Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.170 - MT 3:11 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [1 van 8] - Hy sal julle oorspoel met die Gees

DIE OU TESTAMENT IS VOL BELOFTES VAN 'N KOMENDE MESSIAS. OP HOM SAL DIE GEES IN MATELOSE VOLHEID RUS (Jes 11:2; 42:1; 61:1. Vgl. ook Lk 4:18-21; Jh 3:34). En aan die hart van Sy werk sal wees dat Hy die Gees in oorvloed op Sy diensknegte uitgiet (Jes 29:17-24 en 32:15-20; 44:1-5; Eseg 36:24-28; 37:1-14; Joël 2:28-32).
Dit lê voor die hand dat die verbondsvolk met opgewonde afwagting uitgesien het na die vervulling van hierdie beloftes. En dit vind dan inderdaad plaas op die Pinksterdag. Petrus sê dan ook uitdruklik dat dit vervulling van die beloftes is (Hd 2:16-21; 33-36; 39). Dis die finale deurbraak van die koninkryk van die hemele. Die verheerlikte Seun het "die belofte" as beloning van die Vader ontvang en Hom op Sy Nuwe Testamentiese gemeente uitgestort. Die groot gawe van die laaste dae het gekom!

Johannes die Doper

As wegbereider vir die Messias is Johannes die uitstaande oorgangsfiguur tussen Ou en Nuwe Testament. Gevolglik is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese betekenis.
Sy verkondiging het volledig te doen met die komende Koning en Sy regering. As mens die vier evangelies se weergawes daarvan vergelyk (Mt 3:1-12; Mk 1:1-8; Lk 3:2-20; Jh 1:19-34), sien jy dat één tema deurgaans herhaal word - en dat dit die fokuspunt van sy boodskap is.
Dit kan só opgesom word: Bekeer julle, want die Koning se koms is op hande! Waarom? Hy gaan die Godsvolk deeglik kom suiwer! Die dubbelslagtigheid van ou Israel sal iets van die verlede wees. Die vermenging van heiliges en onheiliges sal nie langer geduld word nie. God se boord sal van nou af net bome hê wat vrug dra. In Sy skure sal geen kaf meer wees nie, net koring.
Hoe gaan die Koning hierdie skeiding te weeg bring? Hy gaan op twee maniere werk. Negatief gaan Hy diegene oordeel wat weier om voor Sy Messiaanse regering te buig, deur hulle te doop met vuur - die vuur wat die uitgekapte bome en die kaf verbrand! Positief gaan Hy die wáre Godsvolk vér uitlig bo dit wat tipies in die Ou Testament ervaar is - deur hulle te doop met die Heilige Gees!
Die negatiewe aspek van Christus se werk kom in die besonder tot uitdrukking in die vernietiging van Jerusalem, sy tempel en die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens. Uiters belangrik soos dit is, gee ons nie verdere aandag daaraan nie, maar konsentreer op die positiewe.

Enkele opmerkings

# Sekerlik is dit hoogs betekenisvol dat Johannes die positiewe aspek van Christus se werk só saamvat: Hy gaan doop met die Heilige Gees. Soos klokslag - in al vier evangelies - neutedop hy die heerlike Messiaanse werk in die godsvolk van die Nuwe Verbond met hierdie uitdrukking. Dit lê aan die hart van die Messiaanse heilsregering!

# "Doop" is 'n oorvloedsbegrip. Dit dui op onderdompeling in, of oorspoeling met iets - in hierdie geval met die Heilige Gees. Om met die Gees gedoop te word, is dus om met die Gees oorspoel te word.

# Die Griekse uitdrukking, "doop met die Heilige Gees", kom sewe keer in die Nuwe Testament voor.
Die Doper gebruik dit in elkeen van die vier evangelies as aan die hart van wat die Messias kom doen (Mt 3:11; Mk 1:8; Lk 3:16; Jh 1:33).
Die Here Jesus haal die Doper een keer aan, net voor Sy hemelvaart: "Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Hd 1:5).
Petrus haal die Here aan as hy in Jerusalem verduidelik waarom hy Kornelius-hulle gedoop het: "Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word" (Hd 11:16).
Dan sê 1Kor 12:13 dat die doop met die Gees Christus se liggaam in sy eenheid tot stand bring.

# In 'n primêre sin, soos reeds gesê, het die doop met die Gees op die Pinksterdag plaasgevind. Maar die uitkringende effekte van Pinkster raak gelowiges daarná ook ingrypend. Tot vandag toe beleef ons immers die oorvloed van God se heil in Christus - gewerk deur die Gees.

Die doop met die Heilige Gees is Christus se oorvloedige skenking van Sy Gees aan die gemeente van die Nuwe Verbond, sodat Hy (die Gees) die heerlike en omvattende redding wat reeds deur hulle Middelaar vir hulle verdien is, volledig in hulle kan uitwerk.

'n Aantal gevolgtrekkings

# Waar Christus in volheid regeer, sal die Heilige Gees altyd in oorvloed werk. Hy sal onmiskenbaar wederbarend, verligtend, versekerend, heiligmakend en toerustend werk. Dit is die belangrikste elemente van die Gees se werk volgens die Skrif.
Die Here Jesus kan hierdie oorvloed van die Gees se werk beswaarlik treffender uitdruk as in Jh 7: 37-39, as Hy belowe dat strome lewende water uit elkeen wat glo se binneste sal vloei.

# Niks wat ons van God ontvang, kom anders as op grond van Christus se versoeningswerk nie. Maar - ewe waar - niks wat ons kry, word anders as deur die Heilige Gees in ons lewens verwerklik nie. Hierdie twee waarhede lê onlosmaaklik aan die hart van egte Christelike belewing. Eers gee God Sy Seun; dan gee Hy Sy Heilige Gees.

# Die belofte van die Heilige Gees is deel van die evangelie - die goeie nuus - wat ons aan 'n gevalle wêreld moet verkondig. Op die Pinksterdag belowe Petrus die Gees aan almal wat hulle bekeer en laat doop (Hd 2:38-39). Die Nuwe Testament is duidelik dat elke gelowige in beginsel erfgenaam is van die oorspoeling met die Gees.

# Laat ons duidelik verstaan: geen enkele werking van die Gees in 'n gelowige is die doop met die Gees nie. Ons praat immers van die oorvloed en volle omvang van die Gees se werk in die Nuwe Verbond. Daarom is élke egte werk van die Gees in 'n Christen inderdaad uitdrukking van die doop met die Gees - maar dis net één manifestasie daarvan.

# Dit beteken nie dat gelowiges nie besondere deurbrake en werkinge van die Gees - met ingrypende gevolge - in die loop van hulle Christelike lewens kan en selfs behoort te ervaar nie. Die Skrif leer dit inderdaad. En die geskiedenis (veral dié van herlewings) bevestig dit oor en oor.
Die mense wat in Hd 4:31 so dramaties met die Gees vervul is, was reeds gevestigde gelowiges in Jerusalem. Waarskynlik het van hulle die gebeure op Pinkster beleef - wat beteken dat hulle vantevore al sulke ervaringe gehad het.

# Dit beteken ook nie dat alle gelowiges tot dieselfde mate vol van die Gees is nie. Geesvervuldheid was immers 'n kwalifikasie vir die apostels se eerste helpers in Jerusalem (Hd 6:3, 5). Duidelik was nie almal ewe Geesvervuld nie.

# Dit beteken ook nie dat 'n bepaalde gelowige altyd tot dieselfde mate vol van die Gees is nie.
Die apostels is spesiaal deur die Gees in krisissituasies bekragtig. In Hd 4:8 en 13:9 dui die passiewe verlede deelwoorde op spesifieke Geesvervullings ter wille van elke situasie se eise.
Omdat die volheid van die Gees nie sonder meer 'n blywende gegewe is nie, beveel Ef 5:18: "... word (Grieks: voortdurend) met die Gees vervul".

# Dit beteken ook nie dat ons nie om die volheid van die Gees hoef te bid nie. Met handoplegging is daarvoor vir gelowiges gebid: na bekering en die doop (Hd 9:17; 19:6), asook met die oog op dienswerk (1Tm 4:13-14; 5:22; 2Tm 1:6-7). Die Here Jesus beveel ons uitdruklik om steeds om die volheid van die Gees te bid (Lk 11:5-13).

# Skewe beskouinge oor die doop met die Gees is 'n ernstige verskraling van Sy werk en doen Hom oneer aan. Ook ontneem dit Christus, die Doper met die Gees, van die eer wat Hom toekom.
En uiteraard dra dit ellendige pastorale vrug.

* In sommige kringe word die doop met die Gees beperk tot 'n enkele na-bekeringservaring.
Christene raak dan enkelvoudig ingestel op 'n spesifieke ervaring. Die Christelike lewe is nie sonder sy belewinge nie, maar dis uiters ongesond om op ervaringe te konsentreer. Ontnugtering en misleiding lê en wag om elke draai. Hierbenewens veroorsaak hierdie lering 'n onbybelse en pastoraal skadelike twee-deling onder Christene. Die gevolg is selfbedrog en hoogmoed in sommige have's, en gevoelens van minderwaardigheid in die have-nots. 1Kor 12 leer presies die teendeel!
Nee, roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding, dienswerk en vrug - alles wat die Christelike lewe uitlig bo die vlakke van tipiese Ou Testamentiese ervaring - is uitdrukkings van die Gees se oorvloedige werkinge.

* In ander kringe word die doop met die Gees eweneens beperk - tot die wedergeboorte.
Ja, die wedergeboorte is die deur tot 'n lewe van oorvloedige Geesteswerkinge. Maar om op die drumpel vas te steek en dan selfvoldaan verder te lewe asof daar niks méér is nie, is 'n tragiese verskraling, en ontneem die Here en Sy Gees van die eer wat hulle toekom. Dit bring mee dat gelowiges maklik van die Heilige Gees vergeet en in selftevrede gearriveerdheid verstar. Hulle is mos klaar wedergebore! So word die kerk gestroop van voortdurende geloofsafwagting en die soeke na meerdere en kragtiger werkinge van die Gees.

'n Dringende oproep - en 'n uitdaging

Die Heidelbergse Kategismus het veel meer verstaan as waarvoor hy vandag krediet kry. Só stel v&a 116 dit: God gee Sy genade en Sy Heilige Gees "alleen aan diegene ... wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank."
Laat ons die woorde van een van die grootste en mees godvrugtige van twintigste eeuse teoloë, John Murray, nooit vergeet nie: "As Pinkster nie herhaal word nie, is dit ewemin teruggetrek ... ons leef in die era van die Heilige Gees."
En 'n gerespekteerde Amerikaanse prediker, Walter Chantry, skryf: "'n Groot deel van jou gebedslewe behoort te bestaan uit afbidding van 'n steeds kragtiger werk van die Gees in jou lewe."
Hier is die oproep: laat daar van nou af nie 'n dag verbygaan sonder 'n ernstige gebedsversugting om die volheid van die Gees nie. Hier is die uitdaging: as jy die moed het, hou jou hieraan en kyk wat gebeur in jou lewe in die tye wat voorlê.
O Here, U volheid, U volheid, U volheid ...!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment