Tuesday, July 5, 2011

E-PREEK No.161 - EKS 3:1-15 - GOD SE NAAM [1 van 3]

IN BYBELSE TYE MOES IEMAND SE NAAM IETS OOR HOM SÊ. JOU NAAM EN JOU PERSOON MOES HAND AAN HAND LOOP. Terwyl dit by mense sekerlik nie altyd so uitgewerk het nie, sit daar merkwaardige en uiters betekenisvolle Godsopenbaring in die name waarmee God Homself aan Sy volk bekendstel. Sy naam dui dus op God self - soos geopenbaar in Sy woorde en dade. Die Ou Testament is dus vol verwondering daaroor dat Hy Sy naam aan Israel bekend gemaak het (vgl. Ps 8:2; 113:1-3; 145:1-2).
Geeneen van hierdie name is méér fundamenteel nie as die vier Hebreeuse konsonante, die sogenaamde tetragram, JHWH.
Afgesien daarvan dat antieke Hebreeus nie klinkers gebruik het nie, het die Israeliete uit ontsag ook nooit die naam uitgespreek nie. Hoewel God sekerlik self dit uitgespreek het, en ten minste Moses die voorreg gehad het om dit te hoor, ken ons nie met sekerheid die uitspraak daarvan nie. Vir bepaalde redes is daar vroeër aanvaar dat die uitspraak JeHoWaH is. Tog meen meeste geleerdes vandag dat dit eerder JaHWeH is. Normaalweg word dit vertaal met HERE (Eng. LORD). Meeste vertalings gebruik klein hoofletters om dit te onderskei van ander Godsname wat as "Here" geskryf word (ongelukkig nie die NAV nie).

God se persoonlike Naam

Die Ou Testament is van hoek tot kant vol van God se selfopenbaring. Maar een van die hoogtepunte, dalk dié hoogtepunt, vind ons in die openbaring van Sy verbondsnaam in Eksodus 3.
As Moses gestuur word om Israel uit Egipte te lei, vra hy hoe hy vir die mense moet sê wie hom gestuur het. Hierop antwoord God dan: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: 'Ek is' het my na julle toe gestuur" (Eks 3:14).
Voorts noem God Homself in v.15 "die HERE". JaHWeH klink baie soos "Ek is" in Hebreeus. Dis die derde persoon enkelvoud van die werkwoord "om te wees". As God dus oor Homself praat, sê Hy, "Ek is". As Sy volk oor Hom praat, moet hulle sê, "Hy is".

Wat openbaar God hier oor homself?

Hier is ons by die hart, die essensiële van wie en wat God is. Die Naam dui op veral sekere van Sy attribute - waaraan ons vinnig hieronder aandag sal gee - maar eintlik impliseer dit alles wat Hy is. Dit word dramaties versimboliseer deur die doringbos wat nie uitbrand nie (Eks 3:2-3).

# JaHWeH is die enigste, ware en lewende God. Teenoor die klomp denkbeeldige gode van die heidene (1Kor 8:4-6; 10:19-20), is Hy die Een wat is, die Een wat regtig bestaan.

# JaHWeH is die Algenoegsame. Hy is van niks of niemand buite Homself afhanklik nie. Hy is onveranderlik. In Homself het Hy alles wat Hy ooit mag nodig hê. Alles, maar alles wat is, het uit Hom ontstaan en is daar ter wille van Hom - in die besonder ter wille van Sy eer. "Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen" (Rm 11:36).

# JaHWeH is die Ewige. Hy was van alle ewigheid af daar. Hy het nooit ontstaan nie. Hy is die ewige onveroorsaakte oorsaak van alles. Van altyd af, voordat daar tyd of ruimte of energie of materie was, was Hy daar. Lig en orde en ekwilibrium en lewe het uit Hom voortgekom. Hy het gespreek, en dit was daar - vanuit niks. Nog meer, die uidrukking kan ook vertaal word, "Ek sal wees wat Ek sal wees". Hy is dus die ewig-onveranderlike, die ewig-onverganklike. Hy word nie oud nie, Hy verloor nie belangstelling nie - en Hy verbeter nie. Hoe kan volmaaktheid beter word?

# JaHWeH is die Heilige. Hy alleen is absoluut en oorspronklik. Alle ander syn het uit Hom voortgekom. Die ganse heelal lê by wyse van spreke in die holte van Sy hand. Hy is volkome uniek. Hy is verhewe bo alles in Sy skepping. Hy is die gansandere. Wesentlik kan niks in Sy skepping met Hom vergelyk word nie. Hy bestaan in dimensies bo die tyd en ruimte waaraan ons so magteloos onderworpe is. Hieruit volg noodwendig dat Hy heilig is, want heiligheid beteken ten diepste afgeskeidenheid. As sodanig is Hy die ewig-vomaakte. Daarom is Hy die somtotaal van alle morele skoonheid. Wie en wat Hy is en doen en beveel, is altyd en onbetwisbaar reg. Hy is die oorspronklike en finale definisie van geregtigheid en moraliteit. Hy is heilig, heilig, heilig! Vuur is simbool van hierdie heiligheid. Daarom moet Moses sy skoene uittrek - die plek is heilig.

# JaHWeH is die Soewereine. Hy het die reg en vermoë om as Skepper en Onderhouer - en dus as onbetwisbare Eienaar - die ganse heelal en al Sy skepsele (in die hemel en op aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders. Hy beskik oor alle wysheid en mag om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit of pla of verras nie. Hy gaan onverstoorbaar voort. Niemand kan aan Hom voorskryf nie. Hy is aan niemand enige verskoning of verduideliking verskuldig nie. Hy is die Pottebakker; ons is die klei. En "het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" (Rm 9:21). Óf ek aanvaar dit en onderwerp my daaraan, óf ek verset my daarteen - tot my eie ondergang en ewige verdoemenis. So ís dit. Geen mens kan hierdie realiteit ontkom nie!

# JaHWeH is die Almagtige. As Hy dan alles geskape het vanuit niks, het Hy gewis ook die vermoë en krag om enigiets te bewerkstellig en te bereik - wat Hy ook al wil, wat Sy wysheid mag voorskryf, wat Sy liefde mag begeer, en wat Hy in Sy heiligheid mag nodig ag.

Die Verbondsgod

Was dit ál wat God oor Homself geopenbaar het, sou dit ons totaal uitgelewer en vreesbevange gelaat het. Wat gaan Hy alles met my doen?
Maar God verseker ons in Sy Woord, trouens baie duidelik ook hier aan Moses, dat Hy nooit Sy soewereine almag bloot onbeheers, impulsief en arbitrêr uitoefen nie. Kyk weer goed na Eks 3.
Hierdie enige, algenoegsame, ewige, heilige, soewereine en almagtige God, is 'n God van verbondstrou. Dit is Hý wat die Israeliete se voorvaders geroep, gelei en versorg het. Daarmee begin Hy, en oor en oor beklemtoon Hy dit. En dit is Hý wat die beloftes van destyds nou gaan vervul.
Die naam JaHWeH is God se verbondsnaam! Dit bring die persóónlike kant van Sy karakter na vore - die feit dat Hy 'n behae in verhoudinge het, dat Hy afbuig na die mens toe, dat Hy liefdevol oor Sy dierbares se welsyn waak, dat Hy sorgsaam by hulle betrokke is.
Let op Sy empatie met Sy volk (7-9). Hy is intens bewus van hulle smarte in Egipte. Driemaal noem Hy Homself die God van Abraham, Isak en Jakob (6, 15, 16). Tweemaal verwys Hy na die Israeliete as Sy volk (7, 10). In v.16 noem Hy Homself die God van hulle vaders. En v.15 sluit Hy só af: "Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag."
Al gee Hy dus nou vir hulle 'n nuwe naam om vir Hom te gebruik, vind daar geen breuk met die verlede plaas nie. Hy was die God van hulle vaders, Hy sal húlle God wees, en Hy sal die God van hulle nageslag wees.
As verbondsnaam is JaHWeH Israel se eksklusiewe besit. Nêrens is dit opgeteken dat die ander Semitiese volkere dit ooit gebruik het om na hulle eie gode te verwys nie.
Konsekwente toewyding en volhardende liefdestrou lê aan die hart van God se persoonlikheid. Soos die doringbos bly brand, so bly Sy verbondsywer vir Sy uitverkorenes brand.
Oor en oor hoor ons Sy verbondshartstog in die Bybel: "Ek sal vir julle 'n God wees; julle sal vir My 'n volk wees!" Sy almag, Sy soewereine handele en al die werkinge van Sy voorsienigheid, is ter wille van Sy geliefdes. En húlle is ter wille van Sy eer.
Om op te som: God se soewereine almag word altyd in volle harmonie met Sy ganse Persoon uitgeoefen - in pas met ál Sy ander attribute. Dit word nie bepaal deur omstandighede buite Hom nie, maar volledig deur Homself - deur wie en wat Hy is. En by uitnemendheid is Hy JaHWeH, Verbondsgod van Sy volk. Weet dus vir seker: Sy almag handel nooit strydig met Sy liefde, heiligheid, wysheid, geregtigheid, of enige ander karaktertrek nie.

Jahweh Jahweh ... genadige God

Dat daar onuitputlike troos sit in God se verbondsnaam, word verder beklemtoon as Moses later op Sinaï pleit om God se heerlikheid te sien (Eks 33:18-34:7). Dit lei daartoe dat God oor Homself uitroep: "JaHWeH, JaHWeH, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe ..." (34:6-7, OAV).
Eintlik doen ek nou die ontoelaatbare deur die HERE se woorde nie enduit aan te haal nie. Maar ons tyd is beperk. Laat ons egter twee dinge raaksien. Een, in Eks 3 openbaar die Verbondsgod iets oor Sy wese; hier iets oor hoe Hy tipies teenoor Sy volk optree. En twee, uiters belangrik, laat ons nie die waarskuwing wat volg, miskyk nie.

Jahweh se Naam is "Jaloers"

Later in hoofstuk 34 maak God nóg 'n kardinaal belangrike uitspraak: "JaHWeH se Naam is jaloers" (14, OAV). Hier is die rede vir v.7 se waarskuwing.
Dit eggo die waarskuwing van die Tweede Gebod vroeër daar op die berg (20:5). Hierdie woord dra nie die negatiewe konnetasie wat óns daaraan heg nie. Dit verwys na 'n edelmoedige liefdeshartstog wat aandring op die onverdeelde trou van die een aan wie jy jou in verbond vasgeknoop het. Dít is byvoorbeeld die hartstog wat 'n man met verontwaardiging en woede laat brand as hy agterkom dat sy geliefde vrou hom bedrieg (of omgekeerd). 'n Man wat bloot sy skouers optrek, sou daarmee sê hy voel 'n veer vir sy vrou.

Die Engel van die Here

Ten slotte terug na Eks 3. Het jy opgelet wat staan daar in v.2? Dis die "Engel van die HERE" wat daar in die woestyn aan Moses verskyn het. Dit is Hý wat Homself "Ek is wat Ek is" noem.
Sonder dat ons dit met dogmatiese stelligheid kan sê, is die ou Kerkvaders (en talle na hulle) waarskynlik reg: hierdie tegniese uitdrukking in die Ou Testament dui meermale op die voor-vleeswordingsverskyning van God die Seun. Hy word, soos hier in Eks 3, geïdentifiseer met die HERE (Gn 16:7-13; Rig 6:12-14; 13:21-22). Maar Hy word ook onderskei van God (Eks 23:23; 32:33-34; 2Sam 24:16; 1Kron 21:16-27; Sag 1:12).
Wat sê dit? Verbysterend! "Ek is wat Ek is", die Algenoegsame, die Ewige en almagtige Skepper van alles - die Woord (Jh 1:1-3) - het mens geword en in nederige diensbaarheid onder ons gewoon. In Sy verbondsliefde het Hy Hom laat kruisig vir sondaars - sodat elkeen wat in Hom invlug, ewig saam met Hom in heerlikheid sal leef.
Vergeet egter nooit nie: Sy Naam is "Jaloers"!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment