Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.201 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [5] v.2 - Kyk vorentoe

Hb 12:2b,d : "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was ... Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God"

Hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, word dit onmiskenbaar geïmpliseer dat ons in ons wedlope net soos Jesus vorentoe moet kyk. Soos Hy Sy oë vasgenael het op die loon wat op Hom gewag het, moet ook ons aangespoor word deur die Skrif se beloftes dat daar vir elke geloofsatleet wat end-uit volhard, 'n oorwinnaarskroon wag. Jesus het geweet dat daar op Hom vreugde gewag het en dat Hy vir ewig aan die regterkant van God gaan sit. En, hoewel ons nie dieselfde loon as Hy sal kry nie, is die Skrif vol wonderlike beloftes vir elkeen van ons, mits ons getrou tot die einde toe volhard.
Waarlik, amper sonder uitsondering, is Jesus in Sy vernederde staat vir ons die uitnemende voorbeeld hoe om te lewe.

Jesus se oorwinnaarsloon

# Wat is die vreugde wat vir Jesus in die vooruitsig was? Sekerlik sou mens baie antwoorde kon gee, maar kom ons bly by die konteks.
Hier word dit beklemtoon: Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.
Hierdie is 'n swaargelaaide uitdrukking wat veral twee dinge wil onderstreep.

* Hy sit nou. Dit onderstreep dat Sy werk afgehandel is - dit waarvoor Hy na hierdie wêreld toe gekom het. Om te sit is om in 'n posisie van rus te verkeer. Dat Sy werk afgehandel is, word sterk in Hebreërs beklemtoon,al is dit met ander woorde. So byvoorbeeld word daar oor en oor in Hebreërs gesê dat Hy Homself as Hoëpriester eens en vir altyd geoffer het - deur Homself oor te gee om gekruisig te word.

* Hy het gaan sit aan die regterkant van die troon van God. Dit is die posisie van gesag en regering. Ook hierdie idee word sterk in Hebreërs beklemtoon - as dit baie prominensie verleen aan Sy voortgaande Hoëpriesterlike en Koninklike werk. Onder meer was Sy taak om die mense wat die Vader aan Hom toevertrou het veilig te bewaar (2:17-18; 4:14-16), en om hulle verlossing tot vervolmaking te voer (7:24-25).

# Waarin lê die Here Jesus se vreugde dus? Waarvoor het Hy die kruis verdra; die skande verag; die vyandige optrede van mense verduur?

* Sy vreugde lê daarin dat Hy die werk wat die Vader Hom gegee het, afgehandel het. Hy het Sy Vader behaag en verheerlik. En hierin, meer as in enigiets anders, het Sy genoegdoening gelê en lê dit steeds. Hierdie vreugde van Hom word reeds in Ps 40 voorsien en in Hb 10:5-10 beskryf.

* Sy vreugde lê voorts daarin dat Hy deur die eeue die "buit" van Sy groot oorwinning kan inpalm (Hb 2:5-18)
En hierdie "buit" sal Hy tot in alle ewigheid geniet - want dis nie net Sy buit nie, maar inderdaad Sy bruid!

Dis ons roeping

Dit word sterk in die Skrif beklemtoon dat ons Christus moet navolg. En soos Hý moet ons die oorwinnaarsprys najaag. Dit is nie selfsugtig en ongeestelik nie. Inteendeel, niks behaag die Here meer nie, niks is 'n duideliker bewys van geloof nie - as dat ek die Here op Sy woord vat.

# In hierdie verband bring die Griekse teks vir ons iets baie betekenisvol en prakties na vore. Ongelukkig sien 'n mens dit nie in ons vertalings raak nie.
Die skrywer sê in v.1 dat daar 'n wedloop vir ons "voorlê". En in v.2 sê hy dat daar vreugde vir die Here Jesus "in die vooruitsig was." In die Grieks word in beide gevalle presies dieselfde woord gebruik. Dit verwys gewoon na iets wat voor 'n mens neergesit is. Nie net was daar lyding voor Jesus neergesit nie, maar ook vreugde.
Wat ons nou moet raaksien, is dit: terwyl die Here Jesus sekerlik baie bewus was daarvan dat daar vir Hom groot lyding en smarte voorlê, het Hy kennelik gekonsentreer op die vreugde wat ná die kruis en die opstanding op Hom gewag het. Dit is ter wille daarvan dat Hy die kruis verdra het. Nog meer, doelbewus het Hy daarop gekonsentreer. En dit het Hom baie gehelp om die smarte van die kruis te deurstaan, want Hy het geweet Hy is eintlik op pad na onuitspreeklike vreugde toe.
Soos Hy Sy lewenstaak verrig het, moet ons ons wedloop aflê. En ongeag deur watter swaarkry ons pad van dissipelskap ons ook al neem, moet ons ook voortdurend konsentreer op die feit dat dit tydelik is en dat ons spoedig 'n onuitspreeklike en ewige heerlikheid en vreugde sal ervaar.
Konsentreer dus op die wagtende loon, en nie op die swaarkry nie. Dit sal jou baie help om die huidige smarte met geduld en waardigheid te verduur. Dit is 'n baie voor die hand liggende waarheid, maar ons is so geneig om dit te vergeet wanneer ons deur die vuur moet gaan.
Onthou dit: hierdie lewe is net 'n stippeltjie aan die begin van 'n oneindige lang lyn!

# Waarin sal die loon vir óns lê?

* Een, oorwinnaars sal die ewige en onuitputlike bevrediging hê: Ek het my Vader behaag en verheerlik!

* Twee, ons sal die loon van 'n ewige en onbeskryflik heerlike erfenis in Christus ontvang. Die Skrif sê dis 'n erfenis wat geen oog gesien, geen oor gehoor en geen verstand bedink het nie (1Kor 2:9).

Wat is die imlikasies van hierdie skrifgedeelte vir ons?

1. Dis nie ongeestelik om ook met die oog op die loon te leef nie; inteendeel.
Ons is gewoond daaraan dat dit beklemtoon word dat ons Christelike gehoorsaamheid moet voortkom uit ons dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade in ons lewens. Dis natuurlik heeltemal reg. Maar wat nie korrek is nie, is die idee dat daar geen eiebelang as motivering teenwoordig mag wees wanneer ons die Here dien nie. Nee, ons het pas gesien dat selfs Jesus gehoorsaam was ter wille van ewige loon. En hierin moet ons Hom vir seker navolg.
Kyk maar net na Hb 11.
Abraham was gehoorsaam omdat hy uitgesien het na die stad met fondamente waarvan God die bouer is (11:10). Die geloofshelde het almal uitgesien na die stad wat God vir hulle berei het (11:13-16). Moses het die skatte van Egipte die rug gekeer omdat hy uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee vir gehoorsaamheid (11:24-26).
Ook Paulus se hele lewe is deur hierdie ambisie beheers. Hy skryf byvoorbeeld in 2Tm 4 dat sy oë tydens sy wedloop hier op aarde gedurig vasgenael was op die prys - die oorwinnaarskroon van geregtigheid (v.6-8; OAV).

2. Dit is uiters belangrik om tydens die wedloop drie dinge te onthou.

# Eerstens, ons gaan nie almal dieselfde prys kry nie.

# Tweedens, dis omdat jou en my wedlope baie deeglik beoordeel gaan word. Ons alwetende en absoluut regverdige Here sal toesien dat geeneen van ons meer kry as waarvoor sy wedloop hom of haar laat kwalifiseer nie; maar terselfdertyd ook nie 'n greintjie minder nie.

# Derdens, God het aan ons geopenbaar watter norme Hy gaan aanlê as Hy ons wedlope beoordeel. Die wedloop is dus soos 'n oopboek-eksamen waarvan ook die memorandum aan ons uitgedeel is. Die Here het presies aan ons geopenbaar wat Hy van ons verwag.

3. Terwyl ek met alle inspanning moet hardloop, is daar geen twyfel oor die uiteinde van my wedloop nie.
Terwyl ons ons heil met vrees en bewing moet uitwerk (Fl 2:12-13); terwyl ons moet ywer om ons roeping en verkiesing vas te maak (2Pt 1:10) - hoef ons nooit oor die uitkoms te wanhoop nie.
Ten diepste, heel ten diepste, word my uiteindelike volharding in die wedloop nie bepaal deur my getrouheid of inspanning nie, maar deur die Here Jesus wat die wedloop reeds suksesvol afgelê het. My verlossing en ewige heil word in die finale analise nie deur mý volharding en prestasie bepaal nie, maar deur Sý oorwinning. Vir ons bly dit 'n geheimenis - Sy volkome en soewereine verdienste en ons onontkombare verantwoordelikheid, maar ons moet dit eenvoudig in die geloof vat.
Dis 'n vaste geloofswet: hoe meer ek my eie swakheid begryp en op die Here staat maak, hoe beter sal ek hardloop. Dis omdat dit 'n geloofswedloop is, en die essensie van geloof is dat ek my oë op Christus vasnael.
Onthou Jesus Christus het op die troon aan die regterkant van die Vader gaan sit. Aangesien ek deur die geloof met Hom verenig is, is die basis van my verlossing onomkeerbaar gelê. Die oorwinning wat Hy behaal het, het Hy ter wille van my behaal.
Nog meer. Hy sit aan die regterkant van die Vader. Dis die posisie van uitvoerende volmag. Hy sien dus toe dat ek enduit volhard. Ek is immers onlosmaaklik aan Hom verbind.
Waar Jesus Christus nou reeds is, daar moet ek - en sal ek - uiteindelik eindig (Jh 17:24).
Ja, soos John Newton sing, ons geloofspad loop "through many dangers, toils and snares", maar oor die uiteinde is daar geen twyfel nie. Deur die geloof wat deur die wonder van die wedergeboorte aan my geskenk is, is ek vir tyd en ewigheid aan Hom verbind.

4. My ewigheidsgerigtheid speel 'n deurslaggewende rol in my lewe.
Vir seker is dit so dat elke mens deur sy verlede gevorm word. Maar dit is ewe waar dat dit waarheen ek in die toekoms doelbewus op pad is - dit waarop ek my oë vasgenael hou - 'n wesentlik belangrike rol in my lewe speel. Jou ambisies en prioriteite, veral met betrekking tot jou toekoms - spesifiek die dinge wat jy wil bereik - het 'n baie sterk vormende effek op jou vandag.
Dis waarom ware geloof en jou hoop so 'n ingrypende effek op jou het. Dis waarom bekering nie net 'n verandering van oortuigings is nie, maar inderdaad 'n hele koersaanpassing van lewe. Na 'n ware bekering is niks ooit weer dieselfde nie.
Die vraag is dus, waarheen mik jy - ek bedoel, waarheen mik jy in absolute erns en opregtheid? Huldig jy die apostel se oortuigings in Fl 3:7-15a?
Hardloop ek en jy ter wille van 'n "beter opstanding" soos die naamlose heiliges van die Ou Verbond in Hb 11:33-38a - hulle wat selfs bereid was om dood gemartel te word, ten einde die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig te word?
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment