Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.173 - JOËL 2:28-32 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [4 van 8] - Die Heilige Gees in die Ou Testament

DIE OU TESTAMENT VERWYS ONGEVEER 90 KEER NA DIE HEILIGE GEES. Die feit van Sy persoonlikheid kom egter nie na vore nie. Dit gebeur eers in die Nuwe Testament. Die Ou Testament is beperk tot die gedagte dat die Gees God se persoonlike teenwoordigheid en handele is - dat Hy God in aksie is.
So word geopenbaar dat die Gees betrokke is by die skepping en instandhouding van die heelal en sy geskiedenis (Gn 1:2; 2:7; Job 26:13; 33:4; Ps 33:6; 104:29-30; Jes 34:16; 40:7). Hierbenewens was die Gees se werk gerig op die verhouding tussen God en Sy mense, en het Hy sommige van hulle toegerus vir spesiale take en geleenthede.

Die heiligmakende werk van die Gees
Die Gees het in God se gunsgenote gewerk en hulle die weg van gehoorsaamheid en godskennis geleer (Neh 9:20; Ps 51:11-13; 143:10).

Die toerustende werk van die Gees
Profesie
'n Profeet praat met mense namens God. Hy gee vir hulle die Goddelike woord, waarheid en wil deur die krag van die Heilige Gees.
Nie alleen gebruik die Gees diegene wat met God wandel nie, maar ook mense wat nie met Hom versoen is nie - soos Bileam (Num 24:2), asook Saul en sy soldate (1Sam 19:18-24).
Een van die heel eerste en mees betekenisvolle gevalle van hierdie aard is opgeteken in Num 11. Sewentig manne moet Moses help. 'n Deel van die Gees wat op Moses was, word dan op hulle geplaas en hulle begin profeteer (v.17, 25). Twee van die sewentig, Eldad en Medad, is egter nie by die res as dit gebeur nie. Maar ook hulle begin profeteer. Josua is ontsteld, maar Moses antwoord, "Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê." (29).
Vergelyk ook 1Kron 12:18; 2Kron 15:1vv; Neh 9:30; Eseg 11:24-25; 37:1; Miga 3:8; Sag 7:12.

Leierskap
Talle Ou Testamentiese leiers is deur die Gees toegerus om God se gesag, regering en verlossing te verwerklik - en om die volk daarin te lei.
Voorbeelde is Josef (Gen 41:38); Moses en die sewentig (Num 11:17); Josua (Dt 34:9); Otniël (Rig 3:10); Gideon (Rig 6:34); Jefta (Rig 11:29); Simson (Rig 13:25; 14:19; 15:14); Saul (1Sam 11:6); Dawid (1Sam 16:13-14); Elia en Elisa (2Kon 2:9-15).

Kreatiwiteit
Sekere kunstenaars is deur die Here met Sy Gees vervul - veral met die oog op die aanbidding en verering van God in Sy tabernakel en tempel. Uitstaande is die vakman-kunstenaars, Besaleël en Oholiab, wat 'n besondere rol gespeel het in die konstruksie en versiering van die Tabernakel (Eks 31:1-11; 35:30-35; vgl. ook Eks 28:3).

Beskrywings van die Gees se werk
Verskeie Hebreeuse woorde word gebruik om die aksie van die Heilige Gees in mense te beskryf.
In Rig 13:25: "... die Gees van die Here het hom (Simson) ... begin lei." Hierdie bepaalde werkwoord (Hb. pa'am) beteken letterlik: druk, forseer, beweeg, dring (OAV: drywe). Dieselfde woord in 'n ander vorm (niphal) dui op 'n beroering in iemand se binneste. Die Gees het dus 'n sterk innerlike drang en ywer - 'n hartstog - in Simson gewerk.
Rigters 6:34 sê: "Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem ..." (vgl. ook 1Kron 12:18; 2Kron 24:20). Hierdie werkwoord (Hb. labash) beteken toedraai of aantrek met 'n kledingstuk - jouself of iemand anders. Die Heilige Gees het Gideon dus aangetrek. Hierdie uitdrukking wil dus beklemtoon dat Gideon onder beheer van die Heilige Gees was - presies wat die Nuwe Testamentiese vervul wil deurgee (vgl. Ef 5:18).
In Rig 14:6 word gesê: "Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur ..." (vgl. ook Rig 14:19; 1Sam 10:10; 16:13). Die werkwoord (Hb. alah) beteken aanval, bespring, met dwingende geweld op iemand toesak. Hierdie uitdrukking wil dus sê dat die Gees onverwags en skielik met krag op Simson beslag gelê het. 'n Nuwe Testamentiese ekwiwalent is die uitdrukking dat die Gees soms op mense geval het (OAV, Hd 8:16; 10:44; 11:15).

Die Ou Testamentiese hoop
Die volk van God misluk keer op keer. Gevolglik sê Jesaja: "hulle het ... sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle 'n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg" (63:10).
Daar was egter ook altyd dié wat toegewyd aan Jahweh was. En hulle het verlang na 'n inniger verhouding tussen Hom en Sy volk. Dink aan Moses se versugting dat die héle volk profete moes wees. Dink aan die profete se hartstogtelike gebede dat die Here 'n werk in hulle midde moes doen? Dink aan hulle oproepe tot die volk om die Here te soek (vgl. Jes 64: 1, 12; Jer 14:7-9; Hos 4:1, 6; 6:3).
Aan Sy gunsgenote belowe God dan toenemend soos die Ou Testamentiese openbaring vorder: daar kom 'n nuwe verbond, 'n nuwe koninkryk, 'n nuwe bedeling! Uitstaande voorbeelde is Jer 31:31-34; Eseg 36:26-27 en Hos 2:13-22.
'n Groot Koning uit die geslag van Dawid gaan hierdie nuwe bedeling vir ewig kom vestig. Ou Testamentiese Messiaanse profesieë kom van die vroegste tye af (vgl. Gen 3:15; Deut 18:15-19). Maar niemand het dit met meer ekstase uitgejubel as Jesaja nie (o.a. 9:5-6; 11:1-5; 35:1-10; 42:1-7; 49:1-6; 50:4-11; 52:13-53:12; 61:1-3).
'n Baie betekenisvolle aksent kenmerk hierdie Messiaanse profesieë: op hierdie Groot Koning gaan die onbeperkte volheid van die Heilige Gees rus! (Jes 11:2; 42:1; 61:1). Trouens, die Ou Testament gaan nóg verder: die Groot Koning gaan ook op Sy diensknegte die Gees in ongekende oorvloed uitstort! Jesaja skryf: "Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope" (44:3-4).
Die gebrek aan insig in God se wil en waarheid wat die verbondsvolk só gekenmerk het, gaan vervang word met vreugdevolle en gehoorsame begrip van geopenbaarde waarheid. En dit gaan gebeur wanneer "... die Gees van Bo af ... uitgestort word" (Jes 29:9-24; 32:15-20). Die sukkelgang van gehoorsaamheidsmislukking sal iets van die verlede wees. Hoe gaan dit gebeur? Die Gees sal maak dat hulle in God se insettinge wandel en Sy verordeninge onderhou en doen (Eseg 36:27).
Geen profeet sê dit op 'n grootser wyse as Joël nie: Ek sal ... "my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie" (2:28 v).
Hierdie belofte beklemtoon die omvangryke aard van die Gees se werk. Ál God se kinders sal deelhê daaraan en betrokke wees: die jonges (seuns en dogters), die oues, die room van die Godsvolk (jong mans) en diegene sonder aansien.
Hierdie wonderlike koms van die Gees sal gekenmerk word deur die oorvloedige oopbreek van nuwe openbaring. Dis immers waaroor profesieë, drome en visioene gaan.
Maar terselfdertyd sal dit gepaard gaan met God se verskriklike oordele. Verse 30-31 is 'n integrale deel van die profesie: "Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom."
Dit sal egter ook 'n tyd van redding wees: "En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep" (2:32, OAV). Maar, let op, hoewel die belofte geld vir een en elkeen wat die Here aanroep, is daar tog ook die kwalifikasie dat net diegene wat deur die Here geroep word dit sal doen.
Dit lê voor die hand dat die verbondsvolk met opgewonde afwagting uitgesien het na die vervulling van die Messiaanse beloftes. Dis verder duidelik - uit latere Nuwe Testamentiese openbaring - dat hulle begryp het dat die uitstorting van die Heilige Gees aan die hart van Sy regering sou wees. Die Here Jesus, sowel as die apostels, het waarskynlik omgangstaal gebruik as hulle spesifiek na die koms van die Gees as "die Vader se belofte" verwys het (Lk 24:49; Hd 1:4; 2:33, 39; Gl 3:14; Ef 1:13). Hierop was die heiliges van die Ou Testament se verlangens intens gerig.
Die verbondsvolk en die profete het uiteraard nie geweet hoe lank hulle sou moes wag vir die belofte nie. Wat wel aan hulle geopenbaar is, is dat die Messias se koms voorafgegaan sou word deur die verskyning van Sy wegbereider en boodskapper. Die laaste boek van die Ou Testament stel dit vier eeue voor Sy koms só: "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige." (Mal 3:1. Vgl. ook 4:5-6; Jes 40:3). Dit verduidelik die opgewonde ontvangs wat Johannes die Doper se prediking aanvanklik gekry het (Mt 3:5).
Die vervulling van die belofte van die Vader vind natuurlik op die Pinksterdag plaas. Dit sê Petrus uitdruklik as hy die profeet Joël aanhaal (Hd 2:16-21; 33-36; 39). Die verheerlikte en verhoogde Seun het die belofte as beloning van die Vader ontvang, ten einde Hom op Sy Nuwe Testamentiese gemeente uit te stort. So het die Gees as Groot Gawe van die eindtyd gekom!
Let op dat Petrus tweemaal die uitdrukking, "die belofte", gebruik (33, 39; OAV). En in v.39 is Joël se profesie steeds in sy agterkop: die belofte is slegs vir diegene is wat deur die Here geroep word. [1]

Slotwoord
Hoe ontsaglik bevoorreg is ons nie - ons wat in Christus is, ná Sy koms. Want ons het deel aan die wonderlike erfenis van die belofte. Waarlik, Koning Jesus hét Sy vroeë gemeente oorspoel met die Heilige Gees - en Hy doen dit steeds. Waarlik, húlle wat regtig met Christus verenig is, se lewens is nie meer so 'n sukkelgang soos dié van die Ou Testamentiese verbondsvolk nie. Prys die Here! Dis 'n proefondervindelike en waarneembare werklikheid wat vasstaan soos die berge.
Maar hieroor méér vorentoe.


[1] Die afsluiting van die Ou Verbond, die vervulling van die seremoniële wette en die oordele van God oor die Joodse volk, hang ten nouste saam met die koms van die Heilige Gees. Trouens, dis in diens van die volle oopblom van Sy werk. Die Doper praat in dieselfde asem van die komende oorvloedige werkinge van die Gees én die doop met vuur (vgl. E170]. Joël se profesie koppel dit saam. En Petrus haal die oordeelsgedeelte van Joël volledig aan op die Pinksterdag. Ruimte laat ons ongelukkig nie nou toe om hierop in te sak nie.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment