Friday, June 3, 2011

E-PREEK No.42 - HD 2:37-41 : DIE EVANGELIE VAN DIE APOSTELS

OP DIE PINKSTERDAG WORD DIE GROOT BELOFTE VAN DIE OU TESTAMENT 'N WERKLIKHEID. Die verhoogde Christus ontvang van Sy Vader die mandaat om die Heilige Gees uit te stort op Sy agtergelate gemeentetjie - en Hy doen dit! [1]
Petrus begin dan preek vir die skare. Dis 'n besondere preek - vol oortuigingskrag. Talle kom vra wat hulle moet doen. Petrus se antwoord is vol gewigtige betekenis (Hd 2:37-41).

Die effek van Petrus se preek (37)

# Daar is 'n dramatiese reaksie. Vers 37 sê dat die hoorders "diep in die hart getref" is (OAV). Met hierdie beskrywing wil Lukas twee dinge tuisbring:
Eerstens sny Petrus se woorde tot in die mense se harte - die sentrum van hulle persoonlikhede en oortuigings. Kennelik is dit 'n werk van die Heilige Gees, met ingrypende en blywende effekte.
Tweedens gaan dit gepaard met diep belewinge. Die werkwoord (Gr. katanusso) is 'n samestelling van die woord "om te steek" plus 'n intensiferende voorvoegsel. Die waarheidsevangelie oor Christus steek dus dwarsdeur die hoorders se harte.

# Die mense besef hulle is skuldig voor God. Vandaar hulle vraag oor wat hulle te doen staan.

Petrus se antwoord (38-39)

'n Tweeledige bevel

# Eerstens, die mense moet hulle bekeer. Die begrip (Gr. metanouo) dui ten diepste op 'n verandering van oortuiging. Dit impliseer 'n radikale paradigma-verskuiwing, 'n kopswaai, 'n nuwe bril waardeur gekyk word. Johannes die Doper (Mt 3:2) en die Here Jesus (Mt 4:17) preek die noodsaak van bekering. En die apostels volg hulle puntenerig (Hd 3:19; 8:22; 17:30; 20:21; 26:20).
Omdat ons nie anders kan as om volgens ons oortuigings te handel nie, kom Bybelse bekering noodwendig tot uitdrukking in 'n lewensommekeer. Hierdie 180 grade omdraai het twee kante:
Negatief sal iemand wat hom of haar bekeer altyd wegdraai van sonde af. Daar sal dus 'n rugkeer wees op die vlees se aandrange, die wêreld se suigkragte en die Duiwel se verleidinge.
Positief sal so 'n persoon altyd heendraai na Christus toe. En dit het ten minste drie komponente: hy (of sy) sal homself vanuit sy geestelike bankrotskap algeheel aan Christus en Sy volmaakte middelaarswerk toevertrou; hy sal die beloftes wat God belowe aan almal wat in Sy Seun in vlug vir homself persoonlik toe-eien; hy sal homself enkelhartig en ongekwalifiseerd aan Christus persoonlik as Koning toewy.
Bybels gaan hierdie lewensommekeer ook gepaard met hartseer en verootmoediging oor jou sondemislukkings en -rebellie van die verlede. Dit is meer as net interessant dat metanouo amper konsekwent in die Septuaginta (die voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik word om die Hebreeuse woord te vertaal wat beteken om jouself te vertroos (2).

# Tweedens, die mense moet hulle laat doop. Vantevore het hulle Christus verwerp. Nou moet hulle hulself verneder deur hulle formeel, openlik en onomkeerbaar as dissipels aan Hom toe te wy. Dit gebeur as iemand hom of haar in die Naam van Jesus Christus laat doop. Dit beteken ten minste vier dinge: dit geskied in gehoorsaamheid aan Sy opdrag en dus op Sy gesag; dis 'n onderskrywing van Sy leer; dis 'n vertroue in Sy verdienste; dis 'n oorgawe aan Sy eise.

'n Tweeledige belofte

# Vir diegene wat aan die dubbele opdrag gehoorsaam is, is daar 'n dubbele belofte: sondevergiffenis en ontvangs van die Heilige Gees.

* Hierdie twee beloftes is gekoppel aan beide opdragte: bekering en doop. Nêrens suggereer die Nuwe Testament dat die bloot formele ondergaan van die doopsakrament op sigself sondevergiffenis en ontvangs van die Gees tot gevolg het nie. Maar ewe min het ons die reg om aanspraak te maak op die beloftes as ons die doopopdrag geringskat.

* Die "belofte" (OAV) was nie net vir die groep mense op wie die Heilige Gees geval het nie (39). Petrus doen besondere moeite om te beklemtoon dat dit 'n historiese en universele trefwydte het. Dit is vir ál sy luisteraars (wat aan die voorwaardes voldoen), en vir hulle "kinders" (komende geslagte deur die geskiedenis), en "vir almal wat daar ver is" (nie net Jode nie, maar ook vir die heidene) (3). Die belofte geld dus sonder onderskeid. Maar dit geld nie sonder uitsondering nie, want Petrus gaan onmiddellik voort met 'n uiters belangrike kwalifikasie: dit geld vir "almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep."

Die Here se nuwe gemeenskap (40-41)

# In v.40 sê Lukas dat bogenoemde nie al was wat Petrus gesê het nie. Hy het "nog baie ander woorde" gepraat - woorde van intense erns en aansporing. En die essensie van sy oproep? "Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit."
Dis belangrik om raak te sien dat Petrus nie bloot pleit vir 'n simplistiese en individualistiese bekering nie - iets wat gou-gou, stil-stil afgehandel word in die privaatheid van my eie wêreldjie.
Hy pleit vir 'n emigrasie vanuit die kring van die "ontaarde mense". Hy dring aan op 'n losmaak van en 'n rugkeer op die gevalle wêreld wat erg verbuig is ná die sondeval. Dis dus 'n oproep om te vlug vanuit die mensheid onder God se toorn.
Dit impliseer noodwendig die immigrasie in 'n ander mensheid in. [En laat ons onthou, voor God is daar net twee menshede - die ou mensheid in Adam, en die nuwe mensheid in Christus.] Onderwerping aan Koning Jesus hou dus in dat ek my toewy aan Sy volk - Sy ware bruidsgemeente.

# Daar is 'n verstommende respons op Petrus se pleidooi (41). Drieduisend mense neem die evangelieboodskap aan. Hulle kom tot geloof, ondergaan 'n kopswaai, laat hulle doop, en voeg hulle by die Jerusalemse gemeente.

Enkele gevolgtrekkings en implikasies

# Openbarings-histories is Pinkster 'n unieke gebeurtenis. Dis 'n eenmalige, maar enorme tree vorentoe in God se heilsplan.
Maar die uniekheid van Pinkster beteken nie dat daar geen lesse en voorskrifte vir ons in die Pinkstergebeure sit nie. Inteendeel! Sekerlik moet Petrus se prediking en aanslag op die Pinksterdag as normatiewe evangeliseringsriglyn vir ons dien.

# Eerstens moet ons die apostel se Christus-gesentreerdheid raaksien. In sy preek gee Petrus baie aandag aan Jesus se kruis en opstanding. Wat die historisiteit daarvan betref, beroep hy hom op 'n dubbele getuienis. Eerstens is daar die getuienis van die Ou Testament. Kruis en opstanding was vervulling van talle profesieë (Petrus verwys na Ps 16, Ps 110 en Joël 2). En tweedens is daar die getuienis van die apostels self (2:32).
Só moet ook ons preek. Maar omdat ons nie oog- en oorgetuies is nie, is ons algeheel afhanklik van die apostels se getuienis. Ons moet bloot hulle eggo's wees. Prediking is Woordverkondiging!

# Voorts verkondig Petrus die beloftes wat die Here gee vir mense wat opreg na Hom toe kom. Daar is twee beloftes. Die vergewing van sondes en die gawe van die Heilige Gees.

# Maar hierdie gawes word nie sonder meer gegee nie. Daar is voorwaardes aan verbonde.
Innerlik dring die Here aan op bekering. En uiterlik is daar die vereiste van die doop.
Sáám is die twee dinge die uitdrukking van ons geloof - wat ons vanuit die ou mensheid verplaas na die nuwe heilsgemeenskap van Christus.

# Bekering en doop het enorme implikasies. Dis die aanneem van 'n nuwe Koning, 'n nuwe volk, 'n nuwe burgerskap, 'n nuwe kultuur. Dis 'n besliste en ingrypende verplasing van lojaliteit, trou en toewyding. Dis om jou openlik te skaar by Jesus se dissipels. Dit is om vanuit dit wat oud en korrup is (NIV), oor te gaan na dit wat nuut en in die proses van redding is (vgl. 2:47).
Die doop is soos eedaflegging tydens naturalisasie. Dis 'n publieke en formele identifisering met Christus en met Sy gemeente.
Die dopeling moet dus weet dat hy of sy van daardie oomblik af 'n vreemdeling en 'n bywoner in hierdie wêreld is. Dis waarom dit 'n tipiese ervaring van gelowiges deur die eeue is: solank jy ongedoop is, word jy op 'n manier geduld. Maar die oomblik as jy formeel en publiek jou trou aan Christus bely, en jou lojaliteit na Sy gemeente verplaas, bars verwerping en selfs vervolging in felheid los. Dis asof mense aanvoel dat jy voor die tyd nog op twee gedagtes huiwer. Maar die oomblik as jy jou laat doop, weet hulle jy het die stuk niemandsland na die ander kant van die linies finaal oorgesteek.

# Op die Pinksterdag preek Petrus 'n viervoudige boodskap. Dit behels twee gebeurtenisse (Christus se dood en opstanding), soos bekragtig deur twee getuies (die profete en die apostels), op grond waarvan die Here twee beloftes maak (sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees), op voorwaarde dat ons twee opdragte gehoorsaam (bekering en doop).

* Ons het geen reg om hierdie viervoudige apostoliese evangelie te versnipper nie. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. God se heilsboodskap is 'n geïntegreerde eenheid.
Ons durf nie kruis en opstanding van mekaar lossny nie. Sonder die eerste kon die laaste nie plaasvind nie; sonder die laaste was die eerste tevergeefs (1Kor 15:12-20).
Ons durf nie Ou en Nuwe Testamentiese getuienis van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onverankerd; sonder die laaste loop die eerste op niks uit nie.
Ons durf nie sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onmoontlik; sonder die laaste geniet ons nie die voorregte van die eerste nie.
Ons durf nie bekering en doop van mekaar lossny nie. Sonder die eerste mag die laaste nie; sonder die laaste is die eerste nog nie voltooi nie.

# Ons mag nie 'n enkele komponent van die apostoliese proklamering oorboord gooi of selfs verwaarloos nie. Die ware evangelie is 'n historiese boodskap (dit handel oor feitelike gebeure in die verlede); dis 'n teologiese boodskap (soos deur die héle Woord van God verduidelik); dis 'n heilsboodskap (dit dra die belofte van verlossing); dis 'n gesagvolle boodskap (dit vereis van ons enkelhartige en onvoorwaardelike gehoorsaamheid).
-o0o-

(1) Vir hierdie preek het ek baie hulp gekry in die kommentaar van John R.W. Stott, The Message of Acts, Intervarsity Press, 1996, p.79-81.

(2) Naham in die Nifal-vorm.

(3) Daar is soms na die heidene verwys as "diegene wat daar ver is" (Jes 49:1, 12; 57:19; Ef 2:13, 17).

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment