!
Dit gaan dus oor die sg. tussentoestand - die staat van gelowiges (om maar by húlle te bly) tussen die dood en die opstanding.
Die Bybel sê min oor die tussentoestand. Die apostels het as 't ware dwarsdeur die graf gekyk en hulle oë op die wederkoms vasgenael.
Dit beteken nie dat die Skrif heeltemal daaroor swyg nie. Dink byvoorbeeld aan die gelykenis oor Lasarus en die ryk man. Maar omdat dit 'n gelykenis is, is mens versigtig om nie te veel daaruit af te lei nie. Uiteindelik is dit miskien die beste om behoorlik te kyk na ons teksgedeelte - die gesprek tussen die Here Jesus en die misdadiger aan die kruis. En in die proses sal ons ook verskeie ander insigte kry.

Die gebeure op Golgota

Die Here is nie alléén gekruisig nie (Mt 27:38; Mk 15:27; Lk 23:32; Jh 19:18). Hy het tussen twee misdadigers gehang. Aanvanklik het beide van hulle Hom beledig (Mt 27:44; Lk 23:39), maar spoedig het een van hulle se gesindheid radikaal omgeswaai. As die besef tot hom deurdring dat hy besig is met sy laaste ure hier op aarde en dat hy op die drumpel van die ewigheid staan, pleit hy by Jesus om aan hom te dink wanneer Hy in Sy koninkryk kom. Dan antwoord die Here: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:42-43).

Jesus se versekering in Lk 23:43

# Hierdie antwoord van Jesus is geen geprewel van 'n ylende man nie. Hy weet presies wat Hy sê. Hy begin immers Sy uitspraak met die woordjie, "Voorwaar" (OAV, Gr. amen). Dis 'n uitdrukking wat die Here meermale gebruik as Hy 'n uitspraak maak wat Hy sterk wil beklemtoon - 'n uitspraak wat dus die volle gewig van Sy Goddelike gesag dra.

# Sommige mense wat die Bybelse openbaring oor die tussentoestand verwerp, beroep hulle op 'n alternatiewe vertaling: Vandag sê Ek vir jou, jy sal saam met My in die Paradys wees.
Dis seker nie onmoontlik om die Grieks so te vertolk nie, maar dis 'n geforseerde lees van die teks. Tweedens laat so 'n vertolking Jesus iets sê wat heeltemal oorbodig is - en sterwendes sê net die noodsaaklike. Les bes praat die Skrif ook elders van die tussentoestand.

# Die woord "paradys" is interessant. Dis eintlik 'n Persiese woord wat dui op 'n ommuurde tuin of 'n park. Hoewel die Hebreeuse teks van die Ou Testament dit glad nie gebruik nie, gebruik die Septuaginta ('n Griekse vertaling van die Ou Testament wat ongeveer 2½ eeue voor Christus gemaak is) dit om van die "tuin" van Eden te praat.
Afgesien van ons teks gebruik die Nuwe Testament die woord nog twee keer: Paulus se opraping na die paradys (2Kor 12:4); en die belofte aan die oorwinnaars in Op 2:7 dat hulle eendag van die boom van die lewe in die paradys sal eet.

# Die woorde "saam met My" is wonderlik vertroostend en aanmoedigend. Dit lê aan die hart van ons salige hoop en herinner ons dadelik aan die Here Jesus se woorde tydens Sy hoëpriesterlike gebed, "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees ..."(Jh 17:24). Ook die apostel skryf dat hy daarna verlang om heen te gaan en met Christus te wees (Fl 1:23).
As ons sterf, gaan ons na die Here toe!

Die misdadiger se geloof

# Ons kan sonder enige twyfel aanvaar dat hierdie misdadiger gered is. Daarom was hierdie verhaal deur die eeue tot groot troos vir tallose geestelike sukkelaars wat geteister is deur gevoelens van onwaardigheid voor die Here en twyfelvrae oor die sekerheid van hulle redding.
Verder sien ons hier die onuitspreeklike kosbaarheid van die leerstuk van redding deur geloof alleen, sonder die werke van die wet.

# Maar kan dit wees? Maak dit nie redding baie goedkoop nie? Waar is die rower se navolging van Jesus, sy heiligmaking en sy gehoorsaamheid? Kom hy nie bloot hier met mooi praatjies as die dood in sy nek blaas nie? Het hy ooit ware geloof gehad? Kan dit so eenvoudig wees?
Inderdaad! Want hy hét ware geloof!

* Hy glo dat daar 'n God is en dat daar vir al drie van hulle 'n bewustelike lewe ná die dood is.

* Hy glo dat hy skuldig is: "ons ontvang die verdiende straf vir ons dade". Hy het sondebesef.

* Hy glo dat Jesus onskuldig tereggestel word: "hierdie man het niks verkeerds gedoen nie". Só oortuig is hy daarvan dat hy selfs in sy toestand van verskriklike pyn vir die Here opkom.

* Hy glo dat hy en sy vriend verantwoording voor God sal moet doen: "Vrees jý ook God nie?"

* Hy glo dat die Here Jesus in die hemel Koning gaan wees (42).

* Hy glo dat Jesus iets vir hom in sy bedenklike situasie kan doen: "dink aan my". En hy vertrou hy die Here daarvoor met sy hele hart.

Wat sê dit alles vir ons?

1. Ons het hier 'n onmiskenbare onderstreping van die feit dat redding uit genade is, sonder enige verdienste aan menslike kant.
Minder verdienste as dié van die rower is haas ondenkbaar. Daar is geen dissipelskap nie, geen heiligmaking om van te praat nie, en beswaarlik enige kennis.
Veeleerder was die teendeel waar. Dink vir 'n oomblik oor sy lewe. Ouerlike leiding en pleitdooie het hy in die wind geslaan. Die kniehalters, enersyds, en die voorskrifte, andersyds, van 'n godsdienstige opvoeding het hy met minagting verwerp. Aan die lesse van die lewe het hy hom nie gesteur nie. Die aanmanings van sy gewete het hy onder sy voete vertrap. Vir jare was hy 'n geweldenaar en 'n dief en dalk 'n moordenaar.
Waarlik, hierdie man het niks, maar niks om aan God te bied nie. Hy het nét geloof - en dis nie verdienste nie; dis net 'n vasgryp van Christus.

2. Ons het hier 'n gebeurtenis wat die wese van saligmakende geloof pragtig illustreer.
Dis nie groot of sterk geloof wat red nie, maar ware geloof. 'n Greintjie van die egte is oneindig meer werd as tonne van die valse. Kwantitatief het hierdie man bloedweinig geloof gehad. En dit wat hy wel gehad het, was nie net pateties gering nie, maar het op die meeste net enkele ure geduur. Kwalitatief het hy egter die ware Jakob gehad.
En wat bepaal die egtheid? 'n Basiese kennis en oortuiging! Erns en opregtheid! Hulpeloosheid en afhanklikheid! Algehele en totale vertroue!
Die feit dat sommige hierdie geloof het, en ander nie, kan nie bloot aan sommige se wysheid, insig of vroomheid toegeskryf word nie. Dit staan soos 'n paal bo water. Nee, sy geloof kan niks anders wees nie as 'n gawe wat die Heilige Gees aan sommige gee en aan ander nie.
Sommige het gesien hoe Jesus dooies opwek, en tog nie geglo nie; die rower het gesien hoe Hy sterf, en tóg geglo.

3. Ons het hier 'n gebeurtenis wat vir ontelbaar baie tot groot troos was deur die eeue.
Talle van ons het al dierbares aan die dood afgestaan wat niks van God se genade in hulle lewens vertoon het nie. Dit beteken egter nie met sekerheid dat hulle nie gered is nie. Waarlik, 'n sterfbedbekering is moontlik. Mens kan 'n minuut voor jou dood nog gered word.
Derduisende sal die Here eendag dankbaar wees vir hulle kankerbeddens - verskriklik soos die siekte ook al mag wees. Waarom? Ontelbaar baie het al, wanneer hulle weet die dood is op hande, hulle saak met die Here reggemaak.
Maar - en dis 'n lewensbelangrike kwalifikasie - niemand van ons mag hierop staat maak nie! Soos al dikwels gesê is: een is gered, sodat niemand hoef te wanhoop nie; maar net één, sodat niemand aanmatigend durf wees nie. Per slot van rekening was daar nóg 'n rower - en hy het nié bekeringsgenade ontvang nie. Hy het sonder God en sonder hoop gesterf.

4. Selfs al sou die res van die Skrif oor 'n tussentoestand geswyg het - wat nie die geval is nie - sou hierdie gebeurtenis ons gedwing het om dit as 'n feit te aanvaar.
Onmiskenbaar impliseer hierdie gedeelte 'n bewustelike en persoonlike lewe onmiddellik ná die dood. Dit is onmoontlik om die Here Jesus se versekering dat die rower nog op daardie selfde kruisigingsdag saam met Hom in die paradys sal wees, op enige ander manier te verstaan.
Hoe ons tydsverloop in die tussentoestand sal beleef, weet ons gewoon nie. Sommige mense reken dit sal 'n a-tydse bestaan wees, maar dit is onwaarskynlik. Dink maar aan die martelare in die hemel se vraag oor hoe lank die Here nog gaan talm voordat Hy die aardbewoners straf oor hulle sonde? (Op 6:9-10). Kennelik beleef hierdie mense tydsverloop in die tussentoestand.
Ander verwysings na en sinspelings op die tussentoestand is te vind in Lk 9:28-33 (die verskyning van Moses en Elia op die berg van verheerliking), asook Lk 16:19-31; Hd 7:55-56; 2Kor 5:1-10; Op 5:13; 6:9-11; 15:2-4; 19:1-8.

5. Hoe duidelik sien ons nie die feit en aard van die Here Jesus se koningskap in hierdie gebeurtenis nie!
Selfs in Sy swakste oomblikke kan die Here Jesus steeds met absolute en koninklike gesag hierdie misdadiger verseker van die ewige lewe. En gewis het hy dit ontvang - dit kan ons vir seker aanvaar!
Voorts kom twee eienskappe van die Here Jesus se koningskap duidelik na vore.

# Eerstens is Sy regering 'n liefdesregering.
Die twee manne op die kante verdien om daar te hang. Hulle was deel van die samelewingskuim en niemand kan 'n winkbrou lig oor hulle teregstelling nie. Maar die éíntlike oordeel - God se oordeel - brand nie op hulle in nie, maar op die onskuldige Man in die middel. Dis omdat Hy in Sy liefde Homself gee as die strafdraende Plaasvervanger vir mense soos hierdie rower.

# Tweedens is Sy regering een van geregtigheid.
Sekerlik sou die Here hierdie rower gewoon net kon oorsien, nie waar nie? Hy is mos God. Verkeerd! Dit sou Hom minder as God gemaak het. Want dit sou Sy geregtigheid geweld aangedoen het. Nee, nie 'n enkele sonde van die mense wat aan die Seun toevertrou is, word gewoon onder die mat ingevee nie. Vir elkeen moes versoening gedoen word - en presies dít is wat hier gebeur.
Nico van der Walt

Sunday, June 5, 2011

E-PREEK No.11 - RM 3:25 : JESUS CHRISTUS, STRAFDRAENDE PLAASVERVANGER

ALLE MENSE, SONDER UITSONDERING, IS SKULDIG EN DAAROM DOEMWAARDIG VOOR GOD. Almal is onder Sy toorn. Dis die mens se heel grootste probleem! (Rm 1:18-3:20).
Maar dan begin Rm 3:21 met twee van die wonderlikste woorde in die Bybel: "Maar nou ...".
Dit word gevolg deur een van die rykste uiteensettings van die evangelie in die ganse Woord (Rm 3:21-31). Aan die hart van hierdie verse is v.25. En aan die hart van v.25 is die woord "versoening" (Gr. hilasterion).
Die heidene het natuurrampe en ander probleme aan die woede van hulle gode gewyt. Hilasterion is die woord wat hulle gebruik het vir die offers wat gebring is om die gode kwansuis te paai.
Sonder om die lewende God met die heidendom te assosieer, kan ons aanvaar dat die geïnspireerde apostel met presies hierdie idee werk. So aanvaar die regsinnige teologie dit nog altyd. Rm 3:25 praat dus van die kruis as 'n hilasterion-offer. Dáár het God se toorn op Sy Seun ingebrand en is Sy heilige verontwaardiging oor menslike sonde bevredig.
Hilasterion sê in 'n enkele woord wat Jesus Christus op Golgota gedoen het!

Die toorn van God

Male sonder tal het die Bybel dit oor God se toorn - selfs meer as oor God se liefde. Presies hiermee begin Paulus dan ook sy wonderlike uiteensetting van die evangelie in die Romeineboek.

God se toorn is Sy ewige en absolute afsku van alle ongeregtigheid en sonde - asook Sy handelinge om uitdrukking aan hierdie afsku te gee. Dis die heiligheid van God in aksie teen alle sonde.

En laat ons onthou: die toorn van God is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. Ongeërgdheid t.o.v. sonde sou immers getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.

Die strafdraende Plaasvervanger

Dis moeilik om 'n bevredigende vertaling vir hilasterion te vind. "Versoening" sê nie genoeg nie.
In Engels word die woord propitiation gebruik. Só omskryf 'n bekende woordeboek die begrip: "Some offering, sacrifice or suffering sufficient to win forgiveness or make up for an offence. It is an action that makes the governing power propitious (kindly disposed, gracious) toward the offender."
Erickson stel dit so in sy Concise Dictionary of Christian Theology: "A reference to the idea that Christ's atonement satisfies the wrath of God."
Dalk is die beste vertaling vir hilasterion dus iets van 'n omskrywing: Christus was die Strafdraende Plaasvervanger (Penal Substitute) wat God se toorn namens ons gedra het. Kom ek motiveer.

# Strafdraend: 'n Heilige God se volmaakte geregtigheid dring daarop aan dat alle oortredinge van Sy wet gestraf moet word. En presies dit het op Golgota gebeur. Daar het God se toorn teen die sonde van mense op Sy eie Seun in gebrandglas!

# Plaasvervanging: Dit vind plaas wanneer iemand in die plek van 'n ander optree - só dat dit nie meer vir die ander nodig is om dit te doen nie.
Dat Christus as plaasvervanger opgetree het vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, word sterk deur die Skrif onderstreep. Twee voorsetsels bring dit byvoorbeeld mooi na vore:
In Rm 5:8 en Gl 3:13 word die voorsetsel huper (ter wille van, namens) met "vir" vertaal. Laasgenoemde vers stel dit só: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word ..."
Mt 20:28; Mk 10:45 en 1Tm 2:6 gebruik weer die voorsetsel anti (in plek van, in ruil vir). Só stel Mk 10:45 dit: "die Seun ... het ... gekom ... om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie ..."

Jesus Christus, gedring deur Sy volkome liefde om al die nodige te doen vir my redding, het God se verskriklike oordele, wat ék moes ondergaan het, volledig namens my gedra - en sodoende vir my vergiffenis en ewige heerlikheid bewerkstellig.

Elke ware gelowige móét hierdie waarheid verstaan. Dit lê immers aan die hart van die evangelie. Begryp, glo en omhels dit - en dit sal jou lewe verander. Daarom ken Christene dwarsdeur die eeue twee belewinge:
Eerstens 'n diep hartswete: hiervoor is ek alles - my ganse lewe - aan my Verlosser verskuldig.
Tweedens ’n innerlike sekuriteit, wat 'n onuitputlike bron van vrede, vreugde en lof word.

Wat sê hierdie waarheid vir ons?

1. Dit sê vir ons iets oor God.
Dis belangrik om te begryp dat Christus nie teenoor Sy Vader op Golgota gestaan het nie. Dis 'n totaal verwronge en Godonterende idee dat Hy "arme sondaars" teen Sy Vader se woede beskerm het.

# Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis die Vader wat Sy Seun daar "gegee" het (Rm 3:25). Letterlik sê die werkwoord dat die Vader Sy Seun as ’t ware voor Homself neergesit het - ten einde mý straf te verduur.
Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! "Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom." ... "Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly." (53:4-5, 10).

# Agter die kruis moet God se heilige geregtigheid dus gesien word. Op Golgota is Sy toorn teen my sondeskuld bevredig. Dit het reggemaak wat verkeerd was in Sy oë. Elke kriesel skuld is betaal.
Die kruis beklemtoon die volmaaktheid van God se wet en dat Hy kompromieloos daarby staan as morele standaard vir die mens. Die diepste grond van ons redding is en bly volmaakte onderhouding van die wet - dié van die mens Christus Jesus!

2. Dit sê vir ons iets oor die mens.
Sedert Golgota kan geen twyfel bestaan oor die erns van God se waarskuwing in Gen 2:17 nie: "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy."
Daar kan nie 'n groter en meer beledigende sonde wees as om só 'n Plaasvervanger weg te wys nie. Daarom sal God elkeen wat sy rug op Sy genade-aanbod draai, met 'n strenger oordeel straf as diegene wat nooit die evangelie gehoor het nie.
Niks beklemtoon die onontkombaarheid van die ewige verdoemenis vir diegene sonder 'n plaasvervanger meer as die feit van Golgota nie.

Sal die lewende God 'n rebel oorsien, as Hy Sy eie Seun nie gespaar het nie?

3. Dit sê vir ons iets oor Jesus Christus.
As ware mens het Hy ons plek onder God se toorn ingeneem. Hy het die dood ondergaan wat ons moes sterf - liggaamlik en geestelik. Dis waarom Hy roep: "My God, My God, waarom het U My verlaat?" (Mk 15:34). Hier is die onwankelbare fondasie van ons vryspraak en immuniteit in terme van die Wet.
Een van die Skrif se aangrypendste beklemtonings is Jesus Christus se gewillige opoffering van Homself as Plaasvervanger. Vier keer in die gedeelte oor die goeie herder beklemtoon Hy dat Hy Sy lewe aflê vir die skape (Jh 10:11, 15, 17, 18). En in Ef 5:2 skryf die apostel: "Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was."

4. Dit sê vir ons iets oor reddende geloof.
Geloof begryp dat God se vereistes en standaarde vir die mens volledig en onveranderd bly staan tot in ewigheid, en dat die ewige straf wat God belowe het vir mislukking en rebellie, onafwendbaar rus op elkeen buite Christus. Ware geloof aanvaar egter ook dat die straf vir my sonde reeds op Christus ingebrand het - en totaal daar uitgewoed het.
Ware geloof bring gewetensrus. Toplady sing: "Payment God cannot twice demand, first from my bleeding Surety's hand, and then again from mine."

# 'n Voorbrand dien as brandbeveiliging. Waar 'n vuur eenmaal gebrand het, brand dit nie wéér nie! Onthou dan: die vuur van God se toorn het reeds op Christus ingebrand. Waarlik, op die oordeelsdag sal daar één veilige plek wees: Golgota se voorbrand!

Ware geloof gaan nie net eenkeer Golgota toe nie. Nee, dit skuil enduit by die kruis!

# Hieruit volg twee wesenstrekke van ware, saligmakende geloof:
Eerstens begryp en omhels dit God se vrye gawe van vergiffenis in Christus - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Dis die hart daarvan. 'n Christen sterf met sy Verlosser se Naam op sy lippe.
Tweedens is ware geloof 'n wegkyk van jouself - na Christus, en besonderlik na Hom as die Gekruisigde. Volwasse gelowiges soek dus nie die grond vir hul vergiffenis en toekomshoop in eie belewinge nie. Hulle weet, voortdurende introspeksie is 'n resep vir moedeloosheid. Ja, hulle ondersoek hulleself gereeld (2Kor 13:5), maar steek nie daar vas nie. Hulle sondebesef dryf hulle weer en weer na Christus toe.
Moet dit nóóit vergeet nie: redding is objektief. Dit gebeur in die eerste instansie buite my - by wyse van spreke in God se boeke.
Laat ons altyd die koperslang in die woestyn onthou (Num 21:8-9). Al wat nodig was vir genesing, was om te kyk. Jesus gebruik hierdie beeld as Hy oor Sy komende kruisiging praat - en oor die wese van geloof (Jh 3:14-18).

Geloof is om jou oë op Christus vas te nael!

Waarom 'n slang? In die Bybel is dit 'n simbool van boosheid. Die koperslang was dus 'n stuk profesie dat die Messias "sonde vir ons gemaak" sou word - dat Hy ons strafdraende Plaasvervanger sou wees (2Kor 5:21, OAV).

God se verlossing is gevolglik toeganklik vir almal - ongeag hoe groot jou sonde, onvermoë of onwaardigheid ook al is! Al wat immers nodig is, is om vanuit jou magtelose bankrotskap na Christus te kyk. Jy hoef niks te doen nie. Jy moet net kyk!
Trouens, jy durf niks anders doen nie. Dit weerhou jou van kyk soos jy moet. Nog belangriker, Christus is óf alleen-redder, óf glad nie. Die Israeliete wat self probeer regkom het, het gesterf!
Kan jy nou sien waarom die Christelike geloof wesentlik verskil van alle godsdienste - ook van churchianity - wat op moralisme en seremonies staatmaak vir redding.

Nee, redding is nie godsdienstiges wat na die Allerhoogste toe opklim nie; dis God wat in Christus na bedelende sondaars toe afbuig!
Nico van der Walt

Saturday, June 4, 2011

E-PREEK No.6 - RM 1:17 : DIE GEREGTIGHEID WAT GOD GEE

NIKS IN DIE BYBEL IS ONBELANGRIK NIE. MAAR SOMMIGE SKRIFWAARHEDE is van sulke wesentlike belang dat dit werklik 'n vraag is of jy hoegenaamd 'n Christen is as dit nie aan die hart van jou alleroortuigings lê nie.
Gevolglik vind ek dit baie ontstellend as ek regdeur ons land by goeie en getroue kerkmense kom en agterkom dat sovele van hulle geen snars van talle van hierdie waarhede begryp nie.
Daarom wil ek nogeens vandag met julle praat oor 'n evangeliewaarheid wat nie net aan die hart lê van ons allerheiligste geloof nie, maar wat ook 'n bron van onuitputlike troos is vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al dikwels hieroor besin, en vir meeste van julle gaan ek niks nuut sê nie - maar ek sidder by die gedagte dat ek eendag, as ek voor die Here moet verantwoording doen, dalk die verwyt uit Sy mond mag hoor dat ek nagelaat het om dit oor en oor op julle harte te druk.
Ek praat van regverdiging deur die geloof alleen. Dis 'n waarheid waarvan Luther gesê het dat die kerk daarby staan of val. En inderdaad is daar beswaarlik 'n meer betroubare lakmoestoets om die egtheid van 'n gemeente vas te stel, al dan nie.
Meer nog: ek weet nie van 'n waarheid wat méér ingrypende en praktiese effekte op 'n mens se lewe het, as hierdie nie. Daarom, maak seker jy verstaan dit, omhels dit in die geloof, oordink dit weer en weer, en rig jou lewe daarvolgens in.

Die geregtigheid van God

Martin Luther was 'n Rooms-Katolieke priester en professor aan die universiteit van Wittenberg. Onder meer moes hy klasgee oor die brief aan die Romeine. Maar hy kon nie agter die kap van die apostel se byl kom nie. Wel het hy verstaan dat 1:16-17 die tema van die hele boek is, en as sodanig die sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God" (OAV, lett.). Deur die middeleeue het die Katolieke kerk geleer dat die woorde oor die karaktertrek van die Here praat, naamlik dat Hy 'n God van geregtigheid is en toorn oor die sonde van mense.
As daar één kwessie was wat in Luther se hart gebrand het, was dit Job se vraag: hoe kan 'n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outo-biografie dat hy mettertyd die uitdrukking begin haat het, en al hoe meer kwaad geword het vir God. Want vir baie jare het hy met 'n intense sondebesef geworstel, magteloos om 'n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins van hierdie boek wat daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy te doen het met 'n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.
Een dag - waarskynlik in die herfs van 1514 - het die priester-professor nogeens hierdie verse oor en oor gelees. En toe skielik, daar in die toring van die Augustiniaanse klooster in Wittenberg, tref dit hom soos 'n donderslag: in die Grieks kan hierdie uitdrukking óók beteken dat God die oorsprong van geregtigheid is - dat Hy geregtigheid gee. [1]
Opeens het die boodskap van die Romeineboek vir Luther oopgeval. Later skryf hy, "Toe het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure God se Paradys binnegestap."
Só begin die sestiende eeuse Reformasie dan. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring. In die volgende jare sou dit lei tot die redding van duisende der duisende.

Wat het Luther gesien?

# Om dit te verstaan, gou-gou 'n dogmatieklessie.
Adam het as hoof van die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde op sy nageslag word die erfsonde genoem. Één manier om hierdie effek te beskryf, is om te sê dat die mens 'n diep en omvangryke verlies aan geregtigheid gelei het. Dit het twee komponente.
Eerstens het die mens sy geregtigheidsaard verloor. Hy het nou 'n sondige natuur (sonde is die teenoorgestelde van geregtigheid). Ons noem dit ook die erfsmet. Almal ken dit proefondervindelik.
Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld - want elke mens is nou strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy 'n enkele sonde gepleeg het. Die mensheid, as mensheid, is in Adam, en as sodanig doemwaardig.
Hierdie skuld word natuurlik al hoe meer soos mens dag na dag self ook sondig.

# Christus het as "tweede mens", as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) - en as Hoof van God se nuwe mensheid - gekom om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (Rm 5:12-21). Wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan hom toegereken, oftewel gedebiteer is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer. [2]

# Ons kan nie nou praat oor hoe die Here Jesus se heiligmakende werk ons verlies aan 'n geregtigheidsaard aanspreek nie. Ons teks handel nie daaroor nie. In elk geval is dit nie ons eerste en diepste probleem nie. Nee, ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God is ons grootste krisis!

# Om te verstaan hoe Christus die probleem van ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir 'n oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons sonde in Adam).
Alle sonde val in een van twee klasse: dit wat mens doen, en dit wat jy nalaat. [3] Ons oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen. My sondes van oortreding is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ek nie doen nie? Ek haat Hom nie meer nie - en dis wonderlik - maar wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag nie?

* Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde wat Sy mense gedoen het, doen, en sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger gedoen - in my plek. My skuld is aan Hom toegereken - dis oorgeboek na Sy rekening, Hy is daarmee gedebiteer. En toe Hy dit betaal het, was dit die einde van my skuld!

* Maar hoeveel van ons besef dat hierdie vryspraak op sigself nie genoeg is nie? [4]
As ons net vryspraak ontvang het, was ons weer waar Adam voor die sondeval was - sonder skuld. Maar was dit genoeg? Nee! Hy moes nog deur aktiewe gehoorsaamheid die loon verdien! Deur positiewe gehoorsaamheid moes hy toegang tot die Boom van die Lewe verkry.
Nee, dis nie genoeg om God se gebooie nie te oortree nie, ons moet hulle hóú! Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, moet jy God volkome gehoorsaam. En dis ons grootste probleem!

# Ook hierdie onoorkombare dilemma van die sondaarmens word deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam - van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy laaste asemteug. Nie 'n enkele sondige gedagte, begeerte of motief nie! En tot in die fynste besonderhede het Hy alles, presies alles, gedoen wat Sy Vader wou. [5]
Hiérdie gehoorsaamheid word toegereken aan elkeen wat waarlik glo! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening toe! Stel jou geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, en jy word met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
Dís waarvan Rm 1:17 praat. Dís die geregtigheid wat God gee. Dís wat Luther gesien het. Dís die essensie van regverdiging deur die geloof alleen.

Waarop kom dit neer?

# As iemand anders jou skuld betaal het, wat skuld jy? Niks nie!
En as jy iets moet doen, maar 'n plaasvervanger doen dit in jou plek - moet jy dit dan ook nog doen? Natuurlik nie!
Besef jy wat dit beteken? In God se boeke, by wyse van spreke, het jy wat in Christus is die status van iemand wat nog nooit gesondig het nie - want al jou skuld is betaal. Nog méér: in God se boeke het jy die status van iemand wat die wet van God volkome onderhou - want God het aan jou geregtigheid gegee, Christus se geregtigheid.

# Let op, ek sê dit geld in God se boeke. Onthou, hierdie is 'n juridiese aangeleentheid. Paulus gebruik deurgaans wets- en boekhoutaal. Hierdie is dus 'n objektiewe saak, nie 'n subjektiewe nie. Dit gebeur buite jou (in God se boeke!), nie ín jou nie. Dit is nie 'n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat - omdat God se evangelie dit belowe.
Om weg van onsself te kyk, en ons oë op Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste lesse wat 'n Christen moet leer. Dis die essensie van geloof (onthou julle die koperslang in Num 21:5-9 en Jh 3:14-15?).
Ontelbaar baie Christene staan op een plek en rondmaal, omdat hulle introspektief is en gedurig met dermrygery besig is. Dis selfgesentreerdheid. En dis sonde - onder meer die sonde van ongeloof. Jy glo God se beloftes nie! Asof Hy 'n leuenaar is!

# Dit wat Adam moes, maar nie kon nie, dit het die Laaste Adam reggekry. Hy het Sy Vader enduit en volkome gehoorsaam. En die van ons wat deur 'n ware geloof met Hom verenig is, ontvang presies dieselfde loon as ons Verbondshoof.
Daarom is daar in die Bybel beswaarlik 'n heerliker en meer betekenisvolle belofte as dié van Op 22:2: die boom van die lewe!
Die gerubs wat moet toesien dat Adam se nageslag nie 'n voet in die tuin van Eden mag sit nie, word 'n verwelkomingserewag vir elkeen wat in die geloof in Christus ingevlug het en volhardend by Hom skuil! (Gn 3:24)

# Die bekende Amerikaanse kerkleier en teoloog, Gresham Machen, het verstaan. Op 1 Januarie 1937 is sy laaste sterfbedwoord: "Ek is so dankbaar vir die aktiewe gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder is daar geen hoop nie."

[1] 'n Subjektiewe, en nie 'n objektiewe genitief soos die kerk van die vorige eeue geleer het nie.

[2] Die begrip "toerekening" in Grieks (11 keer in Rm 4, OAV) dui op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek. Ons kan dus ook vertaal met debiteer of krediteer. Vergelyk ook die NIV.

[3] Engels: sins of comission, and sins of omission.

[4] Die NAV se gebruik van die woord "vryspraak" vir die Nuwe Testamentiese idee van regverdigverklaring (soos in ons teks), is nie net teologies naïef nie, maar misleidend. Die idee is nie bloot negatief nie; dis eerstens heerlik positief.

[5] Toe die Vader die Seun uit die dood opgewek het, was dit Sy verklaring dat die Here Jesus Hom volkome gehoorsaam het - dat Hy geen sonde gedoen het, en dus nie in eie hoedanigheid die dood verdien nie.
Nico van der Walt