Tuesday, July 5, 2011

E-PREEK No.162 - EKS 3:1-15 : GOD SE NAAM [2 van 3]

DIEN JY DIE HERE? WAAROM? WAT DRYF JOU? Jy sê dis uit dankbaarheid vir jou redding. Dis 'n goeie antwoord. Maar sê jy nie dalk net so omdat jy gehoor het dis die regte antwoord nie?
Ek het 'n sterk vermoede dat baie kerkmense die Here slegs dien omdat hulle dink dit verseker hulle uiteindelike saligheid.
Maar om bloot aan 'n ander toegewyd te wees ter wille van wat jy uit hom of haar kan kry, is skandalig. Wat dink jy van iemand wat jou gedurig heuning om die mond smeer, terwyl hy in werklikheid nie 'n duit vir jou self omgee nie, maar net belangstel in jou geld (of wat ook al)? Onontkombaar is dus die vraag: Wat sou God se beoordeling wees van 'n mens wat die mooiste woorde van lof in sy liedere en gebede uiter, maar eintlik deur selfsug gedryf word en net geïnteresseerd is in wat hy of sy by Hom kan kry?
Is ek dalk reg as ek sê dat dit vir baie "Christene" tot 'n groot mate net hiéroor gaan: What's in it for me? Ek huiwer om dit te sê, maar dis omdat baie kansels nooit verder kom as om God as 'n hemelse krismisvader aan te bied nie!

Omdat Hy lieflik en loflik is!

Die dankbaarheidsmotief hierbo genoem, is vir seker 'n lofwaardige dryfveer vir jou en my gehoorsaamheid en aanbidding. Maar daar is 'n nóg meer verhewe beweegrede: 'n lewenslange hartstog om die Drie-enige God ter wille van Homself steeds beter te ken, en om Sy verheerliking met alles in jou na te jaag - omdat Hy persoonlik lieflik en loflik en duiselingwekkend groot en onbeskryflik goed is.
God se Woord is vol daarvan dat niks Hom méér behaag as so 'n instelling en uitlewing nie.
Dink weer aan Moses. Hy ontmoet God by die brandende bos soos niemand voor hom nie (Eks 3). Is hy daarmee tevrede? Allermins. 'n Verlange om die HERE nóg beter te leer ken, word kennelik 'n vuur in sy gebeente. Daarom, op Sinaï bars die allesoorheersende begeerte uit sy binneste: "Laat my tog U heerlikheid sien!" (Eks 33:18, OAV).
Die mens se hoogste roeping is om die Drie-enige God te ken en om met Hom te wandel. Dis die essensie van die ewige lewe (Jh 17:3). Dis sentraal in elke geredde lewe (2Kor 4:4, 6). En ons salige hoop is om Sy aangesig te sien (Mt 5:8; 1Jh 3:2-3).
Dit impliseer egter nie 'n vassteek by 'n bloot piëtistiese binnekamerlewe nie (onmisbaar belangrik soos dit is). Want tot die mate wat ek "die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus" sien (2Kor 4:6, OAV), tot daardie mate sal die begeerte om Hom te behaag en te verheerlik - en te láát verheerlik - my hele bestaan beheers. Waarom? Dis dié wesenstrek van ware liefde dat jy die belang en verering van die beminde soek. En 'n mens kan die HERE nie ken sonder om Hom lief te hê nie - hoe beter, hoe meer. Waarom? Omdat Hy lieflik en loflik is! Omdat niks of niemand met Hom kan vergelyk nie! Omdat Hy oneindig goed is!

En tog, en tog ...

Kardinaal belangrik soos bogenoemde beklemtoning is, los dit jou met 'n skeeftrekking as jy nét daarmee volstaan. Want die Woord is vol uitnodigings - beter gestel, bevele - dat God se kinders met hulle behoeftes en nood na Hom toe moet gaan.
Mens sou na tientalle Skrifuitsprake kon verwys, maar 'n beeld in Ps 81:10-11 belig die Bybelse benadering van die saak op 'n kostelike wyse: "Daar mag vir julle geen ander god wees nie, julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee." Die OAV laat reg geskied aan die oorspronklike taal. Vers 11 sluit so af: "maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul." Wat hier geskets word, is klein voëltjies in 'n nes wat hulle bekkies wawyd oop rek wanneer die ma-voël met 'n wurm nader kom. Só wil die HERE hê moet ons met vrymoedigheid vanuit Sy oorvloedige versorging leef - wat ál ons behoeftes betref. Dus, maak wyer oop - wyer, nóg wyer!

Die kloutjie by die oor

Duidelik het ons hier te doen met twee waarhede wat in jukstaposisie gehou moet word. Die Bybel is immers vol van sulke lewensbelangrike balanse.
Kyk wat gaan die beeld van die klein voëltjies hierbo vooraf. God het verantwoordelikheid vir Sy volk aanvaar toe Hy hulle uit Egipte gelei het. En vir seker het Hy Sy eer daarin gestel om Israel in elke opsig daar in die woestyn te versorg. Ons kan dit maklik verstaan. Watter pa, soveel te meer as hy 'n ryk man is, wil hê sy kinders moet by die bure gaan kos bedel, eerder as om vir hom te vra? Nog meer, dis eintlik 'n stuk aanbidding as ek my hemelse Vader vertrou om na my om te sien. Dis 'n manier om vir Hom te sê, "Ek weet U is liefdevol, getrou aan al U beloftes, en magtig genoeg om vir my alles te gee wat ek ooit mag nodig hê."
Om my hemelse Vader te vertrou - en Hom alleen - vir elke asemteug en elke broodkrummel, is op sigself 'n stuk aanbidding wat Hom uitnemend behaag en verheerlik!
Daarom moet ons erns maak met al Sy beloftes - ook vir hierdie lewe. Ten diepste gee Hy hierdie beloftes vir ons, nie bloot om ons gerus te stel nie, maar sodat ons Hom kan behaag en verheerlik deur gelowig uit Sy hand te lewe.
Kan jy egter sien - alles, maar alles hang van jou gesindheid en motiewe af! Wee jou as jy 'n bloedsuier-mentaliteit het. Maar as jy gedurig op jou eie voete wil staan en daarop aandring om jou eie potjie te krap, is dit so goed soos 'n minagtende rugdraai op God se liefdeswelwillendheid.
Maar ná hierdie lang inleiding moet ons darem nou weer by ons oorhoofse tema uitkom.

Ek is ... Hy is

Laas keer het ons gesien dat God Sy Naam as "JaHWeH" aan Sy volk geopenbaar het. Dis die derde persoon enkelvoud van die werkwoord om te wees. As Hy oor Homself praat, sê Hy, "Ek is"; as Sy volk na Hom verwys, moet hulle sê, "Hy is".
Hierdie Naam beklemtoon in die eerste instansie Sy algenoegsame en heilige transendensie. Maar Hy verseker Sy volk dat hulle nie bedreig moet voel deur Sy soewereine almag nie. Hy is hulle Verbondsgod. Hy sal Sy ontsaglike vermoëns in hulle belang aanwend - mits hulle dit natuurlik glo en die implikasies daarvan gehoorsaam uitleef.
Afgesien van honderde uitdruklike uitsprake oor JaHWeH se goedheid, word dit ook op 'n ander treffende manier in die Ou Testament geopenbaar.

God voltooi vir ons die sin

Mens kan verstaan dat God Sy ewige algenoegsaamheid met Sy Naam, "Ek is wat Ek is", beklemtoon. En tog bly die verkorte vorm van Sy Naam vir ons vreemd - so asof dit 'n onvoltooide sin is: Ek is ..." Maar die res van die Ou Testament los die raaisel op, as die sin as 't ware op verskillende en fassinerende maniere voltooi word.
Op talle plekke in die Ou Testament, as daar geskryf word oor God se verbondsgoedheid vir Sy volk, word dit gedoen deur 'n tweede begrip aan Sy verbondsnaam, JaHWeH, te heg. So word gesê wat Hy is ... vir Sy gunsgenote is.

# JaHWeH Rapha: Hy is ... genesing (Eks 15:26). Die HERE bewaar Sy gehoorsame geliefdes van allerlei ellendes - soos dié wat die Egiptenaars getref het.

# JaHWeH Nissi: Hy is ... banier (Eks 17:15). Die HERE stry die stryd vir Sy gunsgenote. In Hom is hulle oorwinning gewaarborg.

# JaHWeH M'Kadesh: Hy is ... heiliging (Lev 20:8). Die HERE werk heiligend in Sy volk, sodat hulle uiteindelik heilig word soos Hy.

# JaHWeH Shalom: Hy is ... vrede (Rig 6:24). As die besef van hulle nietigheid en die belewing van verlorenheid Sy geliefdes wil oorweldig, bewerkstellig die HERE vrede tussen Hom en hulle, en verseker hulle dan daarvan.

# JaHWeH Ro-ih: Hy is ... herder (Ps 23:1). Die HERE lei Sy skape op die regte pad.

# JaHWeH Tsidkenu: Hy is ... geregtigheid (Jer 23:6). Reeds in Ou Testamentiese tye openbaar die HERE die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof alleen.

# JaHWeH Shammah : Hy is ... daar (Eseg 48:35). Die profesie van Esegiël word op die wonderlikste wyse denkbaar afgesluit met die versekering dat die HERE tot in alle ewigheid tussen Sy geliefde gunsgenote sal woon.

# JaHWeH Sebaoth : Hy is ... van die leërskare (talle plekke). Terwyl die HERE baie vyande het, hou nie een van hulle - of hulle gesamentlik - vir Hom, of Syne, enige bedreiging in nie.

Wat julle ook al nodig het, sal Ek gee

Gaan ons te ver as ons só oor die "onvoltooide Naam" dink: dis soos 'n getekende blankotjek wat die Here aan Sy uitverkorenes toevertrou: "Ek is ...!". Dis as 't ware asof Hy vir hulle wil sê: vul in volgens julle behoeftes. Wat julle ook al mag nodig hê op julle pad van gehoorsaamheid en liefdestrou, en gevolglik vir My vra, sal Ek voorsien. Met hierdie Verbondsnaam wil Hy dus vir Sy geliefdes sê: Ek wil persoonlik vir julle alles wees wat julle ooit mag nodig hê. Vertrou My! Ek wil vir julle in die volste sin van die woord 'n Vader wees - 'n Vader wat Sy verantwoordelikheid teenoor Sy kinders ken. Julle kan peil trek op My liefdesorg.
Natuurlik! Natuurlik! Soos altyd die geval wanneer 'n blankotjek aan iemand toevertrou word, moet hierdie beloftes van die HERE met die grootste omsigtigheid en verantwoordelikheid gehanteer word. Maar terselfdertyd moet daar vrymoedigheid wees. 'n Blankotjek impliseer immers 'n sekere vertroue in die ontvanger daarvan. Dit verleen as 't ware 'n sekere mandaat.

Les bes!

Daar is nóg een van hierdie uitgebreide Verbondsname van God - die heel eerste een in die Ou Testament. En nooit kan ons ophou om Hom te dank dat dit nie bloot 'n blankotjek is nie. Want wie van ons sou ooit daaraan kon dink om hom só duiselingwekkend groot uit te skryf.
Ons praat van Gn 22:14. Abraham noem die plek waar die HERE die offerram in sy seun, Isak, se plek voorsien: JaHWeH Jireh : Hy is ... voorsiening.
So duidelik soos daglig is hier reeds vroeg-vroeg in die openbaringsgeskiedenis 'n sinspeling op Jesus Christus, die Lam van God. God het die heel kosbaarste wat Hy gehad het voorsien om in ons allerbehoefte te voorsien. Niks, maar niks minder nie, niks, maar niks anders nie, sou genoegsaam kon wees nie. God se hoogste en finale gawe - Sy allergawe - het Hy gegee om in die plek van Sy verbondsgeliefdes geslag te word! Só absoluut is die standaarde van Sy geregtigheid dat geen mindere gawe dit sou kon bevredig nie.
Waarlik, hierdie Gawe van die HERE se verbondsliefde laat al Sy ander gawes - wonderlik kosbaar soos hulle is - tot dowwe skaduwees verflou. Al sou ek al die ander verbeur - en loof die Here dat dit net 'n denkbeeldige moontlikheid is - maar ek het steeds hierdie Een, het ek nog altyd álles wat ek ooit vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid mag nodig hê!
Luister na die apostel Paulus: "Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Cefas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge - alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God" (1Kor 3:21-23, OAV).
Ten slotte, is hiérdie spesifieke saamgestelde Verbondsnaam dalk vir 'n goeie rede heel éérste in die Ou Testament? In elk geval staan dit vas: al die ander gawes van JaHWeH se verbondsheil - reeds in Ou Testamentiese tye - was en is steeds nét in Christus te vind!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment