Saturday, July 23, 2011

E-PREEK No.90 - 1KOR 2:2 - ONS VERKONDIG CHRISTUS

'n Onaanvaarbare boodskap

Die vroeë Christene se keuse van die kruis as dié simbool van hulle geloof is eintlik verstommend as mens in gedagte hou met watter afsku kruisiging in die antieke wêreld bejeen is.
Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers gekruisig. En wat heidene betref, het hulle dit beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
Die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Hulle het dus geglo dat die vloek van Dt 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek." Volgens die wêreld van die eerste eeue het die Christene dus 'n dooie man, 'n veroordeelde misdadiger en 'n deur God vervloekte aanbid. En hierdie kombinasie van dood, misdaad en skande het Jesus algeheel onaanvaarbaar gemaak ‒ as persoon, maar 'n duisend maal meer as voorwerp van aanbidding. Wat 'n struikelblok vir die verspreiding van die evangelie!

'n Onaanvaarbare metode

Korinte was 'n Griekse stad, en as sodanig het die Korintiërs 'n hoë premie geplaas op intelligente debatsvoering, waterdigte logika en spoggerige welsprekendheid. Die kuns van die retoriek, was dus vir hulle tot 'n groot mate die een en die al.
Mens kan jou oë dus beswaarlik glo as jy lees dat Paulus besluit het om nie met hoë woorde, groot geleerdheid of welsprekendheid in Korinte te preek nie (1, 4). Strategies lyk dit na 'n dwase voorneme.
Maar vir seker het die apostel goeie redes gehad vir sy voorneme. Hier is dus iets om te ondersoek!

Paulus se voorneme

Waarom wil Paulus nie sy uitsonderlike geleerdheid en sprekersbegaafdheid vertoon nie? Besef hy nie dat hy nooit die Korintiërs sal oorreed, tensy hy hulle op hul eie werf en op hul eie manier ore aansit nie? Sekerlik moet hy tog weet dat hy nie 'n kans staan nie, tensy hy hulle filosofieë as dwaasheid ontbloot. As hy hulle wil beïndruk, sal hy vir seker op al sy retoriese silinders moet vuur.
As dit nou 'n geval was van nie beter kán nie, kan mens nog verstaan. Maar, wat sy vermoëns betref, kan die briljante Paulus met die slimste Griekse filosowe saampraat. En hy is allermins 'n stamelaar. In Listra het hy só goed gepraat dat die mense hom "Hermes" genoem het - die Griekse god van kommunikasie (Hd 14:12).
Tog het hy hom voorgeneem (die woord praat van 'n besliste wilsbesluit) dat hy slegs die boodskap van die Gekruisigde aan hulle sou verkondig. Op die Grieke se lawaaiwa sou hy vir seker nie klim nie!

Paulus se redes

Ons kan aanvaar dat Paulus minstens 5 redes het vir sy voorneme - almal uiters aktueel vir ons dag.

1. Paulus weet sy mandaat is begrens: hy moet die evangelie van God se genade in Jesus Christus verkondig - niks meer nie (1Kor 1:17).
Allermins wil die apostel enige aandag op homself vestig. Hy - en sekerlik ook die ander apostels - het net één hartstog: om Christus te verheerlik! By sy luisteraars soek hy net een respons: "Wat 'n Verlosser!"; en nooit nie: "Wat 'n prediker!"

2. As daar een ding is wat die apostel vrees, is dit om die Heilige Gees te beledig en uit te blus.
Paulus weet dat net die Heilige Gees die Korintiërs tot geloof kan bring (4b; 5b). Maar hy weet ook dat die Gees gekom het om Christus te verheerlik (Jh 16:14-15); nie om redenaarspeletjies te speel nie.

3. Paulus ken sy taak: hy moet alle mense oproep om hulle te bekeer en hulle knieë voor die ware God en Sy Christus te buig (Hd 17:30).
Terwyl die evangelie die goeie nuus is dat God sondaars in Christus red, is dit meteen 'n ernstige bevel van God aan sondaars om hulle te bekeer.
Die evangelie is nie iets wat gedebatteer en uit die hoogte oorweeg moet word nie. Dis 'n bevel om te gehoorsaam. God is nie verleë oor ons nie. Hy onderhandel nie. Hy maak nie kompromieë nie. Die evangelie is nie net nóg 'n religieuse alternatief nie.

4. Allermins wil Paulus mense mislei om Jesus vanuit valse motiewe aan te neem.
Hy weet dat nie elke bekering eg is nie. Hy begryp dat die saad van die evangelie dikwels op klippe of tussen dorings val. En hy ken die Godonterende gevolge wanneer dit gebeur. Dus vermy hy manipulasie en prediking wat bloot staat maak op welsprekendheid sonder 'n deeglike uiteensetting van die evangelie. Bekering moet die vrug wees van evangeliewaarheid en -krag; nie van emosionele oorreding en drupperige sentimentaliteit nie.

5. Paulus wil seker maak dat een en elkeen van sy luisteraars goed sal begryp dat daar maar één Middelaar tussen God en mense is.
Prediking wat nie konsekwent Christosentries is nie, kan baie maklik die indruk skep dat bloot godsdienstige aktiwiteit, vroomheid en entoesiasme tot redding lei.
Nee! Ware dissipelskap en vroom godsdienstigheid is nie dieselfde ding nie. Egte Christenskap is ten diepste nie net 'n manier van lewe nie. Dis om deur 'n ware en lewende geloof met Christus verenig te wees. En hoewel reddende geloof altyd wys, is die eerste merkteken daarvan 'n algehele afhanklikheid wat soos 'n drenkeling aan Christus hang. Kom ons sê dit les bes só: die ware Christen word nie in die eerste instansie aan sy moraliteit geken nie, maar aan sy allesoorheersende wete dat hy nooit voor die lewende God sonder 'n volmaakte Middelaar kan staan nie.
Nooit mag ons net aanvaar dat genade alleen, Christus alleen en geloof alleen op kerkmense se harte gegrafeer is nie. Dit moet weer en weer verkondig word. Die mens dink van nature altyd maar weer in terme van vergoeding vir verdienste. Reddende geloof is die presiese teenoorgestelde van godsdienstigheid, churchianity en moralisme. Onthou altyd die vrome Kornelius - wat eers gered word as hy die ware evangelie verstaan en omhels. Voorheen was hy steeds verlore - ten spyte van al sy godsdiens, aalmoese, godvresendheid en gebede (Hd 10:2; 11:14)!
Paulus wil seker maak dat niemand hom mis verstaan nie. Hy is die draer van 'n enkele boodskap: Christus die gekruisigde - en niks of niemand anders nie! Daar is maar één Verlosser, één verlossing, één evangelie!

Enkele kwalifiserende opmerkings

1. Die apostel laat nie sy hoorders se kulturele voor- en afkeure buite rekening nie.
In Handelinge is dit duidelik dat hy Jode en heidene heeltemal verskillend benader. Hy skryf trouens uitdruklik dat hy - ten einde so veel as moontlik te wen - vir die Jode soos 'n Jood word, en vir die heidene soos 'n heiden (1Kor 9:19-23).
Waarop hy egter in ons teks sinspeel, is dat hy nooit enige kompromie aangaan wat sy hoofroeping betref nie, naamlik om die gekruisigde Christus te preek. Ja, hy doen wat hy kan om struikelblokke uit sy luisteraars se pad te rol, maar nooit sal hy toelaat dat mense se kulturele grille en giere sy arm draai om sy boodskap af te water nie.

2. Paulus bepleit nie 'n simplistiese boodskap nie.
Om Christus as die gekruisigde te preek, behels meer as om oor en oor te sê: Christus is gekruisig! Ons kan aanvaar dat Paulus in Korinte die hele raad van God verkondig het (hy was lank daar), maar wel só dat die kruis altyd sentraal was. Hy sou dus nooit toegelaat het dat óf hy óf sy hoorders buite sig van Golgota en die leë graf beweeg nie.
Dus, wat ons ook al preek, dit mag nooit los van die kruis sommer enige rigting inslaan nie. Ons verkondiging moet steeds evangelies, kruis-veranker en Christus-gesentreerd bly - ongeag of ons met Ou of Nuwe Testament besig is, met indikatief of imperatief, met etiek, ekklesiologie of eskatologie.

3. Allermins wil Paulus vir ons sê dat die hóé van ons verkondiging onbelangrik is, solank ons maar net Christusgesentreerd is.
Elkeen oor wie se lippe rooiwarm woorde vanuit 'n brandende hart stroom, sal met vuur en oortuiging preek. Nog meer, ons moet só kommunikeer dat dit ons hoorders se denke en harte binnedring. Maar slimmighede en snaaksighede en gladde vertonerigheid is iets heel anders. Nee, ons aanbieding moet steeds in volle harmonie met die gewigtigheid van ons boodskap wees.

Ten slotte

# Die eerste vraag wat in ons dienswerk vir die Here gevra moet word - veral in ons prediking - gaan nie oor metodes, programme of strukture nie, maar oor die boodskap. En die boodskap is 'n Persoon - Jesus Christus, die gekruisigde.

# 'n Christus- en kruisgesentreerde bediening kan staat maak op God se beloftes. Om by sy voorneme te bly, was geensins vir Paulus maklik nie: hy het in "swakheid, en met groot angs en huiwering" in Korinte gepreek (3). Sekerlik het sy aanslag hom verspot laat lyk en voel. Ons weet dat hy, toe hy in Korinte begin werk het, gereed was om handdoek in te gooi. Een nag het die Here egter in 'n gesig vir Hom gesê: "moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie ... in hierdie stad behoort baie mense aan My." Die apostel het gevolglik 'n jaar en ses maande daar gebly en uiteindelik 'n wonderlike oes ingesamel (Hd 18:9-11).

# Ons moet onthou: ons swakhede, vrese en lomphede diskwalifiseer ons nie vir die Here se werk nie. As ek die einde van my vermoëns bereik, is dit dikwels die oomblik van God se heerlikste ingryping. Solank ek mense nog probeer beïndruk met mý persoonlikheid, geleerdheid en gawes, sal hulle die gekruisigde Redder beswaarlik kan sien.
Later sou Paulus hierdie sprekende woorde aan die Korintiërs skryf: "Drie maal het ek die Here gebid dat dit (sy doring in die vlees) van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk" (2Kor 12:8-10).
Laat ons Paulus ten alle koste navolg!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment