Saturday, June 18, 2011

E-PREEK No.121 - HD 13:48 : BESTEM VIR DIE EWIGE LEWE

TYDENS DIE EERSTE SENDINGREIS VERKONDIG PAULUS EN BARNABAS DIE EVANGELIE IN ANTIOGIË (HD 13:14-16). DAAR GEBEUR DAN IETS VAN GEWELDIGE BETEKENIS.
Aanvanklik preek die sendelinge vir die Jode, maar hierdie mense wat vir soveel eeue onder God se genadeguns geleef het, verhard hulle daarteen. Die apostels rig hulle dan tot die heidene. En dadelik is daar 'n positiewe respons. Dit vervul die Joodse leiers met afguns. Paulus-hulle reageer sonder om doekies om te draai: die Woord móés eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie. Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies.
Dis die laaste strooi vir die Jode. En mettertyd verdryf hulle die sendelinge uit die stad.

Bestem tot die ewige lewe

As die heidene die evangelie hoor, is hulle verheug. Van hulle word dan ook gelowig. En as hy hieroor skryf, maak Lukas 'n stelling oor God se uitverkiesing van sommige sondaars tot die ewige lewe - so duidelik soos beswaarlik elders in die Heilige Skrif. Wie word gelowig? Wie neem Paulus-hulle se evangelie aan? Die mense wat vir die ewige lewe bestem is! (48).

# Eerstens is die presiese betekenis van die werkwoord "verordineer" (OAV) of "bestem" (NAV), baie insiggewend.
Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas. 'n Paar voorbeelde in die Nuwe Testament sal dit duideliker maak.
Mt 28:16: die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV).
Lk 7:8: die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is.
Hd 22:10: Paulus moet Damaskus toe, waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het.
Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol besluit, vasgelê en vasgemaak is.
Die begrip kan dalk op 'n verdere en verwante idee dui. In buite-Bybelse Grieks word die woord soms gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Dalk sinspeel Lukas op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dn 12:1; Lk 10:20; Fl 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27). F.F. Bruce stel dit só: "many of them believed the gospel - all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ..."

# Tweedens is die werkwoord in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet.
Die woord is 'n perfektum passief partisipium. Vir ons doel beteken dit twee dinge:
Die passief sê dat dit nie iets is wat die mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses. Die handeling is aan hulle gedoen. (Natuurlik het hulle nie end-uit passief gebly nie, maar híérin het hulle geen rol gespeel nie).
Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge steeds geld. Die mense is destyds "bestem" hiervoor - as 't ware in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas.

# Derdens is hierdie mense van Antiogië nie bloot vir 'n geringe en tydelike voorreg geoormerk nie; hulle is vir die "ewige lewe" bestem. Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.

# Vierdens het "almal" wat vir die ewige lewe bestem is tot geloof gekom. Natuurlik word nie bedoel dat niemand van die ander later tot bekering sou kon kom nie - asof hierdie die enigste kans op redding was. Die idee is bloot dat daar 'n onlosmaaklike verband is tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof; en alle uitverkorenes kom tot ware geloof.

# Vyfdens, die feit dat uitverkiesing noodsaaklik is vir redding, impliseer nie 'n soortgelyke verwerping deur God van diegene wat verlore gaan nie.
Diegene wat die evangelie verwerp, doen dit self (46b). Dit verg dus nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval en van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe en onder God se toorn. God sorteer nie die mensheid arbitrêr uit nie - een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, Hy haal sommige as 't ware uit die verlore mensheid uit met die oog op redding. Maar die ander los Hy gewoon in die verlore staat waarin hulle in elk geval verkeer het.

'n Aantal perspektiewe op uitverkiesing

# Die feit dat ons so klinies oor die dinge praat, beteken nie dat ons dit gevoelloos doen nie. Inteendeel! Mens wil ineenstort onder die gewigtigheid daarvan.

# Die sleutel tot 'n verstaan van uitverkiesing lê in aanvaarding van die mens se radikale verdorwenheid. Die natuurlike mens is dood in sy sonde (Ef 2:1). Sonder God se inisiatiefnemende redding kan niemand glo nie.

# Dit is God self wat gekies het (Mk 13:20; 1Ts 1:4; 2Ts 2:13). Sy uitverkiesende barmhartigheid berus dus volledig by Sy eie soewereine wil, nie by die keuse van mense nie (Eks 33:19; Dt 7:6-7; Mt 20:15; Rm 9:10-24; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5).

# Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is (Ef 1:4; 2Ts 2:13; 2Tm 1:9; Op 13:8; 17:8).

# God het bepaalde individue tot die saligheid verkies. Dit is húlle wat tot ware geloof kom - te danke aan Sy herskeppende ingrype.

# God se keuse is totaal onafhanklik van en voorafgaande aan enige geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies word (Hd 13:48; 18:27; Rm 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fl 1:29; 2:12-13; 1Ts 1:4-5; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:9; Jk 2:5). Sy keuse is dus nie gebasseer op enige vooruitgesiene geloof of vroomheid in diegene wat verkies word nie.
Mense gryp na laasgenoemde baie algemene idee, aangesien hulle 'n vrye keuse vir die mens wil verskans. Hulle redeneer só: God het vooruit gekyk en in Sy alwetenheid gesien wie gaan glo, hom of haar daarom verkies, en die persoon se naam toe in die boek van die lewe opgeskryf.
Dis egter 'n dwase argument wat logies geen water hou nie. Want as so 'n persoon dan die dag gebore word, sou dit beteken dat sy naam reeds in die boek van die lewe geskryf staan - hy gáán mos besluit om te glo. Het hy dan nog 'n vrye keuse?

# Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe - waarby ek wel eenhonderd persent betrokke is - is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing (Ef 1:4, 2:10; 2Pt 1:10-11). Niemand kan dus uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.

# Omdat uitverkiesing 'n verkiesing vanuit verlorenheid tot redding is, is dit nooit die oorsaak dat nie-uitverkorenes verlore gaan nie. Alle mense is immers van nature verlore. 'n Verkiesing tot die ewige verdoemenis is nie nodig nie. Dis sonde, hulle eie sonde, wat mense in die hel laat eindig.
Uitverkiesing verontreg dus geeneen nie.

# Uitverkiesing staan nooit in die weg van 'n nie-uitverkorene wat opreg begeer om gered te word nie. Dis gewoon nie 'n begeerte wat 'n nie-uitverkorene kry nie - in elk geval nie opreg nie. Nee, so 'n begeerte is die gevolg van die Gees se oortuigingswerk, en só werk Hy net in uitverkorenes.

# Die gelykenis van die groot maaltyd in Lk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot maaltyd is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom.
Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!

# Daar sit niks onregverdig in uitverkiesing nie. Dit werp nie 'n enkele skadukolletjie op God se geregtigheid nie. Dis nie die verlorenes wat kry wat hulle nié verdien nie; dis diegene wat gered word. So werp die uitverkiesing meer lig op God se liefdevolle genade as enigiets anders!

# God kon besluit het om alle mense te red. Hy het immers die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om niemand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie (soos in die geval van die gevalle engele, die demone). Tog het Hy nie op een van hierdie moontlikhede besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde. En omdat Hy algeheel en onbetwisbaar soewerein is, mág Hy dit doen.

# Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe waar is. Die Bybel is immers ook vol oor ons verantwoordelikheid.

# Nuwe Testamentiese getuienis oor die uitverkiesing is oorweldigend. Mens kan nie glo daar is steeds mense wat dit ontken nie.
Daar is veral twee groot redes waarom mense hulle teen uitverkiesing verset. Sommige word gedryf deur 'n trots wat weier om te erken dat die mens radikaal verdorwe is en gevolglik nie sy eie heil kan uitwerk nie. Maar die meeste wil naief God se eer kwansuis red, omdat hulle dink uitverkiesing werp 'n skaduwee oor Sy liefde en regverdigheid. Maar, onthou, uitverkiesing is nooit die oorsaak dat enigeen verlore gaan nie - dis altyd 'n mens se eie sonde.

# Kom, laat God God wees in ons denke. En laat ons nederig voor Hom buig in ons algehele afhanklikheid.

# 'n Sprokie: Eendag, lank, lank gelede het 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlikste gehuggie van sy pa se koninkryk binnegery. Toe hy stilhou en uitklim, het 'n swetterjoel vuil kindertjies in vodde om krot-hoeke geloer. Hy het reguit na 'n meisiekind toe gestap, seker die vuilste en beslis die lelikste van die klomp, haar sagkens aan die hand gevat, en in haar oor gefluister: "Ek het jóú as my bruid gekies!".
Was dit die prins se goeie reg om te kies? En wat het die meisiekind nié gesê nie? Verseker nie: "Dis onregverdig! Wat dan van Truia en Sophie en Dollie?"
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment