Friday, December 16, 2011

E-PREEK No.38 - LK 4:18-19 - DIE HERE SE GENADEJAAR


Na die Here Jesus se doop en versoeking (Lk 3:21-22; 4:1-13) begin Hy dadelik met Sy openbare bediening. Matteus en Markus beskryf Sy prediking in algemene terme soos volg: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom" (Mt 4:17; vgl. ook Mk 1:15).
Lukas sê vir ons dat een van Sy eerste preke in Nasaret gepreek is. Hier haal die Here aan uit Jes 61:1-2 en maak aan die hand daarvan uitdruklik aanspraak daarop dat Hy die langverwagte Messias is: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig ... Vandag is hierdie Skrifwoord ... vervul" (Lk 4:18-21).
Die twee verse plaas Jesus Christus se sending na hierdie wêreld toe in 'n neutedop. Dis waarvoor die Vader Hom gestuur het; dis waarvoor die Heilige Gees Hom toerus. Sy missie is dié van restorasie. En dit is wat Hy verkondig, dit is wat Hy sal doen.
Die laaste sinsnede van die twee verse is 'n verdere samevatting - 'n konsentraat van die voorafgaande. Christus se hele taak kan só opgesom word: Hy het die Here se genadejaar kom afkondig en verwerklik!
Wat beteken hierdie begrip, die Here se genadejaar? Dit word vandag algemeen aanvaar dat dit 'n sinspeling is op die Ou Testamentiese jubeljaar.[1]
DIE SABBAT- EN JUBELJAAR
Die Here God het deur Moses, omvattende voorkrifte vir die verbondsvolk se kalender gegee. Ses dae se werk moes deur 'n sewende dag van rus gevolg word - die sabbat. Maar benewens die week van dae, is 'n week van jare voorgeskryf. Na ses jaar se werk, was daar 'n sewende jaar van rus - die sabbatsjaar. Selfs dit was nie al nie. Na sewe sabbatsjaar-siklusse, oftewel die nege-en-veertigste jaar se sabbat, moes ook die vyftigste jaar 'n tyd van rus wees - die jubeljaar (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev 25:1-55; Dt 15:1-18).
Die sabbatsjaar het veral drie fokuspunte gehad:
• Die landerye moes onbewerk gelaat word. Die natuurlike opslag was vir die armes en die diere. God het belowe om die oes van die sesde jaar só te seën dat daar genoeg kos vir twee jaar sou wees.
• Alle onbetaalde skuld van die voorafgaande jare, moes kwytgeskeld word. Dit het selfs gegeld vir skuld wat in die sesde jaar gemaak is.
• Die slawe - diegene wat tydens die voorafgaande jare deur skuld die eiendom van hulle skuldeisers geword het - moes vrygelaat word. Nog meer, hulle base moes hulle materiëel weer op die voete help (Dt 15:13-14).
Die jubeljaar het benewens die sabbatsjaar se voorskrifte ook nog 'n verdere fokuspunt gehad:
Alle grond wat in die voorafgaande vyftig jaar vervreem is, omdat mense nie hulle skuld kon betaal nie, moes aan die oorspronklike eienaars teruggegee word. Sodoende het geen permanente verryking of verarming van families plaasgevind nie. Een maal elke geslag of twee het restorasie, oftewel gelykmaking, plaasgevind.
Hierdie reëling het ook gegeld vir grond wat gekoop is. Dis betekenisvol dat die koopprys vasgestel is volgens die aantal oeste wat oorgebly het tot en met die jubeljaar. Eintlik was dit dus nie 'n kooptransaksie nie, maar 'n huurooreenkoms.
Dis onseker tot watter mate sabbats- en jubeljare deur die volk onderhou is. Die Skrif is egter duidelik dat die volk se ernstige versuim in hierdie verband een van die ballingskap se oorsake was. Die ongeveer sewe dekades moes onder meer dien om die land die rus te gee wat dit a.g.v. die volk se ongehoorsaamheid verloor het (Lev 26:32-35, 43; 2Kron 36:21; Jer 34:13-14).
Een van Nehemia se hervormings was om die sabbatsjaar af te dwing (Neh 10:31). En buite-Bybelse bronne getuig dat die Jode die instelling gehandhaaf het ná die ballingskap. [2]
DIE SABBATS- EN JUBELJAAR SE BETEKENIS
Alles behoort aan die Here.
Waarom mag grond nie permanent verkoop word nie? Omdat dit die Here s'n is: "Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My" (Lev 25:23). Waarom mag mede-Israeliete nie permanent verslaaf word nie? Hulle behoort aan die Here: "Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie" (Lev 25:42).
Mense, alle mense, selfs die rykstes, is net rentmeesters, bestuurders - nooit eienaars in die ware sin van die woord nie.
God is wonderlik barmhartig - veral teenoor die swakkes en die armes.
Die jubel-beginsels spreek die drie belangrikste faktore in sosio-ekonomiese onreg aan: natuurlike hulpbronne (die land); menslike hulpbronne (die slawe); ekonomie (die skuld). Misbruik van hierdie dinge het aanleiding gegee tot feitlik alle rewolusies in die geskiedenis. Daarenteen wou God se instelling gereeld 'n normalisering en ontspanning hiervan in Sy volk te weeg bring. Die speelveld moes op 'n gereelde basis gelyk gemaak word. Die armes moes nie te min hê nie, die rykes nie te veel.
Die Here se volk moet Hom in Sy barmhartigheid navolg.
Veral die rykes en magtiges was verantwoordelik om die speelveld gelyk te maak. Politieke rewolusies begin altyd onder in die sosiale piramiede. Die oomblik as getalle opweeg teen mag, bars die geweld los. Maar in die Here se volk moet die normaliseringsproses andersom geskied - van bo af onder toe. Dan geskied dit altyd vreedsaam! Dan bring dit altyd waardering en harmonie!
Die jubelbeginsel se oproep tot vrymaking is begrond in Gos se groot verlossingsdade.
Lev 25:55 spel dit uit: "Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God." En Dt 15:15: "Jy moet onthou jy was self 'n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee." Vrymaking, kwytskelding en herstel moes dus blymoedige dankbaarheidsrespons wees. Dis betekenisvol dat sowel die sabbats- as jubeljare begin het op die Groot Versoendag - die dag van sondevergiffenis en -verwydering.
Die Here sorg vir Sy gunsgenote.
Nie alleen was die opslag van die onbewerkte lande tot armes se beskikking nie; ook gehoorsame rykes is van God se versorging verseker. Die laaste oes van elke jaarweek sou genoeg oplewer om twee jaar te oorleef (Lev 25:20-21). Die Here het selfs méér belowe. Hy het gehoorsames van welvaart verseker: "Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak" (Dt 15:10; vgl ook v.4-5).
DIE HERE SE GENADEJAAR
In Nasaret sê Christus dat die beginsels van die sabbats- en jubeljaar Sy Messiaanse koninkryk sal karakteriseer. Dit sal nie net vir 'n jaar so wees nie, ook nie net vir Sy tyd hier op aarde nie. Sy koninkryk het vir ewig gekom - en hierdie beginsels sal tot in ewigheid daarin geld.
Hierdie waarheid laat talle Nuwe Testamentiese uitsprake in plek val en het grootse implikasies vir die burgers van die koninkryk van die hemele.
Diegene in Christus is vrygemaak.
 
Hulle is nie meer slawe van die vlees, die wêreld en die Satan nie (Ef 2:1-10). Hulle is vry! Hulle swoeg nie meer op die trapmeul van wettisisme nie, is nie meer magteloos in 'n sondegreep nie, word nie meer deur die vrees vir die dood geïntimideer nie.
Verlostes in Christus moet dit wat hulle ontvang het jubelend aangee na andere.
Ons moet mense wees wat blymoedig vrymaak en kwytskeld en uitdeel. Niks behoort immers in die absolute sin aan ons nie. Dis ons Vader s'n.
Aangrypend skets die Here Jesus in Lk 6:27-36 hoe die praktiese uitlewing van die jubelbeginsels tot uitdrukking kom. Só moet Sy dissipels wees en leef! Hulle moet uitbundige uitdelers wees - van hulp en aanvaarding en vergiffenis en stoflike gawes. Selfs vyande moet toegegooi word met barmhartigheid!
Hierdie jubelbeginsels geld wêreldwyd.
Nasaret wil opgewonde die Wonderseun uit hulle midde vir hulleself opeis. Maar hulle stel net vir eie gewin in Hom belang (23). Hy het egter vir alle nasies gekom (24-27). Trouens, wie die jubel-voordele net vir hulleself wil hou, sal die seën daarvan misloop. Só het dit met die Jode gegaan.
Die Messiaanse koninkryk bring volkome herstel van alles wat die sondeval vernietig het.
Aan die hart van die Ou Testamentiese sabbats- en jubeljare was die beginsel van restorasie.
Christus, God se Laaste Adam (1Kor 15:45, 47), het gekom om dit wat Adam en Eva verloor het, te herwin. Trouens, Hy het die loon wat Adam sou kry vir volgehoue gehoorsaamheid, reeds finaal verwerf. En Hy sal dit uiteindelik volkome verwerklik. Daarom sal almal wat met Hom verenig is, vrylik toegang hê tot die Boom van die Lewe (vgl. Gn 2:9; 3:22-24; Eseg 47:7, 12; Op 2:7; 22:2, 14).
Nou reeds leef ware gelowiges in beginsel in die jubeljaar. Maar 'n ewige jubeljaar, waarin al bogenoemde beginsels 'n onafgebroke en volkome belewingswerklikheid sal wees, wag op hulle!
DIE GAATJIE IN DIE OOR
In Eks 21:5-6 en Dt 15:16-17 word voorsiening gemaak vir die toewyding van 'n liefdeslaaf. Indien 'n slaaf te lief geraak het vir sy baas en nie wou weggaan met die aanbreek van die sabbatsjaar nie, kon hy homself vrywillig vir so 'n baas gee. Hy moes dan teen 'n deurkosyn gaan staan en die baas moes 'n gaatjie deur sy oorlob steek tot in die hout. Dit sou die teken wees van vrywillige liefdesoorgawe en slawediens.
Dis die wonder van verlossing in Christus. Ons is nie meer slawe nie, maar kinders van God. En tog, tóg, begeer ons niks méér nie as om ons Here met alles in ons te dien nie! Hy het Sy wette op die tafels van ons harte geskryf. Ons is liefdeslawe!
Het jy 'n gaatjie in jou oor? 
Nico van der Walt
1. William Hendriksen, The Gospel of Luke, p.254; S. Greijda-nus, Lucas, p.116; J.H. Yoder, The Politics of Jesus, p.34-40
2. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible, Vol 5, p.190

No comments:

Post a Comment