Sunday, June 19, 2011

E-PREEK No.141 - LK 10:25-37 : DIE MAN WAT OMGEGEE HET

HOEWEL DIT IN SY GEVAL NIE UIT 'N OPREGTE HART KOM NIE, HET NIEMAND NOG OOIT 'N GEWIGTIGER VRAAG GEVRA AS HIERDIE WETGELEERDE NIE: "Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"
Dit gee ook aanleiding tot 'n eenvoudige, maar aangrypende verhaal wat deur die eeue 'n onuitwisbare indruk op mense gemaak het.

# Daar is egter nog 'n rede waarom ons met die grootste erns na hierdie gelykenis moet kyk. Hierdie vraag is by net een ander geleentheid aan die Here Jesus gestel (deur die ryk jongman: Mt 19:16; Mk 10:17; Lk 18:18). Nou moet dit sekerlik van die allergrootste betekenis wees dat die Here in beide gevalle op presies dieselfde manier reageer - maar totaal strydig met ons verwagting. Hy verwys die vraagsteller elke keer na die Morele Wet! En uiteindelik roep Hy beide op tot 'n radikale uitlewing van die wet - besonderlik in liefdesaflegging van hulleself ter wille van mense in nood.
Dis moeilik om die konklusie te ontkom dat Jesus wil sê dat die pad na die ewige lewe langs die weg van goeie werke loop! Om dit verder te kompliseer, sê Hy uidruklik aan die wetgeleerde dat hy sal lewe indien hy dit doen (28; vgl. ook 37). Hier is iets wat ons nie ligtelik durf verbygaan nie!

Wie is my naaste?

As Jesus vir die wetgeleerde sê hy moet die wet uitleef om gered te word, tref dit op 'n plek wat seermaak. Met vinnige voetwerk probeer die man uit die hoek kom: "Wie is my naaste?" Dis nie 'n nuwe vraag nie. N.a.v. Lev 19:18 het die Skrifgeleerdes dikwels daaroor gespekuleer. Maar hier kom die Here Jesus met die allerantwoord.

Die gelykenis

# Die ongerepte woestynpad tussen Jerusalem en Jerigo daal 1035 m oor 'n afstand van 28 km. Dis 'n gebied vol spelonke - en baie rowers.

# 'n Reisiger word dan ook beroof en ernstig beseer. Twee medereisigers - eers 'n priester en daarna 'n Leviet - maak of hulle niks sien nie en haas hulle verby die ernstig beseerde slagoffer.
Daar kan meer as een rede wees vir hulle onwilligheid om te help. Dalk was hulle bang die rowers is nog in die omtrek. Of dalk was hulle bang die slagoffer is al dood en sy lyk dus onrein (Num 19:11-16) - wat hulle wagtende seremoniële pligte in die gedrang sou bring. Hoe ook al, beide godsdienstiges het die Ou Testamentiese beginsel vergeet - dat die Here eerder gehoorsaamheid wil hê as brandoffers en diereoffers (1Sam 15:22).

# Dan is daar 'n skokkende wending in die storie. 'n Samaritaan, van alle mense, help die man. Die Jode en Samaritane het mekaar gehaat (Jh 8:48). Tog trotseer die man die gevare en sien so goed hy kan na die beseerde (Jood?) om. Trouens, hy doen veel meer as wat enige redelike mens sou verwag - want hy voel innig jammer vir die slagoffer (33). Hy pas noodbehandeling toe, laai hom op sy rydier na 'n herberg toe, versorg hom daar verder, betaal vir alle onkoste wat daar mag wees en onderneem les bes om weer terug te kom. As iemand ooit 'n tweede myl gestap het, was dit hierdie Samaritaan!

Drie soorte mense

Die slagoffer ontmoet drie soorte mense op pad:
Die rowers lewe volgens die ysterreël: joune is myne!
Die priester en Leviet lewe volgens die silwerreël: joune is joune en myne is myne! Dit moet ons nie verbaas nie. Vir baie jare al het die rabbi's die mens se hoogste morele plig só saamgevat: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie! Die koudste harte hang soms net 400mm onder die suiwerste ortodoksie!
Nee, sê Jesus, die uitnemende pad is die van die Samaritaan. Hy lewe volgens die goue reël: myne is joune! In plaas van die rabbi's se negatiewe moraliteit, is die Here heerlik positief: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê!

Die saakmaak-vraag

Jy vra die verkeerde vraag, sê Jesus dan in werklikheid vir die wetgeleerde (36). Jou vraag oor wie jou naaste is, poog om soveel moontlik mense uit te skakel, want jy wil weet wie regtig kwalifiseer. Die vraag tussen die reëls gaan eintlik oor hoeveel mense jy maar kan verbygaan.
Maar die regte vraag is: is ék 'n nááste vir my medemens? Doen ek wat ek kan vir diegene in nood met wie ek te doen kry?
Óns vra: wie moet ek liefhê, en hoeveel moet ek liefhê? Jesus Christus vra: het jy voor die voet lief?

Die uitklophou

Goed, sê die Here Jesus uiteindelik, jy het My gevra hoe om die ewige lewe te beërf. Jy het laat blyk jy ken die essensie van die Wet. Ek het nou die praktiese implikasies daarvan vir jou uitgespel. Gaan heen; leef dit uit! (37). Die wetgeleerde wou Jesus uitvang - maar hy gaan druipstert weg.

Regverdiging deur werke ?

# In beginsel is dit wel moontlik om deur eie wetsonderhouding gered te word - maar dan moet dit volmaak wees (Gl 3:21; Rm 8:3). Daar is egter een groot probleem: nie een van ons kan eers begin om dit reg te kry nie. Let wel, die probleem lê nie by God se standaarde nie - dié is volmaak. Die probleem lê by die mens. Vanweë sy verdorwenheid doen hy die Wet dag na dag geweld aan - deur oortreding én deur mislukking.

# Is Jesus dus naïef, oor-idealisties, onrealisties, met respek gevra? Was dit vir Paulus om 'n wanopvatting te kom regstel met sy aandrang dat niemand deur wetsonderhouding gered kan word nie en dat 'n ander pad dus noodsaaklik is? Nee! Onthou, ons het met die Woord van God te doen. Hier sit iets baie rykers in!

# Jesus weet die selfvoldane wetsgeleerde - soos ook die ryk jongman - is nog nie gereed vir die Koninkryk nie. Daarvoor is geestelike bedelaarskap 'n absolute voorvereiste (Mt 5:3). Want daarsonder gryp jy nie die Plaasvervanger vas nie - die énigste Middelaar tussen God en sondaars (1Tm 2:5). Die Here stuur die man dus terug na die Wet toe, sodat dié hom kan stroop van sy selfversekerdheid, hom kan verinneweer totdat hy soos die tollenaar van Lk 18:13 in wanhoop om God se genade roep. Eers dán kan daar sprake wees van ware geloof, geloof waardeur Christus se geregtigheid aan sondaars toegereken word.
Ware geloof het twee onmisbare komponente: afhanklikheid en vertroue. Dis afhanklikheids-vertroue! Self-wanhoop is op sig self dus nie genoeg nie. Die negatiewe moet ook met positiewe vertroue afgerond word - en omgekeerd. Uiteindelik kyk ware geloof weg van jou sondige self, om die oë op Christus vas te nael!

* Die feit dat die Here Jesus met sowel die wetsgeleerde as die ryk jongman presies dieselfde strategie volg, moet ons waarsku om die belangrikheid daarvan nie mis te kyk nie. Die koninkryk van die hemele word op net één manier binnegestap - met bedelaarskoene aan! En voordat jy nie moedeloos gespook is met die onbereikbaarheid van God se volmaakte standaarde nie - Sy wet - sal jou trots jou om 't dood nie toelaat om hierdie skoene aan te trek nie.

Dis nie al nie

# Hier durf ons nie stop nie. Mag die Here ons bewaar van 'n goedkoop evangelie wat op hierdie punt 'n sug van verligting slaak en agteroor sit!
Te veel Christene wat hulleself wysmaak hulle is veilig in Christus, glo al wat oorbly is om te wag om hemel toe te gaan. Omdat ons nie deur werke gered word nie, dink hulle werke is nie regtig só belangrik nie. Maar dis 'n noodlottige dwaling!

# Ja, die essensie van ware geloof is afhanklikheidsvertroue. Maar die Bybel is ook boordevol getuienis dat dit altyd 'n spesifieke vrug dra. Trouens, dis al waaraan jy die ware Jakob kan uitken (Jk 2:14-26). En wat is hierdie vrug? Dis 'n hartstog om die werke van die wet te doen (Jer 31:33) - 'n hartstog wat jou lewe vorm vanaf die dag wat jy dit ontvang (Mt 12:33-37).
Niemand kan God se standaarde volmaak haal nie. Maar die nuwe lewe in jou hart dring jou om weer en weer op te staan - en nogeens te probeer.

# In die Skrifgedeelte waarna ons kyk, illustreer Jesus die essensie van die wet - besonderlik die tweede tafel daarvan, die gedeelte oor naasteliefde. Omdat ware, reddende geloof altyd gepaard gaan met 'n hartstog om God se wet te gehoorsaam, beteken dit dat elkeen wat geloof het, iets sal vertoon van wat Jesus die wetsgeleerde beveel. Ware gelowiges klim van donkies af; hulle help diegene in nood; hulle deel uit en volg Christus as Koning!
Wat die Here dus met die wetsgeleerde doen (en met die ryk jongman), is om hom met die liefde wat God vereis tot nederigheid in te breek - sodat hy die liefde wat God gee uiteindelik kan ontvang.

# Iemand sonder 'n hartstog om God te behaag, is sonder 'n nuwe hart - want op die tafels van elke nuwe en herskepte hart is God se wet geskryf. En as jy sonder 'n nuwe hart is, beteken dit dat jy nie wedergebore is nie, en gevolglik nie ware geloof het nie. Daarom sal jy nie die koninkryk ingaan nie.

* In die gedeelte oor die ryk jongman is die dissipels se vraag begryplik: "... wie kan dan gered word?" (Lk 18:26). Die antwoord is bemoedigend, maar kripties: "Wat vir mense onmoontlik is, is vir God moontlik."
Hoe doen God dit? Jesus sê nie. Maar spoedig sou die dissipels dit dramaties voor hulle oë sien afspeel.
In Lk 19:1-10 sien hulle hoe 'n kameel deur 'n naald se oog glip. 'n Ryk man, Saggeus, word 'n verstommende uitdeler. As Jesus dit sien, weet Hy nóg 'n man het 'n nuwe hart by God gekry. En Hy weet dis alles gewortel in Sý Middelaarswerk (10)!
Sien jy dit? Die Here doen die onmoontlike. Hy verander mense deur vir hulle nuwe harte te gee. Daarom is daar wel baie mense wat soos die barmhartige Samaritaan en Saggeus leef. Dis omdat hulle wedergebore is. En daarom sal hulle die koninkryk beërf.

# Les bes is daar nog iets wat ons nie moet miskyk in hierdie gelykenis nie.
In die barmhartige Samaritaan sien ons iets van Jesus Christus se totale self-aflegging ter wille van ons. In Hom sien ons immers volmaakte liefde vir hulpelose en gestroopte sondaars. Hy verbind ons, dra ons, versorg ons. Hy red ons.
En nou is dit onontkombaar duidelik, nie waar nie: Sy volmaakte liefdeswerk ter wille van ons is die diepste grond vir ons onontkombare roeping tot die lewensingesteldheid van die barmhartige Samaritaan.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment