Sunday, June 5, 2011

E-PREEK No.11 - RM 3:25 : JESUS CHRISTUS, STRAFDRAENDE PLAASVERVANGER

ALLE MENSE, SONDER UITSONDERING, IS SKULDIG EN DAAROM DOEMWAARDIG VOOR GOD. Almal is onder Sy toorn. Dis die mens se heel grootste probleem! (Rm 1:18-3:20).
Maar dan begin Rm 3:21 met twee van die wonderlikste woorde in die Bybel: "Maar nou ...".
Dit word gevolg deur een van die rykste uiteensettings van die evangelie in die ganse Woord (Rm 3:21-31). Aan die hart van hierdie verse is v.25. En aan die hart van v.25 is die woord "versoening" (Gr. hilasterion).
Die heidene het natuurrampe en ander probleme aan die woede van hulle gode gewyt. Hilasterion is die woord wat hulle gebruik het vir die offers wat gebring is om die gode kwansuis te paai.
Sonder om die lewende God met die heidendom te assosieer, kan ons aanvaar dat die geïnspireerde apostel met presies hierdie idee werk. So aanvaar die regsinnige teologie dit nog altyd. Rm 3:25 praat dus van die kruis as 'n hilasterion-offer. Dáár het God se toorn op Sy Seun ingebrand en is Sy heilige verontwaardiging oor menslike sonde bevredig.
Hilasterion sê in 'n enkele woord wat Jesus Christus op Golgota gedoen het!

Die toorn van God

Male sonder tal het die Bybel dit oor God se toorn - selfs meer as oor God se liefde. Presies hiermee begin Paulus dan ook sy wonderlike uiteensetting van die evangelie in die Romeineboek.

God se toorn is Sy ewige en absolute afsku van alle ongeregtigheid en sonde - asook Sy handelinge om uitdrukking aan hierdie afsku te gee. Dis die heiligheid van God in aksie teen alle sonde.

En laat ons onthou: die toorn van God is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. Ongeërgdheid t.o.v. sonde sou immers getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.

Die strafdraende Plaasvervanger

Dis moeilik om 'n bevredigende vertaling vir hilasterion te vind. "Versoening" sê nie genoeg nie.
In Engels word die woord propitiation gebruik. Só omskryf 'n bekende woordeboek die begrip: "Some offering, sacrifice or suffering sufficient to win forgiveness or make up for an offence. It is an action that makes the governing power propitious (kindly disposed, gracious) toward the offender."
Erickson stel dit so in sy Concise Dictionary of Christian Theology: "A reference to the idea that Christ's atonement satisfies the wrath of God."
Dalk is die beste vertaling vir hilasterion dus iets van 'n omskrywing: Christus was die Strafdraende Plaasvervanger (Penal Substitute) wat God se toorn namens ons gedra het. Kom ek motiveer.

# Strafdraend: 'n Heilige God se volmaakte geregtigheid dring daarop aan dat alle oortredinge van Sy wet gestraf moet word. En presies dit het op Golgota gebeur. Daar het God se toorn teen die sonde van mense op Sy eie Seun in gebrandglas!

# Plaasvervanging: Dit vind plaas wanneer iemand in die plek van 'n ander optree - só dat dit nie meer vir die ander nodig is om dit te doen nie.
Dat Christus as plaasvervanger opgetree het vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, word sterk deur die Skrif onderstreep. Twee voorsetsels bring dit byvoorbeeld mooi na vore:
In Rm 5:8 en Gl 3:13 word die voorsetsel huper (ter wille van, namens) met "vir" vertaal. Laasgenoemde vers stel dit só: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word ..."
Mt 20:28; Mk 10:45 en 1Tm 2:6 gebruik weer die voorsetsel anti (in plek van, in ruil vir). Só stel Mk 10:45 dit: "die Seun ... het ... gekom ... om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie ..."

Jesus Christus, gedring deur Sy volkome liefde om al die nodige te doen vir my redding, het God se verskriklike oordele, wat ék moes ondergaan het, volledig namens my gedra - en sodoende vir my vergiffenis en ewige heerlikheid bewerkstellig.

Elke ware gelowige móét hierdie waarheid verstaan. Dit lê immers aan die hart van die evangelie. Begryp, glo en omhels dit - en dit sal jou lewe verander. Daarom ken Christene dwarsdeur die eeue twee belewinge:
Eerstens 'n diep hartswete: hiervoor is ek alles - my ganse lewe - aan my Verlosser verskuldig.
Tweedens ’n innerlike sekuriteit, wat 'n onuitputlike bron van vrede, vreugde en lof word.

Wat sê hierdie waarheid vir ons?

1. Dit sê vir ons iets oor God.
Dis belangrik om te begryp dat Christus nie teenoor Sy Vader op Golgota gestaan het nie. Dis 'n totaal verwronge en Godonterende idee dat Hy "arme sondaars" teen Sy Vader se woede beskerm het.

# Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis die Vader wat Sy Seun daar "gegee" het (Rm 3:25). Letterlik sê die werkwoord dat die Vader Sy Seun as ’t ware voor Homself neergesit het - ten einde mý straf te verduur.
Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! "Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom." ... "Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly." (53:4-5, 10).

# Agter die kruis moet God se heilige geregtigheid dus gesien word. Op Golgota is Sy toorn teen my sondeskuld bevredig. Dit het reggemaak wat verkeerd was in Sy oë. Elke kriesel skuld is betaal.
Die kruis beklemtoon die volmaaktheid van God se wet en dat Hy kompromieloos daarby staan as morele standaard vir die mens. Die diepste grond van ons redding is en bly volmaakte onderhouding van die wet - dié van die mens Christus Jesus!

2. Dit sê vir ons iets oor die mens.
Sedert Golgota kan geen twyfel bestaan oor die erns van God se waarskuwing in Gen 2:17 nie: "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy."
Daar kan nie 'n groter en meer beledigende sonde wees as om só 'n Plaasvervanger weg te wys nie. Daarom sal God elkeen wat sy rug op Sy genade-aanbod draai, met 'n strenger oordeel straf as diegene wat nooit die evangelie gehoor het nie.
Niks beklemtoon die onontkombaarheid van die ewige verdoemenis vir diegene sonder 'n plaasvervanger meer as die feit van Golgota nie.

Sal die lewende God 'n rebel oorsien, as Hy Sy eie Seun nie gespaar het nie?

3. Dit sê vir ons iets oor Jesus Christus.
As ware mens het Hy ons plek onder God se toorn ingeneem. Hy het die dood ondergaan wat ons moes sterf - liggaamlik en geestelik. Dis waarom Hy roep: "My God, My God, waarom het U My verlaat?" (Mk 15:34). Hier is die onwankelbare fondasie van ons vryspraak en immuniteit in terme van die Wet.
Een van die Skrif se aangrypendste beklemtonings is Jesus Christus se gewillige opoffering van Homself as Plaasvervanger. Vier keer in die gedeelte oor die goeie herder beklemtoon Hy dat Hy Sy lewe aflê vir die skape (Jh 10:11, 15, 17, 18). En in Ef 5:2 skryf die apostel: "Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was."

4. Dit sê vir ons iets oor reddende geloof.
Geloof begryp dat God se vereistes en standaarde vir die mens volledig en onveranderd bly staan tot in ewigheid, en dat die ewige straf wat God belowe het vir mislukking en rebellie, onafwendbaar rus op elkeen buite Christus. Ware geloof aanvaar egter ook dat die straf vir my sonde reeds op Christus ingebrand het - en totaal daar uitgewoed het.
Ware geloof bring gewetensrus. Toplady sing: "Payment God cannot twice demand, first from my bleeding Surety's hand, and then again from mine."

# 'n Voorbrand dien as brandbeveiliging. Waar 'n vuur eenmaal gebrand het, brand dit nie wéér nie! Onthou dan: die vuur van God se toorn het reeds op Christus ingebrand. Waarlik, op die oordeelsdag sal daar één veilige plek wees: Golgota se voorbrand!

Ware geloof gaan nie net eenkeer Golgota toe nie. Nee, dit skuil enduit by die kruis!

# Hieruit volg twee wesenstrekke van ware, saligmakende geloof:
Eerstens begryp en omhels dit God se vrye gawe van vergiffenis in Christus - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Dis die hart daarvan. 'n Christen sterf met sy Verlosser se Naam op sy lippe.
Tweedens is ware geloof 'n wegkyk van jouself - na Christus, en besonderlik na Hom as die Gekruisigde. Volwasse gelowiges soek dus nie die grond vir hul vergiffenis en toekomshoop in eie belewinge nie. Hulle weet, voortdurende introspeksie is 'n resep vir moedeloosheid. Ja, hulle ondersoek hulleself gereeld (2Kor 13:5), maar steek nie daar vas nie. Hulle sondebesef dryf hulle weer en weer na Christus toe.
Moet dit nóóit vergeet nie: redding is objektief. Dit gebeur in die eerste instansie buite my - by wyse van spreke in God se boeke.
Laat ons altyd die koperslang in die woestyn onthou (Num 21:8-9). Al wat nodig was vir genesing, was om te kyk. Jesus gebruik hierdie beeld as Hy oor Sy komende kruisiging praat - en oor die wese van geloof (Jh 3:14-18).

Geloof is om jou oë op Christus vas te nael!

Waarom 'n slang? In die Bybel is dit 'n simbool van boosheid. Die koperslang was dus 'n stuk profesie dat die Messias "sonde vir ons gemaak" sou word - dat Hy ons strafdraende Plaasvervanger sou wees (2Kor 5:21, OAV).

God se verlossing is gevolglik toeganklik vir almal - ongeag hoe groot jou sonde, onvermoë of onwaardigheid ook al is! Al wat immers nodig is, is om vanuit jou magtelose bankrotskap na Christus te kyk. Jy hoef niks te doen nie. Jy moet net kyk!
Trouens, jy durf niks anders doen nie. Dit weerhou jou van kyk soos jy moet. Nog belangriker, Christus is óf alleen-redder, óf glad nie. Die Israeliete wat self probeer regkom het, het gesterf!
Kan jy nou sien waarom die Christelike geloof wesentlik verskil van alle godsdienste - ook van churchianity - wat op moralisme en seremonies staatmaak vir redding.

Nee, redding is nie godsdienstiges wat na die Allerhoogste toe opklim nie; dis God wat in Christus na bedelende sondaars toe afbuig!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment