Monday, June 6, 2011

E-PREEK No.18 - LK 23:32-43 : DIE REDDING VAN DIE ROWER

WIE VAN ONS HET NOG NIE OOR DIE DOOD EN WAT DAAROP VOLG, GEDINK NIE? Wat gebeur met ons in die minute en ure na ons gesterf het. Wat van die tyd - dalk eeue - tussen die graf en die opstanding? Wat van dierbares wat reeds heengegaan het? Het hulle tans 'n bewustelike bestaan? Vrae, vrae sonder ophou!
Dit gaan dus oor die sg. tussentoestand - die staat van gelowiges (om maar by húlle te bly) tussen die dood en die opstanding.
Die Bybel sê min oor die tussentoestand. Die apostels het as 't ware dwarsdeur die graf gekyk en hulle oë op die wederkoms vasgenael.
Dit beteken nie dat die Skrif heeltemal daaroor swyg nie. Dink byvoorbeeld aan die gelykenis oor Lasarus en die ryk man. Maar omdat dit 'n gelykenis is, is mens versigtig om nie te veel daaruit af te lei nie. Uiteindelik is dit miskien die beste om behoorlik te kyk na ons teksgedeelte - die gesprek tussen die Here Jesus en die misdadiger aan die kruis. En in die proses sal ons ook verskeie ander insigte kry.

Die gebeure op Golgota

Die Here is nie alléén gekruisig nie (Mt 27:38; Mk 15:27; Lk 23:32; Jh 19:18). Hy het tussen twee misdadigers gehang. Aanvanklik het beide van hulle Hom beledig (Mt 27:44; Lk 23:39), maar spoedig het een van hulle se gesindheid radikaal omgeswaai. As die besef tot hom deurdring dat hy besig is met sy laaste ure hier op aarde en dat hy op die drumpel van die ewigheid staan, pleit hy by Jesus om aan hom te dink wanneer Hy in Sy koninkryk kom. Dan antwoord die Here: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:42-43).

Jesus se versekering in Lk 23:43

# Hierdie antwoord van Jesus is geen geprewel van 'n ylende man nie. Hy weet presies wat Hy sê. Hy begin immers Sy uitspraak met die woordjie, "Voorwaar" (OAV, Gr. amen). Dis 'n uitdrukking wat die Here meermale gebruik as Hy 'n uitspraak maak wat Hy sterk wil beklemtoon - 'n uitspraak wat dus die volle gewig van Sy Goddelike gesag dra.

# Sommige mense wat die Bybelse openbaring oor die tussentoestand verwerp, beroep hulle op 'n alternatiewe vertaling: Vandag sê Ek vir jou, jy sal saam met My in die Paradys wees.
Dis seker nie onmoontlik om die Grieks so te vertolk nie, maar dis 'n geforseerde lees van die teks. Tweedens laat so 'n vertolking Jesus iets sê wat heeltemal oorbodig is - en sterwendes sê net die noodsaaklike. Les bes praat die Skrif ook elders van die tussentoestand.

# Die woord "paradys" is interessant. Dis eintlik 'n Persiese woord wat dui op 'n ommuurde tuin of 'n park. Hoewel die Hebreeuse teks van die Ou Testament dit glad nie gebruik nie, gebruik die Septuaginta ('n Griekse vertaling van die Ou Testament wat ongeveer 2½ eeue voor Christus gemaak is) dit om van die "tuin" van Eden te praat.
Afgesien van ons teks gebruik die Nuwe Testament die woord nog twee keer: Paulus se opraping na die paradys (2Kor 12:4); en die belofte aan die oorwinnaars in Op 2:7 dat hulle eendag van die boom van die lewe in die paradys sal eet.

# Die woorde "saam met My" is wonderlik vertroostend en aanmoedigend. Dit lê aan die hart van ons salige hoop en herinner ons dadelik aan die Here Jesus se woorde tydens Sy hoëpriesterlike gebed, "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees ..."(Jh 17:24). Ook die apostel skryf dat hy daarna verlang om heen te gaan en met Christus te wees (Fl 1:23).
As ons sterf, gaan ons na die Here toe!

Die misdadiger se geloof

# Ons kan sonder enige twyfel aanvaar dat hierdie misdadiger gered is. Daarom was hierdie verhaal deur die eeue tot groot troos vir tallose geestelike sukkelaars wat geteister is deur gevoelens van onwaardigheid voor die Here en twyfelvrae oor die sekerheid van hulle redding.
Verder sien ons hier die onuitspreeklike kosbaarheid van die leerstuk van redding deur geloof alleen, sonder die werke van die wet.

# Maar kan dit wees? Maak dit nie redding baie goedkoop nie? Waar is die rower se navolging van Jesus, sy heiligmaking en sy gehoorsaamheid? Kom hy nie bloot hier met mooi praatjies as die dood in sy nek blaas nie? Het hy ooit ware geloof gehad? Kan dit so eenvoudig wees?
Inderdaad! Want hy hét ware geloof!

* Hy glo dat daar 'n God is en dat daar vir al drie van hulle 'n bewustelike lewe ná die dood is.

* Hy glo dat hy skuldig is: "ons ontvang die verdiende straf vir ons dade". Hy het sondebesef.

* Hy glo dat Jesus onskuldig tereggestel word: "hierdie man het niks verkeerds gedoen nie". Só oortuig is hy daarvan dat hy selfs in sy toestand van verskriklike pyn vir die Here opkom.

* Hy glo dat hy en sy vriend verantwoording voor God sal moet doen: "Vrees jý ook God nie?"

* Hy glo dat die Here Jesus in die hemel Koning gaan wees (42).

* Hy glo dat Jesus iets vir hom in sy bedenklike situasie kan doen: "dink aan my". En hy vertrou hy die Here daarvoor met sy hele hart.

Wat sê dit alles vir ons?

1. Ons het hier 'n onmiskenbare onderstreping van die feit dat redding uit genade is, sonder enige verdienste aan menslike kant.
Minder verdienste as dié van die rower is haas ondenkbaar. Daar is geen dissipelskap nie, geen heiligmaking om van te praat nie, en beswaarlik enige kennis.
Veeleerder was die teendeel waar. Dink vir 'n oomblik oor sy lewe. Ouerlike leiding en pleitdooie het hy in die wind geslaan. Die kniehalters, enersyds, en die voorskrifte, andersyds, van 'n godsdienstige opvoeding het hy met minagting verwerp. Aan die lesse van die lewe het hy hom nie gesteur nie. Die aanmanings van sy gewete het hy onder sy voete vertrap. Vir jare was hy 'n geweldenaar en 'n dief en dalk 'n moordenaar.
Waarlik, hierdie man het niks, maar niks om aan God te bied nie. Hy het nét geloof - en dis nie verdienste nie; dis net 'n vasgryp van Christus.

2. Ons het hier 'n gebeurtenis wat die wese van saligmakende geloof pragtig illustreer.
Dis nie groot of sterk geloof wat red nie, maar ware geloof. 'n Greintjie van die egte is oneindig meer werd as tonne van die valse. Kwantitatief het hierdie man bloedweinig geloof gehad. En dit wat hy wel gehad het, was nie net pateties gering nie, maar het op die meeste net enkele ure geduur. Kwalitatief het hy egter die ware Jakob gehad.
En wat bepaal die egtheid? 'n Basiese kennis en oortuiging! Erns en opregtheid! Hulpeloosheid en afhanklikheid! Algehele en totale vertroue!
Die feit dat sommige hierdie geloof het, en ander nie, kan nie bloot aan sommige se wysheid, insig of vroomheid toegeskryf word nie. Dit staan soos 'n paal bo water. Nee, sy geloof kan niks anders wees nie as 'n gawe wat die Heilige Gees aan sommige gee en aan ander nie.
Sommige het gesien hoe Jesus dooies opwek, en tog nie geglo nie; die rower het gesien hoe Hy sterf, en tóg geglo.

3. Ons het hier 'n gebeurtenis wat vir ontelbaar baie tot groot troos was deur die eeue.
Talle van ons het al dierbares aan die dood afgestaan wat niks van God se genade in hulle lewens vertoon het nie. Dit beteken egter nie met sekerheid dat hulle nie gered is nie. Waarlik, 'n sterfbedbekering is moontlik. Mens kan 'n minuut voor jou dood nog gered word.
Derduisende sal die Here eendag dankbaar wees vir hulle kankerbeddens - verskriklik soos die siekte ook al mag wees. Waarom? Ontelbaar baie het al, wanneer hulle weet die dood is op hande, hulle saak met die Here reggemaak.
Maar - en dis 'n lewensbelangrike kwalifikasie - niemand van ons mag hierop staat maak nie! Soos al dikwels gesê is: een is gered, sodat niemand hoef te wanhoop nie; maar net één, sodat niemand aanmatigend durf wees nie. Per slot van rekening was daar nóg 'n rower - en hy het nié bekeringsgenade ontvang nie. Hy het sonder God en sonder hoop gesterf.

4. Selfs al sou die res van die Skrif oor 'n tussentoestand geswyg het - wat nie die geval is nie - sou hierdie gebeurtenis ons gedwing het om dit as 'n feit te aanvaar.
Onmiskenbaar impliseer hierdie gedeelte 'n bewustelike en persoonlike lewe onmiddellik ná die dood. Dit is onmoontlik om die Here Jesus se versekering dat die rower nog op daardie selfde kruisigingsdag saam met Hom in die paradys sal wees, op enige ander manier te verstaan.
Hoe ons tydsverloop in die tussentoestand sal beleef, weet ons gewoon nie. Sommige mense reken dit sal 'n a-tydse bestaan wees, maar dit is onwaarskynlik. Dink maar aan die martelare in die hemel se vraag oor hoe lank die Here nog gaan talm voordat Hy die aardbewoners straf oor hulle sonde? (Op 6:9-10). Kennelik beleef hierdie mense tydsverloop in die tussentoestand.
Ander verwysings na en sinspelings op die tussentoestand is te vind in Lk 9:28-33 (die verskyning van Moses en Elia op die berg van verheerliking), asook Lk 16:19-31; Hd 7:55-56; 2Kor 5:1-10; Op 5:13; 6:9-11; 15:2-4; 19:1-8.

5. Hoe duidelik sien ons nie die feit en aard van die Here Jesus se koningskap in hierdie gebeurtenis nie!
Selfs in Sy swakste oomblikke kan die Here Jesus steeds met absolute en koninklike gesag hierdie misdadiger verseker van die ewige lewe. En gewis het hy dit ontvang - dit kan ons vir seker aanvaar!
Voorts kom twee eienskappe van die Here Jesus se koningskap duidelik na vore.

# Eerstens is Sy regering 'n liefdesregering.
Die twee manne op die kante verdien om daar te hang. Hulle was deel van die samelewingskuim en niemand kan 'n winkbrou lig oor hulle teregstelling nie. Maar die éíntlike oordeel - God se oordeel - brand nie op hulle in nie, maar op die onskuldige Man in die middel. Dis omdat Hy in Sy liefde Homself gee as die strafdraende Plaasvervanger vir mense soos hierdie rower.

# Tweedens is Sy regering een van geregtigheid.
Sekerlik sou die Here hierdie rower gewoon net kon oorsien, nie waar nie? Hy is mos God. Verkeerd! Dit sou Hom minder as God gemaak het. Want dit sou Sy geregtigheid geweld aangedoen het. Nee, nie 'n enkele sonde van die mense wat aan die Seun toevertrou is, word gewoon onder die mat ingevee nie. Vir elkeen moes versoening gedoen word - en presies dít is wat hier gebeur.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment