Monday, June 13, 2011

E-PREEK No.166 - KOL 2:9 : DIE HERE JESUS CHRISTUS!

DAAR IS IETS WAT EK ALGEMEEN TEËKOM IN DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS en wat my toenemend pla. Sóveel mense, selfs baie wat werklik ernstig is oor hulle Christenskap, het oënskynlik 'n mindere verering vir en belewing van die Here Jesus Christus se verheerlikte majesteit as wat die Nuwe Testamentiese openbaring Hom vir ons voorhou - noem dit maar 'n mindere estimasie. Mens hoor dit aan hoe hulle oor Hom praat, en aan hoe hulle bid (hulle lewenswyse daar gelaat!).
Dis asof sovele in hulle belewing van en verhouding met Hom nie veel verder kom nie as - die wonderlike Man van Nasaret.
Natuurlik is die menswording van God die Seun die mees merkwaardige gebeurtenis van alle tye. Natuurlik moes Hy mens word as kulminering van God se selfopenbaring aan ons. Natuurlik moes Hy as volkome mens ons Middelaar word. Natuurlik kry ons nooit klaar met Jesus van Nasaret nie.
Maar dit was Sy staat van vernedering - 'n skamele drie-en-'n-half dekades lank. Sedert Sy hemelvaart is Hy verheerlik in die hoogste hemel - al vir 2000 jaar lank, en tot in alle ewigheid.
Die Nuwe Testamentiese openbaring oor Jesus Christus is dimensies ryker, grootser, diepsinniger - oneindig meer verhewe. Die apostels en vroeë kerk sou verstom gestaan het oor die oppervlakkigheid van sovele hedendaagse beskouinge oor Christus. Hulle sou dit met verontwaardiging as skreiend onvoldoende en onterend bejeen het. Hulle sou, trouens, ernstige bedenkings gekoester het oor die redding van iemand wie se Christus-belewing só afgewater is.

Aan die regterhand van die Vader

Weer en weer lees ons in die Nuwe Testament dat die Here Jesus sedert Sy hemelvaart aan die regterhand van die Vader sit. Veral die Hebreërbrief onderstreep dit - vyf maal (1:3; 1:13; 8:1; 10:12-13; 12:2). Die apostel Paulus sê dit drie keer (Rm 8:34; Ef 1:20; Kol 3:1). Elders kry ons dit nog drie keer (Mk 16:19; 1Pt 3:22; Op 3:21).
Wat wil die Nuwe Testament so herhaaldelik op ons harte druk? Tot vandag toe is dít waar die persoon sit wat uitvoerende volmag in 'n regering het - aan die regterkant van die seremoniële gesagsfiguur. Só sit 'n universiteitsrektor (ook genoem die Visekanselier) op 'n formele foto regs van die die Kansellier. Die Eerste Minister, wat die sweep klap, sit regs van die seremoniële Koning.
Dat Christus in die hemel sit, gaan dus nie oor rus en passiwiteit nie. Inteendeel, dit gaan oor gesag en aktiewe regering!
Hierdie stuk of tien uitsprake in die Nuwe Testament het hulle oorsprong in Ps 110:1. Die psalm sing oor die komende Messias as Priester (4) en Koning (1-3; 5-7). En presies dit is waarmee die Here Jesus tans besig is. As Koning heers Hy enersyds oor Sy gemeente en die koms van Sy koninkryk; en andersyds is Hy besig om Sy vyande te onderwerp. En as Priester in die priesterorde van Melgisedek (vgl. Ps 110:4; Hb 7) tree Hy by die Vader in vir diegene wat aan Hom toevertrou is.

Lofsange oor Christus se heerlikheid

Dit word algemeen aanvaar dat die Nuwe Testament etlike kernagtige geloofsbelydenisse en lofsange van die vroeë kerk bevat. Luister na twee voorbeelde hiervan en kom onder die indruk van hulle verhewe Christusbeskouing (dalk was Paulus nie die oorspronklike skrywer hiervan nie; dalk het hy bloot algemeen bekende lofsange aangehaal):

# Fl 2:6-11: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: 'Jesus Christus is Here!' tot eer van God die Vader."

# Kol 1:15-20 : "Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen."

Christus is waarlik en volwaardig God

Meer as een maal sê die Nuwe Testament uitdruklik dat die Seun waarlik en volwaardig God is.
Dink aan die inleiding tot Johannes se evangelie: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God ... die Woord het mens geword en onder ons kom woon " (Jh 1:1, 14).
Romeine 9:5 sê van Christus: "Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig!" Titus 2:13 noem Hom ons grote God en Verlosser. Hebreërs 1:8 maak die Messiaanse Psalm 45 op Hom van toepassing: "U troon, o God, staan vir ewig vas ..."

'n Verbysterende uitspraak

Een van die merkwaardigste uitsprake in die Nuwe Testament is Kol 2:9: "Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik" (die OAV volg die Grieks letterlik).
In die vorige vers waarsku Paulus sy lesers om nie toe te laat dat dwaalleraars hulle mislei met bloot menslike tradisies, filosofieë en allerlei godsdienstige voorskrifte wat nie op Christus berus nie. Die rede is dat ons in Hom eenvoudig alles, maar alles het wat ons ooit mag nodig hê - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid.

# Die verbysterende stellings wat die apostel hier maak, geld van Jesus Christus, ja, van Hóm spesifiek, en net van Hom. Hierdie aksent word bewerkstellig deurdat die woorde "in Hom" aan die begin van die sin geplaas word - en dus in 'n posisie van beklemtoning.

# Die woord "volheid" (Gr. pleroma) dui op algehele volledigheid, op die som-totaal van iets. Om dit nóg sterker te beklemtoon, kwalifiseer Paulus dit met "al" - dus ál die volheid, nie net 'n gedeelte daarvan nie.

# Die apostel praat van al die volheid "van die Godheid." Hy gebruik die abstrakte selfstandige naamwoord, wat dui op die wese, op die essensie van God. Hy maak dus die geweldige stelling dat die totaliteit van dit wat God is in Christus woon.

# Hierdie is 'n permanente toestand; trouens, dis vir ewig die geval. Afgesien daarvan dat die teenwoordige tyd gebruik word, word die werkwoord, om te woon, versterk met 'n bepaalde voorvoegsel (Gr. kata) wat die permanensie van hierdie inwoning beklemtoon.

# Dalk is die mees verstommende wat in hierdie vers gesê word die feit dat die volheid van die Godheid vir altyd "liggaamlik" in Christus woon. Hierdie bywoord sinspeel op God die Seun se vleeswording. Wat hier gesê word geld van die mens Christus Jesus. Dit gaan inderdaad ons verstand te bowe. Tog sê dit minstens vier dinge.

* Eerstens, Jesus Christus se twee nature, die goddelike en die menslike, is volmaak geïntegreerd in net één Persoon.

* Tweedens, tot in alle ewigheid sal die Here Jesus óók volkome mens bly. Voor Sy vleeswording was Hy nie mens nie; hierdie natuur het Hy bygekry toe Hy ontvang is in die maagd se moederskoot.

* Derdens, alles wat in hierdie vers gesê word het reeds gegeld van die Here Jesus in Sy vernederde staat. Hoeveel te meer is dit nie nóú van Hom waar sedert Hy verheerlik is nie!

* Vierdens, Hy is ál ons aanbidding waardig - en oneidig meer. Trouens, die dermiljoene mense wat die Vader as bruid vir Hom gegee het, se gesamentlike verering sal tot in alle ewigheid nooit volledig laat reg geskied aan Sy heerlike majesteit nie. Die ewigheid sal ons aanbidding nie uitput nie!

Geen onbelangrike gevolgtrekking nie

Ja, die menswording van God die Seun is oorweldigend, verbysterend, duiselingwekkend. Nooit sal ons daarmee klaarkry nie. Maar, hoewel steeds volkome mens, is Hy nie meer in Sy staat van vernedering nie. En voor Hom sal een en elkeen in die hemel en op die aarde en onder die aarde eendag sy of haar knieë buig - en erken: "Jesus Christus is die Here!"
Onuitspreeklik geseënd is elkeen wat nóú reeds die genade ontvang om Hom te sien vir wie Hy is - en om nóú reeds aanbiddend voor Hom te buig. Wanneer die res op daardie dag heeltemal verslae en oorweldig deur doodsvrees op hulle knieë sak, sal dit vir ewig te laat wees.
Luister na Op 5:11-14: Duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene roep uit: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang!" Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, loof Hom: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!"
Laat ons daarom Sy Naam met die grootste ontsag op ons lippe neem. "Jesus" is die naam van Sy vernedering - maar só is Hy nie meer nie. Nóú is Hy die verheerlikte "Here Jesus Christus"!
Hierdie wete was oorheersend in die geloofsbelewing van die vroeë kerk. Dis waarom hulle selde na God die Seun verwys het as bloot "Jesus". Die apostel Paulus gebruik hierdie naam byvoorbeeld net 25 keer (en dis as 'n reël wanneer hy praat van Sy tyd in Sy vernedering hier op aarde). Daarenteen verwys hy na Hom amper 250 keer as "die Here" (ongeveer 100 keer daarvan in kombinasie met Sy eienaam: "die Here Jesus"). En laat ons dit nie miskyk nie: as Joodse skrifgeleerde was die apostel baie bewus daarvan dat die titel "Here" (Gr. Kurios) twee tot drie eeue vantevore deur die Griekse vertalers van die Ou Testament gebruik is om die Godsnaam JaHWeH te vertaal. Waarlik, die apostels en die vroeë kerk en die Nuwe Testament het nie 'n geringe estimasie van die Here van die here, en Koning van die konings nie!
Mag ons spraak en ons gebede en ons lewens daarvan getuig dat ons volkome en verwonderd eens is met hulle!
Here Jesus Christus, ons aanbid U!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment