Tuesday, July 5, 2011

E-PREEK No.164 - JH 1:1-18 : GOD SE NAAM [3 van 3]

SOOS ALTYD IN GOD SE OPENBARINGSGESKIEDENIS, KULMINEER OOK DIE STUK GODSOPENBARING OOR SY VERBONDSNAAM, WAARNA ONS REEDS TWEE KEER GEKYK HET, IN DIE PERSOON, VERKONDIGING EN WERK VAN CHRISTUS.
Eksodus 3 wys bes moontlik al in hierdie rigting. In v.2 word gesê dat dit die "Engel van die Here" was wat in die brandende bos aan Moses verskyn het. Baie dikwels dui hierdie uitdrukking in die Ou Testament op die voorvleeswordingsverskyning van die Woord - van God die Seun.

Die ewige Woord het mens geword

Die proloog tot die evangelie van Johannes is vol betekenis: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God" (Jh 1:1). In al drie gevalle is "was" in die Grieks in 'n vorm (die imperfektum) wat dui op tydsverloop in die verlede. In die begin was die Woord dus alreeds daar, Hy was altyd by God, en Hy was van altyd af God (sien jy die verband met "Ek is wat Ek is"?).
Twee kontraste onderstreep hierdie beklemtoning van Christus se algenoegsame en ewige bestaan nog verder.
Eerstens, al die res wat bestaan, het deur Hom tot stand gekom (3). Twee waarnemings is hier van belang: Johannes gebruik 'n werkwoord wat spesifiek wording of ontstaan beteken. En hy gebruik 'n werkwoordstyd (die aoristus) wat op 'n definitiewe gebeurtenis in die verlede dui. In die begin was die Woord dus reeds van altyd af God. Maar toe het al die res ontstaan. En dit het deur Hóm ontstaan (vgl. Kol 1:16; Hb 1:2). Hy was die Vader se skeppingsagent - die ewige, ongeskape en onveroorsaakte oorsaak van alles!
Tweedens word die ewige wese van die Woord gekontrasteer met die gebeurtenis van die vleeswording: "Die Woord het mens geword ..." (14). Weereens word die woord, wording of ontstaan, gebruik, asook die werkwoordstyd wat op 'n definitiewe gebeurtenis dui. Dus, hoewel die Woord in die begin reeds bestaan het sonder dat Hy ooit ontstaan het, het Hy op 'n bepaalde punt in die geskiedenis ook mens geword. Hy het gebly wat Hy van ewigheid af was. Maar Hy het vir ewig bygekry wat Hy nooit vantevore gehad het nie - naamlik 'n menslike natuur.

Die hart van die Godsopenbaring

Waarom het die Woord mens geword? Onder meer om God aan ons te openbaar. En wanneer Hy op Sy duidelikste as sodanig uitgewys word, gaan dit gepaard met 'n beklemtoning van die Vader se neerbuigende en reddende genade in Hom.

# Johannes 1:14: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid."
Ten spyte van Sy vernederde staat in volkome identifisering met die mens, het Jesus ook 'n heerlikheid gehad wat vir mense om Hom waarneembaar was - dié van Sy Vader se verbondsgoedheid en verbondsbetroubaarheid.

# Filippense 2:6-8: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis."
In die oorspronklike taal dui "gestalte" op die wesensaard van iets. Hierdie duiselingwekkende uitspraak oor die Here Jesus wil dus sê dat Hy voor Sy vleeswording in elke opsig God was - maar dat Hy, ja Hý, Homself verneder het (lett. leeg gemaak het) en nóú die gestalte van 'n slaaf aangeneem het, ten einde God se genade vir sondaars 'n werklikheid te maak.

Net soos in die Ou Testament

Een van die uitstaande karaktertrekke van die Johannes-evangelie is die sogenaamde "Ek is ..." uitsprake van die die Here Jesus (Gr. Ego eimi ...) [1]. Uiters betekenisvol is nou dat dit 'n Nuwe Testamentiese eggo is van die Ou Testamentiese openbaring van God se verbondsnaam, JaHWeH (vgl. E161 en E162). In die lig van wat ons hierbo gesien het, moet dit ons egter nie verbaas nie.

Jesus se aansprake dat Hy waarlik God is.
By meer as een geleentheid maak die Here Jesus daarop aanspraak dat Hy "Ek is" is. Die Jode, wat die Ou Testament baie goed ken, verstaan onmiddellik dat Hy sinspeel op God se selfopenbaring aan Moses in Gn 3. Aangesien hulle nie glo dat Hy die Messias is nie, verstaan mens waarom hulle Hom van Godslastering beskuldig.

# As die Samaritaanse vrou verlang dat die Messias sal kom, sê Jesus vir haar: "Dit is Ek (Ego eimi), Ek wat met jou praat" (4:26).

# As die dissipels Jesus op die see na hulle toe sien aangeloop kom, raak hulle beangs. Dan bemoedig Jesus hulle en roep uit: "Dit is Ek (Ego eimi), moenie bang wees nie" (6:20).

# Vir die Jode sê Jesus: "as julle nie glo dat dit Ek is nie (Ego eimi), sal julle in julle sonde sterwe" (Jh 8:24; vgl. ook 8:28).

# In 'n twisgesprek met die Joodse leiers verklaar Jesus onmiskenbaar duidelik Sy ewige bestaan: "Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is (Ego eimi) (8:58).

# Jesus maak Sy komende verraad deur Judas aan Sy dissipels bekend en sê dan: "Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is" (Ego eimi) (13:19).

# In Jh 18:5 sê Jesus vir die mense wat Hom in hegtenis wil neem: "Dit is Ek!" (Ego eimi). Dat ons hierdie uitsprake van die Here nie oorspan nie, blyk uit v.6: "Toe Jesus dan vir hulle sê: 'Dit is Ek!' (Ego eimi) het hulle teruggedeins en op die grond neergeval." Uiteindelik maak Hy ook weer in v.8 dieselfde aanspraak.

Ook Jesus voltooi vir ons die "onvoltooide sin".
Die Here Jesus voeg meer male 'n predikaat by een van Sy Ek is aansprake. So ontstaan van die mees troosryke en geliefde gesegdes in die Johannes-evangelie. Hiermee skets Hy die wonderlike erfenis wat Sy dissipels in Hom het.

# Ek is (Ego eimi) ... die brood van die lewe (6:35, 48). Jesus stel dieselfde waarheid op verskillende maniere (33, 41, 50, 51). Brood was destyds die basiese voedsel. Wat die Here hiermee sê, is dat alles wat nodig is vir tyd en ewigheid in Hom te vind is. En let op, Hy gee nie net die brood nie; Hy is die brood. Hy is Sy dissipels se ware en volle lewensvervulling. Wie Hom vind, se soektog is finaal verby (35).

# Ek is (Ego eimi) ... die lig van die wêreld (8:12). Waarskynlik word hier gesinspeel op die vuurkolom wat Israel destyds in die woestyn gelei het. Op grond waarvan sê ek dit? In h.6 praat Jesus oor die manna in die woestyn (31, 49, 58). En in h.7 sinspeel Hy op die rots waaruit die water gevloei het (7:37-39). Met hierdie uitspraak sê die Here Jesus dus dat perspektief, begrip, sin, waarheid en lewenskoers in Hom te vind is.

# Ek is (Ego eimi) ... die deur van die skape (10:7, 9). Dis die deur in die skaapkraal in - die ingang tot versoening en gemeenskap. Let op dat hierdie nie net die deur vir die skape is nie, maar ook vir die herders. Vals herders klim oor die muur; hulle gaan nie in deur Christus nie. 'n Vals herder is een wat nie met Christus verenig is nie; een wat onbekeerd en nie gered is nie.

# Ek is (Ego eimi) ... die goeie herder (10:11, 14). Die eerste ding wat hy sê, is dat Hy (anders as ander herders) sy lewe aflê vir die skape. Sy herderskap kom dus by uitnemendheid in Sy kruisdood tot uitdrukking. Tweedens laat die Here die klem sterk daarop val dat Hy Sy skape persoonlik ken. Dis 'n glashelder sinspeling op die feit dat die Vader uitverkiesend mense met die oog op hulle redding aan Hom toevertrou het (26-30).

# Ek is (Ego eimi) ... die opstanding en die lewe (11:25). Dis 'n trooswoord aan Marta na haar broer se dood. Jesus gee nie net die ewige lewe nie; Hy is dit. Ewige redding en oorwinning oor die dood word 'n werklikheid as 'n sondaar uit die eerste Adam gehaal word en in die "laaste Adam" oorgeplant word (1Kor 15:45).

# Ek is (Ego eimi) ... die weg en die waarheid en die lewe (14:6). Hy is die weg na God toe. Hy is die hart van die evangeliewaarheid. In Hom en in Hom alleen is die ware en ewige lewe te vind.

# Ek is (Ego eimi) ... die ware wingerdstok (15:1, 5). Uitdruklik beklemtoon die Here Jesus hier die noodsaak van organiese lewenseenheid met Hom. In Hom alleen is ware lewe te vind. Maar hierbenewens is voortgaande lewenseenheid met Hom noodsaaklik vir Godverheerlikende lewensvrug - die vrug van 'n heilige lewe, asook bedieningsvrug wat ewigheidswaarde het.

Jesus Christus is ons alles

Tyd vir veel toepassing het ons nie. Maar eintlik is dit nie nodig nie. Want ons was by die oog van die fontein! Ons was by die hart van die die Christelike geloof en lewe! Tot die mate wat hierdie finale openbaring van God se verbondsnaam die een en al is van jou oortuigings en hartstogte, tot daardie mate volg die uitlewing van rasegte dissipelskap.
Christenskap het radikale morele implikasies oor die volle spektrum van die lewe. Tog is dit nie in die eerste instansie 'n manier van lewe nie. Allereers is dit 'n lewensbeheersende gefassineerdheid en 'n heilige beheptheid met 'n Persoon - die ewige Woord wat vlees geword het; die brood van die lewe; die lig van die wêreld; die deur van die skape; die goeie herder; die opstanding en die lewe; die weg, die waarheid en die lewe; die ware wingerdstok. Dis om aan Hóm verknog en verkneg te wees - omdat Hy verbysterend groot en onuitputlik goed is; omdat Hy vermurwend lieflik en ewigdurend loflik is.
En laat ons ten slotte eer gee waar eer toekom. Dit waarvan ons praat, is die uitvloeisel van die Heilige Gees se verligtende, wederbarende en heiligende werk in 'n mens se lewe - in uitvoering van die Vader se ewige en soewereine heilsplan.

[1] Almal van ons gebruik dikwels die woorde, "ek is ..." Daarom het die vertalers van die Septuaginta (ook bekend as die LXX, 'n Griekse vertaling van die Ou Testament van meer as 2 eeue v.C.), wanneer God die spreker is, dikwels nie die gewone Griekse uitdrukking gebruik nie, maar die beklemtonende voornaamwoord. Dit kom dan neer op: "Ek, ja Ék, sê ..." Johannes gebruik dan ook as 'n reël hierdie beklemtoning as hy die Ego eimi uitsprake van Jesus weergee.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment