Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.198 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [2] v.1a - Kyk terug


Hb 12:1a : "... Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het ..." (OAV).
Waarom is dit so belangrik dat die Hebreërskrywer se lesers, en daarom alle gelowiges deur die eeue, lewenslank en end-uit in die geloof moet volhard? Dis omdat die afronding en vervolmaking van ons redding tydens hierdie lewe nog toekomstig is! Die Nuwe Testament leer immers dat ons gered is, gered word en gered sal word. Redding is 'n proses.
Hierdie verse, soos sovele ander in die Nuwe Testament, leer dat die Christelike lewe 'n wedloop is (vgl. bv. 2Tm 4:6-8). Alleen diegene wat dit voltooi, kry die prys - eers by die wenpaal. Wie volhard tot die einde toe sal gered word.
Een van Satan se gevaarlikste leuens is dat die Christelike lewe iets staties is. Al waarom dit sou gaan, is dat 'n mens Christus aanneem - en dan bloot wag.
Maar die Christelike lewe het alles te doen met hardloop en volharding - op 'n baan wat "voor ons lê" (12:1c). Die oorspronklike taal dra die idee van 'n baan wat vir ons uitgemeet is (vgl. NIV). En inderdaad het die Here soewerein vir elkeen van ons 'n unieke baan vasgelê.
Sommige se roete is moeiliker as ander s'n. Sommige s'n langer. Party s'n meer in die publieke oog. Party hardloop in hierdie land; ander in 'n verre land. Sommige in die eerste eeu; ander in die een-en-twintigste. Al wat uiteindelik saak maak, is dat ek my sal onderwerp aan God se soewereine wil vir my, en getrou sal volhard op die pad wat vir mý vasgelê is.

Ons moet in vier rigtings kyk

Hierdie 3 verse beklemtoon dat die Christen-atleet oop-oë moet hardloop as hy 'n sukses van sy wedloop wil maak. Hy moet in vier rigtings kyk:
1. Kyk terug! : Jy is nie die eerste om die wedloop af te lê nie (v.1a).
2. Kyk af! : Daar is baie struikelblokke (v.1b).
3. Kyk op! : Nael jou oë vas op die Here Jesus (v.2).
4. Kyk vorentoe! : Daar wag 'n lourierkrans (v.2).

Die noodsaak om terug te kyk

# Kom ons fokus nou net eers op eersgenoemde - dat ons moet terug kyk.

# Daar is nie 'n eksplisiete opdrag in v.1 om terug te kyk nie, maar die skrywer begin die gedeelte met "daarom" (OAV), wat beteken dat hy sy argument op die voorafgaande baseer.
         Volgens Heb 11 is geloof en hoop die sleutel tot volharding. Dit word geïllustreer aan die hand van talle Ou Testametiese lewens. Die geloofshelde van die verlede het onder die moeilikste omstandighede denkbaar volgehou - omdat hulle nie vir hierdie lewe geleef het nie, maar vir die een wat kom.

# Hierdie Ou Testamentiese geloofshelde word genoem: 'n "groot wolk van getuies rondom ons" (OAV).
Die Griekse woord, "wolk", dui nie net op 'n enkele wolk nie, maar op 'n massa wolke.
"Rondom" is 'n sterk begrip - die wolk omring ons, omhul ons, en toring bokant ons uit.
Die geloofshelde se getuienis is dus kragtig en onontkombaar.

# Die beeld wat die skrywer hier gebruik, is dié van 'n atletiekbyeenkoms. Hy beskryf gelowiges as deelnemers in 'n arena wat omring is deur 'n massa mense in 'n volgepakte stadion.

* Hy noem hierdie massa mense in die pawiljoene "getuies".

In Afrikaans kan hierdie begrip op twee maniere verstaan word. Hulle is óf getuies van ons - toeskouers wat ons dophou. Óf hulle is getuies vir ons - 'n skare wat ons aanmoedig.
Dat die gelowiges van vorige geslagte ons uit die hemel dophou, mag vir sommige 'n romantiese gedagte wees, maar die idee is vreemd aan die Nuwe Testament. En daarbenewens word die Griekse werkwoord, "getuig", nie so gebruik nie. Dit beteken om getuienis te gee.
Ons kan met sekerheid aanvaar dat die skrywer nie in gedagte het dat massas mense ons met aandag dophou nie, maar wel dat die skare geloofshelde van die verlede ons aanspoor - deur hulle getuienis en hulle voorbeelde. Ons moet daarom ag slaan op hulle geloofsvertroue en volhardende gehoorsaamheid - en hulle navolg.
Hebreërs gebruik die beeld ook in 6:12 en 13:7.

Wat beteken dit vir ons vandag?

Ons hét getuies

# Geïnspireerde, oftewel Bybelse lewensbeskrywings. Die Bybel is vol daarvan. En dat dit 'n belangrike openbaringsmiddel is, is duidelik uit die hoeveelheid ruimte wat die Skrif daaraan afstaan. Sonder doekies omdraai, word die goeie en heroïese, sowel as die slegte en skandelike genoem. Sommige figure was geliefd en inspirerend, ander weer tragies en veragtelik. Maar in almal is geïnspireerde lesse te vind. Per slot van rekening het die Heilige Gees dit goed geag om dit te laat opteken sodat ons kan leer. En ek weet nie van jou nie, maar op 'n manier kan ék met elkeen van hulle identifiseer.

# Ongeïnspireerde, oftewel buite-Bybelse lewensbeskrywings. Historiese kontinuïteit is 'n onomstootlike feit. Ons staan op die skouers van ons voorgangers. En wie nie die lesse van die geskiedenis leer nie, is gedoem om die foute van die vaders te herhaal.

* 'n Fatale fout wat in sekere kringe in die kontemporêre kerk voorkom, is die arrogante geringskatting van die feit dat ons wortels het, en dat historiese kontinuïteit 'n onontkombare werklikheid is. Hooghartig word gereken dat ons bloedweinig te leer het by die kerk van gister en eergister. Ons vadere, word geleer, was maar besig met melkkossies, terwyl ons in hierdie dae tot veel hoër hoogtes deur die Heilige Gees gevoer word.
Hierdie leringe word gegooi oor die boeg van God se plan om die kerk geleidelik te restoreer. Hy voer die kerk glo terug na die vlakke en belewinge van die boek Handelinge; trouens, ver verby dit. Daarom rig Hy kwansuis weer apostels op, wat glo wonderwerke kan doen soos die apostels destyds. O ja? En waar is hulle, nogal, hierdie super-saints?

* Van die mees sinvolle leesstof vir Christene is biografieë van Godsmanne en -vroue van die verlede. As ek maar die godsvrug kon hê van 'n Robert Murray McCheyne (1813 -1843); die insig van 'n Aurelius Augustinus (354-430) of 'n Jonathan Edwards (1703-1758); die toewyding van 'n Johannes Calvyn (1509-1564); die predikingskrag van 'n George Whitefield (1714-1770) of 'n Charles Spurgeon (1834-1892)! Wat van die Puriteine? En ek het nog nie eers na die nie-engelssprekende wêreld verwys nie. Mens kan aanhou en aanhou!
Die tragiese gevolg van ons arrogante weiering om terug te kyk, is dat bykans elke skande en skade van die verlede vandag opnuut sy tol eis - tot oneer van die Here en struikeling van ontelbaar baie mense. Nee, ons moet saam met Spurgeon kan sê: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op om my hand te skud!"
Het jy al geleer om vreugde en wysheid te put uit die kerkgeskiedenis?

Ons wórd getuies

# Vir ons wat hier en nou lewe, is die wenpaal om die draai. As die Here talm om te kom, hardloop ons kinders en kleinkinders binnekort die wedloop. Ook hulle sal Heb 12 lees en bepeins - en terugkyk. Sal hulle ons getuienis hoor? Sonder twyfel! Ons is immers nie net erfgename nie, ons is ook erflaters. Dis waar van elke geslag. Wat gaan óns nalaat - as individue, as egpare, as ouers, as gemeentes? Gaan my lewe 'n rigtingwyser en aansporing wees op die pad van Godsverheerliking en ewige saligheid? Of sal my getuienis 'n bron wees van misleiding en sinisme en ewige ellende? Wat sal my nalatenskap wees?

# Op geen wyse en op niemand het ons voorbeeld 'n groter impak as op die kinders wat in ons huise groot word nie. Niemand het 'n groter vormende invloed op hulle as ons nie. Wat 'n enorme verantwoordelikheid stapel dit nie op jou en my nie!
Die vraag wat dus op hierdie moment vierkantig en onontkombaar voor jou staan, is of jou voorbeeld jou kinders (en gewis ook jou kleinkinders) voorthelp op die pad na die ewige saligheid. Of sal jy tot in ewigheid die verskriklike wete soos 'n witwarm yster in jou gemoed voel inbrand dat jy 'n groot aandeel daarin gehad het dat hulle die ewigheid in die verdoemenis moet deurbring?
My vriend, net in Christus is vergiffenis te vind vir ons opvoedingsmislukkings. En net in Hom is genadekrag om van hier af vorentoe reg te stel wat ons in die verlede verbrou het. Maar onthou, jou en my voorbeeld praat harder as enigiets anders. En natuurlik gebed, gebed! Waarlik, gebed het krag!

'n Aangrypende lied

'n Paar jaar gelede het die Amerikaanse Gospelsanger, Steve Green, 'n aangrypende lied gesing. Dit vat dit waaroor ons nou besin het aangrypend vas. Ek sluit daarmee af.

We're pilgrims on the journey of the narrow road
and those who've gone before us line the way
cheering on the faithful
encouraging the weary
their lives a stirring testament to God's sustaining grace
Surrounded by so great a cloud of witnesses
let us run the race not only for the price
but as those who've gone before us
let us leave to those behind us
the heritage of faithfulness passed on through godly lives
After all our hopes and dreams have come and gone
and our children sift through all we've left behind
may the clues that they discover
and the memories they uncover
become the light that leads them
to the road we each must find
Oh may all who come behind us find us faithful
may the fire of our devotion light their way
may the footprints that we leave lead them to believe
and the lives we live inspire them to obey
oh may all who come behind us find us faithful
  
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment