Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.22 - HOS 4 - AS GOD 'N SAMELEWING OORGEE

In Hos 1-3 lees ons van die profeet se handelingsprofesie in opdrag van die Here. Sy huwelik met die prostituut, Gomer, stuur tot vandag toe 'n kragtige boodskap uit. Maar vanaf h.4 begin Hosea dan reguit praat  -  op die man af.

DIE FORMELE AANKLAG (v.1)

❏    God se aanklag teen die volk is nie 'n vae verwyt nie, dis 'n formele hofaanklag: "Hoor die woord van die Here ... die Here het 'n regsaak ..." (OAV). En wat is die klag? Daar is geen "trou", "liefde", en "kennis van God" in die land nie (OAV).
    "Trou" dui op betroubaarheid, eerlikheid, integriteit. Op iemand wat ontrou is se woord en lojaliteit kan jy nie staat maak nie. Israel is ontrou teenoor sowel die Here as hulle medemens. By hulle huweliksbeloftes bly hulle nie; in hulle sake is bedrog en korrupsie aan die orde van die dag.
    "Liefde" dui op welwillendheid, toewyding en diensbaarheid. Maar hierdie samelewing word gekenmerk deur naywer en selfsug. Mense leef vir hulleself. "Natuurlike liefde" is skaars (2Tm 3:3).
    "Kennis van God" dui nie net op 'n insig in dit wat Hy oor Sy karakter en wil openbaar nie, maar ook op 'n liefde vir Hom en 'n erns om daarvolgens te lewe. Maar in hierdie samelewing is God en Sy wil nie meer 'n noemenswaardige faktor nie. En volgens die res van die profesie is dít eintlik die groot aanklag teen die volk.

AS GOD 'N SAMELEWING OORGEE

❏    Die vraag ontstaan nou: hoe kan mense wie se voorgeslagte soveel goedheid en wondere van die Here beleef het, só ver van Hom af wegdwaal?
    Die Bybel leer dat God 'n samelewing wat volhardendend in verset is teen Sy Woord en wet, toenemend oorgee aan hulle eie verdorwenheid.

❏    Die uitstaande Skrifgedeelte hieroor is Rm 1. Drie keer word gesê dat God mense wat koppig in hulle verdorwenheid volhard, aan hulle sonde oorgee (1:24,26,28)  -  híér aan "sedelike onreinheid", "skandelike drifte" en "verdraaide opvattings". Maar Hos 4 is meer spesifiek. Israel se verharding, toenemende sonde en uiteindelike val, kom in veral vyf areas tot uitdrukking.
    Onthou net, ons praat nie hier van 'n kop vir kop verskynsel nie. Natuurlik is daar uitsonderings. Ons praat van groot tendense in 'n samelewing.

    •    Eerstens vier morele verdorwenheid hoogty (2). Hulle verbreek elke gebod van God se wet. Hulle steek grens na grens van sonde oor (NIV). Bloedvergieting is aan die orde van die dag.

    •    Tweedens verniel hulle die omgewing (3). Presies hoe dit in Israel tot uitdrukking gekom het, weet ons nie. Maar ons sien vandag hoe dit werk. In sy ongebreidelde selfsug en hebsug het die verdorwe mens geen respek vir die woonplek wat hy van God gekry het nie. Wanneer mense hulle egter tot Christus bekeer, verander alles. Eerder as om vir vuilgewin alles te stroop, plant hulle bome en bou hulle keerwalle in erosieslote.

    •    Derdens raak die godsdienstige leierskap korrup (4-14). Tot die mate wat 'n volk se geestelike leiers die spoor byster raak, tot daardie mate sal die mense en dus die samelewing verval. Maar ewe veel geld die omgekeerde. Vir onheilige mense gee die Here onheilige priesters  -  die geestelike leiers wat hulle verdien. Soos die NIV dit stel: "Like people, like priests" (9). En so ontstaan 'n afwaartse spiraal  -  'n neusduik in verdorwenheid in.

    •    Vierdens droog lewensvervulling en vergenoegdheid op (9b-10). God het die lewe so gemaak: as Sy goeie gawes nagejaag word in onheiligheid en selfsug, is die resultaat nie bevrediging nie, maar frustrasie. Die gevolg is dat mense al verder soek, maar niks is ooit genoeg nie. Seksuele perversiteit ontaard van kwaad tot erger, besittings word 'n oorlas, godsdiens laat jou ontnugter en leeg.

    •    Vyfdens tree vernietiging uiteindelik in (19). Die geskiedenis toon die beginsel van die val van beskawings. En soos klokslag word dit voorafgegaan deur dekadensie wat hand oor hand toeneem. Presies dit is wat met Israel sou gebeur, baie spoedig na Hosea hier profeteer. Die Assiriërs sou soos 'n "stormwind" kom en hulle wegvoer.

JUDA WORD GEWAARSKU (15)

❏    Die noordelike tienstammeryk is oor hulle Rubicon. Omdraaikans is vir hulle verby. Maar in die suide is die verval nog nie so erg nie. Juda kan hulle nog tot die Here bekeer en 'n katastrofe afweer. Vandaar hierdie waarskuwing in v.15.

❏    Veral betekenisvol is die waarskuwing om van Gilgal en Bet-Awen (oftewel Bet-El) weg te bly. Dis die aanbiddingsplekke wat Israel se eerste koning, Jerobeam, baie jare vantevore ingestel het om sy mense daarvan te weerhou om na die suide te gaan en in Jerusalem te aanbid. Hosea en Amos maak dit duidelik dat hierdie eiesinnige en selfgemaakte godsdiens vir die Here tot geweldige aanstoot was.
    Die woord van die Here is dus duidelik: skei julle volledig af van alle valse en mensgemaakte godsdiensbeoefening. Daar kan geen gemeenskap wees tussen lig en duisternis nie (2Kor 6:14).

BEMOEDIGING VIR ONS SITUASIE

❏    Dis onmoontlik om die ooreenstemming tussen die toestande in óns land tans, en dit wat Hosea hier skets, mis te kyk. Trouens, die parallelle is verstommend. Kyk maar na ons morele neusduik die afgelope dekades  -  veral die laaste 15 jaar!
    Die vraag is onontkombaar: Is ons oor óns Rubicon? Kan die gety dalk weer draai?
    As dit van ons afgehang het, was die vooruitsigte hopeloos. Maar laat ons God se genade in Christus nie onderskat nie. Daar ís nog hoop!

❏    Die agtiende eeuse herlewing in die Britse Eilande is welbekend. Deur die prediking van mense soos George Whitefield (1714-1770), John Wesley (1703-1791) en talle ander het die Here 'n moreel verdorwe Engeland binne enkele dekades verander tot 'n land wat vir die volgende twee eeue die geestelike toon aangegee het in die wêreld. Wat sending betref, was hulle by verre op die voorpunt.
    Wat ons nou moet bemoedig, is die feit dat daardie herlewing gekom het ten spyte van verskriklike  samelewingsverrotting voor die tyd.

❏    Na die tydvak van die Puriteine (1560-1662) en 1689 se Act of Toleration (wat 'n einde gemaak het aan die vervolging van evangeliese Christene) het geestelike verval dadelik begin intree in Engeland.
    Soos dikwels, begin die verrotting by die predikante en teoloë. Hulle preek nie meer die evangelie nie, en waarsku teen enthusiasm (niks anders nie as die ywer van Geesvervuldheid).
    Ook wen Deïsme toenemend veld  -  die beskouing dat die Bybel 'n bloot menslike geskrif is, en dat ons niks meer van God kan weet as wat ons uit die natuur rondom ons kan aflei nie. Deïsme aanvaar dus net 'n onpersoonlike eerste oorsprong van alles, en dat die kosmos opgewen is soos 'n wekker, sodat alles bloot natuurlik voortgaan. Die Deïstiese god is daarom onbetrokke by dit wat hier op aarde aangaan  -  'n veraf en onbekende god.
    Soos te verstane het dit mettertyd 'n algehele kerklosheid veroorsaak, en 'n gepaardgaande losbandigheid wat van kwaad tot erger ontaard het.

❏    Binne 40 jaar na die Act of Toleration heers haglike morele toestande  -  byvoorbeeld:

    •    In 'n poging om drankmisbruik te beperk, word 'n verbod geplaas op die invoer van sterk drank. Dit lei dan daartoe dat mense hulle eie brousels begin stook. So ontstaan die sogenaamde Gin Craze, en gou-gou is elke sesde huis in Londen 'n Gin Shop, oftewel 'n sjebien. Beskonkenheid neem epidemiese afmetings aan. Babas word in dronkenskap verwek, gebore en grootgemaak.

    •    Daar ontstaan ook 'n geweldige kloof tussen ryk en arm. Te wyte aan drankmisbruik en luiheid verarm al hoe meer mense. Groot dele van Londen word slums  -  morsig en vol onbeskryflike menslike ellende. Misdaad word 'n deel van elke dag se lewe. Oorvol tronke word donker, verstikkende rioolputte. In 'n poging om misdaad hok te slaan, word soveel soos 160 misdade strafbaar met die dood. Om die twee publieke galgplatforms staan gereeld jillende skares. Bendes voer orals 'n skrikbewind.

    •    Intussen baai 'n skatryk adelstand hulleself in weelde. Perversiteit en sedeloosheid steek die een behoorlikheidsgrens na die ander oor. 'n Sekere dame uit die adelstand maak die spottende opmerking dat die parlement 'n wet moet maak wat die "nie" uit die Tien Gebooie verwyder en dit na die Geloofsbelydenis oorplaas  -  ten einde hierdie dokumente in pas te bring met die gees van die tyd.

❏    Maar! Reeds in 1673 ontstaan daar 'n gebedsgroep in Londen na aanleiding van 'n reeks opwekkingspreke deur 'n Dr. Anthony Horneck. 'n Klompie jongmanne begin vir herlewing bid. Dit word mettertyd 'n beweging  -  bekend as The Societies  –  en teen 1730 is daar ongeveer 100 sulke Societies in Londen en miskien nog 'n honderd daar buite. Hier lê die wortels van die herlewing.
    Dan, in 1737, begin 'n stem onverwags in Engeland soos 'n klok beier. 'n Twee-en-twintigjarige prediker begin in Londen só preek dat geen kerkgebou die skares kan huisves nie. George Whitefield word 'n brandende fakkel vir die eer van God, die waarheid van die Bybel en die reddende krag van die evangelie. En spoedig sluit John en Charles Wesley, asook talle ander, hulle by hom aan. Vir die volgende halfeeu sou 'n vloedgolf van reddende genade oor die Britse Eilande spoel.
    Só sluit Dallimore sy inleidende hoofstuk af: "Herlewing het uitgebreek! Binne enkele jare verander die hele geestesgesteldheid van die Engelse samelewing. Die kerk begin weer lewe. In die harte van tallose mense laat ontspring nuwe godsdienstige oortuigings 'n nuwe ywer vir morele waardes. Algemene gedrag en die publikasiewese word gesuiwer. Naasteliefde begin die tronke hervorm, slawehandel word opgeskort, en publieke skole vir een en almal begin ontstaan."

❏    Laat ons dus nie moedeloos word nie. Onthou die geskiedenis. Nog beter, onthou Koning Jesus! Sy koninkryk moet en sal kom! Sy uitverkorenes moet en sal gered word  -  die nasies ís aan Hom gegee (Ps 2)! Hy moet en sal verheerlik word!
    En laat ons met alle ywer ons plig doen (duidelik in die Woord vir ons uitgespel). Ons is nie onkundig nie; ook nie magteloos nie. Ons het 'n Hoëpriester in die hemel! Ons het vrye toegang tot die troon van genade! Die Heilige Gees woon in ons!

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment