Sunday, June 19, 2011

E-PREEK No.163 - HAB 2:4 : OM REGTIG TE LEWE

IN DIE KLOOSTERBIBLIOTEEK VAN ERFURT IN DUITSLAND IS 'N SKILDERY VAN 'N JONG MONNIK, MARTIN LUTHER. Voor hom lê 'n oop Bybel. Die oggendson val helder deur 'n venster op 'n vers wat sy hele lewe sou beheers en die wêreldgeskiedenis ingrypend sou raak: "Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe" (Hab 2:4, OAV). Vroeg in sy monnikkelewe het hy reeds begin worstel om hierdie vers te verstaan. In sy hart het hy aangevoel dat dit 'n wesentlik belangrike sleutel is om die ware geestelike lewe te begryp en te vind.
In nog 'n biblioteek, 40 km suid-oos van Erfurt - die van Rudolstadt - is daar 'n brief van Luther se jongste seun, Dr. Paul Luther, waarin hy skryf dat sy vader in 1544 aan die gesin vertel het van sy besoek jare vantevore aan Rome. Daar het hy op sy knieë uitgeklim teen die sg. trap van Pilatus en aanmekaar die Pater Noster (die Ons Vader-gebed) opgesê, in die hoop dat hy só siele uit die vagevuur sou red. Maar eensklaps het die woorde van Hab 2:4 deur sy gemoed gebrand, en het hy besef dat hy besig is met skreiende bygeloof en kettery.
Terug in Duitsland, uiters ontnugter met wat hy in Rome beleef het, gaan die betekenis van Hab 2:4 mettertyd vir Luther oop. Spoedig bereik hy 'n punt waarvan hy kan sê: "Toe het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure in die paradys van God ingestap." Só begin die sestiende eeuse Reformasie. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is die luike van Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van waarheid te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdryf.
Ons teks, slegs 3 woorde in die Hebreeus, is van die mees gelaaide en invloedryke uitsprake van alle tye. Ons kan trouens sê dat dit aan die hart lê van wat God deur Sy profete en apostels aan ons oor Sy reddingswerk geopenbaar het.

God se antwoord op Habakuk se vraag

Wat beteken hierdie woorde van Habakuk?
Die profeet skryf ongeveer 600 v.C. en worstel met onder meer die vraag waarom God die goddelose Chaldeërs, oftewel die Babiloniërs, wil gebruik om die verbondsvolk te straf. Hy aanvaar dat die volk as geheel skuldig staan voor God en gestraf moet word. Maar wat van die regverdiges? Want saam met hom en Jeremia is daar nog baie ander wat werklik in opregte gehoorsaamheid aan die Here leef. Wat gaan van húlle word in die gerig? Voorts brand 'n tweede vraag in hom: waarom 'n nóg sondiger volk as instrument gebruik om Juda te straf? Hoe rym dit met God se heilige karakter?
Die essensie van God se antwoord kry ons in v.4. Die trotse Chaldeërs en die Here se regverdiges word teenoor mekaar gestel. Die ou Verklarende Bybel vertolk die eerste helfte van die vers só: "Kyk, die opgeblasene. My siel het in hom geen behae nie." Die Babiloniërs sal dus hul "verdiende loon kry" (NAV). Daarenteen sal die regverdige Israeliet bly lewe - deur sy geloof. God se gunsgenote sal dus níé in oordeelstye onder gaan nie. En die enkelvoud in v.4 beklemtoon dat die beginsel kop vir kop geld.
Dus sal God se geregtigheid uiteindelik tog seëvier: sondaars sal sterf, gehoorsames sal lewe.

Verdere lig uit die Nuwe Testament

Habakuk 2:4 word 3 keer in die Nuwe Testament aangehaal (Rm 1:17; Gl 3:11; Hb 10:38). So word die beginsel wat die Here aan Sy profeet deurgee verder oopgevou. Interessant is die feit dat elkeen van die briewe waarin hierdie aanhalings voorkom veral één van die drie woorde in die Hebreeuse teks belig, elkeen 'n ander woord.

Die eerste Hebreeuse woord ("maar die regverdige") word in Romeine oopgevou.

In Hab 2:4 sê God dat dit moontlik is om regverdig voor Hom te wees. Maar hóé? Ons almal is immers sondaars. Juis dít was Luther se krisis. Sy sondebesef het hom party dae amper tot waansin gedryf. Dag na dag het Job se vraag deur sy hart gebrand: Hoe tog sal 'n skepsel ooit regverdig voor sy Maker kan staan? (Job 4:17; 9:2).
Presies dit is wat die Romeinebrief verduidelik. Romeine 1:16-17 is die tema van die brief - dit vat in 'n neutedop die boodskap daarvan saam. En, let op, die aanhaling uit Habakuk is deel hiervan. Die hart van hierdie tema is die uitdrukking, "die geregtigheid van God". Die kerk van die middeleeue het geleer dat dit na God se karakter verwys: Hy is 'n God van geregtigheid. Maar juis dít was Luther se krisis. Hoe sal hy as 'n sondaar ooit die oordele van só 'n God kan ontkom?
Hierdie uitdrukking in die Grieks kan egter ook anders verstaan word. Dis híérdie insig wat die Duitse professor in "die paradys van God" ingelanseer het: die Romeinebrief praat van 'n geregtigheid wat God gee! (OAV). En dis 'n gawe wat Hy vrylik aan alle mense bied, sonder onderskeid. Die enigste voorwaarde is dat jy jou volle vertroue stel in Sy Seun en Sy verdienste.
Regverdiging is 'n juridiese verklaring deur God. Dis 'n inskrywing in Sy boeke, by wyse van spreke. Hiervolgens gebeur twee dinge. Eerstens word die een wat glo se sondeskuld volledig aan Christus toegereken, oftewel gedebiteer. Met Sy kruisdood as Strafdraende Plaasvervanger betaal Hy hierdie skuld (Rm 3:21-31). Tweedens word Christus se volkome gehoorsaamheid aan Sy Vader aan so 'n persoon toegereken - gekrediteer (Rm 4, OAV).
In God se boeke het 'n geregverdigde die status van iemand wat nooit gesondig het nie; meer nog, van iemand wat die Wet volmaak onderhou het.
Dit is moontlik om regverdig voor God te staan!

Die tweede Hebreeuse woord ("deur sy geloof") word in Galasiërs oopgevou.

As Paulus die gemeente in Galasië vestig, verkondig hy die volle raad van God aan hulle: sondaars ontvang God se regverdigverklaring deur geloof alleen - geloof in die Persoon, middelaarskap en verdienste van Jesus Christus.
Maar skaars is die apostel weg, of die dwaalleraars daag op. Die Judaïste het verkondig dat geloof alléén nie genoeg is vir redding nie, maar dat die Joodse seremoniële wette ook onderhou moet word, veral die besnydenis. En spoedig begin die jong gemeente hierdie dwaling glo. Dit ontstel Paulus tot in sy wese. Twee keer roep hy God se oordele oor die misleiers uit - letterlik die banvloek (1:6-10). En hy waarsku met skrikwekkende erns: as julle jul nog laat besny, "sal Christus vir julle geen betekenis hê nie". Dan het julle "julle band met Christus verbreek", en het jul "die genade van God verbeur" (5:2-4).
Die Galasiërbrief beklemtoon dus in die mees uitdruklike terme dat daar net één manier is om God se regverdigverklaring te bekom: om in Christus alléén te glo - sonder om enige vertroue hoegenaamd te stel in eie verdienste. Trouens, om enigsins staat te maak op selfs net 'n kriesel menslike verdienste, addisioneel tot dié van Christus, is diskwalifiserend. Die Here Jesus is óf volkome alleen-redder, of glad nie! En sonder Hom is jy op jouself aangewese. Al wat dan oorbly, is jou eie geregtigheid - jy moet sélf die wet van God nakom (5:3). En onthou, Sý slaagsyfer is 100%; nie 99% nie. A miss is as good as a mile!

Die derde Hebreeuse woord ("sal lewe") word in Hebreërs oopgevou.

Baie mense dink dat 'n bloot eenmalige en tydelike geloof genoegsaam is om jou te red. Solank jy net iewers op 'n punt die Here aangeneem het, sal Hy jou red - ongeag hoe jou lewe daarná lyk.
Wat sulke mense nie besef nie, is dat die geloof waardeur regverdiging kom, iets uniek is. Dit mond áltyd uit in goeie werke en gehoorsaamheid en volharding (Jk 2:14-26). Waarom? Omdat die geloof wat God gee, 'n uitvloeisel is van die wedergeboorte, wat 'n innerlike herskepping van jou diepste wese is. En so 'n herskepte hart is totaal verknog aan Christus - altyd en end-uit. God se verlossingswerk in 'n persoon is 'n proses - 'n geïntegreerde geheel, wat heilige volharding insluit. Het jy dit hoegenaamd, het jy alles wat dit behels.
Dit is presies wat die Hebreërbrief wil tuisbring. Die brief word geskryf aan Joodse Christene wat begin lam raak in die knieë. Die eise van dissipelskap raak te veel. Gevolglik oorweeg hulle om terug te draai na die ou en bekende weë van die Joodse godsdiens. Die skrywer wil hulle egter tot besinning ruk: slegs lewenslange gehoorsaamheid aan Christus en geloofsvolharding in Hom, lei tot die ewige saligheid! Christenskap is 'n wedloop - die prys kry jy eers by die wenpaal.
Dis nie dat gehoorsaamheid en volharding 'n bydrae lewer tot Christus se verdienste nie. Nee, dis omdat ware geloof is wat dit is. Dis lewensveranderend. Dit hou uit en dit hou aan.
Hebreërs 11, wat net ná die skrywer se aanhaling van Hab 2:4 volg, handel oor geloof en die effekte daarvan. Een na die ander Ou Testamentiese geloofsheld word as voorbeeld voorgehou. Wat opval, is dat al hierdie mense se geloof sonder uitsondering oorgaan tot dade. Dit laat Abel 'n beter offer bring. Dit laat Henog met God wandel. Dit laat Noag die ark bou. Dit laat Abraham wegtrek na die beloofde land, dit stel hom in staat om Isak se vader te word, dit laat hom Isak offer. En so gaan die hoofstuk aan en aan. Uiteindelik sluit dit af met die helde van v.32 wat onstuitbaar volhard op die geloofspad en die mees merkwaardige dinge vir die Here regkry (33-38).
Nooit mag ons die ou Latynse gesegde vergeet nie: sola fides justificat, sed non fides sola est (geloof alleen regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie). Ware geloof, daardie geloof wat regverdig, was nog altyd deur die eeue 'n manier van lewe.

Slot

Die beginsel van Hab 2:4 lê aan die hart van God se openbaring aan ons, aan die hart van die evangelie, aan die hart van wat dit beteken om met Christus verenig te wees. Wie dit nie verstaan en beleef nie, is bes moontlik nog nie gered nie - in elk geval nie proefondervindelik nie. Maar wie vanuit sy of haar sondegebrokenheid in Christus invlug en ten volle in Sy volkome Middelaarskap bly vertrou, sal deur God in die volste sin van die woord regverdig verklaar word. En so 'n man of vrou of kind sal waarlik lewe - onmiskenbaar nou reeds, en onuitspreeklik heerlik vir ewig!
Dís wat op Luther gedaag het - en hom deur oop deure in God se paradys laat instap het!

'n Laaste woord

Hierdie was net 'n voëlvlug. Grootse temas is bloot kursories aangeraak. Maar dis wesentlik belangrike onderwerpe waarsonder mens bloedweinig begryp van God se verlossingswerk in Christus. Om hierdie temas behoorlik onder die knie te hê, is kosbaarder as goud. Vir ware Christene is dit 'n onuitputlike bron van troos, dankbaarheid, blydskap en vrymoedige aanbidding. Maar huigelaars word meedoënloos daardeur ontbloot. En met iemand wat nog nie deur 'n ware geloof met Christus verenig is nie, kan niks beter gebeur nie. Want eers as jy kaal voor God staan, word die Middelaar se werk vir jou van meer as bloot akademiese belang.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment