Monday, August 15, 2011

E-PREEK No.193 - FL 1:21b, 23b - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [11]

"... om te sterwe, is vir my wins." (Fl 1:21).

Mense is bang vir die dood. Niemand dink of praat graag daaroor nie. Só stel Hb 2:15 dit: mense is "uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny ".
Maar ons teks plaas die saak vierkantig voor ons. En dis goed so. Enersyds móét ons eenvoudig nadink oor hierdie saak wat so onontkombaar op elkeen van ons wag. Andersyds bring 'n oordenking van hierdie Skrifgedeelte wonderlike bevryding, bemoediging en vertroosting vir ware gelowiges.

Enkele algemene opmerkings

# Anders as wat baie dink, leer die Bybel nie net twee toestande van bestaan nie: die huidige lewe hier op aarde, en die uiteindelike lewe ná die opstanding. Daar is ook 'n derde toestand: dié wat onmiddelik na die dood intree, tot en met die opstanding - as 'n liggaamlose gees.
Oor hierdie tussentoestand het Paulus dit in die eerste instansie hier.

# Ons is geneig om aan die dood as 'n verlies te dink. Inderdaad ís dit dikwels 'n verskriklike verlies vir diegene wat agter bly. Maar as dit 'n ware Christen is wat sterf, is dit "wins" vir hom of haar. Vir ons is die lewe ná die dood beter as wat dit hier is - "verreweg" beter (23).

# Paulus het nie 'n sieklike doodsverlange nie. Ewe min is daar by hom 'n minagting vir die lewe hier en nou. Daarvoor is hy té bewus van die berge sinvolle werk wat hier gedoen moet word (22-24).
As hy in v.23 sê dat hy in 'n tweestryd verkeer - om heen te gaan, of om hier te bly - dan is dit nie 'n kontras tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Hy is soos 'n goeie soldaat wat verlang om klaar te kry met die oorlog en om huis toe te gaan, maar wat in sy pligsbesef op sy tande kners, vorentoe beur, en weier om dros te oorweeg.

# Nêrens leer die Bybel dat die dood op sigself 'n seën is nie. Behalwe wanneer dit oorrompel word deur verlossingsheil in Christus, is dit 'n meedoënlose vyand. Dis 'n roofdier wat die liggaam en die gees wreed uitmekaar skeur (Pred 12:7).
Die dood bly dus ook vir ons wat met Christus verenig is 'n laaste vyand (1Kor 15:26). Op sigself was dit sekerlik vir die apostel - soos vir ons - afstootlik en skrikaanjaend. Om te sterf is ook vir die ware gelowige 'n donker, diep rivier waardeur hy of sy moet gaan - soos Bunyan dit beskryf.
In terme van God se oorspronklike skepping is die dood nie iets normaals nie. Dis die gevolg van die sondeval. Die dood is loon van die sonde. Maar die Here se verlossingsplan gaan oor opheffing van sonde en sy gevolge. Dus gaan dit ook oor vernietiging van die dood (1Kor 15:51-57).

# Selfs die tussentoestand in die hemel is nog voorlopig. Die gees is nog sonder sy verheerlikte liggaam. As sodanig is dit 'n toestand van onvolmaaktheid en onvoltooidheid (2Kor 5:1-10).
Daarom kyk die Nuwe Testament amper konsekwent dwarsdeur die tussentoestand - dis net 'n tydelike deurgang, 'n verdere tree onderweg na my volmaakte erfenis in Christus. Daarom nael die apostels hulle blik vas op - die opstanding!
Tog sê Paulus om te sterf is wins! Selfs die tussentoestand is beter as ons lewe hier en nou.

# Die woord in v.23, "om heen te gaan", is beskrywend. Eén gebruik daarvan destyds was vir die opbreek van 'n kamp. Hier, asook elders in die Nuwe Testament, dra dit dus die gedagte van 'n klaarkry met die tydelike en onsekere lewe van 'n swerwer.
Só stel 2Kor 5:1 dit: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan." En 2Pt 1:13-14: "En ek beskou dit as reg, solank as ek in hierdie tentwoning is, om julle ... op te wek, omdat ... die aflegging van my tentwoning ophande is ..." (OAV).
Die Bybel beklemtoon deurgaans dat hierdie lewe tydelik is; trouens, die gelowige is hier 'n vreemdeling en 'n bywoner (1Pt 2:11). Ons is bloot pelgrims. Hierdie wêreld is nie ons woning nie.

Waarom is dit wins om te sterwe?

# Vir die gelowige is die dood 'n huis toe gaan. Dis 'n verlaat van die verblyf in die liggaam, ten einde by die Here te gaan inwoon (2Kor 5:6-9). Dis 'n vertrek na ons ewige woning (Pred 12:5) - na ons vaderland, ons tuisstad (Hb 11:13-16). En waar is mens gelukkiger as op jou eie plek? Dis waar ons hoort - daar by die Here!

# Een van die heel wonderlikste dinge is dat ons finaal klaar sal wees met sonde wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Wat veroorsaak méér frustrasie en hartseer in 'n gelowige se lewe as sy of haar sondemislukkings? Maar as ons eers by die Here is, sal ons nie meer kán sondig nie.

# 'n Koning se vrou deel in sy besittings en status.
Toe Christus uit die dood opgestaan het, het Hy dit nie bloot in Sy persoonlike hoedanigheid gedoen nie, maar as amptelike Hoof van die nuwe mensheid (Ef 2:5-6). Toe Hy na die hemel opgevaar het, het Hy nie net die loon en erfenis vir Homself in besit geneem nie, maar ook vir Sy bruid. Óns inbesitname daarvan is 'n proses - en óns het skaars begin - maar die beginsel staan vas: ons wat in Christus is, is nou reeds "erfgename saam met Christus" (Rm 8:17).
Presies hoeveel van ons erfenis in Christus ons dadelik gaan ontvang, en hoeveel sal moet wag vir die finale opstanding, is nie geopenbaar nie. Maar dat daar vir ons 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis" in die hemel bewaar word, dit weet ons wel (1Pt 1:4). "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet" (1Kor 2:9).

# Die dood is 'n deurgang na 'n begrip en kennis van die Here wat ons nou nie kan bedink nie. Weereens weet ons nie hoeveel daarvan sal moet wag vir die vervolmaking van ons verlossing met die wederkoms en opstanding nie. Maar gewis sal ons oorstelp besig wees met nuwe waarhede en oopgebreekte geheimenisse terwyl ons naasbestaandes diep hartseer met begrafnisreëlings besig is. "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken" (1Kor 13:12).
Ons gaan die ewigheid deurbring in die land van verstommende en onuitputlike ontdekkings! En aan die hart hiervan is 'n steeds dieper kennis van ons Drie-enige God. Om Hóm te ken, is immers die ware en ewige lewe. Om Homself voor Sy skepsele te verheerlik, is per slot van rekening waaroor alles gaan. Sal daar ooit 'n punt van afplatting en uitputting kom? Die ewigheid is nie lank genoeg om God en Sy werke te deurgrond nie!

# Maar ons teks openbaar die éintlike rede waarom Paulus so daarna uitsien om heen te gaan: dit sal hom na Christus toe vat! (23). Die essensie van die gelowige se hiernamaals is dat hy of sy "by die Here gaan woon" (2Kor 5:8). Vir die misdadiger kon Jesus sê: "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:43).
As ons nóú reeds Christus se bruid is, hoe groot sal ons verwelkoming in die hémel nie wees nie! Gewis sal ons daar 'n inniger gemeenskap met Hom beleef as wat selfs die dissipels destyds hier op aarde geniet het.

# Ons sal egter nie net 'n behae in die Seun hê nie - ons gaan ook na die Vader toe.
Luister hoe verwoord 'n messiaanse psalm dit: "... you will fill me with joy in your presence, with eternal pleasures at your right hand" (Ps 16:11, NIV). Op Pinkster haal Petrus hierdie verse aan en maak dit op Christus van toepassing (Hd 2:25-28).
Die heiliges, in hulle eenheid met die Seun, sal in hierdie vreugde deel. Ook húlle is as kinders aangeneem (Gl 4:4-7). Hulle is trouens nog méér. As bruid van Christus is hulle ook die Vader se skoondogter! Hulle is volledig deel van die gesin!

Slot

# Ons moet seker maak ons bedrieg nie onsself nie. Miljoene doen dit. Wat kan méér dwaas wees as om jouself sonder Bybelse begronding wys te maak dat alles uiteindelik tog maar reg sal uitwerk.
As ons waag om daaroor te dink, het ons baie vrae oor ons eie dood: Wanneer? Waar? Waaraan? Maar volgens God se Woord is net een vraag regtig van belang: Hoe? Ek praat nie van wat op jou doodsertifikaat as "oorsaak van dood" ingevul gaan word nie. Ek praat van die geestelike toestand waarin jy gaan sterf. En daar is slegs twee moontlikhede: in geloof, of in sonde (Jh 8:24).
Die ergste ding wat met 'n mens kan gebeur, is nie dat hy sterf nie, maar dat hy in sy sonde sterf. Onthou, om dood te gaan, is om na 'n plek te gaan vanwaar jy nooit weer kan terugkeer nie.

# Vers 21 is 'n onverbreekbare eenheid. Daarom het nét hulle vir wie die lewe Christus is, grond om te glo dat doodgaan vir hulle wins sal wees.
Die heidenprofeet, Bileam, begeer: "Mag ek ook eendag as opregte sterwe ..." (Num 23:10). Wat hy egter vergeet, is dat mens slegs as 'n regverdige kan sterf indien jy as 'n regverdige geleef het.

# Sóvele dink aan genade as iets wat jy ontvang wanneer jy ná die dood voor God moet verskyn. Dis 'n fatale mistasting. Genade is iets wat jy in hiérdie lewe ontvang, of glad nie. Dis óf nou, óf nooit nie. En as jy dit inderdaad kry, het dit ingrypende effekte op jou - want dit maak die lewe vir jou Christus.

# Maar ons vir wie die lewe inderdaad Christus is, kan ons heengaan met vertroue en opgewonde afwagting tegemoet gaan. Ons gaan bloot ons Here volg deur die poort waardeur Hy alreeds is.
Ja, wanneer dit kom, mag ons dit vir 'n oomblik as 'n verskrikking beleef. Maar dit sal nie vir ons 'n fatalistiese sprong oor 'n afgrond van duisternis wees nie. Ons sal in die geloof daardeur. Psalm 23:4 sal werklikheid wees: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my."

# Die ou Puritein, Richard Baxter (1615-1691), het dit só gestel: "As 'n man ellendig siek is, maar weet dat hy môre-oggend gesond gaan wees; of as hy brandarm is, maar weet dat hy môre-oggend 'n prins gaan wees as hy wakker word - sal hy bang wees om bed toe te gaan?
Die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson (1788-1850), het weer só daarna gekyk: "Ek is nie gedaan gewerk nie, en ek is allermins moeg vir hierdie wêreld - maar, wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek hardloop."
                                                                                                               Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment