Friday, August 12, 2011

E-PREEK No.195 - FL 1:28b - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [13]

28b. Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God.

Die hoofsaak van gemeente wees mag die Filippense nooit vergeet nie. Wat is dit? Hulle moet in hierdie wêreld onder alle omstandighede as burgers van die hemelse koninkryk leef! Hoe doen mens dit? Hulle lewens moet in ooreenstemming met die evangelie van Christus wees - dit moet dieselfde gewig hê as die onberekenbaar waardevolle evangelie (27).
As dit gebeur, sal hulle lewens gekenmerk word deur iets waarvan 'n onbestendige wêreld nie anders kan as om kennis te neem nie - standvastigheid!

Uitleg

# "Dit": Waarna verwys hierdie voornaamwoord? Dit praat van 'n gemeente se lewenswyse as burgers van die koninkryk en van 'n standvastige ingesteldheid op die "hoofsaak" (NAV).
Standvastigheid kom tipies op twee maniere tot uitdrukking - dit het praktiese effekte.
Een, so 'n gemeente sal in hartseenheid saamstry vir die geloof van die evangelie (27b). Dit beteken enersyds dat lidmate 'n hartstog sal hê vir die bewaring van die waarheidsinhoud van die evangelie. En andersyds beteken dit dat hulle alles tot hulle beskikking sal inspan sodat die mense óm hulle tot geloof in die waarheidsevangelie sal kom.
Twee, hulle sal hulle deur niks of niemand laat stuit in die uitlewing van hierdie roeping nie (28a).

# "Teken" is 'n regsterm wat op 'n onweerlegbare bewysstuk dui. Wanneer die aanklaer hierdie troefkaart speel, is die saak so goed soos afgehandel. En die aangeklaagde wéét sy turf sit.
Wat die apostel dus met hierdie woordkeuse wil tuisbring, is dat 'n gemeente se standvastigheid - met alles wat dit meebring - 'n onontkombare boodskap aan die ongelowiges om hulle stuur.

# Wat word bewys? Enersyds die ongelowige teenstanders se komende ondergang, en andersyds die feit van die Christene se redding.
"Ondergang" word in die OAV met "verderf" vertaal. Dis een van die verskriklikste woorde in die Bybel. Dit word gebruik om die lot te beskryf van diegene wat sonder Christus sterf. Dit dui op vernietiging - nie van syn nie, maar van welsyn; nie van bestaan nie, maar van alles wat bestaan die moeite werd maak. Dit dui op ewige verdoemenis.
"Redding" is die teenpool van "ondergang". Dit dui in die finale analise op die volle, uiteindelike en onherroeplike heerlikheid en welgeluksaligheid wat God vir Sy gunsgenote berei.

# Wie word oortuig? 'n Versigtige lees van die teks laat blyk 'n verskil tussen die OAV en die NAV. Dit het te doen met die Griekse grondtekste wat gebruik is. Sonder om aandag aan tegniese besonderhede te gee, kan ons aanvaar dat die NAV se weergawe waarskynlik beter is. Dus: nie die teenstanders wat oortuig word van hulle ondergang, en die Christene van hul redding nie (OAV), maar wel die teenstanders wat oortuig raak van sowel hulle ondergang as die gemeente se redding.

# "Dit kom van God". In Afrikaans is ook hierdie tweede voornaamwoord dubbelsinnig. Waarna verwys "dit"? Die Grieks is egter duidelik. Die gedagte is dat al die voorafgaande dinge van God is. Dis Hý wat bepaal het dat die gemeente se heilige lewenswyse, asook hulle eendragtige en onstuitbare ywer vir die geloof van die evangelie, 'n onweerlegbare bewys vir die ongelowiges moet en sal wees. Só het Hy verordineer moet dit werk.
Laat ons dit nie miskyk nie. Dit is God se plan dat die karakter en gedrag van elke ware gemeente 'n groot rol moet speel in die oorreding en bekering van 'n ongelowige wêreld!

Wat sê dit vir ons?

# Ons kyk na 'n fundamentele Skrifoproep!

God plaas in Sy soewereine wysheid 'n grootste en onontkombare roeping op die kerk, spesifiek op elke plaaslike kerk, om deur wat die gemeente is en doen, 'n kragtige en onmiskenbare sein oor ewige realiteite aan die omringende wêreld te stuur.

Let spesifiek op 4 belangrike aspekte daarvan:

# Een, 'n gemeente wat is en doen wat hy moet, kan nie deur 'n gevalle wêreld geïgnoreer word nie. Trouens, dit sal altyd 'n kragtige appél op ongelowiges maak.
Dit het 'n belangrike implikasie: as onbekeerde mense in staat is om van dag tot dag onaangeraak met ons skouer te skuur, het ons rede tot selfondersoek. Nog meer, indien ongelowiges in staat is om ons dienste by te woon sonder om 'n appèl te beleef, is daar fout.
Dis Bybels. Dink maar aan Hd 4:13; 5:11-14 en 1Kor14:23-25. Natuurlik het die teenwoordigheid van die apostels en die besondere werkinge van die Heilige Gees destyds meermale unieke en baie dramatiese dimensies aan hierdie Skrifuitspraak verleen, maar dit hef nie die beginsel op nie.

# Twee, as ons as gemeente ís en doen wat ons moet, sal die gevalle wêreld om ons weet dat daar 'n diepliggende verskil is tussen Christus se ware gemeente en ongelowiges.
Dis kardinaal belangrik dat die kerk radikaal anders as die wêreld sal wees. Is ons nie God se nuwe skepping in Christus nie? Het ou dinge nie verby gegaan nie? Het alles nie nuut geword nie? (2Kor 5:17). Ons moet soos 'n stad op 'n berg wees; ons moet skyn soos 'n lig in die duisternis.
Die kerk se oortuigingskrag is die grootste wanneer dit die meeste van die wêreld verskil. Tot die mate wat ons is wat die saligsprekinge beskryf, tot daardie mate - en slegs tot daardie mate - sal ons die sout van die aarde wees.
Hoe skokkend laks het ons nie geword oor die verskriklike sonde van wêreldgelykvormigheid nie! (Jk 4:4; 1Jh 2:15-17). Trouens, mens het die indruk dat groot dele van die kerk alles inspan om soveel as moontlik net soos die wêreld te wees.

# Drie, ons andersheid moenie in selfgemaakte eksentrisiteite en eksklusiwiteite lê nie, maar in dit wat die voorafgaande verse ons beveel.
As die waardes van die andersom koninkryk ons lewenswyses beheers, sal ons in hierdie wêreld uitstaan asof ons met neon geverf is. As elke dag se prioriteite uitgeplet word op die aambeeld van die evangelie wat ons verkondig, sal ons integriteit die mense om ons laat regop sit. As ons in verantwoordelike waardigheid jaar in en jaar uit standvastig lewe, sal mense na ons gryp soos na drywende boomstompe in 'n siedende rivier. As ons kompromieloos op die absolutes van ons geloof staan, sal die massas wat om ons soos skuimbolle op 'n see van relativisme ronddryf, weet hier is iets wesentlik anders. As ons die evangelie van God se reddende genade vir sondaars oraloor uitdra, sal diegene wat ons dophou presies verstaan wat die hoop is wat in ons lewe (1Pt 3:15). As ons weier om deur hierdie wêreld se fronse en dreigemente geïntimideer te word, sal ons teenstanders weet hier is mense wat deur iets gedring word wat veel groter as eiebelang is.

# Vier, dit gaan nie net daaroor dat ongelowiges weet daar is 'n diep verskil tussen ons en hulle nie, dit gaan ook daaroor dat hulle oorweldig sal word deur die besef dat hulle te doen het met ewige realiteite.
Ons wil en moet dus nie net anders wees om anders te wees nie - ons moet deur dit wat ons ís en doen die boodskap uit trompetter dat daar 'n hemel en 'n hel is. En dit sal slegs gebeur as ons self in die lig van die ewigheid leef. Dan sal mense aan ons baadjiepante begin vasgryp en soebat om saam met óns die pad na die ewigheid te stap.

Besef ons regtig hóé siek die kerk is?
Is dit nie onuitspreeklik tragies nie dat die kerk in ons land tot 'n groot mate oor die afgelope dekades misluk het om die "hoofsaak" uit te leef!
Wie kan ontken dat ons in 'n tyd van geloofsafval en -verwarring leef? Hoeveel kerkmense is nie ontnugter nie! Hoeveel raak nie kerklos en kerkloos nie! Hoeveel gooi nie die geloof eens en vir altyd oorboord nie! Waarlik, ons leef in dramatiese tye! Here, help ons besef dat die ewige lot van tienduisende in hierdie dae bepaal word! Waarlik, ons leef in die dal van beslissing!
Die gewigtigheid van hierdie saak word verder onderstreep as mens onthou dat die kerk wat ons kinders en kleinkinders eendag op ewigheidspaaie moet lei, vandag gevorm word.

Wat is die oorsaak van ons swakheid?

# Wat het hierdie tragiese afval en reaksie teen die kerk veroorsaak? Ek meen dat 5 faktore, dalk meer as enigiets anders, agter dit sit:
Een, dooie ortodoksie en vormgodsdiens gil al vir dekades in ons land dat die evangelie alles behalwe reddend en lewensveranderend is.
Twee, ongeloofsteologie, wat toenemend in ons akademiese inrigtings hoogty vier, is besig om hartsgeloof en -ywer in 'n menigte kerke en predikers te versmoor.
Drie, mensgesentreerde belewingsbeheptheid, met sy sensasionele en naïewe aansprake, maak 'n klug van die Bybelse oproep om in waarheid, heiligheid, selfverloëning en Godsvrees te leef.
Vier, afgewaterde, moralistiese en sentimentele melkkos-prediking het 'n geslag "Christene" geskep sonder insig in of honger na die diep waarhede van die Nuwe Verbond. Onderskeidingsvermoë is gevolglik 'n rariteit en alles word vir soetkoek opgeëet. Onthou, staan jy vir niks nie, val jy vir alles!
Vyf, die Afrikaners se volkskerk-geskiedenis - en al die skeeftrekkings wat daarmee saamhang - is besig om vernietigend te boemerang.

# Maar laat ons nie wanhoop nie. Die woorde van Ester 4:14 geld steeds: ons is met die oog op 'n tyd soos hierdie in Suid-Afrika geplaas. Nóú, meer as ooit, moet ons met onverdeelde harte in die voetspore van Christus volg - Hy vir wie niemand kon ignoreer nie; Hy wat só met sondaars geïdentifiseer het dat hulle Hom 'n vraat en wynsuiper genoem het, maar wat tog so radikaal anders was; Hy wie se lewe die voorafgaande verse by uitnemendheid gedemonstreer het; Hy met wie jy nie vyf minute te doen gehad het voordat jy van ewigheidsrealiteite en -alternatiewe bewus geraak het nie.
Waarlik, as gemeentes in hierdie land ooit 'n roeping en 'n uitdaging gehad het, dan is dit vandag. Mag die Here ons genade gee om deel van die alleroplossing te wees!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment