Thursday, June 2, 2011

E-PREEK No.2 - AMOS 8:11-14 : DIE HEEL ERGSTE HONGERSNOOD

ALMAL VAN ONS HET AL FOTO'S GESIEN VAN HARTVERSKEURENDE HONGERSNOODTONELE. Mens kan jou beswaarlik iets ergers indink as om geleidelik van honger te sterf, om jou kinders voor jou te sien wegkwyn tot vel en been, en om elke tweede dag dierbares te moet begrawe.
Hongersnood is verskriklik! Maar 'n gebrek aan kos is nie die ergste nood nie. Amos skryf hier van 'n erger nood - nood aan die Woord van God. Dis nie dat mens dit erger belééf nie, inteendeel. Jy kom dit nie eers agter nie. Wat maak dit dan so erg? Die effekte daarvan, en die langtermyn-gevolge - nie net op jouself nie, maar ook op jou kinders en kindskinders. En net 'n genade-ingryping van die Here, 'n Geesgewerkte herlewing, kan dit regstel.

'n Kort historiese agtergrond

Dis in die tyd ná die skeuring van die verbondsvolk na Salomo se dood. Amos was 'n gewone boer by Tekoa, so 'n 10 km suid van Bethlehem in die suidelike koninkryk van Juda. Vandaar word hy dan so ongeveer sewe-en-'n-half eeue voor Christus na die noordelike tienstammeryk - ook genoem Israel - gestuur om teen hulle sonde te profeteer.
In ons teksgedeelte praat hy oor die geestelike hongersnood wat, te wyte aan hulle sonde, op Israel wag. Dit, natuurlik, tensy hulle hul bekeer.

'n Waarskuwing

Amos beskryf nie 'n bestaande situasie nie. "Daar kom dae", sê hy (11). Dis 'n waarskuwing.
Bybelse toekomsprofesie is nie om nuuskierigheid te bevredig nie; dit vertel van die toekoms, sodat mense in die lig daarvan kan lewe. Bybelse profesie is moreel van aard.
Daar is, trouens, 'n sterk verband tussen mense se huidige moraliteit en hulle oortuiginge met betrekking tot die toekoms. Sonder toekomsverwagtinge, en 'n sin vir aanspreeklikheid, verdwyn moraliteit. As jy nie eendag verantwoording hoef te doen nie, en as jy nie glo dat jou huidige lewe enige invloed op die toekoms het nie, waarom maak dit saak hoe jy jou nóú gedra?
Dis waarom Paulus in 1Kor 15:32 sê dat, as daar geen opstanding uit die dood is nie, ons net sowel maar kan eet en drink en vrolik wees, aangesien ons môre, oormôre sterf (Jes 22:13).

Die hongersnood (11-12)

# Die Here het al vantevore hongersnood as oordeel gestuur (4:6-8). Maar die volk het nie gehoor gegee nie. Nou gaan Hy 'n baie erger een stuur. Die volk gaan nie sonder kos raak nie; hulle gaan die waarheid verloor. Die woorde van die Here gaan nie meer te vinde wees nie (11-12).

# In hulle soeke na God se Woord sal die mense "ronddwaal" en "rondslinger" (12). Hulle sal koersloos, onseker en onstabiel wees - raad-op, sonder wysheid en insig.

# Hulle sal van see tot see swerf, en van noord na oos (12).
Die Dooie See en die Meer van Gallilea lê in die ooste en die Middelandse See in die weste. Dan sal hulle in die noorde gaan soek - en dan weer in die ooste by die see. Die suide word nie genoem nie. Waarom nie? Dis waar die tempel is, en God se waarheid. Die halstarrigheid en trots van die noordelike ryk sal hulle weerhou om in Jerusalem na die Here en Sy Woord te gaan soek!
Wat skets Amos hier? Die eiesinnige en koppige blindheid van die mens sonder God se Woord. Ja, hulle sal enige plek gaan soek - maar om 't dood nie in Jerusalem nie, waar God en Sy openbaring is. Hulle sal enigiets probeer, behalwe om in Sy Woord te soek en daarvoor te buig.
Let wel, hierdie mense is steeds baie godsdienstig. En hulle soek nog steeds - selfs naarstigtelik. Maar hulle is uitsoekerig. Ware waarheid wil hulle nie hê nie. Daarom vind hulle nie.

Mensgemaakte godsdiens (14)

As jy soek, maar nie vind nie, sal jy jou eie dinge begin ontwikkel en optower om jou honger te stil.
Drie dinge is aan die orde in Israel: godsdiens-vermenging (sinkretisme); godsdiensverdraaing en -misbruik; bygeloof en afgodery.
Let op, hierdie dinge is die gevolg van die feit dat die volk God se waarheid verloor het. En omdat hulle weier om dit te soek, word hulle ellende al hoe erger. En so vererger hulle geestelik hongersnood. Dit raak al hoe donkerder. Hopeloosheid neem toe. En hoe blinder hulle raak, hoe minder waarheid begryp hulle. Dis 'n bose kringloop!

# Eerstens, Godsdiens-vermenging. Hulle "sweer by die skuld van Samaria" (14a, OAV).
Bes moontlik sê Amos dat aanbidding van Asima deel van Israel se godsdiens geword het (2Kon 17:30). In Hebreeus het die woord "sonde" of "skuld" presies dieselfde konsonante as hierdie afgod se naam (klassieke Hebreeus het nie klinkers gehad nie). Dit kan dus ook vertaal word: "sweer by Asima van Samaria" (sien NIV voetnota).
Godsdiens-sinkretisme is om iets uit elkeen van 'n klomp godsdienste te vat en daarvan 'n nuwe konkoksie te maak. Israel het steeds daarop aanspraak gemaak dat hulle Jahweh aanbid, maar hulle het ook 'n klomp afgode bygesleep.
God is egter heilig en jaloers. Wie Hóm waarlik wil aanbid, moet Hom alléén aanbid. Hieroor sal Hy nóóit enige toegewing maak nie.

# Godsdiens-verdraaing en -misbruik. Hulle sê: "So waar as jou god leef, o Dan" (14b, OAV).
Volgens 1Kon 12:26-29 het Jerobeam, koning van Israel, lank tevore kalwerbeelde opgerig by Bet-El en Dan - om die volk daarvan te weerhou om in Jerusalem (in die suidelike tweestammeryk) te gaan aanbid. So word die godsdiens in diens van die politiek gestel - want Jerobeam was kennelik bang dat die volk weer tot Juda aangetrokke sou raak. Van God word dus 'n middel tot 'n doel gemaak. Dis verdraaiing van aanbidding vir eie gewin. Die Woord is egter duidelik: jy aanbid God vir wie en wat Hy is - soos Hy Hom aan ons geopenbaar het - of jy los dit. God sal Homself nooit laat misbruik vir menslike of wêreldse gewin nie!

# Bygeloof en afgodery. Hulle sweer: "So waar as die weg van Beséba leef" (14c, OAV).
Berseba was een van die aanbiddingsplekke van Israel. Die reis daarheen was lank, duur en vol ontbering. Hierin het hulle oënskynlik godsdienstige meriete gesien. Meer nog, onderweg was daar waarskynlik ook 'n klomp offerhoogtes (2Kon 23:8).
Nou word ede by hierdie pad afgelê. Daar word 'n amperse goddelike gesag aan hierdie pad toegesê - om in te staan vir die waarheid van die godsdienstige beloftes wat hulle kamtig maak. Wat is dit anders as bygeloof en afgodery?

Jongmense is die slagoffers (13)

# Dis onduidelik uit die oorspronklike teks of dit die jongmense is wat skuldig is aan die dwalinge van v.14 (OAV, NAV), en of v.13 alleen 'n stelling is oor die jongmense en v.14 in die algemeen praat oor die hele volk (NIV, NASB). Waarskynlik is laasgenoemde die korrekte.
Hoe ook al, dit is gewoonlik in elk geval die jongmense wat ergste getref word deur algemene geloofsafval. Dis hulle wat meer as enigiemand anders "van dors beswyk" (13). Daarom, as God 'n samelewing oorgee aan sy sonde (Rm 1:24, 26, 28), as Hy Sy genade terugtrek in 'n gemeenskap, sien jy dit altyd eerste in die jongmense.

* Daar is verskeie redes voor. Enersyds volg baie jongmense hulle ouers blindelings. Andersyds is hulle tog ook soekers na egtheid en realiteit. En daarbenewens eksperimenteer hulle graag met nuwe dinge. Dit maak hulle baie vatbaar vir misleiding. Omdat hulle onervare, naïef en onwys is, het hulle min onderskeidingsvermoë en val hulle maklik vir enige nuwe foefie - ook in die kerk.

* Dis egter so dat godsdienstige verval altyd op 'n manier gewortel is in die ontrou van vorige geslagte - natuurlik sonder opheffing van die jongste geslag se skuld. En, tensy die Here ingryp, is dit altyd 'n bose kringloop; dit ontaard van kwaad tot erger. Die jongmense van wie Amos hier praat, was die ouers en grootouers van diegene wat 'n ruk later in die Assiriese ballingskap weggevoer is.

❏ Ek en jy dra 'n enorme verantwoordelikheid vir ons nageslag! Die kerk wat ons kinders en kleinkinders op die weg van waarheid en saligheid moet lei, word vandag gevorm.

Ten slotte

# Hoe bewerkstellig die Here 'n waarheids-hongersnood soos hierdie? Die geskiedenis leer ons dat Hy meer as een manier gebruik.

* Soms word die Bybel gewoon weggeneem.
Dit het al gebeur dat die spreektaal van mense geleidelik verander, sonder dat nuwe vertalings gemaak word. So moes die gewone mense van die middeleeue (en talle daarna, tot baie onlangs) met die Latynse Vulgaat worstel - 'n taal wat vorige geslagte wel goed kon praat. Een van die vrugte van die sestiende eeuse Reformasie was die nuwe vertalings van die Bybel wat oraloor ontspring het.
Ander kere verbied onderdrukkende regerings die druk, verspreiding en selfs besit van die Bybel. Die Kommunisme van die twintigste eeu was veral hieraan skuldig.

* Soms steel die teologie die Bybel by die kerkvolk. Die gesag en betroubaarheid van God se Woord word al hoe meer verdag gemaak deur ongeloofsteoloë wat 'n sug daarna het om iets nuuts te sê. So word mense se geloof ondergrawe, en mettertyd is hulle onkundig, verward, suspisieus, selfs skepties, oor enigiets wat hulle in die Woord lees. As dit eers waar is van jou, kan jy 'n rak vol Bybels hê, maar tog van geestelike honger vergaan.

* As die Here hierdie verskriklike straf stuur, hou Hy feitlik ook altyd op om waarheidspredikers te gee (onthou, wat ons hier beskryf, is Sy oordele oor die sonde van 'n samelewing). Wat Ef 4:8-16 beskryf, gebeur net eenvoudig nie. En sonder voortgaande prediking - Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking - bly daar vir 'n kerk en van 'n kerk niks oor nie.

* Mense verloor hulle aptyt vir ware waarheid. Let op, hulle bly steeds soekers en sal enigiets beproef. Tewens, sonder geestelike realiteit verdroog die mens en sal hy algaande wanhopig met die mees absurde dinge eksperimenteer. Maar soos Israel van ouds, sal hulle weier om dit naby "Jerusalem" te waag - daar waar ware waarheid alleen te vinde is.

# Kyk na ons situasie vandag. Baie mense is steeds baie religieus. Maar vir sovele is enigiets aanvaarbaar, behalwe Christus Jesus, die enigste en allerantwoord - die weg, die waarheid en die lewe.
En jy, is jy 'n getroue Jerusalem-ganger?
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment