Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.199 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [3] v.1a - Kyk af!

Hb 12:1b : "... laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik ...".

Dit is nie 'n wonder nie dat sommige van die gelowiges aan wie die Hebreërbrief gerig word, begin swig onder die druk en eise wat ware dissipelskap meebring. Oënskynlik stel hulle navolging van Jesus amper onhoudbare eise aan hulle.Hulle oorweeg dit gevolglik om na die Joodse geloof terug te keer (vandaar die talle waarskuwings teen geloofsversaking in die brief). Uiterlike godsdienstige rituele is immers veel minder veeleisend as dissipelskap in gees en waarheid - as 'n geloofswedloop wat alles van jou verg. En nog meer, dit sal 'n einde bring aan die vervolging en verwerping wat hulle waarskynlik moet lei.


Die Christelike wedloop verg alles1

Soos die vorige twee keer gesien, is die ware Christelike lewe 'n wedloop - 'n hinderniswedloop. En om die ewige saligheid te bekom, is minstens twee dinge nodig. Een, ons moet in hierdie wedloop volhard tot die einde toe. En, twee, ons moet oop-oë hardloop, want daar is baie dinge wat mens se wedloop wil laat skipbreuk lei. Daarom, anders as in 'n gewone wedloop, moet mens aandagtig rondkyk. Ons moet voortdurend in vier rigtings kyk:

Ons moet terug kyk - want ons is nie die eerste om die wedloop af te lê nie (v.1a).

Ons moet af kyk - want daar is baie struikelblokke wat ons kan laat val (v.1b).

Ons moet op kyk - ons moet ons oë vasnael op die Here Jesus (v.2).

Ons moet vorentoe kyk - want daar wag 'n lourierkrans (v.2).

Ons het reeds inleidend en in die algemeen oor hierdie verse besin - oor die feit van die Christelike wedloop. En laas keer het ons dit gehad oor ons roeping om terug te kyk.

Nou besin ons oor die noodsaak om af te kyk.

Die noodsaak om af te kyk

In v.1-3 word twee struikelblokke uitdruklik genoem ( "laste" en "sonde"), en drie word geïmpliseer: die "kruis" wat ons soos die Here Jesus moet dra (v.2); die "skande" wat ons dikwels soos Hy moet verduur (v.2); en die "vyandige optrede van die sondaars" (v.3) wat Christen-atlete, soos Hy, goed ken.

Laste

Die Griekse woord dui op 'n massa, of 'n swelsel, of oortollige vet. Atlete het destyds, soos vandag, alles in hulle vermoë gedoen om niks onnodig saam te dra nie. So fanaties was hulle daaroor dat van hulle blykbaar selfs kaal meegeding het.

Ook ons weet om nie iets onnodig saam te dra nie. As mens byvoorbeeld gaan voetslaan, is slegs die noodsaaklike in jou rugsak (ek weet van 'n man wat sy tandeborsel se steel korter gesaag het!). Jy hardloop nie 'n maraton met stewels aan nie. Vir die Christenatleet geld: Keep your luggage light!

Mens moet van alles ontslae raak wat jou geestelike vordering of jou dienswerk vir die Here belemmer. Mens sou byvoorbeeld kon dink aan daardie dinge wat jou tyd opvreet, wat jou kragte - liggaamlik of emosioneel - uitput, en wat jou ywer vir en honger na die dinge van die Here afstomp.

Sonde

Dit verstrik ons so maklik, sê v.1. Die Griekse woord is interessant. Dit is 'n samestelling van 3 begrippe: vinnig of rats, plus rondom, plus staan. Die idee is díé van 'n skare mense wat só om jou saamdrom dat jy beswaarlik kan beweeg.

Voor mens jou oë uitvee, kan sonde - wat aanvanklik skadeloos lyk - jou van alle kante toepak. Dan raak dit onmoontlik om te hardloop. Ontelbaar baie het al wonderlik belowend weggespring, maar weldra in die dryfsand van sonde beland - en nooit hulle wedlope voltooi nie.

Kruis

Soos die Here Jesus het ook ons 'n kruis om te dra. Meermale roep Hy Sy dissipels op om hulle kruise op te neem en Hom te volg. Wat bedoel Hy?

In die antieke wêreld het mense nie 'n silwerkruis om hulle nekke gedra nie. Nee, die kruis was 'n verskriklike instrument van teregstelling. Nooit was daar 'n afgrysliker manier om te sterf nie. Ware dissipels draf dus nie ligvoets en lag-lag in Jesus se voetspore nie. Hierdie wedloop is nie vir huiweriges, lafaards en papperds nie!

Nog meer, die kruis is nie iets wat permanent op jou skouer vasgesweis word nie. Volgens die Here moet mens jou kruis "elke dag opneem" en Hom volg (Lk 9:23). Die implikasie is duidelik. Jy moet dag na dag die besluit neem om die prys van dissipelskap te betaal. Dit is moontlik om op enige stadium te besluit jy het genoeg gehad. Voortdurende toewyding is noodsaaklik en ons kan nooit ons verantwoordelikheid ontkom nie.

Skande

Daar was geen groter skande as om gekruisig te word nie. Net die heel ergste misdadigers is so tereggestel. Op geen wyse kon die Jode die Here méér verag het, as om daarop aan te dring dat Hy gekruisig word nie.

Geen dissipel van die Here Jesus moet verbaas wees as hy die hoon en smaad en skindertonge van ongelowiges moet verduur nie. Die wedloop van dissipelskap is nie vir diegene vir wie dit oor wêreldse applous gaan nie. Jesus se volgelinge is vreemdelinge en bywoners hier op aarde (Hb 11:13; 1Pt 2:11).

Vyandige optrede van sondaars

Die Here Jesus is nie net verag nie. Die Jode wou Hom uit die weg ruim en het nie gerus voordat hulle daarin geslaag het nie (of so het hulle gedink). Net so moet geen Christen verwag om die applous van 'n ongelowige wêreld te ervaar nie; trouens, laat ons nie verbaas wees oor vervolging nie. Die Skrif verseker ons dat toegewyde gelowiges dit wel op een of ander wyse sal ervaar: "Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word" (2Tim 3:12).

Hierdie vervolging kan natuurlik op talle maniere tot uitdrukking kom - van fisieke vervolging tot beswaddering, diskriminasie en spot.

Wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?

1. Dis nie net sonde wat ons in ons wedlope moet oorkom nie.

Dis waarom die skrywer sê dat meer dinge as sonde ons kan belemmer. Trouens dit kan selfs partymaal van die goeie gawes wees wat die Vader "ryklik aan ons gee om te geniet" (1Tm 6:17).

Dit moet ons onmiddellik waarsku dat daar 'n fyn balans is om te handhaaf. Aan die een kant moet ons, ten einde suksesvol te hardloop, askese vermy. Want dit kan mens isoleer van die wêreld waarin ons lig en sout moet wees - en jou verlei tot wettisisme. Maar aan die ander kant kan al die wonderlike dinge van ons welvaartsgemeenskap laste word wat ons so besig hou dat ons nie by hardloop uitkom nie. Veral laasgenoemde is vir die meeste van ons 'n gevaar.

Ernstige en ervare dissipels weet dat handhawing van hierdie balans geen eenvoudige uitdaging is nie. Opregte en biddende selfondersoek is voortdurend nodig. Mens moet jou balans op jou knieë vind.

2. Mens ontdek baie van jou laste eers terwyl jy hardloop.

Dis eenvoudig so dat 'n atleet sekere probleme nie kan voorsien terwyl hy nog by die huis sit nie. Begin hy egter hardloop, kom hy gou agter waar sy nuwe hardloopskoene hom skaaf. Elke ernstige geloofsatleet sal dus gereeld tydens die wedloop laste afgooi. As jy nooit iets afgooi nie, moet jy jouself afvra of jy hoegenaamd hardloop.

3. Ons leef nog ín die wêreld.

Daar is sekere noodsaaklikhede in die lewe waaraan mens eenvoudig móét aandag gee. Voorbeelde kan vermenigvuldig word. Soveel dinge voel na beuselagtighede wat jou tyd só steel dat jy nie behoorlik kan hardloop nie. Dink maar aan 'n ma se tydrowende versorging van haar kinders, of die omsien na 'n gestremde kind, of die sleur van huiswerk, of die instandhouding van jou eiendom, of die voltooing van belastingopgawes. En wat van die talle dissipels wat moet saamleef met 'n ongelowige eggenoot. En so kan mens aanhou, nie waar nie. Maar jy kan hierdie dinge eenvoudig nie ontkom nie. Trouens, dikwels getuig getrouheid daarin juis van jou toewyding as geloofsatleet. Moet dus nie voor die versoeking swig om pligte te versuim onder die voorwendsel dat dit kwansuis ter wille van die wedloop is nie. Hierdie pligte is deel van die wedloop en dien dikwels juis tot jou heiligmaking.

4. Tog is ons nie meer ván die wêreld nie.

Terwyl ons dus allerlei mundane pligte het waaraan ons met Christelike toewyding aandag moet gee, moet ons terselfdertyd alles afgooi wat nie werklik vir ons wedlope noodsaaklik is nie.

Die spanning tussen ín die wêreld wees, maar tog nie ván die wêreld nie, wil elke ernstige Christen-atleet meermaal uitmekaar skeur. Tog kan ons dit nie ontkom dat die baan dikwels op hierdie snykant van 'n mes langs loop nie.

In 1Kor 7:29vv spreek Paulus hierdie saak aan, spesifiek met betrekking tot die huwelik. Almal van ons wat getroud is, sal weet hoeveel addisionele pligte 'n huwelik en 'n gesin meebring. Só belangrik ag die apostel die wedloop, dat hy hier in 1Kor 7 aanbeveel dat Christenatlete moet oorweeg om ongetroud te bly ter wille van hulle roeping. Maar natuurlik, die meeste dissipels trou wel een of ander tyd - en dis reg so.

Terwyl 'n lewe van armoede swaar en uitmergelend kan wees, is dit veral welvaart wat jou lewe kompliseer en groot eise aan jou wedloop stel. Hoe meer jy het, hoe meer is daar wat jou aandag vereis en hoe meer probleme het jy!

Dis waarskynlik een van die redes waarom die Skrif ons dikwels waarsku teen die gevare van rykdom. Dit kompliseer ons wedlope. Luister na Jesus Christus: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom" (Lk 18:24). Let egter op, Hy sê nie dis onmoontlik nie; Hy sê dis moeilik. Maar let óók op: in hierdie ryk jongman se geval het dit hom heel moontlik die ewige saligheid gekos!

Mag die Here jou en my help om te volhard en om elke struikelblok duidelik raak te sien - want niks, maar niks, is belangriker as om die wedloop seëvierend te voltooi nie!

Nico van der Walt


11. Die skrywer van hierdie preek glo met sy hele hart aan die Bybelse leerstuk van die volharding van die heiliges, maar ons het nie nou spasie om te besin oor die samehang van ons verantwoordelikheid, wat in hierdie preek beklemtoon word, en die instandhouding van Sy uitverkorenes deur God nie.

No comments:

Post a Comment