Tuesday, June 21, 2011

E-PREEK No.184 - LK 15:1-32 : HY ONTVANG SONDAARS

DAAR WAS 'N HELE AANTAL PUNTE VAN KONFLIK TUSSEN DIE HERE JESUS EN DIE FARISEËRS. Een daarvan word in hierdie hoofstuk aangesny. Ons lees dat die Fariseërs en skrifgeleerdes ernstig aanstoot geneem het aan Christus se gemaklike omgang met en aanvaarding van "sondaars" (1-2). Na aanleiding daarvan vertel Jesus dan Sy drie bekende gelykenisse van verlorenheid.

Die Fariseërs

Hierdie hoofstuk se boodskap sal net behoorlik tuiskom as ons iets meer begryp van die Fariseërs.
Die Ou Testament is vol van God se aandrange op Sy verbondsvolk se afgeskeidenheid van hulle heidense bure. Die volk se geringskatting hiervan is een van die dinge wat uiteindelik tot die ballingskap aanleiding gegee het. Na die ballingskap is die terugkerende oorblyfsel vasbeslote om hulle aan God se Woord en Wet te hou - spesifiek om heilig te bly en niks met die heidene om hulle te doen te hê nie (Neh 10:28-31).
Soos maar altyd weer gebeur, was daar ongelukkig toe ook mense wat nie die sensitiewe balanse van God se weë verstaan het nie. Daar was diegene wat vergeet het dat die Godsvolk óók as roeping gehad het om 'n seën en 'n lig vir die nasies te wees (Gn 12:1-3; 22:15-18; Jes 42:6; 49:6). Gevolglik het hulle alle kontak met heidene vermy. Tyd laat ons nie toe om na die Fariseërs se fassinerende ontstaansgeskiedenis te kyk nie, maar hulle wortels lê in sulke afskeidings-ekstremisme in die tweede eeu voor Christus.
Hulle naam is sprekend: die Griekse pharisaioi was waarskynlik 'n afleiding van die Aramese woord wat "afgeskeidenes" beteken.
Teen die tyd van die Nuwe Testament het die Fariseërs in fanatisisme verval. Hulle het alle gemeenskap vermy - om nie eers van aanraking te praat nie - met alle nie-Jode, asook met mede-Jode wat hand-om-die-lyf met heidene geloop het. Hulle het wye draaie geloop om die sogenaamde sondaars van hulle dag. En die armes, so het hulle geglo, was arm vanweë hulle sonde (Jh 7:48-49).
Aangesien 90% van die bevolking uit die grootliks ongeletterde en brandarm burgerstand bestaan het, is dit duidelik dat daar maar 'n handjievol mense was wat nie deur die Fariseërs as onrein geag is nie. En niemand is méér deur hulle verafsku, as die prostitute en die Romeine se meelopers, die tollenaars nie.

Jesus se omgang met mense

Só gemaklik was die Here met alle mense, dat dit meermale selfs teen Sy dissipels se grein gegaan het. Waarlik, Sy gesindheid teenoor Sy naaste - wie ook al - was radikaal anders as die van die Fariseërs. Dink maar aan enkele voorbeelde:
Een van die dinge wat geen Rabbi op straat sou doen nie, was om met 'n vrou te praat. En van 'n prostituut het hulle in eiegeregtige afsku teruggedeins. In Simon die Fariseër se huis laat Jesus egter toe dat 'n prostituut Sy voete met haar trane was en met haar hare afdroog. En as sy Sy voete soen en salf, ril Hy nie van verleentheid oor die intimiteit nie. Nee, verduidelik Hy haar optrede, dié wat baie vergewe is, het baie lief (Lk 7:36-50).
By die put van Sigar oortree die Here sekere Joodse konvensies: Hy gee aandag aan 'n Samaritaan; Hy praat met 'n vrou in die publiek; Hy gesels met haar ten spyte van haar sedelose lewe (Jh 4:1-30). Ook vat Hy aan melaatses (Mk 1:40-45) en Hy raak aan 'n lyk (Mk 5:41) - iets wat vir die Fariseërs totaal ondenkbaar was. Een van hulle dank in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar God dat hy nie soos die diewe, bedrieërs, egbrekers - of soos die tollenaars is nie (Lk 18:11). Maar die Here Jesus gaan eet keer op keer by hierdie uitgeworpenes (Lk 5:27-32; 19:1-10). En sonder om 'n oog te knip, stel Hy een van hulle as 'n apostel aan - Levi, oftewel Matteus.

Die skaap, die muntstuk, die seun

❏ In die 3 gelykenisse van Lk 15 verduidelik die Here Jesus waarom Hy sondaars ontvang en saam met hulle eet (2-3). Hy maak geen geheim van Sy empatie met ellendiges, behoeftiges en lydendes nie. Trouens, om na hulle uit te reik, is voorop deel van Sy roeping. Kennelik wil Hy dit tuis bring, ja, dat Sy Vader 'n behae het in mense se redding, maar meteen ook dat hierdie behae gewortel is in 'n onpeilbare liefde vir 'n wêreld in ellende.
Jesus vergelyk God se soekende liefde vir verlore sondaarmense met die van 'n herder wat oor berg en dal na 'n enkele afgedwaalde skaap soek; met die van 'n vrou wat 'n vertrek van hoek tot kant deursoek totdat sy 'n verlore muntstuk opspoor; en met die van 'n pa wat jaar in en jaar uit wag op 'n weggeloopte seun, en hom dan tegemoet hardloop en oorlaai met persente as hy tuis kom.
Daarenteen sluit Hy Sy 3 gelykenisse af met die tragiese sketsing van die oudste seun. Só is die skrifgeleerdes en Fariseërs! Vir verlorenes het hulle niks te sê nie; vir sondaars het hulle geen evangelie nie. Dis omdat hulle niks van hulle eie sonde verstaan nie. En veral is dit omdat hulle geen liefde in hulle harte het nie. Dis waarom hulle Jesus se omarming van verworpelinge as onverskoonbare kompromie met sonde sien. Dis waarom hulle dit nie herken vir wat dit is nie - 'n uitdrukking van God se liefde vir 'n verlore wêreld.

God se liefde

As die Here Jesus in hierdie hoofstuk reageer op die Jode se besware teen Sy uitreiking na die ellendiges van hierdie wêreld, openbaar Hy in die eerste instansie aan ons iets van wie en wat God is. Ja, God is heilig en Hy sal sonde vir geen oomblik duld nie. Maar die Bybel hou Hom ook met groot nadruk aan ons voor as 'n God van liefde. En dis hierdie liefde wat Hom gedring het om die wonderlike evangelieplan in werking te stel. Nóú kan sondaars vergewe en gered word ten spyte van hulle patetiese onmag om self iets aan hulle lot te doen - en dit sonder om die heilige geregtigheid van God enigsins geweld aan te doen.
Kom ons skryf dit op die tafels van ons harte: God het 'n innige vreugde daarin om sondaars te red! Dit behaag Hom, en dit verheerlik Hom. Só belangrik is dit vir Hom dat Hy bereid was om die ondenkbare te doen, naamlik om Sy enige Seun daarvoor op te offer.

Ons roeping tot navolging

Sonder twyfel is dit ons roeping om Jesus se gesindheid teenoor sondaars en uitgeworpenes na te volg: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Deur óns moet Jesus se soet verlossingswoorde op wêreldlinge se ore val. Óns moet hulle weerstand en vrese met liefdesdade oorkom. In óns lewens moet hulle die boodskap van die Vader se liefde kan lees!
Tog misluk Christene - of naam-Christene dan - dikwels hierin. Hiervoor was en is veral 4 misplaaste en sondige houdings verantwoordelik.

Selfvoldane eiegeregtigheid
Sommige het die houding: "Laat die sondaar in sy eie sous braai; hy kry wat hy verdien." Daar is geen empatie nie - en nog minder enige uitreiking.
Te dikwels is die kerk koud en afsydig, selfs antagonisties teenoor buitestaanders. Hoe tragies is die ervaring van'n soekende Ghandi nie, toe hy aan die begin van die twintigste eeu by 'n kerk in Durban die deur gewys is met die woorde: "We don't want any Coolies here!" Dit het hom finaal en met oorgawe in die arms van Hindoeisme ingedryf.
Natuurlik mag die kerk nooit sonde en ongeloof kondoneer nie. Jesus het ook nie. Maar ons moet rekening hou met die bedenklike toestand van die gevalle mens. En bowenal moet ons die Here se gesindheid teenoor hulle hê. Die kerk is nie 'n eksklusiewe klub vir godsdienstig respektabeles nie; dis veeleerder 'n hospitaal vir mense wat dodelik siek is en tot 'n groot mate ernstig olik bly - maar dan mense wat met alles in hulle verlang om gesond te word.

Die vrees vir besoedeling
'n Kloostermentaliteit laat baie gelowiges hulle van sondaars afskei. Die motivering is reg. Ons moet onsself vlekkeloos van die wêreld bewaar. Maar "die wêreld" is nie die mense van hierdie wêreld nie, maar die waardes van hierdie wêreld. Die begeerte is dus reg, maar die afleiding is verkeerd. Nee, onttrekking is nie Bybels nie. Die Here Jesus se gebed in Jh 17:15 is hier belangrik: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar." Hoe sal ons sout en lig wees as ons onsself afskei?
Laat ons dus rustig ons verhoudinge met ongelowiges ná ons bekering in stand hou.

'n Eensydige verstaan van ons roeping
Daar is twee onbybelse beskouings. Aan die een kant, dat dit slegs vir die Here gaan oor die redding van siele en dat die kerk dus slegs die taak het om die evangelie te verkondig. Aan die ander kant, dat alle mense God se kinders is en dat die kerk se taak bloot is om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak. Maar die Here Jesus het beide hierdie beskouinge in 'n gesonde spanning vasgehou. Die mens is nie net siel of net liggaam nie - hy is én siel én liggaam.
Ons moet inderdaad die evangelie onvermoeid verkondig. Maar wat help dit as 'n man spekvet op pad is na die ewige verdoemenis? Sprekend is die talle opgetekende beskrywings van hoe die vroeë kerk groot getalle hongeriges gevoed het en na weduwees en wese omgesien het - gelowig en ongelowig. Wat sê Jakobus? "Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld" (1:27). En sê die Here Jesus nie duidelik vir ons dat die gee van 'n beker water een van dié merktekens van ware redding is nie (Mt 25)?

Luiheid en selfsug
Nog 'n algemene rede vir Christene se rugdraai op die verlorenes van hierdie wêreld, is gewoon ons weersin om betrokke te raak en ons hande vuil te maak. Vir seker kom so 'n soort van uitreiking nie vanself nie. As ons dit nie regkry nie, laat ons bid dat die Here ons harte brandende sal maak vir mense wat Hom nie ken nie. Waarlik, slegs Sý liefde sal ons in die wêreld inlanseer.

Slot

Onder bogenoemde mankemente sit 'n skewe Godsbeskouing. Die God vir wie Jesus openbaar, is 'n God van liefde, Een wat mense liefhet terwyl hulle Sy oordele verdien, Een wat Sy son laat skyn en Sy reën laat val oor regverdig en onregverdig. Ja, voorop in Sy hart - en daarom ook voorop in die Skrif - is die mens se nood aan versoening met Hom. Maar só oorvloedig is Sy geheimenisvolle liefde dat Hy selfs begaan is oor die liggaamlike en maatskaplike welsyn van mense onder Sy toorn. Dís hoe die Skrif Hom openbaar, en dís hoe ons as Sy diensknegte Hom moet gehoorsaam. Ons moet verkondig én ons moet versorg.
Die Christelike lewe is vol paradokse. Ons lewe op die snykant van 'n mes. Een van die moeilikste, maar ook belangrikste balanse om te handhaaf, is ons roepinge tot afskeiding van en betrokkenheid by die wêreld. Dit vra lewenslange konsentrasie.
Mag die Here ons bewaar van 'n onheilige wêreldgelykvormigheid, en eweneens van 'n netso onheilige wêreldmyding. Mag Hy ons steeds meer en meer help om voluit as enkelhartige dissipels op die stofstrate van hierdie wêreld te leef.
Nico van der Walt


No comments:

Post a Comment