Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.176 - LK 3:22 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [7 van 8] - Die Heilige Gees en Christus [3]

IN DIE VORIGE TWEE E-PREKE HET ONS GEWOON GEKYK NA DIE GEES SE WERK IN DIE HERE JESUS TOE HY IN SY VERNEDERDE STAAT WAS. SOOS BELOWE, KYK ONS NOU NA 'N PAAR VAN DIE PRAKTIESE IMPLIKASIES DAARVAN IN CHRISTENGELOWIGES SE LEWENS.
Dis kardinaal belangrik om vas te hou dat die Gees wat op die Pinksterdag gekom het, die Gees van Christus was. Presies dieselfde Gees wat sonder beperking op Hóm gerus het, het Hyself nou op Sy gemeente uitgestort. As mens nou verder rekening hou met die sterk en herhaalde beklemtoning in die Nuwe Testament dat Christene in die Here Jesus se voetspore moet volg, dat hulle moet leef soos Hy geleef het, en dat hulle na Sy beeld gevorm word (Rm 8:29; 1Pt 2:21; 1Jh 2:6), lei dit tot 'n onomstootlike waarheid: behalwe vir daardie aspekte waarin die Here uniek was en dus van Sy dissipels verskil het, sal die Gees die werk wat Hy in Christus gedoen het, ook in hulle voortsit.

Die Gees se werk in Christus se lewe

'n Aandagtige deurlees van die evangelies toon dat die Heilige Gees se werk in Jesus Christus in drie groot areas uiteenval.
Eerstens het die Gees Sy verhouding met Sy Vader bewerkstellig en Hom as Seun van God bevestig.
Tweedens het die Heilige Gees Hom toegerus om as Dienskneg van die Here Sy roeping deur te voer - as vervulling van talle Ou Testamentiese profesieë, in die besonder Jesaja se Knegliedere.
Derdens het die Heilige Gees Hom bekragtig om op 'n merkwaardige wyse na 'n sondegebroke wêreld uit te reik.
Só, kan ons aanvaar, sal die Gees ook in die kinders van God werk. Ons fokus nou op die eerste van hierdie areas, en dan by 'n volgende geleentheid op die tweede en derde daarvan.

Die Gees van kindskap

In die Here Jesus roep die Gees "Abba"
Dis sekerlik betekenisvol dat die Vader se verklaring tydens Jesus se doop, "Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My" (Mt 3:17; Mk 1:11; Lk 3:22), geskied as die Heilige Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. Die Gees het Hom as 't ware gemerk as die Messiaanse Seun van God.
Die Here Jesus is dan ook die heel eerste om die benaming, Abba, vir die Vader te gebruik (Mk 14:36). Nêrens in enige voor-Christelike literatuur is daar enige sprake van so 'n intieme aanspreekvorm vir God nie [1]. Dis 'n gesinswoord wat Pappa beteken. Maar Jesus - deur die Gees uitgewys en bekragtig as die Seun van God en God die Seun - durf uiteraard God die Vader so aanspreek.
Voorts is dit betekenisvol - en aangrypend - dat Jesus Sy Vader só aanspreek tydens Sy worsteling in die tuin van Getsemane. Dis die ure van Sy grootste nood tot op daardie stadium.

Die Here Jesus se seunskap is uniek
In die volste, diepste en ewige sin van die woord kan net Hý God Sy Vader noem. Die Nuwe Testament gebruik veral twee begrippe om Sy unieke seunskap te beklemtoon. Hy is die eerste (Rm 8:29; Kol 1:15, 18; Hb 1:6; Op 1:5) en die enigste (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9).
Dat die Here Jesus goed bewus was van die onderskeid tussen Sy seunskap en ons kindskap is duidelik. Hy praat byvoorbeeld dikwels van My Vader en die Vader, maar nooit van ons Vader nie - behalwe natuurlik as Hy Sy dissipels leer bid, maar dan het die "ons" op húlle as groep betrekking. En een keer praat Hy van My Vader en julle Vader (Jh 20:17).
Ook die apostels onderstreep hierdie besliste onderskeid: Johannes verwys konsekwent na die Here Jesus as God se Seun (Gr. huios), maar na gelowiges as God se kinders (Gr. tekna). Paulus weer, anders as Johannes, wat graag van wedergeboorte praat, maak veral gebruik van die begrip aanneming wanneer dit gaan oor hoe mens 'n kind van God word.

In God se kinders roep die Gees ook "Abba"
Bogenoemde onderskeid tussen ons en die Here Jesus se se verhoudings met die Vader beteken nie dat ons kindskap minderwaardig is nie; inteendeel. Ons kindskap is immers gewortel in Christus se seunskap - in verbondenheid met Hom. Dit hoef ons dus nie te verbaas nie dat die Heilige Gees - die Gees van Christus - ook vir óns dring tot intieme gemeenskap met die Vader. Luister hoe die apostel dit in Rm 8:15-16 stel: "... julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: 'Abba!' Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is." En in Gl 4:6: "... omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader!"
J.I. Packer skryf: "The revelation to the believer that God is his Father is in a sense the climax of the Bible ..." [2] As die Here ons daarom leer om God in gebed as "Vader" (Aramees, Abba) aan te spreek (Lk 11:2), mag ons dit nie ligtelik opneem nie.
Waar dit dus regtig die Heilige Gees is wat werk - in die individu, sowel as in die gemeente - sal daar altyd 'n diep bewussyn wees van God se vaderskap, sowel as van die voorregte en verantwoordelikhede van kindskap. Dis die Heilige Gees wat hierdie innige verwondering oor God se Vaderliefde in ons bewerkstellig. Deur die Woord leer Hy ons 'n aantal onomstootlike feite:

# Toe ek aangeneem is, het die Vader reeds 'n Seun gehad, waardiger as die engele (Hb 1:4). Ek het 'n Vader nodig gehad; maar Hy beslis nie 'n kind nie. Genade is onverdiend!

# In die antieke wêreld was aanneming nie 'n vreemde verskynsel nie. Wat wel waar is, is dat mense nie normaalweg babas aangeneem het nie, maar jongmense - wat reeds deur hulle begaafdheid en prestasies getoon het dat hulle die familienaam en -fortuin waardig gaan wees. Daarenteen, toe ék aangeneem is, was ek verwerplik - in die diepste en wydste sin van die woord (Ef 2:1-3). Nog meer, God het presies geweet van my kleivoete wat ná my aanneming sou lei tot mislukkings sonder tal in die uitlewing van my verhewe roeping as Sy kind. En nóg meer: ek was nie net vuil toe ek aangeneem is nie, ek was vyandiggesind! Waarlik, dit verg merkwaardige liefde om 'n vyand te vergewe en vry te laat, maar om hom as eie kind en erfgenaam aan te neem, is iets ongehoords!

# Die Gees herinner my weer en weer aan die koste waarteen alles geskied het. Die aannemingskontrak is met die bloed van die Seun geteken. En soos ek onder leiding van die Gees in heiligmaking groei, raak ek al hoe pynliker bewus van my onwaardigheid en oorblywende sonde - met die gevolg dat ek 'n steeds dieperwordende waardering vir die Vader se genade ontwikkel.

# Die Gees maak my oë oop vir die omvang van God se Vaderliefde. Hy het nie net een of twee kinders aangeneem nie, maar miljoene - uit elke geslag en elke volk. Juis die diep bewussyn van my eie onwaardigheid om deel van God se huisgesin te wees, maak my hart oop vir elkeen wat ook deur Hom aangeneem is - ongeag sy of haar herkoms.

Lewensveranderende effekte
Die ingrafering van bogemelde waarhede in mense se harte, het permanente effekte op hulle lewens.

# Dit bring wonderlike dankbaarheid en blydskap in die Here. Anders as wat baie meen, gaan intense emosies met hierdie waarhede gepaard. Maar dis nie emosies sonder meer nie; dis veranker in die waarheid. Dis emosies met inhoud!

# Dit bring 'n diep nederigheid voor die Vader. Paulus se woorde in 1Kor 4:7 is 'n deurleefde werklikheid: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?"

# Dit bring 'n vaste geloofsekerheid en 'n heerlike vrymoedigheid voor die Vader. Dis gewortel in die talle Skrifbeloftes aan die uitverkorenes - verse soos Lk 12:32: "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee."

# Dit bring 'n innerlike krag, 'n vestiging van oortuigings, 'n lewenstabiliteit en 'n koersvastheid wat kosbaarder as al die goud in die wêreld is. Mense in wie se harte hierdie waarhede leef, verstaan die wêreld om hulle en kan een en elkeen vierkantig in die oë kyk. Hulle weet wat hulle glo, hulle is veranker, hulle is eikebome. Hulle is nie liggewigte wat sommer omgestoot word nie. Hulle word nie deur elke golf van lering rondgespoel nie. Hulle maak uitstekende martelare - eintlik nét hulle!

# Dit bring 'n besondere gespierdheid in die stryd teen sonde. 1Korintiërs 6:17-20 is 'n toenemende realiteit: "Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom... Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik."

# Dit bied kosbare troos tydens beproewinge. Mens weet dat die Vader wat jou aangeneem het, jou nie sal laat los nie. Rm 8:28, Hb 12:4-12; 13:5b en talle ander Skrifgedeeltes stut jou steeds onwankelbaar, lank nadat alle menslike hulpmiddels daarmee heen is. 1 Kor 10:13 staan per slot van rekening swart op wit geskryf: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan."

# Dit bring ywer, koersvastheid, vasberadenheid en volharding in dienswerk mee. 1 Korintiërs 15:58 word 'n werklikheid: "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

# Les bes bewerkstellig dit 'n waardigheid, 'n nugterheid, 'n volwassenheid, 'n betroubaarheid en 'n stabiliteit wat respek in die samelewing afdwing - en sodoende die Vader se naam verheerlik, asook Christus se evangelie versier en agting vir Sy gemeente vestig.

1. Michael Green, I believe in the Holy Spirit, Eerdmans, 1975, p.54. Hy haal aan uit Joachim Jeremias, The Central Message of the New Testament.

2. J.I. Packer, Knowing God, Hodder and Stoughton, 1977, p.225.

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment