Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.26 - HD 12:5 - GEBED WAT 'N ENGEL GAAN HAAL

Die engel het Petrus uit die tronk gaan haal; maar gebed het die engel gaan haal!
    Kyk mens ernstig na die gebedsbeloftes in die Skrif, kom staan die vraag vierkantig voor jou: Waarom ervaar ons dan so min gebedsverhoring? Dis omdat ons selde bid soos ons moet.
    Hd 12 skets 'n merkwaardige gebedsantwoord!

'N BEDENKLIKE SITUASIE

❏    Petrus moet die volgende oggend verhoor word. Jakobus is pas tereggestel (2). Watter hoop het hý?
    Hy is met kettings geboei in 'n tronk wat deur soldate bewaak word. Daarbenewens slaap hy ook nog tussen twee. En dit was die dae voordat wagte skotvry daarvan afgekom het as 'n gevangene ontsnap terwyl hulle eenkant sit en meul speel! (19).

❏    Al is die situasie menslik gesproke hopeloos, weier die gemeente om handoek in te gooi. Bestorm hulle die tronk? Stel hulle 'n petisie op? Probeer hulle Herodus omkoop? Nee, hulle hou 'n biduur!

'N GEBED IN DIENS VAN GOD SE PLAN (v.5)

1.    God doen soms ver meer oorvloedig as wat ons bid of dink (Ef 3:20).
Die gemeente het "vir hom" gebid  -  vir Petrus. Hulle bring hulle gebedslas by die naam voor hul Vader. Tog lyk dit nie of hulle vir die apostel se ontsetting bid nie, want hulle glo dit nie as hy later aan die deur klop nie (13-16). Hulle bid waarskynlik bloot dat die Here hom sal versterk en beskerm en die nodige genade gee, wat ook al gebeur.
    Party mense dink dat ons nie 'n kriesel meer sal kry as wat ons vra nie  -  dat ons as 't ware God aan bande lê met ons kortsigtige gebede. So 'n beskouing is nóg Skriftuurlik, nóg stem dit ooreen met ons ervaring. Ja, laat ons vir seker so spesifiek en vrymoedig soos moontlik bid  -  soos ons gewete, die Woord en die Heilige Gees ons toelaat. Maar laat ons eweneens oppas vir voorbarigheid. Ja, ons gebede is ingewerk in die uitwerk van God se raadsplan. Maar Hy is allermins afhanklik van ons geloof en gebedskloekmoedigheid.

2.    Hulle het tot Gód gebid.
Jy sê, dis mos voor die hand liggend. Almiskie! Vir baie mense is gebed bloot 'n subjektiewe meditasie. Wie of wat aan die ander kant is, maak nie regtig saak nie. Dit wat hulle God noem, is bloot 'n fokuspunt vir hulle gedagtes.
    Ek het eenmaal 'n oom geken wat op sy kankerbed gereeld gebid het  -  maar sy gebede gerig het op 'n leë bierblik op 'n rak oorkant sy bed!
    Nee! Ware gebed is gerig tot die werklike, lewende, persoonlike en bewustelike God. En Hy ken ons persoonlik. Hy het Homself geopenbaar as die hoorder van gebed. Hy is almagtig en getrou, en kan en sal alles doen wat Hy beloof.
    Daar is egter twee kwalifikasies: Dit geskied op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom" (Hb 10:19). Dit geskied deur die werk van die Heilige Gees: "Deur Hom (dit is Christus) het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader" (Ef 2:18).

3.    Hulle het met alle erns gebid.
Die woord wat beide ons Afrikaanse vertalings met "aanhoudend" vertaal (Gr. ektenos), is interessant.
    Letterlik beteken dit uitgerek. Dikwels dui dit dan nie op tydsverloop nie, maar op intensiteit en vurigheid. As 1Pt 1:22 en 4:8 praat oor die vurige liefde wat gelowiges vir mekaar moet hê, word hierdie einste woord gebruik.
    Duidelikste is seker Lk 22:44. Hier word gepraat van die Here Jesus se gebed in Getsemane. "Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword ..." Letterlik staan daar dat Hy nog meer uitgerek gebid het (die OAV vertaal: "met groter inspanning"). Dit dui as 't ware op die vervorming van Jesus se hart in die intensiteit van Sy erns voor Sy Vader.
    Die NIV en NASB vertaal ons teks onderskeidelik met: "earnestly" en "fervently".

    •    Ek meen dis korrek om te sê dat die Skrif veeleerder die klem laat val op die noodsaak van gebedsintensiteit, eerder as op gebedsduur. Dink maar aan Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).
    In Rm 15:30, as Paulus sy lesers vra om saam met hom "in die gebede te stry", gebruik hy nog 'n sprekende woord (Gr. sunagonidzo). Letterlik sou dit in Engels vertaal kon word: to agonize together. Dit dui op 'n saamstry, -stoei, -worstel. Die NIV vertaal: "join me in my struggle" (vgl. ook Kol 4:12).
    Die ou Puritein, Thomas Watson, het gesê: "How can I know my prayers are prompted by the Holy Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans."
    Onvermydelik ontstaan die vraag hoe ék so vurig kan bid. Daar is maar één antwoord: die Gees moet my bekragtig! So skryf Paulus vir die Efesiërs dat hulle "met alle gebed en smeking by elke geleentheid (moet) bid in die Gees" (Ef 6:18, OAV).

4.      Dit was die gemeente wat gebid het.
Daar is krag in individuele gebed. Maar daar is besondere krag in gesamentlike gebed  -  deur 'n gemeente wat een van hart en sin is.
    Baie mense dink daar is gebedskrag in getalle sonder meer  -  asof dít God sou intimideer. Nee, hier is twee dinge wat ons moet raaksien.

    •    Dit was die Here se gemeente wat gebid het. En hulle is die appel van Sy oog, van voor die skepping af. Hulle is Sy Seun se bruid.
    Maar dan moet ons die begrip reg verstaan. 'n Gemeente is nie maar 'n klomp mense wat uit gered en ongered bestaan en bloot deur tradisie bymekaar gehou word nie. Nee, Nuwe Testamenties is 'n gemeente 'n klomp dissipels van Jesus Christus wat  intiem saamgebind is deur hulle gemeenskaplike lojaliteit en verknogtheid aan hulle Here.

    •    Voorts bied Mt 18:19-20 besondere lig: "Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader ... hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
    Onderlinge eenheid is dus van kardinale belang. Jesus gebruik 'n woord wat letterlik saamklink beteken (Gr. sumfoneo).Hier lê die etimologiese wortels van ons woord, simfonie. Almal moet dus dieselfde passie en versugting hê. Dwarstrekkery en verhoudingsintriges blus onmiddellik die Gees.
    Net 'n laaste opmerking. As die Here van "twee" gelowiges praat wat so bid, verbied Hy nie die saambid van groter getalle nie, maar Hy beklemtoon dat groot getalle op sigself onbelangrik is.

'N AANTAL PRAKTIESE RIGLYNE

❏    Wesenselemente van alle ware gebed.

    •    Dit is primêr tot die Vader gerig, geskied in die Naam van Christus  -  op grond van Sy middelaarsverdienste alleen  -  en in die krag en volgens die leiding van die Heilige Gees. Alles wat die Gees mag bedroef, moet uit die weg geruim wees. Veral moet daar eenheid wees.

    •    Dit moet in harmonie met God se geopenbaarde waarheid wees, en in pas met Christus se voorspraak vir ons.

    •    Dit moet in vertroue en geloofsverwagting geskied. Sonder geloof in die betroubaarheid van God en Sy beloftes, kan ons Hom nie behaag nie. Maar Hy beloon diegene wat Hom soek (Hb 11:6).

    •    Dit moet deur diep eerbied gekenmerk word. Laat ons onthou met wie ons te doen het.

    •    Ons moet met vrymoedigheid voor die Vader kom. Christus is 'n volmaakte Middelaar.

    •    Ware gebed kom uit 'n brandende hart. Koue gebede vries voordat hulle by die hemel kom.

    •    Dikwels is volharding nodig  -  soos dié van die verontregte weduwee voor die regter (Lk 18).

❏    Wenke vir ons gesamentlike gebede.

    •    Wees rustig. Vertrou die Gees om te lei.

    •    Neem jou verantwoordelikheid op om die gebedswa te help trek. Gebed kan harde werk wees. Saamryers maak dit vervelig vir hulleself  -  en 'n slaapsessie  -  en harde werk vir die res.

    •    Bid verbeeldingryk, asook kinderlik eerlik en opreg. Praat gewoonweg sonder om platvloers en familiêr te wees. Vermy gebede wat bloot 'n aanmekaarryg van 'n klomp gebedscliches is. Dan word dit 'n ydele herhaling van woorde.

    •    Vermy die oormatige gebruik van die Here se Naam. Party doen dit amper in elke sin  -  tot ongemak van die hoorders. Wie praat so in 'n normale gesprek? Dis 'n aanwendsel, en mag selfs 'n oortreding van die derde gebod wees.

    •    Wag vir mekaar, sodat elkeen geleentheid kry. Maar vermy daardie ongemaklike stiltes.

    •    Sluit by mekaar aan sodat daar 'n organiese verloop in ons gebede is. Ons staan immers gesamentlik voor die genadetroon. Elkeen lê dus nie maar sy eie eiertjie nie. Hy luister na die ander en voer hulle versoeke en argumente verder. Só lei die Heilige Gees ons soms om oor sake te bid waaraan ons nooit vanself sou gedink het nie.

    •    Hoewel elkeen die kans moet kry om te bid, moet niemand huiwer om weer en weer te bid nie. Natuurlik moet mens nie oorvat nie. Maar dis ook so dat daar soms periodes kom waar meeste vir die oomblik "leeg" is, en enkeles die werk moet doen.

    •    Sonder om voorbarig te wees, moet mens so spesifiek moontlik bid. Is jy onseker of jy 'n bepaalde saak kan aanroer, benader dit onderskeidend en voetjie-vir-voetjie. Partymaal kry jy meer vrymoedigheid, ander kere verloor jy dit.

❏    Laastens: iets oor lof en aanbidding.
Altyd, altyd, altyd, moet dit ons gebede deursuur.
    Dink aan wie God is. Dink aan Sy name. Dink aan Sy attribute: Sy ewigheid, heiligheid, soewereiniteit, almag, onveranderlikheid, alwetenheid, alomteenwoordigheid, genade, liefde, getrouheid, geduld, geregtigheid, toorn, ens. Dink aan Sy groot dade in die geskiedenis: dié van die Bybel; dié van die kerkgeskiedenis. Eer en dank Hom daarvoor en vir die implikasies daarvan.
    Maar moenie slegs by 'n abstrakte benadering vassteek nie. In Ps 139 besin Dawid oor God se karakter. Maar hy bid nie bloot intellektueel daaroor nie. Hy bepeins die praktiese uitwerking daarvan in sy lewe  -  en loof en dank die Here dan daarvoor.

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment