Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.200 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [4] v.1a - Kyk op

Hb 12:2a : "... die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ..."; Hb 12:3a : "Hou Hom voor oë ..."

Die Christelike wedloop moet versigtig en met toewyding gehardloop word as jy dit met sukses wil aflê. Soos gesien, is dit noodsaaklik om oop-oë te hardloop en voortdurend in 4 rigtings te kyk: terug, af, op en vorentoe. Op die eerste twee hiervan het ons reeds gelet. Kom ons kyk nou na die noodsaak om gedurig op te kyk.

Om ons oë op Jesus vas te nael

Die Hebreërskrywer gebruik betekenisvolle begrippe om hierdie verantwoordelikheid te beskryf.

V.2a: "die oog gevestig"

# Hier is 'n interessante woord. Dit dui op 'n doelbewuste en volgehoue wegkyk - nie ván nie, maar ná. Dis om doelbewus weg te kyk van alles wat jou aandag kan aftrek, sodat jy kan konsentreer op iets anders - in hierdie geval Jesus.

Mens hoor gedurig dat Christene nie oogklappe moet dra nie. Daarmee word bedoel dat hulle nie naïef, enkelvoudig en bekrompe moet wees in dit waarmee hulle hul besig hou nie.

Dis natuurlik waar. Maar daar is ook so iets soos heilige oogklappe. Christene hou hulle nie op met al die nonsens van hierdie wêreld nie. Al mag dit heeltemal legitiem wees, lê dit net eenvoudig nie hoog genoeg op jou prioriteitslys nie.

# Let op, hier word net die eienaam van die Here se mens-wees gebruik: "Jesus". Duidelik het die skrywer vir Christus in Sy vernederde staat in gedagte. Dit gaan dus nie in die eerste instansie oor vertroue in Hom as waarlik God nie, maar oor navolging van Hom as waarlik mens. Hy was volkome mens, en daarom kan ons as mense Hom inderdaad navolg. Ons kan lewe soos Hy gelewe het.

V.3a: : "Hou Hom voor oë ..."

# Nogeens is die Grieks betekenisvol. Die werkwoord praat van berekening. Dit dui dus op die noukeurige en akkurate maak van somme.

Ek moet daarom met erns ag slaan op die Here Jesus se voorbeeld, lering en wil in elke gegewe situasie. Ek moet daarmee rekening hou, al lyk dit met die eerste oogopslag nie so nie, dat die Here vir ons al die nodige beginsels en riglyne gegee het om in elke situasie reg te besluit en reg op te tree.

# Dat ons Christenskap oor die volle spektrum van ons lewens tot uitdrukking moet kom, is 'n belangrike beginsel. Ons moet en kan ons christenskap op elke denkbare lewensterrein uitleef. Maar as dit my enigste beklemtoning is, lei dit baie maklik tot wêreldgelykvormigheid. Mens raak so kniediep betrokke in hierdie wêreld dat jy spoedig vasval in die "laste" waarvan v.1 praat.

Hierdie beklemtoning moet óók gebalanseer word met die waarheid wat hier onderstreep word. Só Christusgefokus moet my dissipelskap wees dat ek gedurig en doelbewus besig sal wees om hierdie komplekse en Godvyandiggesinde wêreld se apèlle en aansprake uit my lewe uit te sny - ten einde te konsentreer op my eintlike roeping.

Om hierdie balans te handhaaf is nie maklik nie. Dit verg nadenke, oorweging en selfs in sommige gevalle die raad van broers en susters in die Here. In laasgenoemde geval moet mens net seker maak jy leen nie jou ore uit aan elke Jan Rap en sy maat nie. Doen moeite om die raad te kry van ryp Christene wat al deur die meul gekom het.

Paradoksaal, hoe meer Christus jou blikveld vul, hoe beter sal jy die struikelblokke en verleidinge van hierdie lewe raaksien.

Die geloof se Pionier en Vervolmaker

Vergelyk mens verskillende Bybelvertalings, kom jy gou agter dat die Grieks van die benaminge wat hier vir Jesus gebruik word, dubbelsinnig is. Selfs ons twee Afrikaanse vertalings vertolk die oorspronklike taal verskillend.

Ons gaan egter nie nou in allerlei tegniese ingewikkeldhede vasgevang raak nie. Ek gaan net my konklusies aan jou voorhou.

# As die Here in die OAV "die Leidsman" genoem word, is die implikasie (so lyk dit vir my) dat Hy wat hierdie saak betref voor geloop het en as sodanig vir ons gedemonstreer het hoe die geloofslewe geleef moet word - en dit moet ons navolg.

Die NAV se "die Begin" wil weer beklemtoon dat ons geloof sy oorsprong in Hom het (?) - Hy is die Gewer, die Outeur, die Inisiëerder van my geloof. Beide is eksegeties moontlik, en beide is Bybels. Maar ek dink tog dat die Hebreërskrywer eersgenoemde in gedagte gehad het.

# Wat die tweede begrip betref (nét hier in die Nuwe Testament), vertaal beide OAV en NAV met "die Voleinder". Presies wat die Afrikaans met hierdie woord wil sê, is nie presies duidelik nie. Maar die Grieks bied weer twee moontlikhede.

Óf die begrip wil sê dat Jesus diegene wat die Vader vir Hom gegee het se geloof tot vervolmaking voer. Hy bekragtig hulle dus en dra hulle deur.

Óf die begrip wil sê dat Jesus self die geloof vervolmaak het. Hy het gedemonstreer hoe mens die werdloop moet hardloop. Hy is die allerstandaard van geloofsvolharding end-uit - en ons moet Hom dit nadoen.

Hoewel eersgenoemde vir seker Bybels is, is dit tog my oortuiging (na baie wik en weeg) dat die skrywer híér laasgenoemde in gedagte het.

Indien my eksegese korrek is, wil die Hebreërskrywer dus hier sê dat die Here Jesus as volkome mens vir ons gedemonstreer het hóé 'n Christenatleet in die geloof moet hardloop en enduit moet volhard. Ons moet die wedloop hardloop net soos Hy dit gedoen het - dan sal ons vir seker seëvier.

Wat het Jesus se wedloop gekenmerk?

# Die Here Jesus was absoluut doelgerig

Hy is voortdurend aangespoor deur "die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was."

Hier is nogeens verskillende eksegetiese moontlikhede.

* Die voorsetsel "ter wille van" (NAV; Gr. anti), kan ook vertaal word "in plaas van". So vertaal meer as een regsinnige teoloog dit (o.a. Calvyn). Dan is daar twee moontlike vertolkings.

Óf die Here het gekies om in gehoorsaamheid aan Sy Vader en ter wille van ons, die vreugde wat Hy in die hemel geniet het die rug te keer ten einde hier op aarde die geloofswedloop te kom hardloop.

Óf die Here het gekies om gehoorsaam aan Sy Vader te wees, eerder as om die vreugdes wat hierdie wêreld bied na te jaag.

* Maar ek meen tog beide ons Afrikaanse vertalings is reg. Die deurslag word vir my gegee deur die woorde, "wat vir ... Hom voorgehou is" (OAV), of "wat vir Hom in die vooruitsig was" (NAV). Letterlik sê die uitdrukking dat die vreugde voor Hom neergesit is - kennelik as belonining (vgl. 6:18, waar die woord ook gebruik word). Dan maak ons vertalings se weergawes net soveel meer sin.

# Die Here Jesus moes sterk opposisie oorkom

Hy het geduldig volhard in Sy wedloop, ten spyte daarvan dat dit sou uitloop op die kruis (2).

Hy moes die verskriklike skande van die kruisiging verduur, maar het nie daarvoor terug gedeins nie (2).

Al moes Hy teen die stroom van menslike opinie inbeur, het dit Hom nie daarvan weerhou om Sy wedloop end-uit te hardloop nie (3).

* Kruis: Wat die kruisiging betref, het Hy geweet dat dit onvermydelik was. Dit was immers waarvoor Hy gekom het. Hierdie realiteit het Hy vierkantig in die oë gekyk.

Nooit het Jesus gemurmureer nie. Daarom kon Hy vir Petrus sê, "Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?" (Jh 18:11).

Tog was Hy nie gevoelloos en traak-my-nie-agtig oor Sy komende lyding nie. Hy was nie Stoïsyns nie. Dink maar aan Sy vrees en worsteling in Getsemane. Hy het waarlik en intens gely!

Laat ons goed verstaan: volgens God se Woord sal egte Christenskap nooit sonder 'n goeie kwota swaarkry wees nie. Ook ons moet onsself verloën en elke dag ons kruis opneem.

* Skande: Die Here Jesus het nooit toegelaat dat enigiets Hom van koers bring in die uitlewing van Sy roeping nie - allermins die feit dat Hy skande, minagting en geringskatting moes verduur.

Laat dit ook ons gesindheid wees. Soos 13:13-14 sê: "Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige."

* Teëspraak: Al wat vir die Here Jesus getel het, was God se Woord; nooit mense se opinie nie. En dit moet ook van my en jou gesê kan word. Hoor wat sê die Here Jesus: "Wie hom vir My en vir My Woord skaam, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam."

# Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God

Omdat die Here Jesus Sy wedloop absoluut getrou aan Sy Vader seëvierend voltooi het, het Hy 'n ereposisie in die hemel gekry. Weliswaar sal nie een van ons ooit so 'n verhewe posisie beklee nie, maar die punt is dat die Vader elkeen wat tot die einde toe volhard, ryklik sal beloën - presies soos Hy beloof het.

Ten slotte

Petrus gebruik 'n baie interessante woord as hy in 1Pt 2:21 skryf: Christus het vir ons 'n voorbeeld gestel, sodat ons in Sy voetspore kan volg.

Die woord "voorbeeld" (Gr. hupogrammos) is interessant. Dit kom uit die wêreld van die Griekse laerskool. Klein kindertjies het nie op papier leer skryf nie; ook nie op klipleie nie. Hulle het 'n vlak pannetjie gehad wat met byewas gevul was. In die was het hulle dan met 'n staalstilus met 'n skerp punt geskryf. In die geval van die heel kleintjies, het die onderwyser eers, sê maar, die Griekse alfabet gekrap. Die leerling moes dan die groefies oor en oor met sy stilus volg, en so leer om die letters te vorm.

Die punt aan die ander kant van die stilus was plat, soos 'n skroewedraaier. Daarmee kon hulle dan die was weer gelyk maak vir 'n nuwe klompie letters wanneer dit nodig geraak het.

Hierdie voorbeeld wat die onderwyser eers in die was vir die kleintjies gekrap het, is 'n hupogrammos genoem. Wat wil Petrus dus tuis bring? Soos wat daardie kindertjies versigtig elke hoekie en draaitjie van 'n hupogrammos se groefies moes volg, net so moet 'n Christen versigtig in die voetspore van sy of haar Here en Meester trap!

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment