Friday, June 3, 2011

E-PREEK No.36 - 1TM 4:16 : 'N PREDIKANT KAN SY KUDDE MAAK OF BREEK

PAULUS DRUK TIMOTEUS ERNSTIG OP DIE HART OM NOUGESET OOR SY LEER EN LEWE TE WAAK, OMDAT DIT BEPALEND KAN WEES, NIE NET VIR SY EIE REDDING NIE, MAAR OOK VIR DIE REDDING VAN SY KUDDE.
Besef julle dat dit in beginsel moontlik is dat een of meer van die predikers in hierdie gemeente die ewigheid in die hel kan deurbring - indien hulle, (a) in hulle navolging van Christus nie is wat hulle moet wees nie, of (b) dwaalleer verkondig? Die skokkende is dat dit waarmee die deursnee lidmaat nog sal kan wegkom op daardie verskriklike dag as ons moet verantwoording doen, verdoemend kan wees in die geval van predikante. Leermeesters gaan strenger as ander beoordeel word! (Jk 3:1).
Voorts, besef julle dat ons as predikers in hierdie gemeente hopelik 'n groot rol speel in elkeen van julle se redding, maar eweneens die oorsaak kan wees dat van julle vir ewig verlore gaan?
Kyk mooi na ons vers: die voorwaarde vir Timoteus en sy kudde se ewige redding is dat hý sal let op sy lewe en sy leer, en daarin sal volhard.
Baie predikante dink hulle reddingstaak is afgehandel wanneer iemand tot bekering gekom het en by die gemeente inskakel. Al wat dan oorbly, is om sulke mense op te bou en voort te help in heiligmaking. Slegs verlorenes moet immers gered word, word gedink - nie die gemeente nie. Hulle is mos reeds gered.
Maar die Skrif leer dat as mens nie enduit in gehoorsaamheid volhard nie, die gevolg nie net mindere heiligmaking is nie, maar die ewige verdoemenis. Die taak van 'n pastor is dus nie bloot om die heiliges op te bou nie, maar om hulle inderdaad te red!

Is dit Bybels?

# Eerstens, is dit nie hemelskreiende arrogansie om te sê dat ék mense kan en moet red nie? Dis tog iets wat nét die Here kan doen. Sekerlik! Maar tog sê die Skrif óók meermale dat Sy werkers mense red. Paulus skryf in 1Kor 9:22: "Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red." En Jakobus sê: "... weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red ..." (Jk 5:20) (vgl. ook Hd 26:18; Rm 11:14).
Ons moet dit só verstaan: in bykans alles wat die Here hier op aarde doen, werk Hy middellik - Hy gebruik instrumente. So maak Hy dan van Sy dissipels gebruik, veral van Sy predikers, om soos stukke gereedskap in Sy hand te wees as Hý mense red. En in hierdie sin red húlle mense.

# Tweedens, is dit reg om te sê dat iemand wat reeds gered is, steeds gered moet word?
Dit word vertel dat die befaamde 19de eeuse teoloog, Biskop Westcott, teologiese professor in Cambridge, een keer deur 'n voorbarige student voorgekeer is met dié woorde: "Professor, is u gered?" "Goeie vraag", het Westcott geantwoord, "maar dit hang af wat jy bedoel?" Toe slaan die geleerde oor in Grieks en hy gebruik 3 passiewe deelwoorde van die werkwoord "om te red": ek is gered, ek word gered, ek sal gered word. Onnodig om te sê, die student is druipstert daar weg.
Redding word op drie maniere in die Skrif aan ons voorgehou. Ons is gered (Rm 8:24; Lk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (Rm 5:9-10; 13:11; 1Pt 1:5). Dis omdat ons redding 'n proses is - wat begin het, maar nog nie voltooi is nie. In 'n sin moet ons dus nog gered word.
Op talle plekke leer die Bybel dat die Christelike lewe soos 'n maratonwedloop is, en dat slegs hulle wat tot die einde toe volhard, gered sal word.

# Hierdie betrokkenheid van herders in die redding van hulle kuddes is nie maar 'n terloopsheid nie; dit verg alles van hulle. Luister maar weer na Paulus: "Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing ... en die ewige heerlikheid kan ontvang" (2Tm 2:10). In 2Kor 1:6 skryf hy: "As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle gehelp en gered kan word."

# In die geval van die Korintiërs het ons 'n voorbeeld van hoe mense só deur die bemoeienis van 'n herder gered word. Hulle het in sonde geval en Paulus het 'n brief aan hulle geskryf wat hulle diep ontstel het (en gewis was hierdie sogenaamde tranebrief ook vir hom uiters pynlik om te skryf). Die brief het egter die gewensde uitwerking gehad en die Korintiërs het hulle bekeer. In 'n volgende brief sê Paulus dan dat hy nie met kwade bedoelings so streng met hulle was nie. Maar dit het vir hom daaroor gegaan dat hulle nie die saligheid mis nie - "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei ..." (2Kor 7:10).
Miskien is die Hebreërbrief die uitnemende voorbeeld van sulke pastorale gestrengheid ter wille van gelowiges se redding. Die Hebreërs is op die punt om die geloof te versaak en na die Joodse godsdiens terug te keer. Hiervan wil die skrywer hulle ten alle koste laat afsien. Hy draai geen doekies om nie en bombardeer hulle met die mees skrikwekkende pastorale vermanings en waarskuwings in die ganse Nuwe Testament. Verskriklik, sê hy vir hierdie mense wat jare se dissipelskap agter hulle het, is dit om in die hande van die lewende God te val! (Hb 10:31).
Wat die Hebreërskrywer betref, hang die ewige saligheid óf verdoemenis van hierdie mense een honderd persent van sy pastorale effektiwiteit af.
Waarlik, dit is die verantwoordelikheid van elke predikant (en elke ouderling) om só te werk dat nie een van sy broers of susters verlore gaan nie. Daarvoor is hy voor die Here verantwoordelik, en as een van hulle dan wel voor die wenpaal opgee, is dit in 'n sin sý skuld. Te sterk gestel? Almiskie. Maar dís die gesindheid waarmee hy sy werk moet doen.

# Maar, terwyl die Skrif se aksent op die herder en leraar se verantwoordelikheid val, is dit meteen ook iets wat op elke gelowige rus.
Sowel die Romeine as die Korintiërs word deur Paulus gewaarsku om, selfs in so 'n geringe saak soos wat jy eet of drink, nie 'n mede-gelowige in die geloofswedloop te laat struikel nie. Vir die Romeine sê die apostel: "Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie" (Rm 14:15). En vir die Korintiërs sê hy dat mens 'n broer of suster se geloofswedloop deur jou voorbeeld kan laat skipbreuk ly. As jy jou Christelike vryheid só misbruik dat 'n mede-lidmaat jou strydig met sy oortuigings navolg, laat jy hom iets teen sy gewete doen - en dit kan hom sy saligheid kos. "Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het" (1Kor 8:11).
Hoeveel te meer kan voorgangers van gemeentes, wat uiteraard meer in die oog en invloedryk is, die oorsaak wees dat medegelowiges die pad byster raak?

Op die spel in pastorale bediening en prediking, is nie bloot 'n gemeente se groei in heiligmaking nie, maar ook hulle inbesitname van die ewige saligheid.

Enkele punte van toepassing

1. Niks behoort vir ons belangriker te wees as om heilig in die geloofswedloop te volhard nie.
As daar een ding is wat die apostels met geweldige erns bejeen het, dan is dit ons verantwoordelikheid om met alles in ons vermoë die koninkryk binne te beur. Hierin het hulle die Here Jesus nagevolg: die koninkryk van die hemel moet bestorm en met geweld gegryp word (Mt 11:12, OAV). En as jou hand of oog jou in die proses laat struikel, kap dit af of ruk dit uit (Mt 5:29-30).
Dis reg dat ons beklemtoon en ons daarin verheug dat die Here reddend in ons lewens ingegryp het. Maar dit mag nie die enigste belewing van ons Christenskap wees nie. As ons nie voortdurend besig is om ons heil met vrees en bewing uit te werk nie, is die kanse goed dat ons nooit die Here sal sien nie. Dis 'n verskriklike gedagte, maar besef julle dat, tensy die Here ons baie, baie genadig is, van die mense in hierdie saal die ewigheid in die verdoemenis gaan deurbring!
Waarlik, niemand, maar niemand sal die koninkryk op 'n traak-my-nie-agtige wyse beërf nie.

2. Ek moet met alles in my daarteen waak om vir my broers en susters tot struikeling te wees in húlle wedloop.
Dit waarna ons tans kyk, beteken nie dat diegene wat waarlik gered is, verlore kan gaan nie. Maar dit beklemtoon dat volharding tot die einde toe die uiteindelike merkteken van ware redding is. Vals gelowiges sak uit. Maar let goed op wat die Here in hierdie verband sê: as jý die oorsaak is dat iemand struikel, is dit vir jou beter om eerder met 'n klip om jou nek in die see te verdrink (Mt 18: 6-7).

3. Die antwoord: die vaste spys van die Woord.
Mens sou nou maklik kon redeneer dat predikers, in die lig van wat ons gesien het, eerder net appellerende bekeringsboodskappe moet preek. Nee! Dit was juis een van die groot probleme van die Hebreërs: hulle het vasgesteek by die melkkos van die eerste beginsels (Hb 5:11-6:3).

4. Ontelbaar baie gaan die ewige verdoemenis tegemoet, omdat hulle dink dat dit nie regtig saak maak aan watter kerk hulle behoort nie.
Solank mens net persoonlik met die Here wandel, dink baie, is alles in orde. Maar wat hulle vergeet, is dat jou wedloop tot 'n groot mate bepaal word deur die prediking waaronder jy Sondae sit, asook deur die standaard van Christenskap óm jou. Die probleem is dat ons vergeet dat dié soort dissipelskap wat op die ewige heerlikheid uitloop, alles van mens verg. En as jy nie gedurig gevoed en versterk word deur jou gemeente nie - om van vergiftiging nie eers te praat nie - is die kanse goed dat jy dit nie gaan maak nie.

5. Een van die belangrikste gebede wat jy weer en weer moet bid, is vir jou predikant(e).
In hierdie gemeente is ons uiters huiwerig om te veel te maak van die predikante-amp. Veeleerder beklemtoon ons die feit dat ons almal broers en susters is. Maar dit verander nie die feit dat daar 'n enorme verantwoordelikheid op die predikers (en natuurlik die ouderlinge) in hierdie gemeente rus nie.
Bid asseblief gedurig vir ons dat die gewigtigheid van ons roeping steeds dieper in ons harte ingegrafeer sal word. Want een van ons grootste bedreigings is 'n onderskatting van ons aanspreeklikheid voor die Here. Hb 13:17 sê dat ons verantwoording sal moet doen!
Bid nie net ter wille van óns nie, maar ook ter wille van julleself. Ek vertrou dat jy my nie verkeerd sal verstaan as ek sê dat niemand - behalwe natuurlik jyself - 'n groter rol in jou geestelike groei en geloofsvolharding speel as die ouderlinge van hierdie gemeente en veral die predikers nie.

6. Dié geheim in die geloofswedloop, is om jou oë op Jesus Christus vas te nael.
Kom ek sluit net af met 3 aanhalings uit Hebreërs: "Hy (die Seun) (het) vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword" (5:9). "Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het" (3:14). "laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die begin en Voleinder van die geloof" (12:1-2).
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment