Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.172 - MT 3:11 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [3 van 8] - Wie is God die Heilige Gees?

Die Heilige Gees

Die Afrikaanse woord, Gees, is 'n vertaling van die Hebreeuse woord, ruach (in die Ou Testament), en van die Griekse woord, pneuma (in die Nuwe Testament). Die basiese betekenis van beide hierdie woorde is wind of asem. Waarskynlik gebruik die Bybel hierdie twee woorde om twee karaktertrekke van die Heilige Gees uit te lig:
Hy is God se geheimenisvolle en kragtige wind vir wie geen mens kan peil of beheer nie.
Hy is God se lewegewende asem sonder wie 'n mens geestelik dood bly.
Die Heilige Gees is dus dinamies en lewegewend. Waar Hy werk, verander dinge altyd. Maar dis nie verandering sonder meer nie; dis verandering ten goede. Daar kom lewe, ware lewe, Godvererende lewe.

Die Heilige Gees

Hierdie woord bring twee waarhede na vore:
Eerstens dui dit op afsondering - dus op die Gees se gansandersheid, Sy transendensie, Sy goddelikheid. Hy is ver bo ons verhewe.
Daarna dui die begrip altyd op etiese volmaaktheid. In Hom is daar geen sonde nie.

Die Heilige Gees is 'n persoon

Te veel mense dink bloot aan die Heilige Gees as 'n onpersoonlike invloed of krag. So 'n persepsie is godslasterlik. Hy is volledig en selfstandig 'n persoon. Hy het wel nie 'n liggaam nie, maar dis nie noodsaaklik vir persoonlikheid nie (vgl. die mens in die tyd tussen die dood en die opstanding).

# Hy het die eienskappe van persoonlikheid:
Eerstens, kennis en intelligensie. 1Kor 2:10-11: "Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God."
Tweedens, emosie en gevoel. Volgens Ef 4:30 kan die Gees bedroef raak.
Derdens, wil. Die apostelkonvent stuur 'n boodskap aan die gelowiges uit die heidendom na aanleiding van 'n besluit van hulle en die Heilige Gees (Hd 15:28). Die Gees wou Paulus en sy medewerkers nie toelaat om in Asië te preek of om na Bitinië te gaan nie (Hd 16:6). Die Gees deel die genadegawes uit soos Hy wil (1Kor 12:11).

# In Jh 14:17 word vir die eerste maal in die bovertrek na die Heilige Gees verwys. Hier gebruik Johannes die grammatikaal korrekte onsydige voornaamwoorde (ho en auto) saam met die onsydige pneuma. Letterlik staan daar: "... die Gees (pneuma) van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit dit nie sien en dit nie ken nie ..." Maar, as Johannes dan gewys het hy ken sy grammatika, gebruik hy in 14:26; 15:26; 16:8, 13, 14, strydig met alle taalreëls, die manlike voornaamwoord (ekeinos), in plaas van die grammatikaal korrekte onsydige voornaamwoord (ekeino). Die verklaring? Johannes wil die persoonlikheid van die Heilige Gees beklemtoon.

# Die Heilige Gees word talle kere saam met ander persone genoem, op 'n wyse wat Sy eie persoonlikheid noodwendig maak:
Saam met mense (Hd 15:28).
Saam met Christus (Jh 14:16; 16:14). In eersgenoemde vers praat Jesus van die Gees as die ander Voorspraak - met die implikasie dat Hyself die eerste Voorspraak is. In Grieks is daar twee woorde wat ons met ander vertaal: heteros, wat op 'n kwalitatiewe of wesensonderskeid dui; en allos, wat op iets anders, maar van dieselfde soort dui. In die betrokke vers gebruik die Here laasgenoemde, waarmee Hy impliseer dat daar weliswaar 'n onderskeid tussen Hom en die Gees is, maar dat hulle beide persone is en beide God.
Saam met die Vader en die Seun (Mt 28:19; 1Kor 12:4-6; 2Kor 13:13; Jud 20, 21). Die Vader en die Seun is persone; die implikasie is onontkombaar, ook die Heilige Gees is 'n persoon.

# Die Gees doen wat 'n persoon doen: Hy soek, ken, praat, getuig, openbaar, oortuig, beveel, lei, help, skep, heilig, bid, doen wonders, ens.

Die derde Persoon van die Drie-eenheid

God is een, maar bestaan tog vir ewig as drie onderskeie persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie is 'n diep en onbegryplike verborgenheid, maar ons moet ten alle koste vashou aan sowel die drieheid as die eenheid. Daar is talle Skrifuitsprake wat op drie onderskeie persone in die Godheid wys. Male sonder tal verwys die Here Jesus na God as Sy Vader, en vertrou Homself uiteindelik tydens die kruisiging aan Sy Vader toe (Lk 23:46). Die Seun ontvang die Heilige Gees (Mt 3:16-17; Mk 1:10-11; Lk 3:21-22; Jh 1:32-34) en stuur Hom ook weer uit (Jh 14:16; Hd 2:33).

Die Heilige Gees is God
Daar word na die Gees verwys as God. In Hd 5:3-4 sê Petrus: "Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg ... Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God."

# 'n Verskeidenheid van Goddelike attribute word aan die Heilige Gees toegeskryf:
Almag. Hy is betrokke by die skepping (Gn 1:2; Ps 104:30) en by die menswording van die Seun: "Die engel antwoord ...: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God'" (Lk 1:35).
Alwetenheid. Jesaja sinspeel daarop: "Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree?" (40:13-14). En die Here belowe: "... wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het" (Jh 14:26). En 1Kor 2:10 sê dat die Gees alle dinge deursoek, ook die diepste geheimenisse van God.
Alomteenwoordigheid. Dawid sê in Ps 139:7: "Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?" Hy gaan dan voort en sê dat hy nooit sal kan wegkom nie, selfs al vlug hy na die hemel of die doderyk, die ooste of die weste - geen donkerte kan hom verskuil nie. Ons lees ook dat die Gees in alle kinders van God woon (1Kor 6:19).
Ewigheid. Hebreërs 9:14: "... Christus (het) immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer."

# Goddelike werke word aan die Heilige Gees toegeskryf. Hy is die gewer van lewe (Jh 6:63); Hy wederbaar mense (Jh 3:3-8; Tit 3:5); Hy sal ons opwek uit die dood (Rm 8:11).

# Talle kere word die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun in trinitariese uitdrukkings genoem (Mt 28:19; 1Kor 12:4-6; 2Kor 13:13; Jud 20-21). Die Bybel plaas die Gees dus op dieselfde vlak as die Vader en die Seun.

Beide Vader en Seun het die Gees uitgestuur
Tussen die drie persone van die Drie-eenheid is daar 'n definitiewe verhouding en orde. Omdat al drie God is, moet mens egter nie dink dat al drie dieselfde is nie. Nee, elkeen het ook Sy unieke eienskappe en verhouding met die ander, asook Sy eie funksie in God se werke - veral in die uitwerk van die verlossingsplan. Om laasgenoemde eenvoudig te stel: die Vader besluit en verkies; die Seun stel die regsbasis daar vir die verlossing van die uitverkorenes en oorsien die ontwikkeling daarvan; die Heilige Gees implementeer en verwerklik die herskepping in hulle.
In die bovertrek, die aand voor Sy kruisiging, beloof die Here Jesus dat die dissipels nie soos weeskinders agtergelaat sou word nie. In Jh 14:16 sê Hy dat die Vader die Voorspraak in antwoord op Sy gebed sou gee. En in 14:26 sê Hy dat die Vader die Heilige Gees in Sy Naam sou stuur. Uiteindelik sê Hy in 15:26 dat die Gees van die Vader uitgaan. Betekenisvol is dat die Here Jesus óók belowe dat Hy die Voorspraak sal stuur (15:26). En na die opstanding blaas Hy ('n handelingsprofesie met die oog op die Pinkstergebeure) oor die dissipels en sê, "Ontvang die Heilige Gees!" (Jh 20:21).
Dis dus duidelik dat daar 'n intieme verband is tussen die Heilige Gees, aan die een kant, en sowel die Vader as die Seun, aan die ander kant. Én die Vader én die Seun het die Heilige Gees gestuur; Hy het van hulle beide uitgegaan.
Hierdie waarheid word herbevestig en verder belig in Hd 2:33: "Hy (dit is Jesus Christus) is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor."
Dis waarom die Nuwe Testament die Heilige Gees nie net die Gees van God noem nie, maar ook die Gees van Christus of die Gees van die Seun (Rm 8:9; Gl 4:6; Fl 1:19).

'n Onlosmaaklke verhouding
Enersyds is die Here Jesus se hele lewe hier op aarde deur die Gees beheers. Hy het die Gees sonder enige beperking gehad - sonder maat (Jh 3:34). Hy was dus volkome vervul met die Gees. Hy was gesalf deur die Gees (Lk 4:18-19) en het alles wat Hy gedoen het in die krag van die Gees gedoen.
Andersyds is die die hart van die Gees se taak op aarde om die Seun te verheerlik (Jh 16:14-15).

Ons moet die Heilige Gees ken

Baie toegewyde kerkmense loop in hulle onkunde rond met Godonterende idees oor die Heilige Gees.
Algemeen is die persepsie dat die Heilige Gees die goeie ekwiwalent van die Duiwel is. Dit degradeer die Gees tot die vlak van 'n skepsel. Nee, die Gees is God; die Duiwel is 'n gevalle engel!
Waarom is dit belangrik om te onthou dat die Gees 'n persoon is; meer spesifiek, dat Hy die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid is?
Dis noodsaaklik vir suiwer aanbidding en toewyding.
Dis noodsaaklik vir 'n regte hartsgesindheid. As ek aan die Gees bloot as 'n krag of invloed dink, raak ek noodwendig selfgerig in my verhouding met Hom: hoe kan ék meer van Hom kry en gebruik? As ek daarenteen weet en onthou wie Hy is, verander my hele instelling en ontstaan die vraag: hoe kan Hý meer van my kry; hoe kan ek Hóm behaag en vereer?
Dis noodsaaklik vir 'n gesonde Christelike belewing. Dit het 'n ingrypende effek as jy die Gees as 'n Goddelike persoon leer ken. Dan begin jy gemeenskap met Hom ervaar (2Kor 13:13); dan raak dit vir jou belangrik om Hom te gehoorsaam en Hom nie te bedroef nie (Ef 4:30).
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment