Tuesday, July 26, 2011

E-PREEK No.81 - HB 10:19-22 - LAAT ONS TOT GOD NADER

TERWYL DIE HEBREËRSKRYWER REEDS ETLIKE KERE KORTLIKS NA DIE PRAKTIESE IMPLIKASIES VAN SY LERING VERWYS HET (BV. 4:14-16), BEGIN HY VANAF 10:19 MET SY VOLWAARDIGE TOEPASSING.
Voordat hy in v.22 met direkte opdragte begin, herbevestig hy in v.19-21 net eers sy basis deur die voorafgaande lering kernagtig saam te vat. Hierheen het sy hele betoog gevoer! Hieroor gaan dit uiteindelik! Dis die spits, die hoogtepunt, die klimaks, die heel heerlikste van ons roeping. Ja, ons moet sendingwerk doen; en liefdesdiens. Ja, ja, 'n duisend dinge! Maar niks, niks, niks is belangriker as dankbare, aanbiddende liefdesgemeenskap met die Drie-enige nie. Dis die hart van Christen-wees.
Dit gaan nie net in die Hebreërboek hieroor nie. Die hele Bybel is vol hiervan. Kom ons kyk daarna.

Die Ou Testamentiese agtergrond

# Die Eerste Gebod gaan oor die Wie van ons aanbidding: ons moet die regte God aanbid! Maar dis nie al nie. Ons moet Hom ook op die regte manier aanbid. En daaroor handel die Tweede Gebod: oor die hoe van ons aanbidding.
God is Gees en wil in gees aanbid word - vanuit die innerlike mens, in opregtheid en in geloof [1].
Die Tweede Gebod (Eks 20:4-6; Deut 5:8-10) verbied die gebruik van allerlei hulpmiddels wat die noodsaak van aanbidding in gees en geloof onnodig maak. Dit verbied die inskuif van sintuiglik-waarneembare dinge tussen mens en God; dinge wat 'n direkte - noem dit maar, oop verhouding - met Hom verdring; dinge waarmee die mens in sy tyd-ruimtelike gebondenheid makliker mee kan identifiseer - dinge waarmee die natuurlike mens homself mee kan bluf dat hy die ware God aanbid.
En as die Tweede Gebod dit negatief stel, stel die Here Jesus presies dieselfde beginsel positief in Jh 4:21-24: "God is Gees; en die wat Hom aanbid moet in gees en waarheid aanbid" (v.24, OAV).

# Die vraag ontstaan nou onvermydelik waarom die Here dan soveel uiterlike seremonies tydens die Ou Verbond ingestel het?
God se volk was destyds soos kinders, en Hy het hulle as sodanig gehanteer. 'n Kind funksioneer grootliks op sy sintuie, eerder as volgens rasionele en logiese denke (daarom spreek prentjies so tot hom). Ou Testamentiese seremonies was soos prentjies. Dit het die essensiële waarhede oor God en Sy verlossingsplan aan hulle gekommunikeer.
Paulus verduidelik dit in Galasiërs.
Die seremoniële wette was soos 'n kinderoppasser wat tot en met die koms van Christus vir Israel moes bewaar van heidens-godsdienstige idees en praktyke (3:23-25).
Waarom het God hulle nie al destyds volwasse gemaak nie? Waarom moes daar so lank gewag word? Was die saligheid dan nie van die begin af deur die geloof nie? Inderdaad! Dis dan hoe Abraham gered is (3:6). Toe die seremoniële Wet 430 jaar later gegee is (3:17), het God nie bedoel dat die saligheid van toe af op 'n ander manier verkry moes word nie (3:21-22). Hierdie Wet is egter vanwee die sonde, die gebrokenheid en onvermoë van die mens gegee (3:19). As sodanig moes dit 'n hulpmiddel vir hulle geloof wees.
Hoe lank moes dit voortduur? Tot en met die koms van Christus, in die volheid van die tyd. Want dis aan Hóm, as die Saad van Abraham, wat die belofte van die nasies as erfdeel gegee is (3:16).
Toe Christus se versoeningswerk afgehandel is, kon die Heilige Gees gestuur word (Hd 2:33). En dis Hý wat die Godsvolk bo die vlak van kinders uitlig - wat hulle mondig maak, sodat hulle nie meer prentjies nodig het nie. Presies dit is Paulus se punt in Gl 4:1-7: Gelowiges is sedert die vervulling van die beloftes volwasse en het gevolglik nie meer die oppasser (die seremoniële wette) nodig nie.
En dis hiérdie werk van die Gees wat gelowiges nou toerus om God in gees te aanbid, dus vanuit 'n opregte hart en in geloof.

# God het van die begin af geen behae in seremonies, sondermeer, gehad nie. Reeds in die Ou Testament sê Hy dit meer as een keer (Jes 1: 11, 14; Amos 5:21).
Nodig soos dit inderdaad is, put die argitek van 'n pragtige gebou geen vreugde uit die steierwerk tydens konstruksie nie. Hy wag ongeduldig vir die dag as dit finaal gesloop gaan word en sy pragstuk in al sy glorie sal pryk. Net so het God geen finale behae gehad in die steierwerk van Ou Testamentiese seremonies nie.
Lees byvoorbeeld Jer 3:14-19. Die Verbondsark was die hart van die Seremoniële Wet - die simbool van God se heerlike teenwoordigheid onder Sy volk. Maar hier lees ons van God se verlange (v.19) na die dag dat Sy volk nie langer met simbole, selfs die heiligste van simbole, méér behep sal wees as met Hom nie. Nee, Hy wil Sy volk as "seun" hê, en hulle oorspoel met die lieflikste van erfenisse. En bowenal, Hy wil "Vader" genoem word deur mense wat deur absoluut niks van Hom af weggelok kan word nie (vgl. Gal 4:6-7!). Insiggewend, voorwaar!

Die aller Nuwe Testamentiese voorreg

# Die Hebreërskrywer het presies verstaan waarom dit gaan. Reeds in 4:14-16 skets hy die kroon van Nuwe Testamentiese voorregte. Dis waarheen God van die begin af met Sy volk oppad is! En uiteindelik het die dag nou aangebreek!
Wat het die deurbraak bewerkstellig? Wie het dit moontlik gemaak? Ons het 'n groot Hoëpriester wat deur die hemele deurgegaan het! Dis Hý wat die pad vir ons oopgemaak het om met vrymoedigheid voor die genadetroon te verskyn! Dis Hy! Dis Hy!

# Vanaf Hb 5:1 word die idee van hierdie volmaakte Hoëpriesterskap dan uitgewerk. Algaande beskryf die skrywer die ontwikkelingsgang van God se plan om deur die middelaarswerk van Christus vir Homself ware aanbidders daar te stel.

# Uiteindelik bring dit ons by hoofstuk 10.
Christus het goed verstaan waarom Hy na die wêreld toe moes kom. Die Ou Testamentiese offerdiens was alles uiterlik en voorlopig - en nie naastenby wat die Vader regtig wou hê nie. Nee, Hy wou Sy Seun se liggaam as offer hê! (10:5-10).
Hierdie offer was die eens en vir altyd afgehandelde fondament vir die vervolmaking van God se plan. Nou sou God se innerlike herskeppingswerk in Sy gunsgenote 'n werklikheid kon word - dit waaroor Jer 31 profeteer (10:12-18).

# Die onmiddellik daaropvolgende verse is nou glashelder: "Terwyl ons dan ... vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het, deur die voorhangsel heen, dit is Sy vlees, en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree ..." (10:19-22, OAV).

# Die ryk betekenis van die skeur van die voorhangsel (10:20) tydens die kruisiging (Mt 27:50-53; Mk 15:37-38), is ook nou glashelder.
Hierdie eeue-oue simbool van die mens se uitsluiting uit die allerheiligste, skeur aan flarde as die heel laaste Offer sterf - omdat die volmaakte en finale Hoëpriester dwarsdeur dit loop! Nooit, tot in ewigheid sal dit weer opgehang word nie. Seremoniële aanbidding - uiterlike en tydelik - is finaal iets van die verlede!
Meer nog. Dit skeur van bo na onder (Mt 27:51; Mk 15:38). Dis die Váder - jubelend en triomfantelik - wat dit skeur! Niks kan meer die opstanding en die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees verhoed nie. Na eeue kan God se kinders nou mondig word. Binne weke sal hulle Hom in gees en waarheid aanbid - soos nooit vantevore nie!

# Die grootsheid van hierdie saak kan nie oorbeklemtoon word nie!
Duidelik soos daglig is dit waarom bloot uiterlike godsdiens en seremonies sedert Golgota so afstootlik vir God is. Vormgodsdiens minag die Vader se ewige begeerte en plan, dit misken die afgehandelde werk van Christus, dit beledig die Heilige Gees, dit vertrap ons onbeskryflik heerlike erfenis in Christus.
Kan kerse en togas en kruise en wierook God behaag? Of 'n bloot meganiese, onnadenkende liturgie (al is dit teologies hóé suiwer)? Of simplistiese en sentimentele koortjies wat oor en oor gesing word ter wille van atmosfeer en belewing?

# Kan jy sien watter vreugde dit vir die Vader is as Sy kinders in hulle binnekamers, en veral ook in die gemeente, Hom in gees en waarheid aanbid - begripvol en opreg in die vryheid en volheid van hulle Nuwe Testamentiese erfenis? Sien jy waarom sulke aanbidding een van die tien pilare van die ware godsdiens is - en waarom die nalating daarvan so 'n vernietigende effek op die kerk het?

Hebreërs 10:22 nader bekyk

# "Laat ons tot God nader." Die Grieks beklemtoon die herhaalde en gebruiklike doen hiervan.
Wat beteken dit om tot God te nader? Volgens v.19 beteken dit "om in die heiligdom in te gaan". Dit is waar God is, waar Hy in Sy heiligheid woon. Meer spesifiek is dit om "na die troon van genade" te gaan (4:14-16). Dís waar die Vader Sy onverdiende guns aan Sy kinders uitdeel.
Dit gaan hier oor innige gebed, oor aanbidding.
En dit berus op Jesus Christus se volmaakte Hoëpriesterskap. Daarom is die pad oop - "die nuwe en lewende weg". Nie meer kan net die Levitiese hoëpriester eenmaal per jaar ingaan nie, maar elkeen in Christus - enige tyd enige dag, weer en weer, met die allergrootste vrymoedigheid!

# Hoe moet ons tot God nader?

* Die ware aanbidder het 'n opregte hart. Hy of sy is eerlik en sonder huigelagtigheid, skyn of selfbedrog.

* Die ware aanbidder nader die troon in volle geloofsekerheid - met 'n onwankelbare vertroue in die volkomenheid van Christus se middelaarswerk.

* Die ware aanbidder het nie meer 'n skuldige gewete nie. Hy het sy sondevergiffenis in die geloof omhels. Hy verstaan die gronde daarvoor.

* Die ware aanbidder se liggaam is gewas met skoon water. Feitlik vir seker gaan dit hier oor die waterdoop. Hy weet dus nie net dat hy vergewe is nie, hy het dit ook gehoorsaam, openlik, formeel en publiek bely volgens die Here se voorskrif.

Ware gebed en aanbidding is om nederig en afhanklik en afwagtend, in vrymoedige geloof, met my lof, dankbaarheid, behoeftes en voorbidding na my hemelse Vader in Sy heiligdom te gaan - in die wete dat ek met die Middelaar van die genadeverbond verenig is, en dat Sý verdienste die enigste, maar genoegsame grond vir hierdie voorreg is.

Ek het netnou verwys na die prioriteit van sendingwerk. Maar wat is die doel van sending? Om mense van die hel te red? Natuurlik! Maar die uiteindelike rede is veel groter. Dit gaan oor liefdesaanbidders in elke volksgroep op aarde!

[1] In Jh 4:21-24 bedoel Jesus nie in die eerste instansie met "aanbidding in gees" (OAV; NIV; ESV) aanbidding "deur die (Heilige) Gees" (NAV) nie, maar opregte hartsaanbidding.
Nico van der Walt

Saturday, July 23, 2011

E-PREEK No.90 - 1KOR 2:2 - ONS VERKONDIG CHRISTUS

'n Onaanvaarbare boodskap

Die vroeë Christene se keuse van die kruis as dié simbool van hulle geloof is eintlik verstommend as mens in gedagte hou met watter afsku kruisiging in die antieke wêreld bejeen is.
Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers gekruisig. En wat heidene betref, het hulle dit beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
Die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Hulle het dus geglo dat die vloek van Dt 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek." Volgens die wêreld van die eerste eeue het die Christene dus 'n dooie man, 'n veroordeelde misdadiger en 'n deur God vervloekte aanbid. En hierdie kombinasie van dood, misdaad en skande het Jesus algeheel onaanvaarbaar gemaak ‒ as persoon, maar 'n duisend maal meer as voorwerp van aanbidding. Wat 'n struikelblok vir die verspreiding van die evangelie!

'n Onaanvaarbare metode

Korinte was 'n Griekse stad, en as sodanig het die Korintiërs 'n hoë premie geplaas op intelligente debatsvoering, waterdigte logika en spoggerige welsprekendheid. Die kuns van die retoriek, was dus vir hulle tot 'n groot mate die een en die al.
Mens kan jou oë dus beswaarlik glo as jy lees dat Paulus besluit het om nie met hoë woorde, groot geleerdheid of welsprekendheid in Korinte te preek nie (1, 4). Strategies lyk dit na 'n dwase voorneme.
Maar vir seker het die apostel goeie redes gehad vir sy voorneme. Hier is dus iets om te ondersoek!

Paulus se voorneme

Waarom wil Paulus nie sy uitsonderlike geleerdheid en sprekersbegaafdheid vertoon nie? Besef hy nie dat hy nooit die Korintiërs sal oorreed, tensy hy hulle op hul eie werf en op hul eie manier ore aansit nie? Sekerlik moet hy tog weet dat hy nie 'n kans staan nie, tensy hy hulle filosofieë as dwaasheid ontbloot. As hy hulle wil beïndruk, sal hy vir seker op al sy retoriese silinders moet vuur.
As dit nou 'n geval was van nie beter kán nie, kan mens nog verstaan. Maar, wat sy vermoëns betref, kan die briljante Paulus met die slimste Griekse filosowe saampraat. En hy is allermins 'n stamelaar. In Listra het hy só goed gepraat dat die mense hom "Hermes" genoem het - die Griekse god van kommunikasie (Hd 14:12).
Tog het hy hom voorgeneem (die woord praat van 'n besliste wilsbesluit) dat hy slegs die boodskap van die Gekruisigde aan hulle sou verkondig. Op die Grieke se lawaaiwa sou hy vir seker nie klim nie!

Paulus se redes

Ons kan aanvaar dat Paulus minstens 5 redes het vir sy voorneme - almal uiters aktueel vir ons dag.

1. Paulus weet sy mandaat is begrens: hy moet die evangelie van God se genade in Jesus Christus verkondig - niks meer nie (1Kor 1:17).
Allermins wil die apostel enige aandag op homself vestig. Hy - en sekerlik ook die ander apostels - het net één hartstog: om Christus te verheerlik! By sy luisteraars soek hy net een respons: "Wat 'n Verlosser!"; en nooit nie: "Wat 'n prediker!"

2. As daar een ding is wat die apostel vrees, is dit om die Heilige Gees te beledig en uit te blus.
Paulus weet dat net die Heilige Gees die Korintiërs tot geloof kan bring (4b; 5b). Maar hy weet ook dat die Gees gekom het om Christus te verheerlik (Jh 16:14-15); nie om redenaarspeletjies te speel nie.

3. Paulus ken sy taak: hy moet alle mense oproep om hulle te bekeer en hulle knieë voor die ware God en Sy Christus te buig (Hd 17:30).
Terwyl die evangelie die goeie nuus is dat God sondaars in Christus red, is dit meteen 'n ernstige bevel van God aan sondaars om hulle te bekeer.
Die evangelie is nie iets wat gedebatteer en uit die hoogte oorweeg moet word nie. Dis 'n bevel om te gehoorsaam. God is nie verleë oor ons nie. Hy onderhandel nie. Hy maak nie kompromieë nie. Die evangelie is nie net nóg 'n religieuse alternatief nie.

4. Allermins wil Paulus mense mislei om Jesus vanuit valse motiewe aan te neem.
Hy weet dat nie elke bekering eg is nie. Hy begryp dat die saad van die evangelie dikwels op klippe of tussen dorings val. En hy ken die Godonterende gevolge wanneer dit gebeur. Dus vermy hy manipulasie en prediking wat bloot staat maak op welsprekendheid sonder 'n deeglike uiteensetting van die evangelie. Bekering moet die vrug wees van evangeliewaarheid en -krag; nie van emosionele oorreding en drupperige sentimentaliteit nie.

5. Paulus wil seker maak dat een en elkeen van sy luisteraars goed sal begryp dat daar maar één Middelaar tussen God en mense is.
Prediking wat nie konsekwent Christosentries is nie, kan baie maklik die indruk skep dat bloot godsdienstige aktiwiteit, vroomheid en entoesiasme tot redding lei.
Nee! Ware dissipelskap en vroom godsdienstigheid is nie dieselfde ding nie. Egte Christenskap is ten diepste nie net 'n manier van lewe nie. Dis om deur 'n ware en lewende geloof met Christus verenig te wees. En hoewel reddende geloof altyd wys, is die eerste merkteken daarvan 'n algehele afhanklikheid wat soos 'n drenkeling aan Christus hang. Kom ons sê dit les bes só: die ware Christen word nie in die eerste instansie aan sy moraliteit geken nie, maar aan sy allesoorheersende wete dat hy nooit voor die lewende God sonder 'n volmaakte Middelaar kan staan nie.
Nooit mag ons net aanvaar dat genade alleen, Christus alleen en geloof alleen op kerkmense se harte gegrafeer is nie. Dit moet weer en weer verkondig word. Die mens dink van nature altyd maar weer in terme van vergoeding vir verdienste. Reddende geloof is die presiese teenoorgestelde van godsdienstigheid, churchianity en moralisme. Onthou altyd die vrome Kornelius - wat eers gered word as hy die ware evangelie verstaan en omhels. Voorheen was hy steeds verlore - ten spyte van al sy godsdiens, aalmoese, godvresendheid en gebede (Hd 10:2; 11:14)!
Paulus wil seker maak dat niemand hom mis verstaan nie. Hy is die draer van 'n enkele boodskap: Christus die gekruisigde - en niks of niemand anders nie! Daar is maar één Verlosser, één verlossing, één evangelie!

Enkele kwalifiserende opmerkings

1. Die apostel laat nie sy hoorders se kulturele voor- en afkeure buite rekening nie.
In Handelinge is dit duidelik dat hy Jode en heidene heeltemal verskillend benader. Hy skryf trouens uitdruklik dat hy - ten einde so veel as moontlik te wen - vir die Jode soos 'n Jood word, en vir die heidene soos 'n heiden (1Kor 9:19-23).
Waarop hy egter in ons teks sinspeel, is dat hy nooit enige kompromie aangaan wat sy hoofroeping betref nie, naamlik om die gekruisigde Christus te preek. Ja, hy doen wat hy kan om struikelblokke uit sy luisteraars se pad te rol, maar nooit sal hy toelaat dat mense se kulturele grille en giere sy arm draai om sy boodskap af te water nie.

2. Paulus bepleit nie 'n simplistiese boodskap nie.
Om Christus as die gekruisigde te preek, behels meer as om oor en oor te sê: Christus is gekruisig! Ons kan aanvaar dat Paulus in Korinte die hele raad van God verkondig het (hy was lank daar), maar wel só dat die kruis altyd sentraal was. Hy sou dus nooit toegelaat het dat óf hy óf sy hoorders buite sig van Golgota en die leë graf beweeg nie.
Dus, wat ons ook al preek, dit mag nooit los van die kruis sommer enige rigting inslaan nie. Ons verkondiging moet steeds evangelies, kruis-veranker en Christus-gesentreerd bly - ongeag of ons met Ou of Nuwe Testament besig is, met indikatief of imperatief, met etiek, ekklesiologie of eskatologie.

3. Allermins wil Paulus vir ons sê dat die hóé van ons verkondiging onbelangrik is, solank ons maar net Christusgesentreerd is.
Elkeen oor wie se lippe rooiwarm woorde vanuit 'n brandende hart stroom, sal met vuur en oortuiging preek. Nog meer, ons moet só kommunikeer dat dit ons hoorders se denke en harte binnedring. Maar slimmighede en snaaksighede en gladde vertonerigheid is iets heel anders. Nee, ons aanbieding moet steeds in volle harmonie met die gewigtigheid van ons boodskap wees.

Ten slotte

# Die eerste vraag wat in ons dienswerk vir die Here gevra moet word - veral in ons prediking - gaan nie oor metodes, programme of strukture nie, maar oor die boodskap. En die boodskap is 'n Persoon - Jesus Christus, die gekruisigde.

# 'n Christus- en kruisgesentreerde bediening kan staat maak op God se beloftes. Om by sy voorneme te bly, was geensins vir Paulus maklik nie: hy het in "swakheid, en met groot angs en huiwering" in Korinte gepreek (3). Sekerlik het sy aanslag hom verspot laat lyk en voel. Ons weet dat hy, toe hy in Korinte begin werk het, gereed was om handdoek in te gooi. Een nag het die Here egter in 'n gesig vir Hom gesê: "moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie ... in hierdie stad behoort baie mense aan My." Die apostel het gevolglik 'n jaar en ses maande daar gebly en uiteindelik 'n wonderlike oes ingesamel (Hd 18:9-11).

# Ons moet onthou: ons swakhede, vrese en lomphede diskwalifiseer ons nie vir die Here se werk nie. As ek die einde van my vermoëns bereik, is dit dikwels die oomblik van God se heerlikste ingryping. Solank ek mense nog probeer beïndruk met mý persoonlikheid, geleerdheid en gawes, sal hulle die gekruisigde Redder beswaarlik kan sien.
Later sou Paulus hierdie sprekende woorde aan die Korintiërs skryf: "Drie maal het ek die Here gebid dat dit (sy doring in die vlees) van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk" (2Kor 12:8-10).
Laat ons Paulus ten alle koste navolg!
Nico van der Walt

Wednesday, July 13, 2011

E-PREEK No.170 - MT 3:11 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [1 van 8] - Hy sal julle oorspoel met die Gees

DIE OU TESTAMENT IS VOL BELOFTES VAN 'N KOMENDE MESSIAS. OP HOM SAL DIE GEES IN MATELOSE VOLHEID RUS (Jes 11:2; 42:1; 61:1. Vgl. ook Lk 4:18-21; Jh 3:34). En aan die hart van Sy werk sal wees dat Hy die Gees in oorvloed op Sy diensknegte uitgiet (Jes 29:17-24 en 32:15-20; 44:1-5; Eseg 36:24-28; 37:1-14; Joël 2:28-32).
Dit lê voor die hand dat die verbondsvolk met opgewonde afwagting uitgesien het na die vervulling van hierdie beloftes. En dit vind dan inderdaad plaas op die Pinksterdag. Petrus sê dan ook uitdruklik dat dit vervulling van die beloftes is (Hd 2:16-21; 33-36; 39). Dis die finale deurbraak van die koninkryk van die hemele. Die verheerlikte Seun het "die belofte" as beloning van die Vader ontvang en Hom op Sy Nuwe Testamentiese gemeente uitgestort. Die groot gawe van die laaste dae het gekom!

Johannes die Doper

As wegbereider vir die Messias is Johannes die uitstaande oorgangsfiguur tussen Ou en Nuwe Testament. Gevolglik is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese betekenis.
Sy verkondiging het volledig te doen met die komende Koning en Sy regering. As mens die vier evangelies se weergawes daarvan vergelyk (Mt 3:1-12; Mk 1:1-8; Lk 3:2-20; Jh 1:19-34), sien jy dat één tema deurgaans herhaal word - en dat dit die fokuspunt van sy boodskap is.
Dit kan só opgesom word: Bekeer julle, want die Koning se koms is op hande! Waarom? Hy gaan die Godsvolk deeglik kom suiwer! Die dubbelslagtigheid van ou Israel sal iets van die verlede wees. Die vermenging van heiliges en onheiliges sal nie langer geduld word nie. God se boord sal van nou af net bome hê wat vrug dra. In Sy skure sal geen kaf meer wees nie, net koring.
Hoe gaan die Koning hierdie skeiding te weeg bring? Hy gaan op twee maniere werk. Negatief gaan Hy diegene oordeel wat weier om voor Sy Messiaanse regering te buig, deur hulle te doop met vuur - die vuur wat die uitgekapte bome en die kaf verbrand! Positief gaan Hy die wáre Godsvolk vér uitlig bo dit wat tipies in die Ou Testament ervaar is - deur hulle te doop met die Heilige Gees!
Die negatiewe aspek van Christus se werk kom in die besonder tot uitdrukking in die vernietiging van Jerusalem, sy tempel en die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens. Uiters belangrik soos dit is, gee ons nie verdere aandag daaraan nie, maar konsentreer op die positiewe.

Enkele opmerkings

# Sekerlik is dit hoogs betekenisvol dat Johannes die positiewe aspek van Christus se werk só saamvat: Hy gaan doop met die Heilige Gees. Soos klokslag - in al vier evangelies - neutedop hy die heerlike Messiaanse werk in die godsvolk van die Nuwe Verbond met hierdie uitdrukking. Dit lê aan die hart van die Messiaanse heilsregering!

# "Doop" is 'n oorvloedsbegrip. Dit dui op onderdompeling in, of oorspoeling met iets - in hierdie geval met die Heilige Gees. Om met die Gees gedoop te word, is dus om met die Gees oorspoel te word.

# Die Griekse uitdrukking, "doop met die Heilige Gees", kom sewe keer in die Nuwe Testament voor.
Die Doper gebruik dit in elkeen van die vier evangelies as aan die hart van wat die Messias kom doen (Mt 3:11; Mk 1:8; Lk 3:16; Jh 1:33).
Die Here Jesus haal die Doper een keer aan, net voor Sy hemelvaart: "Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Hd 1:5).
Petrus haal die Here aan as hy in Jerusalem verduidelik waarom hy Kornelius-hulle gedoop het: "Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word" (Hd 11:16).
Dan sê 1Kor 12:13 dat die doop met die Gees Christus se liggaam in sy eenheid tot stand bring.

# In 'n primêre sin, soos reeds gesê, het die doop met die Gees op die Pinksterdag plaasgevind. Maar die uitkringende effekte van Pinkster raak gelowiges daarná ook ingrypend. Tot vandag toe beleef ons immers die oorvloed van God se heil in Christus - gewerk deur die Gees.

Die doop met die Heilige Gees is Christus se oorvloedige skenking van Sy Gees aan die gemeente van die Nuwe Verbond, sodat Hy (die Gees) die heerlike en omvattende redding wat reeds deur hulle Middelaar vir hulle verdien is, volledig in hulle kan uitwerk.

'n Aantal gevolgtrekkings

# Waar Christus in volheid regeer, sal die Heilige Gees altyd in oorvloed werk. Hy sal onmiskenbaar wederbarend, verligtend, versekerend, heiligmakend en toerustend werk. Dit is die belangrikste elemente van die Gees se werk volgens die Skrif.
Die Here Jesus kan hierdie oorvloed van die Gees se werk beswaarlik treffender uitdruk as in Jh 7: 37-39, as Hy belowe dat strome lewende water uit elkeen wat glo se binneste sal vloei.

# Niks wat ons van God ontvang, kom anders as op grond van Christus se versoeningswerk nie. Maar - ewe waar - niks wat ons kry, word anders as deur die Heilige Gees in ons lewens verwerklik nie. Hierdie twee waarhede lê onlosmaaklik aan die hart van egte Christelike belewing. Eers gee God Sy Seun; dan gee Hy Sy Heilige Gees.

# Die belofte van die Heilige Gees is deel van die evangelie - die goeie nuus - wat ons aan 'n gevalle wêreld moet verkondig. Op die Pinksterdag belowe Petrus die Gees aan almal wat hulle bekeer en laat doop (Hd 2:38-39). Die Nuwe Testament is duidelik dat elke gelowige in beginsel erfgenaam is van die oorspoeling met die Gees.

# Laat ons duidelik verstaan: geen enkele werking van die Gees in 'n gelowige is die doop met die Gees nie. Ons praat immers van die oorvloed en volle omvang van die Gees se werk in die Nuwe Verbond. Daarom is élke egte werk van die Gees in 'n Christen inderdaad uitdrukking van die doop met die Gees - maar dis net één manifestasie daarvan.

# Dit beteken nie dat gelowiges nie besondere deurbrake en werkinge van die Gees - met ingrypende gevolge - in die loop van hulle Christelike lewens kan en selfs behoort te ervaar nie. Die Skrif leer dit inderdaad. En die geskiedenis (veral dié van herlewings) bevestig dit oor en oor.
Die mense wat in Hd 4:31 so dramaties met die Gees vervul is, was reeds gevestigde gelowiges in Jerusalem. Waarskynlik het van hulle die gebeure op Pinkster beleef - wat beteken dat hulle vantevore al sulke ervaringe gehad het.

# Dit beteken ook nie dat alle gelowiges tot dieselfde mate vol van die Gees is nie. Geesvervuldheid was immers 'n kwalifikasie vir die apostels se eerste helpers in Jerusalem (Hd 6:3, 5). Duidelik was nie almal ewe Geesvervuld nie.

# Dit beteken ook nie dat 'n bepaalde gelowige altyd tot dieselfde mate vol van die Gees is nie.
Die apostels is spesiaal deur die Gees in krisissituasies bekragtig. In Hd 4:8 en 13:9 dui die passiewe verlede deelwoorde op spesifieke Geesvervullings ter wille van elke situasie se eise.
Omdat die volheid van die Gees nie sonder meer 'n blywende gegewe is nie, beveel Ef 5:18: "... word (Grieks: voortdurend) met die Gees vervul".

# Dit beteken ook nie dat ons nie om die volheid van die Gees hoef te bid nie. Met handoplegging is daarvoor vir gelowiges gebid: na bekering en die doop (Hd 9:17; 19:6), asook met die oog op dienswerk (1Tm 4:13-14; 5:22; 2Tm 1:6-7). Die Here Jesus beveel ons uitdruklik om steeds om die volheid van die Gees te bid (Lk 11:5-13).

# Skewe beskouinge oor die doop met die Gees is 'n ernstige verskraling van Sy werk en doen Hom oneer aan. Ook ontneem dit Christus, die Doper met die Gees, van die eer wat Hom toekom.
En uiteraard dra dit ellendige pastorale vrug.

* In sommige kringe word die doop met die Gees beperk tot 'n enkele na-bekeringservaring.
Christene raak dan enkelvoudig ingestel op 'n spesifieke ervaring. Die Christelike lewe is nie sonder sy belewinge nie, maar dis uiters ongesond om op ervaringe te konsentreer. Ontnugtering en misleiding lê en wag om elke draai. Hierbenewens veroorsaak hierdie lering 'n onbybelse en pastoraal skadelike twee-deling onder Christene. Die gevolg is selfbedrog en hoogmoed in sommige have's, en gevoelens van minderwaardigheid in die have-nots. 1Kor 12 leer presies die teendeel!
Nee, roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding, dienswerk en vrug - alles wat die Christelike lewe uitlig bo die vlakke van tipiese Ou Testamentiese ervaring - is uitdrukkings van die Gees se oorvloedige werkinge.

* In ander kringe word die doop met die Gees eweneens beperk - tot die wedergeboorte.
Ja, die wedergeboorte is die deur tot 'n lewe van oorvloedige Geesteswerkinge. Maar om op die drumpel vas te steek en dan selfvoldaan verder te lewe asof daar niks méér is nie, is 'n tragiese verskraling, en ontneem die Here en Sy Gees van die eer wat hulle toekom. Dit bring mee dat gelowiges maklik van die Heilige Gees vergeet en in selftevrede gearriveerdheid verstar. Hulle is mos klaar wedergebore! So word die kerk gestroop van voortdurende geloofsafwagting en die soeke na meerdere en kragtiger werkinge van die Gees.

'n Dringende oproep - en 'n uitdaging

Die Heidelbergse Kategismus het veel meer verstaan as waarvoor hy vandag krediet kry. Só stel v&a 116 dit: God gee Sy genade en Sy Heilige Gees "alleen aan diegene ... wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank."
Laat ons die woorde van een van die grootste en mees godvrugtige van twintigste eeuse teoloë, John Murray, nooit vergeet nie: "As Pinkster nie herhaal word nie, is dit ewemin teruggetrek ... ons leef in die era van die Heilige Gees."
En 'n gerespekteerde Amerikaanse prediker, Walter Chantry, skryf: "'n Groot deel van jou gebedslewe behoort te bestaan uit afbidding van 'n steeds kragtiger werk van die Gees in jou lewe."
Hier is die oproep: laat daar van nou af nie 'n dag verbygaan sonder 'n ernstige gebedsversugting om die volheid van die Gees nie. Hier is die uitdaging: as jy die moed het, hou jou hieraan en kyk wat gebeur in jou lewe in die tye wat voorlê.
O Here, U volheid, U volheid, U volheid ...!
Nico van der Walt

E-PREEK No.171 - HD 19:2 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [2 van 8] - Enkele oriënterende opmerkings

ONS LEEF IN 'N TYD VAN KERKLIKE ONKUNDE EN BABELSE VERWARRING OOR DIE PERSOON EN WERK VAN DIE HEILIGE GEES. Voordat ons dus met 'n Bybelstudie oor die derde Persoon van die goddelike Drie-eenheid as Groot Gawe van die Nuwe Testamentiese bedeling begin, is dit nodig om eers 'n paar oriënterende hoekpenne in te kap.

Onkunde en skeeftrekking

Baie mense - veral lidmate van die ou protestantse denominasies - wat hulleself sonder huiwering Christene noem, sal in hul eerlike oomblikke omtrent dieselfde antwoord oor die Heilige Gees moet gee as die klompie dissipels in Efese: "Ons het nie eens gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie" (Hd 19:2, OAV). En as gesprekke in dié rigting loop, raak hulle benoud. Die onbekende bedreig hulle. Hulle los liewers die onderwerp tussen die bladsye van die Bybel. Die tragiese resultaat is kerklike armoede, stagnasie en dood.
Tog, aan die ander kant, word die 20ste eeu - veral die laaste kwart daarvan - eerder gekenmerk deur 'n wydverspreide en selfs koorsagtige belangstelling in die Heilige Gees. Dit geld veral die gawes van die Gees, oftewel die charismata. Die Pinkster en Charismatiese Bewegings het die aangesig van die wêreldwye kerk waarskynlik permanent verander. Ongelukkig het hierdie strominge grootliks losgebreek van die historiese Christelike geloof en is hulle vandag meermale draers van ernstige skeeftrekkings en selfs dwalinge, wat sowel leer as praktyk betref.
Ons het hier met die gevolge van die tradisionele kerke se onbetaalde rekening te doen. Hulle nalating in lering en praktyk moes noodwendig tot 'n reaksie lei, maar helaas swaai die pendulum dikwels deur tot ketterse uiterstes.

Die geskiedenis

In die geskiedenis van kerk en teologie is die Heilige Gees dikwels verwaarloos. Die 16de eeuse Reformasie het egter besondere stukrag verleen aan die bestudering en bewussyn van die Heilige Gees se persoon en werk. Die reformatore het daarop aangedring dat die sleutel tot insig in God se Woord nie in die institusionele kerk en sy priesterskap lê nie, maar in die verligtende werk van die Gees. Met krag het hulle verkondig dat redding nie voortvloei uit priesters se bediening van die bloedlose offer van die Mis nie, maar uit die Gees se toepassing van Jesus Christus se offer aan die kruis. En die herontdekking van die soewereine aard van God se verlossingsgenade het die Heilige Gees en Sy werk weer midde in die kerk se prediking geplaas. Want as die gevalle mens dood is in sy sonde en alles afhang van God se vrye inisiatiefneming - soos die Bybel uitdruklik leer - beteken dit dat die verwerkliking van redding totaal afhanklik is van die Gees se werk.
Hoewel dit helaas waar is dat die reformatore se nageslag dikwels skuldig gestaan het aan verwaarlosing van die Heilige Gees en Sy werk, geld dit nie vir die reformatoriese belydenisskrifte nie. So het die 1689 Baptiste Belydenis - die konfessie wat ek persoonlik onderskryf - byvoorbeeld in sy 32 kernagtige hoofstukke ongeveer 80 verwysings na die Heilige Gees. En sekerlik is dit betekenisvol dat die twee grootste studies ooit oor die Gees en Sy werk uit die penne van gereformeerde teoloë verskyn het: John Owen (1616-1683) en Abraham Kuyper (1837-1920).

'n Verhewe en belangrike studie

Daar is minstens 2 redes waarom ons in diepte na hierdie onderwerp moet kyk.
Eerstens is dit 'n fundamentele Skriftema, en daar kan geen sprake wees van 'n gespierde geloofslewe sonder 'n behoorlike greep daarop nie. Per slot van rekening is dit ons hoogste roeping om God te ken. En afgesien daarvan dat die Heilige Gees die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid is, is Hy ook die oorsprong en instandhouer van my geestelike lewe. Sonder Hom sou ek steeds geestelik dood gewees het. En sonder Hom kan geeneen van die wesenstrekke van egte Christenskap 'n werklikheid in my word en bly nie.
Tweedens moet ons 'n behoorlike onderskeidingsvermoë ontwikkel as ons nie saamgesleur wil word deur die talle hedendaagse dwalinge nie. Midde in die honderde aansprake op bonatuurlike geesteswerkinge is daar maar één manier om koersvas op koers te bly: weer en weer terug na die onfeilbare norm - die algeheel betroubare en onfeilbare Woord van God!
Dit kan nie oorbeklemtoon word dat ons nooit op subjektiewe ervaringe en belewinge durf bou nie. Hoe kan ons regtig weet waar die oorsprong daarvan lê: in onsself, iets - of iemand! - anders buite ons, of in die Heilige Gees? Die Woord alleen is 'n onwankelbare fondament. Aangesien die Drie-enige God soveel groter as ons is, en in dimensies leef waarvan ons nie eers weet nie, kan ons Hom net ken in soverre Hy Homself aan ons openbaar. Ja, outentieke ervaringe is ook 'n manifestasie van God, maar hoe weet ons dis eg - anders as om dit aan die Skrif te toets?

Twee eensydighede

Mens kan meer van die Heilige Gees ervaar as wat jy van Hom weet. Dit was die tipiese in Nuwe Testamentiese tye. Gewoonlik het nuwe Christene eers die Heilige Gees ontmoet, en dan later die betekenis daarvan begryp. Die apostels was egter nie tevrede voordat Christene behoorlike lering ontvang het nie. Ook in Nuwe Testamentiese tye was daar baie dwalinge en vals aansprake op geesteswerkinge - en, soos nou, was deeglike kennis noodsaaklik om die egte en die namaaksel te onderskei.
Mens kan meer van die Heilige Gees weet as wat jy van Hom ervaar. Dit geld veral vandag vir sommige mense - met die massas inligting wat vrylik beskikbaar is. Hierdie eensydigheid is veel gevaarliker as eersgenoemde. Ons studie mag dus nooit sonder voortdurende toepassing wees nie. Dit moet ons help om toe te neem in praktiese belewing van 'n egte gemeenskap met die Gees.

Die Gees verheerlik Christus

Hierdie is die mees fundamentele maatstaf vir die beoordeling van dit wat daarop aanspraak maak dat dit die werk van die Heilige Gees is. Waar Christus die gekruisigde nie in die middelpunt is nie, waar Hy nie verheerlik word nie, kan gebeure en ervaringe so verstommend wees as wat dit wil, maar dis nie die Heilige Gees se werk nie.
Op hierdie sentrale aspek van die Heilige Gees se werk sal ons vorentoe in besonderhede insak, wanneer ons na die Here Jesus se lering in die bovertrek kyk. Maar intussen is dit belangrik om te onthou dat iemand wat die Heilige Gees in sy denke, oortuigings en lewenspraktyk verwaarloos, Christus nooit behoorlik kan ken nie. En sonder die Gees kan ons ook niks met koninkryksgewig en ewigheidsbetekenis uitrig nie. Christus werk deur Sy Gees, en sonder Hom kan ons niks doen nie.

Die Gees werk deur die Woord

Die Heilige Gees werk in alles wat Hy doen normaalweg deur die Woord (Jh 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23). Al wat mens daarvan weerhou om te sê dat Hy áltyd so werk, is 'n ontsag vir Sy soewereiniteit, asook die wete dat Hy soms in uitsonderlike situasies (soos op sendingfronte en in herlewings) los van die Skrif werk. Maar selfs dan werk Hy altyd in volkome harmonie daarmee. Dit is egter nooit vir ons om sulke uitsonderlike werkinge van die Gees te soek of te probeer bewerkstellig nie. Dit sou 'n onfeilbare resep vir misleiding wees. Soiets is die soewereine prerogatief van God die Heilige Gees alleen.
'n Vergelyking van die parallelle Skrifgedeeltes, Ef 5:18-19 en Kol 3:16, is betekenisvol. Paulus gebruik de Gees en die Woord uitruilbaar - asof hy nie aan die een sonder die ander kan dink nie.
Ons mag dus nooit Woord en Gees skei nie. Sonder die Gees is die Woord geslote; sonder die Woord is alles wat daarop aanspraak maak dat dit werkinge van die Gees is, onkontroleerbaar en dus altyd onder verdenking. Ons durf nooit die heldere definisie en vredevolle sekuriteit van God se Woord los om te gaan ronddwaal in die skemerwêreld van subjektiewe menslike indrukke, opinies en spekulasies nie! Die skemerwêreld van belewingsbeheptheid en geestelike sensasie lê besaai van die wrakke van mense, gemeentes en bewegings wat deur die eeue hulle heil dáár gesoek het.

Menslike verantwoordelikheid

Soos met ons hele erfenis in Christus is ook die inwoning en werk van die Heilige Gees 'n soewereine gawe van God. Dit hef egter nooit ons verantwoordelikheid op nie. Ek moet God se Groot Gawe aktief in die geloof omhels. Ek moet dit, nee, Hóm, met ywer en toewyding soek. En ek moet dit wat ek wel ontvang soos 'n kosbare kleinood bewaar en uitleef (vgl. onder meer Lk 11:5-13; Ef 4:30; 5:18 vv; 1Ts 5:19).

Ondeurgrondelike, soewereine God

Ons mag nooit vergeet nie dat die Heilige Gees die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid is. Daarom moet ons omgang met Hom, asook met waarheid oor Hom, altyd deur eerbiedige skroom beheers word. Tog moet ons persoonlike verhouding met Hom altyd in kinderlike eenvoud, vrymoedigheid en geloof geskied.
Die Skrifopenbaring oor die Gees is diepsinnig en geheimenisvol. Sekerlik moet ons dit ondersoek, orden en formuleer, maar altyd met beskeidenheid en in nederigheid. Oor Hóm kan mens beswaarlik anders as met stamelende lippe praat.
Die Gees is soewereine God. Ons kan Hom dus nooit manipuleer nie. Sy handelinge is nie sonder meer voorspelbaar nie. Ons staan nie met Hom in 'n meganiese oorsaak-gevolg verhouding nie. Soos die wind, waai Hy waar Hy wil (Jh 3:8).

Verantwoordelike omgang met die Woord

Dis noodsaaklik om heel eerste vanuit die Ou Testament en Evangelies die nodige fondamentstene in plek te plaas. In hierdie verband is die Evangelie van Johannes, en in die besonder die Here Jesus se lering die aand voor Sy kruisiging, van die allergrootste belang. Meeste dwalinge oor ons tema het in die verlede uitgemasel omdat mense direk met Handelinge, 1 Korintiërs en ander Nuwe Testamentiese gedeeltes begin werk het, sonder om eers die hoekpenne in te slaan wat die Skrif self vir ons gee.
Nico van der Walt

E-PREEK No.172 - MT 3:11 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [3 van 8] - Wie is God die Heilige Gees?

Die Heilige Gees

Die Afrikaanse woord, Gees, is 'n vertaling van die Hebreeuse woord, ruach (in die Ou Testament), en van die Griekse woord, pneuma (in die Nuwe Testament). Die basiese betekenis van beide hierdie woorde is wind of asem. Waarskynlik gebruik die Bybel hierdie twee woorde om twee karaktertrekke van die Heilige Gees uit te lig:
Hy is God se geheimenisvolle en kragtige wind vir wie geen mens kan peil of beheer nie.
Hy is God se lewegewende asem sonder wie 'n mens geestelik dood bly.
Die Heilige Gees is dus dinamies en lewegewend. Waar Hy werk, verander dinge altyd. Maar dis nie verandering sonder meer nie; dis verandering ten goede. Daar kom lewe, ware lewe, Godvererende lewe.

Die Heilige Gees

Hierdie woord bring twee waarhede na vore:
Eerstens dui dit op afsondering - dus op die Gees se gansandersheid, Sy transendensie, Sy goddelikheid. Hy is ver bo ons verhewe.
Daarna dui die begrip altyd op etiese volmaaktheid. In Hom is daar geen sonde nie.

Die Heilige Gees is 'n persoon

Te veel mense dink bloot aan die Heilige Gees as 'n onpersoonlike invloed of krag. So 'n persepsie is godslasterlik. Hy is volledig en selfstandig 'n persoon. Hy het wel nie 'n liggaam nie, maar dis nie noodsaaklik vir persoonlikheid nie (vgl. die mens in die tyd tussen die dood en die opstanding).

# Hy het die eienskappe van persoonlikheid:
Eerstens, kennis en intelligensie. 1Kor 2:10-11: "Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God."
Tweedens, emosie en gevoel. Volgens Ef 4:30 kan die Gees bedroef raak.
Derdens, wil. Die apostelkonvent stuur 'n boodskap aan die gelowiges uit die heidendom na aanleiding van 'n besluit van hulle en die Heilige Gees (Hd 15:28). Die Gees wou Paulus en sy medewerkers nie toelaat om in Asië te preek of om na Bitinië te gaan nie (Hd 16:6). Die Gees deel die genadegawes uit soos Hy wil (1Kor 12:11).

# In Jh 14:17 word vir die eerste maal in die bovertrek na die Heilige Gees verwys. Hier gebruik Johannes die grammatikaal korrekte onsydige voornaamwoorde (ho en auto) saam met die onsydige pneuma. Letterlik staan daar: "... die Gees (pneuma) van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit dit nie sien en dit nie ken nie ..." Maar, as Johannes dan gewys het hy ken sy grammatika, gebruik hy in 14:26; 15:26; 16:8, 13, 14, strydig met alle taalreëls, die manlike voornaamwoord (ekeinos), in plaas van die grammatikaal korrekte onsydige voornaamwoord (ekeino). Die verklaring? Johannes wil die persoonlikheid van die Heilige Gees beklemtoon.

# Die Heilige Gees word talle kere saam met ander persone genoem, op 'n wyse wat Sy eie persoonlikheid noodwendig maak:
Saam met mense (Hd 15:28).
Saam met Christus (Jh 14:16; 16:14). In eersgenoemde vers praat Jesus van die Gees as die ander Voorspraak - met die implikasie dat Hyself die eerste Voorspraak is. In Grieks is daar twee woorde wat ons met ander vertaal: heteros, wat op 'n kwalitatiewe of wesensonderskeid dui; en allos, wat op iets anders, maar van dieselfde soort dui. In die betrokke vers gebruik die Here laasgenoemde, waarmee Hy impliseer dat daar weliswaar 'n onderskeid tussen Hom en die Gees is, maar dat hulle beide persone is en beide God.
Saam met die Vader en die Seun (Mt 28:19; 1Kor 12:4-6; 2Kor 13:13; Jud 20, 21). Die Vader en die Seun is persone; die implikasie is onontkombaar, ook die Heilige Gees is 'n persoon.

# Die Gees doen wat 'n persoon doen: Hy soek, ken, praat, getuig, openbaar, oortuig, beveel, lei, help, skep, heilig, bid, doen wonders, ens.

Die derde Persoon van die Drie-eenheid

God is een, maar bestaan tog vir ewig as drie onderskeie persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie is 'n diep en onbegryplike verborgenheid, maar ons moet ten alle koste vashou aan sowel die drieheid as die eenheid. Daar is talle Skrifuitsprake wat op drie onderskeie persone in die Godheid wys. Male sonder tal verwys die Here Jesus na God as Sy Vader, en vertrou Homself uiteindelik tydens die kruisiging aan Sy Vader toe (Lk 23:46). Die Seun ontvang die Heilige Gees (Mt 3:16-17; Mk 1:10-11; Lk 3:21-22; Jh 1:32-34) en stuur Hom ook weer uit (Jh 14:16; Hd 2:33).

Die Heilige Gees is God
Daar word na die Gees verwys as God. In Hd 5:3-4 sê Petrus: "Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg ... Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God."

# 'n Verskeidenheid van Goddelike attribute word aan die Heilige Gees toegeskryf:
Almag. Hy is betrokke by die skepping (Gn 1:2; Ps 104:30) en by die menswording van die Seun: "Die engel antwoord ...: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God'" (Lk 1:35).
Alwetenheid. Jesaja sinspeel daarop: "Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree?" (40:13-14). En die Here belowe: "... wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het" (Jh 14:26). En 1Kor 2:10 sê dat die Gees alle dinge deursoek, ook die diepste geheimenisse van God.
Alomteenwoordigheid. Dawid sê in Ps 139:7: "Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?" Hy gaan dan voort en sê dat hy nooit sal kan wegkom nie, selfs al vlug hy na die hemel of die doderyk, die ooste of die weste - geen donkerte kan hom verskuil nie. Ons lees ook dat die Gees in alle kinders van God woon (1Kor 6:19).
Ewigheid. Hebreërs 9:14: "... Christus (het) immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer."

# Goddelike werke word aan die Heilige Gees toegeskryf. Hy is die gewer van lewe (Jh 6:63); Hy wederbaar mense (Jh 3:3-8; Tit 3:5); Hy sal ons opwek uit die dood (Rm 8:11).

# Talle kere word die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun in trinitariese uitdrukkings genoem (Mt 28:19; 1Kor 12:4-6; 2Kor 13:13; Jud 20-21). Die Bybel plaas die Gees dus op dieselfde vlak as die Vader en die Seun.

Beide Vader en Seun het die Gees uitgestuur
Tussen die drie persone van die Drie-eenheid is daar 'n definitiewe verhouding en orde. Omdat al drie God is, moet mens egter nie dink dat al drie dieselfde is nie. Nee, elkeen het ook Sy unieke eienskappe en verhouding met die ander, asook Sy eie funksie in God se werke - veral in die uitwerk van die verlossingsplan. Om laasgenoemde eenvoudig te stel: die Vader besluit en verkies; die Seun stel die regsbasis daar vir die verlossing van die uitverkorenes en oorsien die ontwikkeling daarvan; die Heilige Gees implementeer en verwerklik die herskepping in hulle.
In die bovertrek, die aand voor Sy kruisiging, beloof die Here Jesus dat die dissipels nie soos weeskinders agtergelaat sou word nie. In Jh 14:16 sê Hy dat die Vader die Voorspraak in antwoord op Sy gebed sou gee. En in 14:26 sê Hy dat die Vader die Heilige Gees in Sy Naam sou stuur. Uiteindelik sê Hy in 15:26 dat die Gees van die Vader uitgaan. Betekenisvol is dat die Here Jesus óók belowe dat Hy die Voorspraak sal stuur (15:26). En na die opstanding blaas Hy ('n handelingsprofesie met die oog op die Pinkstergebeure) oor die dissipels en sê, "Ontvang die Heilige Gees!" (Jh 20:21).
Dis dus duidelik dat daar 'n intieme verband is tussen die Heilige Gees, aan die een kant, en sowel die Vader as die Seun, aan die ander kant. Én die Vader én die Seun het die Heilige Gees gestuur; Hy het van hulle beide uitgegaan.
Hierdie waarheid word herbevestig en verder belig in Hd 2:33: "Hy (dit is Jesus Christus) is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor."
Dis waarom die Nuwe Testament die Heilige Gees nie net die Gees van God noem nie, maar ook die Gees van Christus of die Gees van die Seun (Rm 8:9; Gl 4:6; Fl 1:19).

'n Onlosmaaklke verhouding
Enersyds is die Here Jesus se hele lewe hier op aarde deur die Gees beheers. Hy het die Gees sonder enige beperking gehad - sonder maat (Jh 3:34). Hy was dus volkome vervul met die Gees. Hy was gesalf deur die Gees (Lk 4:18-19) en het alles wat Hy gedoen het in die krag van die Gees gedoen.
Andersyds is die die hart van die Gees se taak op aarde om die Seun te verheerlik (Jh 16:14-15).

Ons moet die Heilige Gees ken

Baie toegewyde kerkmense loop in hulle onkunde rond met Godonterende idees oor die Heilige Gees.
Algemeen is die persepsie dat die Heilige Gees die goeie ekwiwalent van die Duiwel is. Dit degradeer die Gees tot die vlak van 'n skepsel. Nee, die Gees is God; die Duiwel is 'n gevalle engel!
Waarom is dit belangrik om te onthou dat die Gees 'n persoon is; meer spesifiek, dat Hy die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid is?
Dis noodsaaklik vir suiwer aanbidding en toewyding.
Dis noodsaaklik vir 'n regte hartsgesindheid. As ek aan die Gees bloot as 'n krag of invloed dink, raak ek noodwendig selfgerig in my verhouding met Hom: hoe kan ék meer van Hom kry en gebruik? As ek daarenteen weet en onthou wie Hy is, verander my hele instelling en ontstaan die vraag: hoe kan Hý meer van my kry; hoe kan ek Hóm behaag en vereer?
Dis noodsaaklik vir 'n gesonde Christelike belewing. Dit het 'n ingrypende effek as jy die Gees as 'n Goddelike persoon leer ken. Dan begin jy gemeenskap met Hom ervaar (2Kor 13:13); dan raak dit vir jou belangrik om Hom te gehoorsaam en Hom nie te bedroef nie (Ef 4:30).
Nico van der Walt

E-PREEK No.173 - JOËL 2:28-32 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [4 van 8] - Die Heilige Gees in die Ou Testament

DIE OU TESTAMENT VERWYS ONGEVEER 90 KEER NA DIE HEILIGE GEES. Die feit van Sy persoonlikheid kom egter nie na vore nie. Dit gebeur eers in die Nuwe Testament. Die Ou Testament is beperk tot die gedagte dat die Gees God se persoonlike teenwoordigheid en handele is - dat Hy God in aksie is.
So word geopenbaar dat die Gees betrokke is by die skepping en instandhouding van die heelal en sy geskiedenis (Gn 1:2; 2:7; Job 26:13; 33:4; Ps 33:6; 104:29-30; Jes 34:16; 40:7). Hierbenewens was die Gees se werk gerig op die verhouding tussen God en Sy mense, en het Hy sommige van hulle toegerus vir spesiale take en geleenthede.

Die heiligmakende werk van die Gees
Die Gees het in God se gunsgenote gewerk en hulle die weg van gehoorsaamheid en godskennis geleer (Neh 9:20; Ps 51:11-13; 143:10).

Die toerustende werk van die Gees
Profesie
'n Profeet praat met mense namens God. Hy gee vir hulle die Goddelike woord, waarheid en wil deur die krag van die Heilige Gees.
Nie alleen gebruik die Gees diegene wat met God wandel nie, maar ook mense wat nie met Hom versoen is nie - soos Bileam (Num 24:2), asook Saul en sy soldate (1Sam 19:18-24).
Een van die heel eerste en mees betekenisvolle gevalle van hierdie aard is opgeteken in Num 11. Sewentig manne moet Moses help. 'n Deel van die Gees wat op Moses was, word dan op hulle geplaas en hulle begin profeteer (v.17, 25). Twee van die sewentig, Eldad en Medad, is egter nie by die res as dit gebeur nie. Maar ook hulle begin profeteer. Josua is ontsteld, maar Moses antwoord, "Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê." (29).
Vergelyk ook 1Kron 12:18; 2Kron 15:1vv; Neh 9:30; Eseg 11:24-25; 37:1; Miga 3:8; Sag 7:12.

Leierskap
Talle Ou Testamentiese leiers is deur die Gees toegerus om God se gesag, regering en verlossing te verwerklik - en om die volk daarin te lei.
Voorbeelde is Josef (Gen 41:38); Moses en die sewentig (Num 11:17); Josua (Dt 34:9); Otniël (Rig 3:10); Gideon (Rig 6:34); Jefta (Rig 11:29); Simson (Rig 13:25; 14:19; 15:14); Saul (1Sam 11:6); Dawid (1Sam 16:13-14); Elia en Elisa (2Kon 2:9-15).

Kreatiwiteit
Sekere kunstenaars is deur die Here met Sy Gees vervul - veral met die oog op die aanbidding en verering van God in Sy tabernakel en tempel. Uitstaande is die vakman-kunstenaars, Besaleël en Oholiab, wat 'n besondere rol gespeel het in die konstruksie en versiering van die Tabernakel (Eks 31:1-11; 35:30-35; vgl. ook Eks 28:3).

Beskrywings van die Gees se werk
Verskeie Hebreeuse woorde word gebruik om die aksie van die Heilige Gees in mense te beskryf.
In Rig 13:25: "... die Gees van die Here het hom (Simson) ... begin lei." Hierdie bepaalde werkwoord (Hb. pa'am) beteken letterlik: druk, forseer, beweeg, dring (OAV: drywe). Dieselfde woord in 'n ander vorm (niphal) dui op 'n beroering in iemand se binneste. Die Gees het dus 'n sterk innerlike drang en ywer - 'n hartstog - in Simson gewerk.
Rigters 6:34 sê: "Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem ..." (vgl. ook 1Kron 12:18; 2Kron 24:20). Hierdie werkwoord (Hb. labash) beteken toedraai of aantrek met 'n kledingstuk - jouself of iemand anders. Die Heilige Gees het Gideon dus aangetrek. Hierdie uitdrukking wil dus beklemtoon dat Gideon onder beheer van die Heilige Gees was - presies wat die Nuwe Testamentiese vervul wil deurgee (vgl. Ef 5:18).
In Rig 14:6 word gesê: "Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur ..." (vgl. ook Rig 14:19; 1Sam 10:10; 16:13). Die werkwoord (Hb. alah) beteken aanval, bespring, met dwingende geweld op iemand toesak. Hierdie uitdrukking wil dus sê dat die Gees onverwags en skielik met krag op Simson beslag gelê het. 'n Nuwe Testamentiese ekwiwalent is die uitdrukking dat die Gees soms op mense geval het (OAV, Hd 8:16; 10:44; 11:15).

Die Ou Testamentiese hoop
Die volk van God misluk keer op keer. Gevolglik sê Jesaja: "hulle het ... sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle 'n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg" (63:10).
Daar was egter ook altyd dié wat toegewyd aan Jahweh was. En hulle het verlang na 'n inniger verhouding tussen Hom en Sy volk. Dink aan Moses se versugting dat die héle volk profete moes wees. Dink aan die profete se hartstogtelike gebede dat die Here 'n werk in hulle midde moes doen? Dink aan hulle oproepe tot die volk om die Here te soek (vgl. Jes 64: 1, 12; Jer 14:7-9; Hos 4:1, 6; 6:3).
Aan Sy gunsgenote belowe God dan toenemend soos die Ou Testamentiese openbaring vorder: daar kom 'n nuwe verbond, 'n nuwe koninkryk, 'n nuwe bedeling! Uitstaande voorbeelde is Jer 31:31-34; Eseg 36:26-27 en Hos 2:13-22.
'n Groot Koning uit die geslag van Dawid gaan hierdie nuwe bedeling vir ewig kom vestig. Ou Testamentiese Messiaanse profesieë kom van die vroegste tye af (vgl. Gen 3:15; Deut 18:15-19). Maar niemand het dit met meer ekstase uitgejubel as Jesaja nie (o.a. 9:5-6; 11:1-5; 35:1-10; 42:1-7; 49:1-6; 50:4-11; 52:13-53:12; 61:1-3).
'n Baie betekenisvolle aksent kenmerk hierdie Messiaanse profesieë: op hierdie Groot Koning gaan die onbeperkte volheid van die Heilige Gees rus! (Jes 11:2; 42:1; 61:1). Trouens, die Ou Testament gaan nóg verder: die Groot Koning gaan ook op Sy diensknegte die Gees in ongekende oorvloed uitstort! Jesaja skryf: "Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope" (44:3-4).
Die gebrek aan insig in God se wil en waarheid wat die verbondsvolk só gekenmerk het, gaan vervang word met vreugdevolle en gehoorsame begrip van geopenbaarde waarheid. En dit gaan gebeur wanneer "... die Gees van Bo af ... uitgestort word" (Jes 29:9-24; 32:15-20). Die sukkelgang van gehoorsaamheidsmislukking sal iets van die verlede wees. Hoe gaan dit gebeur? Die Gees sal maak dat hulle in God se insettinge wandel en Sy verordeninge onderhou en doen (Eseg 36:27).
Geen profeet sê dit op 'n grootser wyse as Joël nie: Ek sal ... "my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie" (2:28 v).
Hierdie belofte beklemtoon die omvangryke aard van die Gees se werk. Ál God se kinders sal deelhê daaraan en betrokke wees: die jonges (seuns en dogters), die oues, die room van die Godsvolk (jong mans) en diegene sonder aansien.
Hierdie wonderlike koms van die Gees sal gekenmerk word deur die oorvloedige oopbreek van nuwe openbaring. Dis immers waaroor profesieë, drome en visioene gaan.
Maar terselfdertyd sal dit gepaard gaan met God se verskriklike oordele. Verse 30-31 is 'n integrale deel van die profesie: "Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom."
Dit sal egter ook 'n tyd van redding wees: "En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep" (2:32, OAV). Maar, let op, hoewel die belofte geld vir een en elkeen wat die Here aanroep, is daar tog ook die kwalifikasie dat net diegene wat deur die Here geroep word dit sal doen.
Dit lê voor die hand dat die verbondsvolk met opgewonde afwagting uitgesien het na die vervulling van die Messiaanse beloftes. Dis verder duidelik - uit latere Nuwe Testamentiese openbaring - dat hulle begryp het dat die uitstorting van die Heilige Gees aan die hart van Sy regering sou wees. Die Here Jesus, sowel as die apostels, het waarskynlik omgangstaal gebruik as hulle spesifiek na die koms van die Gees as "die Vader se belofte" verwys het (Lk 24:49; Hd 1:4; 2:33, 39; Gl 3:14; Ef 1:13). Hierop was die heiliges van die Ou Testament se verlangens intens gerig.
Die verbondsvolk en die profete het uiteraard nie geweet hoe lank hulle sou moes wag vir die belofte nie. Wat wel aan hulle geopenbaar is, is dat die Messias se koms voorafgegaan sou word deur die verskyning van Sy wegbereider en boodskapper. Die laaste boek van die Ou Testament stel dit vier eeue voor Sy koms só: "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige." (Mal 3:1. Vgl. ook 4:5-6; Jes 40:3). Dit verduidelik die opgewonde ontvangs wat Johannes die Doper se prediking aanvanklik gekry het (Mt 3:5).
Die vervulling van die belofte van die Vader vind natuurlik op die Pinksterdag plaas. Dit sê Petrus uitdruklik as hy die profeet Joël aanhaal (Hd 2:16-21; 33-36; 39). Die verheerlikte en verhoogde Seun het die belofte as beloning van die Vader ontvang, ten einde Hom op Sy Nuwe Testamentiese gemeente uit te stort. So het die Gees as Groot Gawe van die eindtyd gekom!
Let op dat Petrus tweemaal die uitdrukking, "die belofte", gebruik (33, 39; OAV). En in v.39 is Joël se profesie steeds in sy agterkop: die belofte is slegs vir diegene is wat deur die Here geroep word. [1]

Slotwoord
Hoe ontsaglik bevoorreg is ons nie - ons wat in Christus is, ná Sy koms. Want ons het deel aan die wonderlike erfenis van die belofte. Waarlik, Koning Jesus hét Sy vroeë gemeente oorspoel met die Heilige Gees - en Hy doen dit steeds. Waarlik, húlle wat regtig met Christus verenig is, se lewens is nie meer so 'n sukkelgang soos dié van die Ou Testamentiese verbondsvolk nie. Prys die Here! Dis 'n proefondervindelike en waarneembare werklikheid wat vasstaan soos die berge.
Maar hieroor méér vorentoe.


[1] Die afsluiting van die Ou Verbond, die vervulling van die seremoniële wette en die oordele van God oor die Joodse volk, hang ten nouste saam met die koms van die Heilige Gees. Trouens, dis in diens van die volle oopblom van Sy werk. Die Doper praat in dieselfde asem van die komende oorvloedige werkinge van die Gees én die doop met vuur (vgl. E170]. Joël se profesie koppel dit saam. En Petrus haal die oordeelsgedeelte van Joël volledig aan op die Pinksterdag. Ruimte laat ons ongelukkig nie nou toe om hierop in te sak nie.
Nico van der Walt

E-PREEK No.174 - LK 1:35 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [5 van 8] - Die Heilige Gees en Christus [1]

ONS HET REEDS GESIEN DAT OU TESTAMENTIESE PROFESIEË VOORSIEN HET DAT DIE KOMENDE KONING VOL SOU WEES VAN DIE HEILIGE GEES. EN SO WAS DIT INDERDAAD. Johannes stel dit só: "God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking" (3:34).
Dit lê dus voor die hand dat ons in diepte moet kyk na die Here Jesus se Geesvervuldheid - anders mag ons belangrike waarhede mis. So 'n studie dwing mens eerstens om behoorlik te dink oor die persoon van die Verlosser. En tweedens - in die lig van die noue verband tussen die Gees se inwoning in Hom en in Sy dissipels - onderstreep dit 'n aantal uiters belangrike en praktiese implikasies vir ons [1].

Enkele hoekpenne oor die Here Jesus as ten volle God én ten volle mens

Hy is die tweede persoon van die Drie-enige God. Hy is waarlik en ten volle God - ewig, onbegryplik, almagtig, alwetend en alomteenwoordig.
In die volheid van die tyd het Hy egter vrywillig na hierdie wêreld gekom en 'n menslike natuur aangeneem. Terwyl Hy ten volle God gebly het, het Hy ook ten volle mens geword. En so sal dit tot in alle ewigheid bly. Hy het Homself dus verneder ("ontledig" in Fl 2:7, OAV) en die vertoning en gebruik van Sy goddelike attribute tydelik opgeskort [2].
Die feit dat die goddelike en menslike nature in Christus onskeibaar is, beteken nie dat die twee nature vervloei nie. Dit moet dus steeds onderskei word. Die eenheid van die twee nature beteken nie dat die goddelike natuur goddelike eienskappe aan die menslike natuur verleen nie - dit vergoddelik dit nie. Ons moet dus nie in terme van 'n vermenging dink nie - asof Christus 'n nuwe soort wese geword het, minder as God, maar meer as 'n mens. Nee, Christus is en bly volledig en volmaak God, maar Hy is ook volledig en volkome mens.
Baie mense redeneer dat, aangesien Christus ook volledig God is, Hy nie die Heilige Gees nodig gehad het om Sy roeping te vervul nie. Dis nie wat die Skrif leer nie. Hy was in 'n staat van vernedering en na Sy menslike natuur voortdurend afhanklik van die Heilige Gees se werk.
Só volkome mens is Christus dat Hy moes opgroei van 'n baba tot 'n man; Hy is in elke opsig versoek, net soos ons (Hb 4:15); aan die kruis is Hy deur God verlaat (Mt 27:46). Dis waarom die Nuwe Testament oor en oor beskryf hoe die Heilige Gees in Hom gewerk het - van Sy ontvangenis af tot en met Sy verheerliking.

Die menswording

Die Heilige Gees het 'n wesentlik belangrike rol gespeel in die verbysterende gebeurtenis toe die tweede Persoon van die goddelik Drie-eenheid, met behoud van Sy goddelikheid, "mens geword en onder ons kom woon" het (Jh 1:14). Dis Hý wat Maria laat swanger word het - nie die Vader, of die Seun self nie. En allermins was dit Josef. Nee, die Gees het die saad van die lewe in die maagd se baarmoeder geplant - geheimenisvol.
Mt 1:18 sê: "Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom." En Lk 1:35: "Die engel antwoord haar: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek'".
Dit beteken nie dat die ander twee Persone van die Drie-eenheid onbetrokke was by die Seun se menswording nie. Feitlik alles wat God doen, is trinitaries van aard. Maar dis ewe waar dat twee van die Persone dikwels déúr die derde werk - in hierdie geval deur die Heilige Gees.
Die Vader se rol in die menswording word in Hb 10:5 só beskryf: "Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het.'" Hierdie betrokkenheid van die Vader het waarskynlik te doen met Sy soewereine vaslegging van die plan om die Seun volledig te laat mens word en verlossing van sondaars deur Hom te bewerkstellig.
Die Seun se rol is ook uiters belangrik. Hy het Homself volledig en aktief gegee vir Sy missie van vernedering en middelaarskap. Dit was 'n vrywillige en bewustelike handeling. Die apostel stel dit só in Fl 2:6-7: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word."
Die Heilige Gees se werk in die vleeswording was onder meer ook noodsaaklik om Christus se sondeloosheid te verseker - wat natuurlik 'n voorvereiste was vir die Seun se verlossingswerk. Wat Dawid van homself gesê het, geld sonder uitsondering van elke mens: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang" (Ps 51:7, OAV). Daarteenoor was die Here Jesus "... heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars ..." (Hb 7:26, OAV).
Alle mense het onontkombaar - te wyte aan hulle verbintenis met die hoof van die ou mensheid, Adam, en sy sondeval - deel aan die erfsonde. Hierdie aangebore toestand het twee komponente: die erfskuld, wat elke mens strafwaardig voor God maak, selfs voordat hy of sy self in staat is om te sondig; en die erfsmet, oftewel die verdorwenheid en geneigdheid tot sonde, wat elke mens maar te goed in homself ken en rondom hom waarneem. Indien God nie in Sy soewereine genade ingryp nie, neem die erfsonde sonder uitsondering in elke lewe sy vernietigende loop - totdat dit in die ewige dood uitmond.
Deur die Heilige Gees se werk tydens Sy ontvangenis is Christus hiervan gevrywaar. Daar was geen natuurlike band tussen Hom en Adam nie. Hy het as die nuwe Adam gekom - die lááste, trouens - om Hoof van God se nuwe mensheid te wees. In Hom het God met 'n nuwe skepping begin (Rm 5:12-21; 1Kor 15:45-49).
Ja, Hy was inderdaad volledig en waarlik mens - maar uitgesonderd die sonde (2Kor 5:21; Hb 4:15; 1Pt 2:22). Hoewel Hy in elke opsig versoek is, net soos ons, was Hy die Lam - vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek (1Pt 1:19).

Die Here Jesus se groei

Konserwatiewe Christene is soms geneig om die Here Jesus se mensheid te verwaarloos - in reaksie teen 'n ongeloofsteologie wat Sy godheid wil ontken en van Hom net 'n uitsonderlike mens probeer maak. Maar ons moet kompromieloos vashou aan sowel Sy volkome mensheid én Sy volkome godheid.
'n Fassinerende openbaring in die Skrif - wat beklemtoon hoe volkome Hy mens was - is die feit dat die kind, Jesus, moes groei: geestelik, intellektueel en emosioneel.
Soos enige kind het Hy opgegroei: "Die Kindjie het gegroei en sterk geword ... En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei ..." (Lk 2:40, 52).
Hy moes dus deur al die stadiums van menslike ontwikkeling vorder. Hy was 'n pap babatjie wat Homself nie kon help nie. Hy moes leer sit, kruip, loop en praat. Hy was 'n tiener. Sy stem het gebreek; Hy het baard gekry. En hoewel Hy sekerlik 'n merkwaardig begaafde kind was (Lk 2:46-50), moes Hy soos alle kinders leer en ontdek en ontwikkel. Dis interessant dat Lukas Jesus in 'n enkele hoofstuk (Lk 2) agtereenvolgens 'n baba (brephos; v.12, 16), 'n kind (paidion; v.40), en 'n seun (pais; v.43) noem.
Ewe betekenisvol is die feit dat Jesus geestelik gegroei het: "... Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom ... en (Hy het) in guns by God en die mense toegeneem" (Lk 2:40, 52).
Dit lê voor die hand dat bogenoemde groei te doen gehad het met Jesus se menslike natuur; nie met Sy goddelike nie. En hierdie groei - ten minste Sy geestelike groei - moes onder begeleiding en met die bekragtiging van die Gees geskied het.
Hoewel daar nie eksplisiete Nuwe Testamentiese uitsprake is wat bogemelde stelling bevestig nie, sinspeel Jesaja wel daarop in een van sy Messiaanse profesieë: "'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here" (11:1-2).

Mateloos vol van die Gees, maar tog nodig om te groei?

Die vraag ontstaan hoe 'n mens hierdie twee feite in Jesus se lewe met mekaar moet rym. Die antwoord lê daarin dat 'n baba wel onder volkome heerskappy van die Gees kan wees, maar tog nie die gepaardgaande vrug tot uitdrukking kan bring nie. Die heilige natuur was dus latent in Hom, maar kon slegs manifesteer soos die vermoëns waardeur dit tot uitdrukking moes kom, ontwikkel het. Daarom sê Hb 5:8-9: "Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword."

'n Slotwaarheid

As mens besin oor die Skrifwaarhede wat so pas aangesny is, besef jy baie gou dat dit feite is wat jy net in die geloof kan vasgryp. Maar dit moet ons sê van alles in God se verlossingswerk, nie waar nie. Laat ons onthou: "... sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag ..." (Hb 11:6). Laat ons dus hierdie waarhede oor die Here Jesus in ons harte glo tot regverdiging en met die mond bely tot redding (Rm 10:10).

1. Ons sal drie of vier e-preke wy aan die werk van die Heilige Gees in die Here Jesus. 'n Behoorlike preek bestaan uit sowel Skrifuitleg as praktiese toepassing van die betrokke Skrifopenbaring. Maar in hierdie geval gaan dit beter werk as ons eers twee e-preke wy aan die Bybelse gegewens, voordat ons aan die implikasies daarvan aandag gee.

2. By gebrek aan 'n formele Afrikaanse vertaling, volg hieronder 'n Engelse vertaling van die belydenis van die Konsilie of Sinode van Chalcedon (451 n.C.). Sedertdien word dit as die regsinnige formulering van die Bybelse leer oor die persoon van Christus aanvaar deur die Katolieke, Ortodokse en Protestantse strominge: "Herefore, following the holy fathers, we all with one accord teach men to acknowledge one and the same Son, our Lord Jesus Christ, at once complete in Godhead and complete in manhood, truly God and truly man, consisting also of a reasonable soul and body; of one substance with the Father as regards his Godhead, and at the same time of one substance with us as regards his manhood; like us in all respects, apart from sin; as regards his Godhead, begotten of the Father before the ages, but yet as regards his manhood begotten, bearer; one and the same Christ, Son, Lord, Only-begotten, recognized in two natures, without confusion, without change, without division, without separation; the distinction of natures being in no way annulled by the union, but rather the characteristics of each nature being preserved and coming together to form one person and subsistence, not as parted or separated into two persons, but one and the same Son and Only-begotten God the Word, the Lord Jesus Christ; even as the prophets from earliest times spoke of him, and our Lord Jesus Christ himself taught us, and the creed of the fathers has been handed down to us."

E-PREEK No.175 - HB 9:14 - DIE GROOT GAWE VAN DIE EINDTYD [6 van 8] - Die Heilige Gees en Christus [2]

Die Here Jesus se doop en bediening

Verreweg die oorgrote meerderheid inligting oor die Here Jesus se lewe op aarde beskryf Sy publieke optrede as volwassene. Dit het egter maar drie tot drie-en-'n-half jaar geduur - ongeveer tien persent van die tyd tussen Sy geboorte en Sy kruisiging. Oor Sy kinder- en jeugjare weet ons bloedweinig. Alles dui daarop dat Hy 'n stil en lae-profiel lewe gely het. Wat het dus gebeur om die dramatiese ommekeer in Sy lewe te bewerkstellig? Wat het Hom gelanseer in 'n openbare bediening wat die ganse wêreldgeskiedenis laat skarnier het?
Die Bybelskrywers laat by ons geen twyfel nie: Sy doop en vervulling met die Heilige Gees. Al vier evangelies beskryf dit. Onmiskenbaar was dit nodig dat die Gees Hom formeel bekragtig vir Sy werk as Messias - as God se Groot Profeet, Priester en Koning.
Só stel Lk 3:21-22 dit: "Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: 'Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My'" (vgl. ook Mt 3:13-17; Mk 1:9-11; Jh 1:29-34).
In die onmiddellik volgende vers lees mens dan dat Jesus begin preek het.
Die Here was deeglik bewus daarvan dat die vervulling met die Gees plaasgevind het om Hom toe te rus vir Sy openbare bediening. Sy eerste preek is in Nasaret gelewer, met Jes 61:1 as teks: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig" (Lk 4:18-19). In die volgende vers sê Hy dan vir die mense: "Vandag is hierdie Skrifwoord ... vervul."
Die Heilige Gees het Hom dus bekragtig om te preek, te red en te genees - en om te verlos.
In Mt 12:28 sê Jesus vir die Fariseërs: "Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom."
In Hd 10:38 getuig Petrus teenoor Kornelius-hulle: "Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom."

Die Here Jesus se versoeking

Hoewel nie baie plek in die evangelies aan die Here se versoeking van veertig dae afgestaan word nie (Mt 4:1-11; Mk 1:12-13; Lk 4:1-13), kan die belangrikheid daarvan beswaarlik oorskat word. Dit vind direk na Sy doop plaas, en is 'n maak-of-breek-toets vir Hom - die Messiaanse ekwiwalent van Adam en Eva se versoeking in die tuin van Eden (Gen 3). Eers moes Hy die Satan oorwin, voordat Sy publieke triomftog 'n aanvang kon neem.
Sou die Here hier geswig het, was die gevolge selfs meer katastrofies as destyds. Want Hy was nie bloot nóg 'n Adam nie, Hy was die Laaste Adam (1Kor 15:45-49). Indien Satan hier die oorhand gekry het, was daar geen verdere vooruitsig op 'n verlossingsplan van God nie. Die tweede sondeval sou finaal gewees het. Want watter mens sou kon slaag nadat die mens Christus Jesus misluk het? Ons lot sou net so hopeloos en onomkeerbaar as dié van die demoneryk gewees het. Maar natuurlik, selfs net die noem van so 'n moontlikheid is eintlik absurd, amper heiligskennis. Hoe kan daar sprake wees van mislukking in enigiets wat die ware God doen - in hierdie geval die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid?
En tog ... Hy is as mens versoek en beproef. Moet vir geen oomblik dink dat dit nie 'n ware toets was nie. Dit was nie net 'n stuk simboliek nie; dit was verskriklik werklik. Maar die Heilige Gees het Hom versterk en deurgedra - triomfantelik. Waar die eerste Adam misluk het, het die laaste Adam getriomfeer - en Sy sending om dermiljoene vanuit die nasies te verlos, was koersvas onderweg. Dit was nie die eerste keer dat die Heilige Gees se bekragtiging die voortgang van God se raadsplan verseker het nie, en beslis ook nie die laaste keer nie. Maar sonder twyfel was dit een van die mees belangrike en deurslaggewende momente.
Matteus en Markus sê dat die Heilige Gees die Here in die woestyn ingelei het. Veral Markus gebruik 'n sterk werkwoord in (Mk 1:12). Die Gees se leiding was bykans onweerstaanbaar. Die NAV vertaal uitstekend: "... die Gees het Hom weggevat die woestyn in ..."
Maar vir ons doel is Lukas se beskrywing selfs nog meer betekenisvol. Lk 4:1 beskryf Jesus as vol van die Gees na Sy doop. Die vers gaan dan voort om te praat van die Gees se betrokkenheid by Hom. Dit handel egter nie oor die Here se gáán woestyn toe nie, maar oor hoe die Gees Hom tydens die veertig dae bekragtig het: Hy is "deur die Gees in die woestyn gelei." Die betrokke werkwoord is in 'n vorm wat dui op tydsverloop in die verlede ('n imperfektum passief). Die Gees het Hom dus dwarsdeur die tydperk bygestaan. En hierna het Jesus "vol van die krag van die Gees" na Galilea teruggekeer (Lk 4:14).
Die hele versoeking, van begin tot einde, was dus onder beheer van die Heilige Gees. As volkome mens was ons Here algeheel afhanklik van Sy leiding, wysheid en bekragtiging.
Dit kan met sekerheid aanvaar word dat die Here dwarsdeur die tyd van Sy vernedering ewe afhanklik van die Heilige Gees was.

Die Here Jesus se kruisiging

Die Hebreërskrywer gee vir ons 'n betekenisvolle mededeling met betrekking tot die Here Jesus se kruisiging en ons tema: Christus het "Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer" (9:14).
Die vraag kan gevra word - in alle respek - waarom Jesus so afhanklik was van die Gees tydens Sy kruisiging? Het derduisende mense nie al - sonder hulp van die Gees - hulleself aan die dood oorgelewer nie? Wat van Moslem-fanatici, of Japanese kamikaze-loodse?
In die eerste instansie was die Here Jesus se dood nie 'n gewone dood nie. Op Golgota het Hy God se toorn teen die sondeskuld van miljoene mense gedra. Wat meer is, die onbeskryflik hegte verhouding wat Hy van ewigheid af met die Vader gehad het, is aan die kruis verbreek. Die verskriklike realiteit van "My God, My God, waarom het U My verlaat?", het Hy reeds onderweg na Golgota voorsien.
'n Verdere antwoord lê in die feit dat die kruisiging - soos enigiets wat op die regte manier vir die lewende God gedoen word - 'n stuk aanbidding was. En in Jh 4 gee die Here Jesus vir ons die kwalifikasies vir aanbidding wat Sy Vader behaag: dit moet in gees en in waarheid geskied (19-24, OAV). Dit moet dus in hartsopregtheid en volgens God se geopenbaarde wil geskied [1].
Vir die Here Jesus se kruisiging om in waarheid te geskied - dus presies, in die fynste besonderhede, volgens die Vader se wil - moes Hy voortdurend deur die Heilige Gees gelei en verlig word. Hy het gevolglik nie op Sy menslike oordeel staatgemaak nie, maar die Gees vertrou - die Een wat die diepste geheimenisse van God deursoek (1Kor 2:10-11).
Vir die kruisiging om in gees te geskied - dus in hartsopregtheid voor die Vader - was Jesus ewe afhanklik van die Heilige Gees. God vereis altyd 'n totaal harmonieuse verhouding tussen hart en hand, tussen gesindheid en daad. As Hy Homself teensinnig, murmurerend of selfs stoïsyns aan die kruisiging sou oorgegee het, sou dit nie vir die Vader aanvaarbaar gewees het nie. Nee, dit moes in volmaakte vrywilligheid, blymoedigheid, ywer en geloof geskied.
Sonder die Heilige Gees sou die mens Christus Jesus se aanbidding nie volmaak en aanvaarbaar voor die Vader gewees het nie. Maar te danke aan die derde persoon van die Drie-eenheid het Hy homself "sonder smet" aan God geoffer (Hb 9:14, OAV) - en sodoende ons verlossing verseker.

Die Here Jesus se opstanding

Die Bybel skryf Christus se opstanding direk aan die Vader toe (Hd 2:24; Rm 6:4; 1Kor 6:14; Gl 1:1; Ef 1:20). Voorts is daar sterk aanduidings dat die Here Jesus self op een of ander manier aktief daarby betrokke was (Jh 2:19-21; 10:17-18). Tog suggereer Rm 1:3-4 dat die Heilige Gees ook 'n rol gespeel het. Die NIV stel dit só: "... regarding his Son ... who through the Spirit of holiness was declared with power to be the Son of God by his resurrection from the dead: Jesus Christ our Lord."
Sekerlik is Rm 8:11 ook betekenisvol as dit van óns opstanding praat, en van die feit dat die Heilige Gees aktief daarby betrokke sal wees: "Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon." Die sterk en onverbreekbare parallel wat die Nuwe Testament tussen Christus se opstanding en ons s'n trek, maak dit feitlik seker dat die Gees ook in die Here se opstanding aktief was.

Wat sê dit vir ons?

1. As ons terugkyk op ons verlossing wat destyds bewerkstellig is, moet ons sonder twyfel in die eerste instansie Christusgesentreerd dink. Maar laat ons in ons aanbiddingsverwondering en dankbaarheid daaroor nie vergeet van die Vader se wil en inisiatiefneming daarin nie; ook nie van Sy aanvaarding daarvan nie. En ewe min moet ons die Heilige Gees se betrokkenheid daarby in ons oortuigings en lof verwaarloos.
Sekerlik wil die Heilige Gees - as skaam Persoon van die Drie-eenheid - die kollig steeds op Christus laat val. Maar dit sou skandelike, néé sondige, nalating wees as ons Sý rol in ons redding nie weer en weer erken, onderstreep en loof nie.

2. As die Here Jesus Christus so algeheel afhanklik was van die Heilige Gees se leiding en bekragtiging om volgens Sy Vader se wil te leef, hoeveel te meer nie ek en jy nie? Dag na dag behoort ons te bid om die volheid van die Gees (Lk 11:5-13; Heidelbergse Kategismus v&a 116). En puntenerig moet ons voortdurend wees om Hom nie te bedroef of uit te blus nie.
En laat ons in ootmoed ons sonde voor die Here bely dat ons so dikwels die Gees se rol in ons verlossing vergeet en verwaarloos.
Mag niemand minder as die Heilige Gees self ons hierin help nie!

[1] So 'n vertolking volg vanuit die konteks. "Gees" koppel terug met v.20-21: nie die uiterlike van aanbiddingsplekke nie, maar die innerlikheid van die menslike gees. "Waarheid" koppel terug met v.22: nie die onkunde van die Samaritane, wat net die eerste 5 boeke van die Ou Testament aanvaar het nie, maar die volle waarheid van God se hele openbaring aan die mens.
Nico van der Walt