Sunday, August 14, 2011

E-PREEK No.194 - FL 1:27-28 - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [12]

Fl 1: 27b-28a: "... dat julle in volkome eensgesindheid... saam stry vir die geloof van die evangelie, en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie."

In Fl 1:27-30 spel die apostel die hoofsaak van gemeentewees uit. Allereers moet die heiliges onthou dat hulle as burgers van die koninkryk van die hemel só moet leef dat dit die gewig van die evangelie balanseer. En wanneer mens dan - as individu, maar ook gesamentlik as gemeente - jou identiteit en roeping ernstig opneem, het dit 'n kosbare effek: standvastigheid in 'n onsekere en onstabiele wêreld.
Nou moet ons 'n tree verder. In die gedeelte onder ons vergrootglas beskryf Paulus hoe standvastigheid prakties in gelowiges se lewens tot uitdrukking kom.
Deur gebruik te maak van twee parallelle deelwoord-frases sê Paulus dat ware Christelike standvastigheid nie iets passiefs is nie, maar dinamies op twee maniere manifesteer. Eerstens is daar 'n gesamentlike en eendragtige hartstog om die geloof van die evangelie te bevorder (laaste gedeelte v.27). Tweedens gaan dit gepaard met so 'n vasbeslotenheid en durf dat dit deur niks van stryk gebring word nie (eerste gedeelte v.28).

Saam stry vir evangeliegeloof
# "Saamstry" spreek van gesamentlike en gekoördineerde inspanning. In buite-Bybelse Grieks is dit 'n sportterm (sunathleo) wat van 'n spanpoging praat. Dis ook soms 'n militêre begrip wat dui op 'n klompie soldate wat met hul rûe na binne 'n sirkel vorm om vyande af te weer wat van alle kante kom.

# Die uitdrukking "vir die geloof van die evangelie" (OAV) kan op twee maniere verstaan word.

* Dit kan daaroor gaan dat mense die evangelie sal glo; dat die Filippense gesamentlik hulle gewig sal ingooi om die heidene tussen wie hulle leef te evangeliseer. Sonder twyfel leer die hele Nuwe Testament dit as 'n sentrale roeping van die kerk. En dat die vroeë Christene dit uitgeleef het, staan soos 'n paal bo water.

* Óf dit kan daaroor gaan dat die Filippense hulle sal beywer vir die bewaring van die waarheidsinhoud van die evangelie. Ook hieroor het die apostels hartstogtelik sterk gevoel. Hoe onvermoeid het hulle nie geywer vir die suiwer leer nie! Watter felle stryd het hulle nie teen dwaalleer en dwaalleraars gevoer nie! Hulle briewe is van hoek tot kant vol daarvan.

* Watter van hierdie twee alternatiewe moet ons kies? Sou mens Paulus kon vra, is ek oortuig sy verontwaardige reaksie sou wees: "Beide, natuurlik!"
Waarom wil ons altyd in terme van alternatiewe dink? Laat ons nie skei wat God saamgevoeg het nie! Sal 'n boodskap met iets anders as waarheidsinhoud iemand red? Daarenteen is dit 'n ope vraag of 'n ywer vir waarheid wat nie ook brand om dit ver en wyd uit te dra nie, inderdaad 'n ywer is wat die Heilige Gees bewerk.

Nee, nee - evangelisering en waarheidsbewaring is onlosmaaklik verbonde!
Ons moet God se geopenbaarde waarheid as kurators koester en as heroute verkondig.

* In 1Tm 3:15 word die gemeente "die draer en beskermer van die waarheid" genoem.
Die begrippe "draer" en "beskermer" is betekenisvol en onderstreep hierdie dubbele roeping van die kerk. Eersgenoemde beteken pilaar. Die gemeente hou m.a.w. die waarheid bo, lig dit uit tot 'n vlak waar almal dit kan sien. Laasgenoemde dui op 'n fondasie. Die gemeente veranker, stut en dra dus die waarheid.

Om nie vir teenstanders te skrik nie

# "Teenstanders" dui gewoon op mense wat jou opponeer. Dit sou sekerlik ook op omstandighede en struikelblokke van toepassing kan wees.
Wie het teenstand beter geken as die Christene van destyds? Maar so is dit eintlik tot vandag toe. As die probleme nie van mense kom nie, is daar 'n duisend ander weerstande en hindernisse om te oorkom in jou navolging van Christus.

* Die uitdrukking "in geen opsig" is sterk in die Grieks. Daar mag geen sprake van wees nie!

# Weer en weer sien mens hierdie onblusbare durf om die geloof van die evangelie te bevorder, nie net in die apostoliese gemeente van die Nuwe Testament nie, maar ook deur die kerk- en sendinggeskiedenis. Een van die uitstaande kenmerke van die ware kerk was nog altyd die verbysterende vermoë om onder vervolging te gedy. Dit lyk amper na 'n wetmatigheid: hoe feller die teenstand, hoe beter vaar die gemeente.
En natuurlik, dit gaan altyd én oor die uitdra van die evangelie én oor die waarheid. Die twee dinge hang saam, soos gesien. In tye van felle vervolging is dit meestal vir 'n onwrikbare vashou aan die waarheid dat gelowiges as martelare sterf. Maar dan word dit amper altyd die katalisator vir die uitdra van die evangelie en kerkgroei. Tot so 'n mate gebeur dit tipies, dat 'n spreekwoord ontstaan het: die bloed van die martelare is die saad van die kerk!

In volkome eensgesindheid

# Bogemelde roeping is 'n gesamentlike een. God het verordineer dat gemeentes as gemééntes (die versameling van Sy heiliges soos hulle op elke plek hulleself bymekaar voeg) 'n sentrale rol sou speel in die koms van die koninkryk. En hierin is eenheid van "gees" en "siel" (lett.) - van hart en oortuiging - 'n onmisbare voorwaarde vir sukses. 'n Passie vir die geloof van die evangelie brand dus in elkeen se hart. 'n Onverdeelde doelgerigtheid dring 'n ieder om sy of haar alles daarvoor te gee. Die apostel roep dus die Filippense op om soos een man hulle vir hierdie saak te beywer.

Wat sê dit alles vir ons?
1. Elke gemeente moet, soos gesien, die evangelie én voortdra én uitdra.

# 'n Gemeente verloor sy bestaansreg as die uitdra van die evangelie nie een van die heel belangrikste punte op sy agenda is nie. Dit was immers Christus se laaste opdrag. Iemand het tereg gesê: "Soos 'n vuur daarin bestaan dat dit brand, so bestaan die ware kerk daarin dat dit evangeliseer."
Tog is daar regoor die wêreld - ook in ons land - talle instellings wat hulleself die kerk noem, maar beswaarlik 'n vinger lig om aan hierdie wesensroeping gehoorsaam te wees. Dis lankal nie meer kerk in die Nuwe Testamentiese sin van die woord nie. Die lampstaander is lankal verwyder.

# As dit, daarenteen, aan die orde van die dag is dat evangeliese gemeentes 'n hoë premie op die uitdra van die evangelie plaas, is dit 'n rariteit dat sulke gemeentes 'n ewe sterk klem op die suiwer leer het. Maar vir die tweede deel van ons dubbelloop-roeping is daar 'n ewe sterk Nuwe Testamentiese oproep - byvoorbeeld:

* 2Ts 2:15: "Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het". Die woord (Gr. paradosis) wat hier met "leer" vertaal word (en in 3:6 met "opdragte"), beteken letterlik tradisie. Dis nou verwant aan 'n ander woord (Gr. paradidomi) wat aangee of oorgee of aflewer of toevertrou beteken - soos 'n aflosstokkie. So gesien, praat Paulus hier van die leer of doktrines wat van geslag tot geslag oorgedra word. In 1Kor 11:2 word dieselfde woord met "oorgelewerde leer" vertaal.

* Jud 1:3: "... nou voel ek my verplig om julle ... aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer (Gr. paradidomi) is aan dié wat God vir Hom afgesonder het."
Hier het ons weereens die oproep om "kragtig te stry" (OAV). Waarvoor moet gestry word? Vir "die geloof". As die apostels die lidwoord voor "geloof" plaas, bedoel hulle feitlik altyd die waarheidsinhoud daarvan. Dit word dan ook bevestig deur die woord "oorgelewer" (weereens Gr. paradidomi).
Aan wie is dit as trust toevertrou? Aan die "heiliges", "dié wat God vir Hom afgesonder het."
Betekenisvol is Judas se beklemtoning dat hierdie geloof "een maal" oorgelewer is. Dit dui op die afgehandelde en onveranderlike karakter van die Christelike geloof se waarheidsinhoud.

* Die Nuwe Testament is uiters ernstig oor die objektiewe waarheidsinhoud van die geopenbaarde geloof - dat dit nie verwater of verdraai mag word nie? Vir die apostels was die evangelie 'n heilige trust wat hulle met hulle lewens sou bewaar en verdedig. En as Paulus by wyse van spreke die fakkel na die volgende geslag toe aangee, sê hy by meer as een geleentheid vir Timoteus oor hierdie trust: "... bewaar wat aan jou toevertrou is" (1Tm 6:20; 2Tm 1:14; vgl. ook 1Kor 4:1; 9:17). Dit geld steeds. Geringskatting van die suiwer leer is hoogverraad teen die Koning van die konings!

2. Dit verg besondere konsentrasie en genade om beide hierdie roepings in ewewig te hou.

# Sommige is yweraars om tydig en ontydig te getuig, en om ver en wyd sendingwerk te doen. Maar hulle kom selde tot stilstand om hulleself af te vra wat hulle boodskap behels nie. Sou jy hulle vra wat hulle presies glo, is hulle dikwels oor selfs die basiese geloofswaarhede maar vaag en stamelend.
Wát getuig ons? Dit word tog van 'n getuie vereis om betroubaar te wees. Jy sê mens praat oor jou ervaringe. Almiskie. Almal doen dit immers. Nee, volgens die Nuwe Testament moet jou getuienis nie self-gevuld wees nie, maar Christus-gevuld. Kan jy saam met Paulus sê dat jy net één boodskap het: Christus die gekruisigde?
Ons is almal opgewonde en dankbaar omdat daar beswaarlik 'n plek op aarde is waar nie sendingwerk gedoen word nie. Maar word 'n suiwer boodskap altyd uitgedra? Ek het my bedenkinge!
Te veel evangeliste en sendelinge bou vandag met hout, gras en strooi, omdat hulle boodskap alles behalwe die volle raad van God behels.

# Ander yweraars is weer baie daarop gesteld dat die evangelie suiwer bewaar moet word. Maar dan raak hulle oorbehep daarmee. Hulle Christenskap gaan op in die ivoortoring van hiper-ortodoksie. Leerstellig het hulle alles vlymskerp in posisie. Al wat hierdie Skrifgeleerdes uit hulle studeerkamers uitkry, is die avontuur van ketterjagtery. Maar van 'n liefdevolle en verdraagsame uitreik na sondaars kom daar in soveel gevalle weinig tereg.

# Mag die Here ons help om altyd hierdie dubbele roeping in volmaakte jukstaposisie te hou. Ons moet kompromieloos vashou aan die geopenbaarde waarheid; ons moet onvermoeid in liefde en verdraagsaamheid uitreik na die stukkende wêreld.
As ons dit maar naastenby kon regkry soos die Here Jesus! Onwankelbaar en vreesloos het Hy as God se groot profeet die waarheid verkondig - en niks minder nie. Maar met wie het Hy meer geduld en empatie gehad as met die sg. sondaars?
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment