Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.241 - LK 18:18-30 - JOU AFGOD OF JOU LEWE [2]


Laas het ons gekonsentreer op v.18-23 ‒ op Jesus se hantering van hierdie ryk jongman en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na die afloop van hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv).
    Die ryk jongman is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.
    Jesus sê weliswaar hier dat dit baie moeilik is vir 'n ryk man om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon ‒ of van 'n egbreker en wellustige, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar dit geld vir enige sonde.

DIE KAMEEL EN DIE NAALD

Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald!
    Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water. Die algemeenste afwatering is waarskynlik die teorie dat die Here hier praat van 'n veel kleiner hekkie in die massiewe stadspoorte waardeur 'n mens met gemak kon in en uit, maar wat so klein was dat 'n kameel net op sy knieë daar kon deur. Die dissipels het Jesus egter letterlik verstaan. Daarom vra hulle: "wie kan dan gered word?" Dit kan hulle wel vra, want as die Here dan inderdaad 'n letterlike naald en sy oog bedoel, praat Hy van iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een moontlikheid: die almagtige God moet dit doen!

'N HEERLIKE BELOFTE

Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar Sy versekering. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle ten minste al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie.
    Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.
     Dis betekenisvol dat Jesus nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloën word.
    Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig ‒ met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaals anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het ‒ indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk.
    Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgawe van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër of belangriker as die ewige lewe nie!
    Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
    Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
    Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie ‒ Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafhartiges en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

1.    'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland.
Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie lief was vir vir sy goed ‒ só lief dat dit vir hom belangriker was as om Jesus radikaal, enkelhartig en lewenslank te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Dan draai die Here Sy rug op hulle. En wat word dan van hulle in die hiernamaals? Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het ‒ maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy, so lyk dit my bo alle twyfel, die ewige verdoemenis in (Mk 6:20).
    Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees!
    Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en hulle nooit bloot sal oorgee aan so 'n sonde nie.

2.    In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus.
As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy nie kans sien om afstand te doen nie.
    Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld ‒ om hom of haar oor te sien, om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil?
    Iets hiervan mag dalk waar wees. Maar heeltemal só eenvoudig is dit vir seker nie, verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, gaan dit altyd gepaard met 'n felle haat teen sonde in jou lewe ‒ alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n onvermoeide stryd voer teen die sonde in jou.
    In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede verneuk het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
    As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom  -   redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
    Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n standpunt-inname teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het.
    Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Maar mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het.
    Sien jy? Redding kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking.

3.    Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
Wie kan dan gered word? vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel.
    Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Was hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veeleerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het ‒ omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek gely het.
    En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink.
    O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie.
    Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het. Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al  -  vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde  -  neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.
                                                                                                        Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

No comments:

Post a Comment