Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.197 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [1] v.1c - Inleidend

Hb 12:1c : "... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop."

Vier inleidende opmerkings

Respons op God se voorafgaande genade

Hierdie drie verse lê in die tweede gedeelte van Hebreërs - die imperatiewe deel, oftewel die praktiese of toepassingsdeel (10:19vv). Dit is begrond in die eerste deel van die brief, wat handel oor God se groot verlossingsinisiatiewe in Christus (die indikatiewe gedeelte). Hierdie orde is tipies van die Nuwe Testament - en nóóit word dit omgekeer nie. Christelike dissipelskap is nie 'n godsdiens wat moet verdien nie, maar dis 'n lewe gedring deur dankbaarheid vir dit wat die Here soewerein en uit genade reeds vir jou gedoen het.

Dis 'n veeleisende en lewenslange wedloop

Tog, soos meermale elders in die Nuwe Testament, word die Christelike lewe ook in hierdie drie verse as 'n wedloop voorgestel (vgl. Hd 20:24; 1Kor 9:24-27; Gl 2:2; Fl 2:16; 3:14; 2Tm 2:5; 4:7). Dis nie 'n elfuur-tee by Antie Edith nie. Dit impliseer doelgerigtheid, inspanning en volharding as jy die prys wil hê - en struikelblokke. Dis dus nie 'n naelloop nie; dis 'n maraton - vir die res van jou lewe. En die roete is alles behalwe gelyk. Dis 'n hindernis-wedloop - en vir die meeste van ons in bergwêreld. Voorts, min is so gelukkig soos die misdadiger aan die kruis wat uiters 'n paar uur moes vasbyt.

Moenie hieroor enige illusies hê nie. As jy die prys wil hê, moet jy hardloop - enduit. Dis onvermydelik. As jy nie wil hardloop nie, versaak jy by voorbaat die lourierkrans - die ewige lewe! So werk dit; so het God dit verordineer.

Oordryf ek? Gaan gesels maar met dissipels van die Here wat al so 'n paar dekades op die pad is. Ek praat van mense in wie se lewens jy duidelik hulle toewyding kan sien. Moenie jou ore uitleen aan 'n groentjie wat nog ligvoets huppel en slim is nie.

Die skrywer moet sélf ook hardloop

Derdens, nogeens gebruik die skrywer sy tipiese kohortatief ("laat ons ..."; vgl. 10:22, 23, 24) - sy oproep dat hulle sáám met hom die wedloop sal hardloop. Hy is nie 'n vet, onfikse atletiekafrigter wat op 'n sitkierie bevele van die kantlyn af te blaf nie. Hy verwag niks van sy lesers wat nie ook vir homself geld nie. Ook vir hom, soos vir elke Christen, is dit lewensnoodsaaklik om die wenpaal te bereik. Só het God bepaal werk dit as jy die ewige prys wil verkry. So was dit nog altyd, van die begin af (vgl. Hb 11). En so sal dit bly.

Ek hardloop met sekere afwagting

As die wedergeboorte dan nie die wenpaal is nie, maar die wegspring, en as ek met alles in my moet hardloop, beteken dit egter nie ek hoef gedurig in vertwyfeling te wees of ek die prys gaan kry nie. Dis nie 'n goudstormloop waar net een van die duisend fortuinsoekers die skat kry nie.

Nee, juis omdat Christus reeds alles gedoen het en steeds doen, daarom hardloop ek met opgewonde afwagting. Die prys - mý prys - wag al vir my. Elke uitverkorene se erfenis is destyds al vir hom of haar opsygesit. En niks of niemand kan dit verander nie. Die wedloop mag rof wees, maar tog hardloop ek voluit soos 'n seuntjie na sy Pa se oop arms toe - vang sal Hy my vang, gewis!

Belangrike perspektiewe vanuit Hb 11

Die vorige hoofstuk word gewy aan 'n klomp Ou Testamentiese helde se geloofswedlope - as illustrasies. Per slot van rekening begin ons teks: "Daarom dan ..." (OAV). Dit hou kosbare lesse in.

Eintlik gaan ek in sekere opsigte sê wat ek reeds gesê het, maar hierdie beginsels is só belangrik dat 'n bietjie herhaling net goed kan wees.

Een, die wedloop is 'n manier van lewe

Ware Christenskap is nie bloot die handhawing van 'n stel oortuigings nie (hoewel dit óók dit behels). Dit is ook nie bloot die belewing van 'n klomp emosies nie (hoewel dit óók dit sal inhou). Dis 'n praktiese en dinamiese manier van lewe.

Kyk na h.11. Elke keer word die helde se geloof duidelik in wat hulle gedoen het. Noag het 'n ark gebou; Abraham het weggetrek; Moses het die leierskap van sy volk opgeneem; Israel het die see gekruis, deur die woestyn getrek, die beloofde land ingeneem. Ensovoorts, ensovoorts.

Let op, niks wat hierdie mense moes doen, was maklik nie. Dit het elke keer alles van hulle gevra.

Dikwels moes hulle teen hulle natuurlike sin optree. Hulle aangebore versugting na gerief, sekuriteit en vrede moes tweede viool speel. Die hartstog van hulle wedergebore harte het hulle oorrompel. Die verlange om God te behaag en te kry wat Hy beloof, het elke keer geseëvier.

Let ook op, vir elkeen was sý besondere stuk gehoorsaamheid die oorheersende feit van sy lewe.

Twee, die wedloop geskied in die geloof

Die Skrif is duidelik: ware dissipelskap is dikwels baie veeleisend. Sonder genade wat aanmekaar deur geloof in jou lewe invloei, hou geen mens dit baie lank uit nie.

Dikwels moet mens 'n ongewilde en onkonvensionele koers inslaan. Soms is die roete uiters riskant. En om alles te kroon, skreeu jou eie sintuie en natuurlike denke aanmekaar op jou dat jy jouself gaan verongeluk. Tog laat Geesgewerkte en diepgesetelde oortuigings jou volhard - trouens, dit maak van die geloofslewe dikwels 'n huppelgang.

Ek het al dikwels gewonder waarom die Here vir Petrus geroep het om uit die boot te klim (Mt 14:22-32). Ek dink Hy wou 'n handelingsgelykenis skep om die fundamentele beginsels waaroor ons hier praat te illustreer. 'n Christen leef op die water! En wat is die geheim? Jy moet jou oë op Jesus Christus vasnael. En dit is die wese van geloof.

Oordryf ek dalk? Wel, miskien moet ek tog darem kwalifiseer. Nie alle Christene ervaar hulle roeping ewe intens en dramaties nie. En vir seker wil ek niemand aanmoedig om sy of haar verantwoordelikheidsin en nugtere beoordeling van sake op hierdie roete oorboord te gooi nie.

Maar tog, tóg - gaan lees weer hoofstuk 11! En dink diep na oor jou lewe, meedoënloos eerlik.

Om in hierdie wedloop te volhard, is geloof dus die sleutel. Slegs dít is vir die Here aanvaarbaar en slegs dít verheerlik Hom. En slegs dít verseker dat Hy ons bekragtig om enduit aan te hou.

Só stel Hb 11:6 dit: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag ..." Wat is die aard en inhoud van hierdie volhardingsgeloof?

Ons moet glo die Here is 'n beloner van die wat Hom soek (11:6c). Afgesien daarvan dat ek weet Hy sal my enduit deurdra, sal my uitsien na die prys by die wenpaal my tree vir tree voortdra.

Maar daar is nóg iets wat mens moet glo. Jy moet glo dat "Hy is" (die OAV vertaal letterlik).

Meeste moderne vertalings slaan ongelukkig die bal hier mis. Dit gaan oor veel meer as net die oortuiging dat God bestaan. Nee, hierdie is waarskynlik 'n verwysing na Eks 3, waar God Homself openbaar as die groot en ewige "Ek is" (vgl. E161, 162, 164). Dit sinspeel dus op Sy verhewe en onveranderlike soewereiniteit en algenoegsaamheid. En bowenal is hierdie stuk selfopenbaring van God ten nouste geassosieer met Sy verbondsnaam, Jahweh. Ook is God se onkreukbare verbondstrou dus hier ter sprake.

Die geheim van 'n suksesvolle geloofswedloop het daarom alles te doen met my vertroue dat God alles is wat Hy oor Homself geopenbaar het. In die besonder gaan dit daaroor dat ek wéét dat Hy gereedstaan om my as Sy geliefde uitverkorene te dra as ek nie meer kan nie - en dat Hy by die wenpaal vir my wag met die prys van die ewige welgeluksaligheid, presies soos Hy beloof het.

Die suksesvolle geloofsatleet hardloop die wedloop dus vol geloof, vertroue en verwagting!

Drie, sukses in die wedloop het alles te doen met volharding tot die einde toe

Hy wat nie wil hardloop nie, het sommer reg van die begin af die oorwinnaarskroon versaak - want nét oorwinnaars word bekroon.

Het jy al 'n middelafstand-wedloop dopgehou, sê maar die myl. Amper elke keer is daar mos 'n onbekende atleet wat verstommend belowend wegspring. Reg van die begin af is hy 10m voor. En het hy 'n pragtige styl! Waar kom hý so uit die bloute vandaan? Maar dan - terleurstelling! Op die 800m merk gee hy skielik twee treë na links. Sy wedloop is verby. Hy was bloot die pas-aangeër!

Só hardloop baie wat oënskynlik dramaties tot bekering kom, soos pas-aangeërs. Indrukwekkend aanvanklik. Maar die wenpaal sien hulle nie.

Dis meer as tragies. Want God se Woord is duidelik: slegs hulle wat volhard tot die einde toe, sal gered word (vgl. Fl 3:14). Net hulle kry die prys.

Volharding impliseer die versoeking om tou op te gooi. Dis omdat die geloofswedloop uiters uitputtend kan wees. Die kniehalter van die vlees, die suigkragte van die wêreld en die verleidinge van die duiwel is soos 'n sterk wind en 'n steil hoogte waarteen 'n maratonatleet moet opbeur.

Daar kom dus dae wat dit vir 'n mens voel jy kan nie aangaan nie. Al wat dan oorbly, is om in naakte geloof vas te hou aan jou Verbondsgod se liefdestrou, jou Hoëpriester se voorspraak en jou Helper se bekragtiging. En voor jy jou oë uitvee is jy oor nóg 'n Pollyshorts.

Is jy 'n vreemdeling vir hierdie soort ervaring? Vra jouself dan af of jy hoegenaamd hardloop.

Die roetekaart van God se Woord

Terwyl ek hier skryf is die derde skof van die 50ste Bergriviermaraton aan die gang. Dit vul my met nostalgie. Want jare gelede het ook ek die Berg geroei. En as voorbereiding daarvoor het ek en 'n paar vriende die Oranjerivier geroei. Wat 'n avontuur? Altyd maklik? Aikona! Die son het ons dag na dag tot kaiings verskroei. Daar was bulderende versnellings met branders so hoog soos mense wat jou maagsenuwees laat knoptrek het. Daar was pikswart rotse net onder die watervlak wat lê en wag het om jou boot oop te kloof. En daar was kilometers plat water wat jou arms na water laat voel het.

Ons het egter 'n wonderlike hulpmiddel gehad - 'n stel 1:50 000-kaarte. Hierop kon ons sien hoe ver ons gevorder het; aan die kontoere kon ons sien waar om versnellings te verwag; ons kon keerwalle betyds raaksien. Onnodig om te sê, hierdie kaarte het ons soos goud in 'n verseëlde plastiekpyp opgepas.

Die geloofsatleet se Bybel is uiteraard veel meer, maar vir seker is dit ook 'n kosbare roetekaart vir hom. Wat sekere sake betref, weet ons presies watter struikelblokke, oftewel "keerwalle", op ons wag. Maar in die meeste gevalle - soos met die versnellings - sê die Woord vir jou dat bepaalde uitdagings wag, maar oor die presiese aard daarvan het jy geen benul nie. Tog bly God se Woord vir jou oneindig belangrik en kosbaar - 'n duisend maal meer werd as 'n 1:50 000-kaart.

Hier moet ek nou ophou. Sterkte op die water hierdie komende week. As daar 'n versnelling voor my donder en my arms soos water voel, sal ek aan jou dink. Want dalk is jy net om die volgende draai.

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment