Sunday, February 17, 2013

E-PREEK No.32 - EKS 33:7-34:10 - DIE WESE VAN DIE EWIGE LEWE [2]

VEERTIEN RIGLYNE VIR DIE PAD ONDERWEG NA DIE LEWE WAT WARE LEWE IS.
1.    Ek moet verstaan dat ek geen hoër roeping het as om die kennis van God na te jaag nie.
    Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV).
    Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."
    Die Westminster Shorter Catechism, v&a 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."

2.     Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel.
    Dit lê aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34). Dis waaroor dit gaan: ons 'n volk vir Hom, Hy 'n God vir ons.

3     My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die  Gewer, en nie bloot Sy gawes nie!
    Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?

4    God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.
    Enersyds is die mensgeworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus Christus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God."
    Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!
    Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).

5    Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.
    Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring  -  die natuur  -  gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik  -  die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het. Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet.
    Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid  -  veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond  -  bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).

6    Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie.
    Dis immers tydens gebed dat ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.
    Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

7.     Die kennis van God lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op.
    Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.

8.     God openbaar Homself nét aan kinderlike en diep afhanklike geloof.
    Nooit is ons so afhanklik en nooit is geloof meer noodsaaklik, as wanneer ons met hierdie selfopenbaring van Hom besig is nie. Augustinus het gesê: "As jy nie glo nie, sal jy nie verstaan nie." Dis so eenvoudig soos dit. En die ou Puritein, Thomas Watson, het gesê: "Geloof is die hoofslagaar van die siel."
     Hb 11:6 is in hierdie verband van die allergrootste belang: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy ís, en ’n beloner is van die wat Hom soek" (OAV). Die mens kan baie regkry sonder geloof, maar niks wat God behaag nie.
    Sonder geloof is daar geen sprake van redding nie. Maar meer nog, in ons elke dag se wandel met die Here lê ons geloof aan die hart daarvan. Dis hoe die onsienlike sienlik word, en die onmoontlike waar. Dis die hande waarmee ek Sy geskenke vasgryp.

9.    God openbaar Homself net aan nederige mense.
    Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.
     Dis waarom die Here Jesus in Mt 11:25-27 sê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling ... niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak."

10.    Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie.
    Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV). "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (Jer 29:13, OAV).
    Alle godsmanne en -vroue deur die eeue, in Bybelse tye en daarna, het die kennis van die Here met 'n opregte erns gesoek  -  of nog sterker gestel, met 'n heilige honger.
    Mens vind dit by Moses. Watter aangrypende hoofstukke is Eks 32-34 nie! Reeds in 33:11 lees ons dat die Here direk met Moses gepraat het, soos 'n man met sy vriend. Dan kom Moses diep onder die indruk van sy gewigtige roeping om die volk te lei  -  wat hom laat bid: "As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend ("U weë" in die OAV), sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk" (13).
    Hierop antwoord die Here: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam" (17). Maar Moses, sekerlik baie dankbaar dat die Here sy versoek toestaan, is egter bang dat hy bloot die vermoë ontvang om God se weë te ken en die volk reg te lei. Wonderlik soos dit alles is, is daar iets wat hy nóg meer begeer, waarsonder hy nie wil lewe nie. En hy is bang die Here stop duskant dit: "Laat ek tog net u magtige verskyning sien!" ("u heerlikheid", OAV) (18).
    God se reaksie is positief, maar gekwalifiseerd: Goed, Hy sal al Sy majesteit voor Moses laat verbygaan. Maar Moses moet verstaan dat daar perke is. Geen mens kan God in Sy volle glorie sien en bly lewe nie. Daarom sal die Here Sy dienskneg onder Sy hand in 'n rotsskeur wegsteek totdat Hy verby is. Dan sal Hy Sy hand wegneem sodat Moses Hom darem van agter af kan sien (19-23).
    Die vervulling vind ons in Eks 34:5-7: "Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
    As Moses daarna by die Here pleit om tog, ten spyte van die volk se verskriklike sonde, hulle God te bly, gaan God voort en hernu weer die verbond met hulle (10).
    Min dinge in 'n mens behaag God meer as 'n  begeerte soos dié van Moses. En as ons daarin volhard, sal Sy Gees ons kapasiteit om Hom te ken steeds verruim, ons verlange na Hom verintensifeer, en, uiteraard, ons begeertes meer en meer vervul.

11.    Die kennis van God is vir hulle wat intens begeer om heilig te leef en Hom in toegewyde liefdesgehoorsaamheid te dien.
    Die mens is na God se beeld geskape. Die sondeval het dit egter ernstig geskaad. Die reddingsproses in Christus is onder meer 'n herstel van God se beeld in die mens. Gelykvormigheid aan Christus  -  die volmaakte Mens  -  is waarheen die Here met ons op pad is (Ef 4:23-24; Kol 3:10). Dis waarom ons geroep word om heilig te wees soos God heilig is (1Pt 1:15-16), en om volmaak te wees soos ons Vader in die hemel (Mt 5:48).
    Sekerlik kan nie ál God se attribute in die mens tot afskynsel kom nie, maar talle wél  -  besonderlik Sy goedheid, barmhartigheid en liefde. En hierdie karaktertrekke sal in ons ontwikkel tot die mate wat ons hulle in Hóm begryp en bewonder. Dis een van die redes waarom ons moet groei in Godskennis.
    In hierdie verband is die Here Jesus se uitspraak in Jh 14:21, 23 van die allergrootste belang: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."

12.    Die kennis van God is vir diegene met 'n aanbiddende hartsgesteldheid.
    God het ons geskep en herskep sodat ons Hom kan verheerlik. En dis onder meer met die oog op aanbidding dat die Heilige Gees ons dieper in Godskennis inlei  -  want 'n aanbiddende hart is nie net die wortel van meerdere Godskennis nie, dis ook die vrug daarvan.
    Sonder uitsondering het diegene in die Bybel wat een of ander direkte ontmoeting met God gehad het, God begin aanbid. Weer en weer lees ons dat hulle soos Johannes op Patmos neergeval en soos dooies bly lê het (Op 1:17).

13.    Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12).
    Ons leer God veel eerder in die valleie ken, as op die bergpieke. Nie alleen sien ons dit weer en weer in die lewens van die heilges deur die eeue nie  -  elke ware gelowige ken dit aan eie lyf.

14.    Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.
    Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak. Ware Christelike belewing is dikwels korporatief van aard  -  so wil die Here dit.
    Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment