Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.242 - JOB 9:1-19 - GOD SE ALMAG

Ek is in st.6 of 7 vir die eerste maal gekonfronteer met die vraag of God 'n klip kan maak wat Hy self nie kan optel nie. Dit het my kop laat draai.
    Dit bring ons by die onderwerp van God se almag. Ons gaan dit tematies benader. Soms is so 'n oorsigtelike benadering sinvol. Ons Skriflesing was dus net om ons tema aan die orde te stel.

God se naam

Die feit van God se almag word alreeds duidelik in van Sy name gesuggereer. Dit herinner ons daaraan dat ons ten volle met Sy mag moet rekening hou as ons Hom enigsins wil ken.

•     Die mees basiese Godsnaam is "El". Dis afgelei van die stam "om sterk te wees" en word 217 keer in die Ou Testament gebruik vir die ware God. Hoewel dit vertaal word met "God", beteken dit eintlik dus iets soos "die Magtige".

•     Die basiese Godsnaam word dikwels verintensifeer in name soos "El Gibor":  "Magtige God" (Jes 9:5) en "El Shaddai": "God die almagtige" (Gn 17:1 et al).

Hierdie Godsname is nie beperk tot die Bybel nie; dit is algemeen gebruik deur die Semitiese volkere van destyds. Dit onderstreep die feit dat God se almag duidelik waarneembaar is in die algemene openbaring, die skepping.
    Rm 1:20 stel dit so: "Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is ...".

    In Mk 14:62 word gewoon na God verwys met die Griekse woord vir krag (dunamis): "...julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van dunamis (Hom wat magtig is) ...".

Die almag van God is daardie vermoë en krag wat Hy het om enigiets te bereik wat Hy ook al wil  -  wat Sy wysheid mag voorskryf, wat Sy liefde mag begeer, en wat Hy in Sy heiligheid mag nodig ag.
    God se krag is onbeperk deur enige mag buite Homself. Alles in die heelal is tot Sy beskikking en Hy kan daarmee doen soos Hy wil. As Skepper van alle ander kragte hou Hy elkeen daarvan in Sy hand, is elkeen daarvan algeheel afhanklik van Hom, en kan geeneen daarvan Hom enigsins bedreig of selfs beperk nie.

Drie kwalifikasies

Sonder om enigsins afbreuk te doen aan God se almag moet mens in jou verstaan daarvan rekening hou met bepaalde uitsprake, oftewel ondernemings, wat Hy daaroor in Sy Woord aan ons gee. Hierdie kwalifikasies  -  wat van Homself kom  -  verseker ons dat Sy almag nie onbeheers, impulsief en arbitrêr uitgeoefen word nie.

1.    God se almag word altyd in volle harmonie met Sy ganse Persoon uitgeoefen  -  in pas met al Sy ander attribute.

God se optrede en aanwending van Sy krag of almag word nie bepaal deur eksterne omstandighede nie, maar volledig deur Homself  -  deur wie en wat Hy in Homself is.
    Dit beteken dat God se almag nooit strydig met Sy liefde, heiligheid, wysheid, geregtigheid, of enige ander karaktertrek opereer nie.

•     Hier lê die antwoord op die vraag oor die klip. Ons kan onomwonde sê,  "Nee, God kan nie so 'n klip maak nie!" Waarom nie? Omdat Sy ander attribute, in die besonder Sy wysheid, Hom daarvan sal weerhou om so iets onsinnigs te doen. Hy sal nooit soiets wil doen nie.

     Dit hoef ons nie te kwel as ons sê dat daar dinge is wat God nie kan doen nie. Die Woord maak self sulke uitsprake.
    2Tm 2:13 sê "Hy kan Homself nie verloën nie".
    En Hb 6:18 sê dat dit onmoontlik is vir God om te lieg (OAV). Hierdie dinge  -  en 'n duisend ander  -  sou volkome teen die grein van Sy karakter indruis.

2.    God se almag word altyd aangewend in volle harmonie met die verbond tussen ons en Hom.

In die heidennasies se persepsie tree hulle gode onverklaarbaar en onvoorspelbaar op. Hulle leef dus in voortdurende vrees, onseker oor watter irrasionele uitbarstings volgende van hulle iesegrimmige gode te wagte kan wees.
    Só is Israel se God nie! Sy verhouding met Sy volk is stabiel en vloei in duidelik uitgespelde kanale. Selfs vir die ongelowiges sê Hy vooraf wat hulle van Hom te wagte kan wees. Niemand sal eendag, as God se almag in toorn oor hierdie wêreld losbars, kan kla dat dit onderduims en onregverdig is nie. Selfs van diegene wat nooit 'n Bybel onder oë gehad het nie, sê die apostel dat hulle genoegsame waarskuwing in die algemene openbaring ontvang het (Rm 1:20vv).
    Die effekte van hierdie kwalifikasie is byvoorbeeld glashelder duidelik in die natuur. Na die sondvloed sluit God 'n verbond met die mens  - waarvan die reënboog die teken is. Hierdie verbond het in die besonder te doen met ons woonplek, hierdie aarde (Gn 8:21; 9:9-17). Onder meer hou dit in dat God onderneem: "So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie" (Gn 8:22). Wie kan twyfel dat God se almag agter die voortgaande funksionering van die natuur sit? En wie kan dit bevraagteken dat die kom en gaan van die seisoene 'n wonderlik voorspelbare, stabiele en vrugbare omgewing vir ons skep?
    Die konsekwente orde waarmee God se almag funksioneer, word ewe duidelik in die genadeverbond waargeneem. Wat die Here vir Sy volk wil wees, en wat Hy van hulle verwag, is in besonderhede op skrif. En elke ingeligte sal weet dat die Here tot vandag toe met puntenerige konsekwentheid daarvolgens handel wanneer Hy Sy mense red en hulle daarna verder vat.
    Dit bly eenvoudig verstommend hoe ons kan identifiseer met die biografieë van gelowiges wat honderde jare gelede geleef het  -  ongeag van hulle kultuur of omstandighede. Dis omdat die Here volgens dieselfde beginsels met ons werk.

3.    God se almag doen geen geweld aan die mens se verantwoordelikheid en betrokkenheid by sy eie redding nie.

As Skepper is God die oorsprong van alle krag. Daar bestaan dus ook ander kragte  -  weliswaar deur Hóm voortgebring  -  wat nie onafhanklik van Hom is nie, maar wel onderskeie van Hom. En die uitoefening van God se mag geskied só dat dit nie die vryheid van hierdie kragte ophef nie.
    Prakties beteken dit dat God verreweg die meeste dinge wat Hy in hierdie wêreld doen, deur sekondêre oorsake doen  -  Hy werk middellik (Engels: "God uses means"). En selfs wanneer Hy direk werk, sal Hy nie die "natuurlike vryheid" en wil van mense verkrag nie, maar hulle steeds as "vrye agente" respekteer.

Toepassing

•    In hierdie drie kwalifikasies sit wonderlike sekuriteit vir diegene van ons wat met Hom in Christus versoen is. So lank as ons Hom binne die grense daarvan behaag, het ons niks te vrees van Sy almag nie. Trouens, dan kan ons verseker wees dat dit aangewend sal word in ons belang soos Hy belowe het. En dít beteken dat niks ons in die absolute sin van die woord kan bedreig nie. As God vir ons is, wie of wat kan teen ons wees?

•    Wonderlikste van alles is dat ons in die verbond die versekering het dat God se krag nooit destruktief op ons gerig sal word nie; inteendeel. Dit is vir ons, nie teen ons nie. Maar laat ons nooit ophou om dit te beklemtoon nie  -  dit geld vir diegene in Christus, dus vir ware gelowiges. Dis in Hóm dat God se beloftes ja en amen is (2Kor 1:20).

•    Laat ons hierdie derde kwalifikasie stewig vashou. Al is God onbeskryflik magtig, verdoem Hy nooit mense strydig met hulle godvrugtige keuses en lewenswyse, bloot omdat Hy iesegrimmig is nie  -  wat Hy natuurlik nooit is nie. En Hy red nooit iemand teen sy wil nie. As ons dit misken, dompel dit ons volledig in fatalisme in. Tog, desnieteenstaande  -  staan dit swart op wit in die Bybel: God werk in ons om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae (Fl 2:12-13). Het ons heeltemal die kloutjie by die oor? Ek dink nie so nie. Die almagtige God transendeer ons denke totaal.

•    Laat ons altyd onthou, ons lewe in 'n regte wêreld van natuurkragte en -wette. Sekerlik kan God dit ophef  -  en Hy doen dit soms  -  maar dis die uitsondering. Al is ons God se herskepte kinders, leef ons steeds in 'n gebroke wêreld.

Slot

Vir Paulus was die almag van God een van die wonderlikste dinge  -  spesifiek omdat die Here so oor en oor belowe om dit in ons, Sy kinders, se belang aan te wend. Weer en weer het die apostel daaroor gepeins; weer en weer het hy hom daarin verheug; weer en weer het hy daarvolgens gelewe.
    Luister hoe sluit hy sy roerende gebed in Ef 3 af: "En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid ..." (20, OAV).
    Kyk mens goed na hierdie lofuiting in die Grieks, sien jy dat die apostel sy beskrywing van God se almag in 7 vlakke op mekaar stapel: Dit wat God vir ons wil doen ‒

1.    dit kan Hy (Hy het die mag);
2.    daarom kan Hy alles wat ons bid doen;
3.    selfs die dinge wat ons nie moed het om te vra nie, maar net oor dink;
4.    Hy kan dit alles doen (Gr. panta);
5.    en Hy kan meer as dit doen (Gr. huper);
6.    selfs meer oorvloedig (Gr. ekperissos);
7.    ver meer oorvloedig (Gr. huperekperissou).

Ons God is almagtig en 'n hoorder van gebed. Geen gebed is vir Hom té moeilik om te verhoor nie. Geen nood is vir Hom té groot om reg te stel nie. Geen vleeslike begeerte is vir Hom té sterk om te onderdruk nie. Geen versoeking op my pad is só sterk dat Hy my nie met oorwinningskrag kan toerus nie. Geen ellende is vir Hom té diep om uit te verlos nie.

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment