Thursday, December 15, 2011

E-PREEK No.30 - LK 11:5-13 - DIE VRYGEWIGE VADER


MEESTE CHRISTENE STOEI MET SKULDGEVOELENS dat hulle te min bid. Preke en boeke oor gebed is só appelerend dat jy moedeloos is nog voordat jy begin bid.
Dis egter nie die Here Jesus se benadering nie. Lk 11:5-13 - direk ná die Ons Vader - is 'n wonderlike stuk aanmoediging. Ons word uitgenooi om weer en weer met groot vrymoedigheid voor die Vader se genadetroon te kom.
Hierdie stuk lering moet ons gebedslewe en ons wandel met die Here beheers. Baie van ons gebedsprobleme is te wyte aan die feit dat ons tot 'n mindere of meerdere mate vreemdelinge is vir dit waarvan hier gepraat word.

'N RETORIESE VRAAG EN SY SLOTSOM (5-8)

In werklikheid is v. 5-7 een lang retoriese vraag wat die antwoord veronderstel: gewis nie!
Dit kan soos volg geparafraseer word: Kan jy jou vir een oomblik indink dat jy om middernag na 'n vriend sal gaan om brood te leen - omdat 'n gas onverwags by jou opgedaag het - maar dat hy sal weier om op te staan en jou met 'n klomp verspotte verskonings onverrigtersake sal terugstuur huis toe?
Ondenkbaar in 'n kultuur waarin gasvryheid en buurmanskap baie belangriker was as vandag!
In v.8 gee Jesus dan die slotsom: Op grond van hulle vriendskap sal die man natuurlik opstaan - maar selfs al is dit op sigself nie genoeg motivering nie (verspotte gedagte!), sal die broodsoeker se skaamtelose vrymoedigheid die slaper dwing om te help. Ongetwyfeld sal die man sy brood kry!

DIE TOEPASSING (9-10)

In v.9 gee die Here dan drie opdragte na mekaar: Vra! Soek! Klop! Eintlik is dit dieselfde bevel - op drie verskillende maniere gestel.
Elke opdrag word gevolg deur 'n versekering dat gehoorsaamheid daaraan nié tevergeefs sal wees nie! Elkeen wat vra, sal ontvang; hy wat soek sal kry; en vir hom wat klop sal oopgemaak word.
Al drie opdragte in die Grieks is in 'n vorm wat voortgaande handeling beklemtoon. Dit kan egter op twee maniere verstaan word. Óf Jesus wil beklemtoon dat mens aanhoudend moet bid; óf Hy wil sê dat mens gedurig moet bid. In eersgenoemde geval sou die idee wees: hou aan, volhard, moenie opgee nie! En in die tweede geval sou Hy bedoel: bid gedurig, moenie skaam wees nie, kom weer en weer voor die genadetroon!

Bogenoemde mag na harekloof klink, maar die vertolking van die opdragte maak 'n reuse verskil. Die eerste moontlikheid sou die boodskap oordra dat gebed nie 'n maklike saak is nie, maar dat aanhouer tog sal wen. Die tweede moontlikheid sou 'n hartlike uitnodiging wees om met die allergrootste vrymoedigheid weer en weer te vra. Wat is reg? Die volgende vers gee die antwoord.
Vers 10 begin met die redegewende voegwoord, want (vgl. OAV; NIV). Daarmee sê Jesus dat Hy nou 'n verduideliking van die vorige vers gaan gee.
In die oorspronklike taal is "vra", "soek" en "klop" teenwoordige deelwoorde. Die idee is dus: al vraende ontvang jy; al soekende kry jy; al kloppende vind jy dat daar vir jou oopgemaak word.
Die Here sê dus nie dat mens wel mettertyd sal kry nadat jy genoeg gebid het nie, maar dat jy kry terwyl jy bid. Vers 9 is gevolglik 'n hartlike uitnodiging en 'n bemoedigende versekering: laat gedurige gebed deel van jou lewenstyl wees, en gebedsverhoring sal 'n daaglikse belewing vir jou wees. Die Here verseker ons dus hier dat geen dissipel van Hom ooit onwelkom is voor die troon van genade nie. Nee, Hy wil ons van Sy Vader se welwillendheid en vrygewigheid verseker. Dis die gelykenis en sy toepassing se primêre punt.
Die Here Jesus wil egter nie Sy luisteraars onder 'n vals indruk bring nie. Hy wil nie voorgee dat gebed 'n simplistiese saak is nie. Dis nie net 'n kwessie van links en regs vra nie. Hy weet dat gebed soms 'n veeleisende stryd is en dat volharding inderdaad noodsaaklik is. Hy leer dit, trouens, uitdruklik in Lk 18:1-8. En hier in Lk 11 suggereer Sy versigtige woordkeuse dieselfde waarheid. Hy sê as 't ware vir ons: "Wanneer julle bid, sal julle soms die gevoel hê die Vader is weg. Maar soek Hom met mening; julle sal Hom wel vind. Ander kere sal julle die gevoel hê Hy ignoreer julle. Maar klop met mening; daar sál oopgemaak word."
Presies so sal 'n soortgelyke versekering van 'n buurman júís sy welwillendheid onderstreep: "As jy my nodig het, moet asseblief nie huiwer om op my knoppie te druk nie - dag of nag. Onthou net, ek is partymaal doer agter in die tuin. Kom haal my daar. En ek slaap vreeslik vas. Hamer dus op die deur!"

DIE SPYKER DIEPER INGESLAAN (11-13)

Die Here wil kennelik nie hê ons moet hierdie gebedsuitnodiging mis nie. Nogeens gebruik Hy twee retoriese vrae om die punt nóg dieper tuis te bring. Gee 'n pa vir sy seun 'n slang as díé hom 'n vis vra? Natuurlik nie! Sal hy hom 'n skerpioen gee in plaas van 'n eier? Ondenkbaar! Dus: Bid, dit behaag julle Vader! Bid, julle sal verhoor word! Bid, dis nie tevergeefs nie!
'n Finale retoriese vraag word gebruik om die slotsom tuis te bring. Nogeens is die antwoord glashelder: as sondige ouers dan weet om die beste vir hulle kinders te gee, hoeveel te meer nie ons Vader in die hemel nie?

DIE VADER SE GROOT GAWE

In v.13 neem die Here se lering 'n verrassende wending. Anders as te wagte, belowe Hy nie gebedsverhoring in die algemeen nie, maar spesifiek die gawe van die Heilige Gees as God se gebedsantwoord.
 In Mt 7:7-11 maak Jesus dieselfde gebedsbelofte amper woordeliks. Hier sluit Hy egter meer verstaanbaar af: die Vader gee goeie gawes aan diegene wat vra

As mens bogenoemde nou saam verreken, lei dit tot drie uiters belangrike waarhede:
Eerstens, die Heilige Gees self - en eintlik net Hy - is God se groot gawe aan Christus se Nuwe Testamentiese gemeente. As ons Hóm het, benodig ons niks anders nie. Wat God en ons roeping ook al vereis, vind ons in Hom.
Tweedens, gelowiges weet hulle kry niks by die Vader, anders as op grond van Christus se verdienste nie. Ons vergeet egter maklik dat ons in hierdie lewe ewemin iets van ewigheidswaarde kry, anders as deur die Gees se werk. Elke goeie gawe wat ons uit die hemel ontvang, word by wyse van spreke deur die Heilige Gees afgelewer.
Derdens, ons ontvang niks van die Vader, tensy die Gees dit kan aflewer nie. Hy is heilig - en sal niks bring wat strydig met Sy karakter is nie. Hy bring net goeie gawes. Dit moet ons goed onthou wanneer ons bid, anders mag ons strydig met God se wil vra - en dus tevergeefs.

DRIE PRAKTIESE IMPLIKASIES

1. Jesus moedig ons aan tot vrymoedigheid in gebed, nie tot aanmatigende voorbarigheid nie.

Dis twee gesindhede wat soos dag en nag verskil.
Vrymoedigheid in gebed is om ten spyte van jou baie oorblywende sonde tóg met geloofsvertroue en afwagting voor die heilige God te verskyn - op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, en daarop alleen. Dit is om in die Naam van Christus te bid - nie terughoudend, beskeie of bang nie, maar in vryheid en versekering. Dis om, oortuig van jou Vader se liefde, met heilige vrypostigheid jou hartstog vir Sy eer en jou diepste behoeftes voor Hom te ontbloot.
Voorbarigheid het te doen met 'n selftevrede en selfgerigte gesindheid wat bloedweinig begryp van eie onwaardigheid en die vrese van die Here. Die essensie daarvan is selfvertroue en eiebelang.

2. Ons hemelse Vader wil nie net hê ons moet bid nie, Hy wil hê ons moet vrymoedig bid.

Hoewel voorbarigheid voor die Here 'n wesentlike gevaar is, is die afwesigheid van gebedsvrymoedigheid 'n nog groter en meer algemene probleem. Dis waarom daar meer aanmoedigings in die Bybel tot vrymoedigheid is, as waarskuwings teen voorbarigheid.
Hier in Lk 11 herhaal Jesus die versekering van die Vader se welwillendheid teenoor Sy kinders tien keer na mekaar (een maal in v. 5-8; drie maal in v.9; drie maal in v.10; een maal in v.11; een maal in v.12; een maal in v.13.) Daar kan beswaarlik 'n Bybelbelofte wees wat groter nadruk kry.

3. Kennis van God en Sy beloftes is die sleutel tot gebedsvrymoedigheid en -volharding.


Hoewel die primêre aksent in Lk 11 nie op die noodsaak van gebedsvolharding val nie, kan en sal ons juis aanhou bid ómdat ons oortuig is van ons Vader se vrygewigheid. Per slot van rekening bly jy om middernag aan jou buurman se deur hamer totdat hy wakker is - júís omdat jy weet hoe goedgesind hy is. Aan 'n onvriendelike buurman se deur klop jy slegs met huiwering, en dan net een of twee keer, voordat jy omdraai.
Ons volhard dus in gebed, nie omdat ons Vader onwillig is om te verhoor nie, maar juis omdat Sy Woord ons verseker van Sy welwillendheid.
Niks is belangriker vir ons gebedslewe as 'n suiwer kennis van wie en wat God is nie. En in die besonder geld dit vir Sy goedheid, liefde, genade en verbondstrou teenoor diegene in Christus. Presies omdat ons God in waarheid ken, bid ons soos ons moet - in vrymoedigheid.
Die Ou Testament, en veral die Psalms, is besonder insiggewend in hierdie verband. Meermale lees ons gebede wat vir óns ore aan die Godslasterlike grens. Maar dan is dit God se gunsgenote wat so met heilige ongeduld bid!
"Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?" (Ps 44:24-25). "Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?" (Ps 89:50). "Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly? Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan, soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie? ... ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!" (Jer 14:8-9).
         Sekerlik is gebede soos hierdie Godslasterlik as dit nie ontspring uit harte wat witwarm gloei vir God se eer nie. Wat meer is, mens kan net in opregtheid so bid as jy weet wie God is - heilig, almagtig en regverdig. Waarom? Van 'n mindere figuur sou mens kon verstaan as hy niks in 'n Godonterende situasie sou doen nie, maar van God nooit nie - omdat Hy is wie Hy is! 

 Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment