Friday, August 12, 2011

E-PREEK No.196 - FL 1:29-30 - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [14]

Fl 1:29-30. ... omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor (OAV).

Paulus is 'n vlymskerp logiese denker. Soos een gedagte na die ander volg, bou hy sy waterdigte argumente stap vir stap. Kenmerkend van sy styl is sy gereelde gebruik van voegwoorde, sodat ons nie hoef te sukkel om sy logiese koersveranderings te begryp nie. Op hierdie oorgange sal die wyse leser goed let.
In v.27-28 rig die apostel duidelik 'n oproep tot die Filippense. En in v.29-30 maak hy 'n stelling oor God se reddende genade in hulle lewens.
Hierdie twee gedeeltes verbind hy aan mekaar met 'n kort Griekse woordjie - in die OAV vertaal met "omdat", en in die meeste Engelse vertalings met "for" (29a). Hierdie voegwoord is van die allergrootste leerstellige belang. Dis redegewend en maak v.29-30 die basis vir v.27-28 se oproep. Paulus se bevel hang dus nie in die lug nie; dis stewig veranker in die feit dat sy lesers 'n genadegawe van God ontvang het.
Nooit sal jy die apostels anders hoor argumenteer nie. Altyd is hulle oproepe vierkantig gebaseer op God se voorafgaande verlossingsdade in Christus. Nóóit koester hulle enige verwagtinge van die natuurlike mens voordat hy nie eers herskeppend deur die Here aangeraak is nie.

# Redding in 'n sondaar se lewe neem 'n aanvang met die ontvangs van 'n geskenk. Iets is aan die Filippense "gegee". Grieks het verskeie woorde wat Paulus kon gebruik het. Hierdie spesifieke woord dui op 'n persent wat in genade gegee word. Dus: julle het wel 'n geskenk gekry, maar julle het dit allermins verdien. Tewens, julle moes die teenoorgestelde gekry het - God se oordele.
Wat is hierdie geskenk? Die oorspronklike taal gee 'n fassinerende antwoord!

# Paulus gebruik 3 frases - 'n eerste wat die volgende twee beheers. Elkeen van hierdie frases begin met "die" - wat ongelukkig nie in die Afrikaans voorkom nie, aangesien dit 'n baie lomp vertaling sou meebring. Maar in die apostel se gedagtes vervul dit 'n belangrike rol, aangesien die lidwoord elke keer die hele frase effektief in 'n selfstandige naamwoord verander. Letterlik staan daar dus dat aan hulle gegee is: die ter wille van Christus - wat nie net die om in Hom te glo behels nie, maar ook die om vir Hom te ly.

* Stel jou 'n groot boks voor. Dis toegedraai in geskenkpapier. En rondom is daarop geskryf: "Die ter wille van Christus!" As ons dit dan versigtig oopmaak, kry ons tussen die houtwol nóg twee boksies, pragtig toegedraai. Op een staan geskryf: "Die om in Hom te glo!" En op die ander een staan in dieselfde skrif geskryf: "Die om vir Hom te ly!"
Hier is 'n belangrike beginsel! As God genade aan 'n sondaar gee, gee Hy altyd, sonder uitsondering, twee dinge. Nooit kom die een sonder die ander nie. Hy gee geloof én Hy gee lyding. En beide hierdie dinge is ter wille van Christus - die geloof is in Hom; die lyding is vir Hom.

# In sy verbeelding kan Paulus hoor hoe sy lesers na hulle asem snak. Dit kan tog nie vir álle Christene geld nie! Ja, uiteraard gló alle Christene in die Here Jesus, maar lý almal vir Hom?
Dis waarom die apostel v.30 byvoeg. Die tweede pakkie is nie verbeelding nie. Elke ware Christen ken dit uit ervaring - ook Paulus en sy lesers.
Onthou hulle nie hoeveel dit destyds gekos het om die evangelie na Filippi te bring nie? Hd 16 beskryf hoe Paulus en Silas na die stadsplein gesleep, hulle klere afgeskeur, en hulle ná lyfstraf in die tronk gegooi is (19-24). En, soos die Filippense weet, dit was alles behalwe die einde van Paulus se ontberinge. Hy skryf immers hierdie brief aan hulle uit gevangenskap.
Maar lyding is nie tot Paulus beperk nie. Sy lesers - almal van hulle - ken dit ewe goed.

Die res van die Nuwe Testament
# Dat ons geloof in Christus as 'n vrye gawe van God se soewereine genade ontvang, is 'n wonderlike waarheid waarin ons nie ophou om ons te verbly nie. Maar dat ons ook lyding vir Christus as 'n genadegawe ontvang, word nie so dikwels erken nie. En selde verbly ons ons daarin.
Leer die res van die Skrif dit - dat lyding eie is aan die ervaring van alle Christene? Beslis!
Jesus het oor en oor geleer dat lyding deel sou wees van Sy dissipels se lewens (bv. Mk 10:28-30).
Die apostels het dit uitdruklik geleer (2Tm 3:12). Geen Christen moet verbaas wees oor vervolging, asof dit iets snaaks is nie (1Pt 4:12-13). Oor en oor word gepraat van gemeenskap aan Christus se lyding (2Kor 1:5-7; 4:8-11; Fl 3:10; Kol 1:24).
Baie betekenisvol is Rm 8:16-17. Onmiskenbaar duidelik word geleer dat lyding saam met Christus nie alleen 'n merkteken is van God se ware kinders nie, dit is ook 'n noodsaaklike en onontkombare voorloper van verheerliking saam met Christus.

Vier fasette van lyding vir Christus
Enigeen wat hoegenaamd ernstig is oor sy of haar Christenskap sal nou 'n brandende vraag in die hart hê. Wat van my? Is daar in mý lewe enige sprake van lyding vir Christus? Meeste van ons geniet immers 'n veilige en gemaklike lewe. En as ons swaar kry, bly die vraag, is dit ter wille van Hom?
Hierdie is 'n ernstige saak. Hoe durf ek aanvaar ek is regtig 'n Christen as ek nie dit wat so kennelik Bybels is, ervaar nie? Dit sou voorbarig wees!
Die allervraag is, wat behels Christelike lyding?
Alhoewel God inderdaad die swaarkry wat ons met die ongelowiges deel in ons lewens gebruik, kan ons uiteraard nie aan dié dinge dink as merktekens van egte Christenskap nie. Nee, ons praat hier van lyding wat uniek aan Christene is.

# Volgens die Bybel sou ons kon sê dat Christelike lyding op 4 maniere tot uitdrukking kom. En sekerlik bevestig die kerk- en sendinggeskiedenis dit.
Een, daar is vervolging. Dit het talle gesigte: fisiese vervolging, verwerping, spot, diskriminasie.
Twee, daar is die tugtiging van ons Hemelse Vader - iets wat elke Christen ken (Hb 12:4-13).
Drie, daar is die nimmereindigende aanslae van ons sielsvyande: die verleidinge van my eie vlees; die suigkragte van hierdie gevalle wêreld; die vurige pyle en vuishoue van die Satan en sy demone.
Vier, daar is die selfaflegging en ontberinge van my gehoorsaamheid aan Christus. Dit kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking. Dink byvoorbeeld aan die dra van mekaar se laste; aan seermaak-gee vir die Here se werk; aan party se rugdraai op inkomste en status om voltyds in die koninkryk te werk. Ensovoorts, ensovoorts. Het die Here Jesus nie oor en oor van kruisdra gepraat nie!
Vyf, nóg seer wat net ware gelowiges ervaar, is die pyn oor dierbares wat in rebellie teen Christus leef - of nog erger, wat in so 'n toestand van ongeloof sterf. Samehangend hiermee is die las wat mens soms dra oor 'n samelewing wat die Here se naam en ordes en eer deur die modder sleep.
Natuurlik wissel lyding se aard en intensiteit van persoon tot persoon, van tyd tot tyd en van geslag tot geslag. Maar as jy die koste van dissipelskap nie ken nie, is jou Christenskap onder verdenking. Élke ware gelowige ervaar iets daarvan.

Wat sê dit vir ons?
1. Hier word nogeens beklemtoon wat op amper elke bladsy van die Nuwe Testament staan: God is die alleen-inisiatiefnemer van ons redding.
Selfs reddende geloof is 'n genadegeskenk.
Sommige sal aanvoer dat mens steeds die keuse het of jy 'n persent wil aanvaar of nie. O ja? Onthou jy Fl 2:13? God werk in ons "om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (OAV).

2. Ons wat - heeltemal tereg - met blydskap en dankbaarheid bely dat geloof 'n gawe van God is, moet eerlik en konsekwent wees en die lyding wat ons dissipelskap meebring met ewe veel dankbaarheid en blydskap aanvaar.
Dit is 'n voorreg om vir Christus te ly. Dis nie 'n vonnis nie, dis 'n genadegawe. Op meer as een plek sê die Skrif ons moet dit met vreugde aanneem (Mt 5:10-12; 1Pt 4:12-16). Ons lees in Hd 5 hoe die apostels vervolg en geslaan is, maar toe hulle van die Joodse Raad weggaan, was hulle "bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly" (v.41). Was hulle smartvrate? Allermins! Hulle het verstaan!

3. Nie slegs word lyding saam met geloof gegee nie, geloof word ook saam met lyding gegee.
As lyding 'n genadegawe van God is, is die vermoë om onder die las van lyding te volhard ook 'n genadegawe. Dis wat die Bybel leer en wat die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig. Daarom moet die van ons wat nog nooit intense lyding vir Christus verduur het nie, nie die dag vrees dat dit mag gebeur nie. Saam met die lyding sal die Here ook die krag gee om dit tot Sy eer te verduur.

4. Hier het ons 'n suurtoets vir egte Christenskap: gaan my geloof gepaard met lyding vir die Here?
Christenskap sonder lyding is ernstig onder verdenking, maar lyding op sigself waarborg nie redding nie. Dwaasheid en dwaling kan óók hoon en smaad meebring. En baie mense laai swaarkry-laste op hulleself wat die Here Jesus nooit beveel het nie. Eerstens dus: hierdie toets moet saam met die ander toetse in die Skrif gebruik word.
Vandag is daar baie pakkies in omloop met "die ter wille van Christus" daarop geskryf. Die vraag egter is, wat is binne-in. Talle van hierdie pakkies is tot barstens toe volgestop met allerlei spoggerige, pragtige en opwindende goetertjies. Maar die ware Jakob het 'n baie spesifieke inhoud - dit waarvan ons teks praat. Hierdie ander "goodies" is goedkoop namaaksels, sielsvernietigende misleidings.
Natuurlik mag ons nie swaarkry gaan soek nie. Maar as ons vreemdelinge vir outentieke Christelike lyding is, is dit feitlik vir seker te wyte aan kompromie in ons lewens. En onthou, selfbedrog, rasionalisering en kompromie loop altyd saam.

5. Dat ons ter wille van Christus leef, is die essensie van Christenskap. Dít is dissipelskap.
Vandat hy opstaan totdat hy gaan slaap, jaar in en jaar uit, word 'n ware Christen se lewe deur hierdie beginsel beheers: die ter wille van Christus. Die Here Jesus is en bly sentraal. Hy is alles - sekuriteitsanker, vreugdesbron, verkondigingsinhoud. As Profeet is Sy woord die inhoud van my geloof; as Priester is Sy offer en voorspraak my sekuriteit; as Koning is Sy heerskappy my hartstog. Dis wat Paulus in v.21 bedoel: "... om te lewe, is vir my Christus ...".
En let op, hoewel ons natuurlik ook hier met ons verantwoordelikhede te doen het, is so 'n Christus-fokus nie in die eerste instansie 'n opdrag nie, maar 'n genadegeskenk. Ken jy dit?
Waarlik, Christenskap is 'n ervaringswerklikheid. Dis nie in die éérste instansie 'n denksisteem nie; ook nie 'n morele kode nie - dis 'n lewenswyse in verbondenheid met en afhanklikheid van Christus.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment