Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.23 - JES 58:13-14 - SONDAGSEËN!


Dis Sondag van Paasnaweek. Vrydag het ons in die besonder gedink aan die kruisiging; vandag aan die opstanding van die Here.

OPSTANDINGSDAG! FEESDAG!

❏    Eintlik is élke Sondag 'n herdenking van Christus se opstanding.
    Só belangrik het die vroeë kerk die opstanding van Christus beskou, dat hulle tipies op die eerste dag van die week (die opstandingsdag) bymekaar gekom het vir gesamentlike aanbidding (1Kor 16:2; Hd 20:7)  -  eerder as op die sewende dag, soos die Jode in terme van die tien gebooie. Dit beteken nie dat hulle die wet in eie hande geneem het nie. Die Here Jesus self het al 'n aanduiding gegee dat dit moet gebeur, nie net deur op die eerste dag van die week op te staan nie, maar ook deur op hierdie dag aan Sy dissipels te verskyn (Jh 20:19, 26) en die Heilige Gees uit te stort (Hd 2:1; Lev 23:15-16).
    Nog meer, die dissipels het begin praat van die "dag van die Here", eerder as van die sabbat.
    Baie duidelik het die apostels die vroeë kerk op hierdie weg gelei. Johannes vind dit dan ook nodig om spesifiek te vermeld dat hy op "die dag van die Here" in aanbidding was toe Christus aan hom verskyn het (Op 1:10).

❏    As ek dit nie mis het nie, dink ek baie mense wat hulleself Christene noem, het 'n al hoe meer traak-my-nie-agtige houding oor Sondag en kerkgang. Dis vir seker 'n godonterende neiging.
    Daarom moet ons weer oor Sondag besin. En die eerste ding wat ons moet vasvat, is die feestelike karakter van hierdie dag. Verloor ons dit, verloor ons iets wesentlik in ons geloofsbelewing. Dis 'n tragedie as dit 'n dag van moets en moenies word  -  langgesig-dag. En as kerkgang 'n plig en selfs 'n pyn word, is iets drasties verkeerd.
    Luister wat sê C.H. Spurgeon in April 1879 vir sy gemeente: "Ek weet dat baie van julle vir julle Sondae leef. Dis asof die dae van die Here vir julle soos die sporte van 'n leer is waarlangs julle die lewenspad loop. Dís wanneer julle jul geestelike kos kry; dís wanneer julle die rus van die Here ervaar. Julle vreugde is oorvloedig as reddende en vrye genade Sondag na Sondag verkondig word." (The full harvest, p.290, vry vertaal).

JESAJA 58
❏    Jes 58:13-14 werp wonderlike lig op die saak waaroor ons praat  -  op die gewigtigheid, maar ook op die kosbaarheid van die dag van die Here.
    In die hoofstuk ontmasker Jesaja die huigelagtigheid van die volk. Hulle lewe in sonde, maar is vroom verby as dit by godsdiens kom. Baie duidelik het hierdie skynheiligheid tydens die Sabbatte hoogty gevier. Dit spreek die Here dan deur Sy profeet in v.13-14 aan. As hulle die voorregte en vreugdes van die sabbat behoorlik wil ervaar, is daar voorwaardes om aan te voldoen.

Voorwaardes vir sabbatsvreugde (v.13)
Net eers twee opmerkings. Eerstens, die OAV is 'n baie goeie letterlike vertaling van die Hebreeus. Tweedens, let daarop dat hier geen sprake is van die bloot seremoniële nie. Nee, dit gaan oor 'n hartsgesteldheid. Elke Nuwe Testamentiese Christen kan dus volledig daarmee identifiseer.

    •    Vers 13a wil hê ons moet verstaan waarvoor die dag gegee is, en dus waarvoor dit níé gegee is nie. Die Hebreeus kom hierop neer: weerhou jouself daarvan om die dag wat ek vir Myself geheilig het, aan te wend vir jou eie plesier. Dit is die Here se dag. Dit gaan nie oor jóú vreugdes en belange nie.

    •    Vers 13b dring aan op die regte hartsinstelling ten opsigte van die dag wat die Here vir Homself geheilig het. Twee dinge word genoem:
    Jy moet jou verlustig in die dag. Jy moet waardering daarvoor hê; dit moet jou vreugde wees.
    Jy moet die dag eer, omdat die Here dit vir Homself afgesonder het. Jy moet dus respek hê vir die dag. Dit moet dit met alle erns bejeen.

    •    Vers 13c onderstreep die noodsaak om die implikasies van bogenoemde prakties uit te leef. Drie dinge word spesifiek genoem:
    Jy moet nie jou gewone gang gaan nie. Dis met ander woorde nie net nóg 'n dag van die week nie; dit moet 'n eiesoortige karakter hê. Moenie dieselfde dinge doen as op die ander ses dae nie. Jy moet "rus" van jou wêreldse verpligtinge en plesiere.
    Jy moet nie die dag aanwend in eie belang en vir plesier nie. Dis 'n dag vir die Here en Sý dinge.
    Selfs ons gesprekke moet die Here eer. Die Hebreeus sê bloot ons moenie ons eie woorde praat nie. Dit impliseer 'n sekere selfdissipline wat jou weerhou van 'n ydele en lawwe gebabbel, en lei tot gesprekke wat opbouend en Godverheerlikend is.

Beloftes vir gehoorsames (v.14).
'n Drieledige belofte en 'n versekering word gegee.

    •    Jy sal vreugde vind in die Here. Jy sal die skoonheid en heerlikheid wat in Sy attribute en werke geopenbaar word, al hoe duideliker sien. Jy sal Sy grootheid, goedheid en heiligheid al hoe meer waardeer. En jy sal in opregte dankbaarheid en liefdestrou daarop reageer.
    Innige en vreugdevolle liefdesgemeenskap tussen die Here en Sy mense, is waaroor dit gaan.

    •    Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde (OAV). Die uitdrukking kom oorspronklik voor in Dt 32:13  -  in die lied van Moses. Dit sinspeel op die oorwinning oor hulle vyande wat die Here aan Sy volk gee. Die Nuwe Testamentiese ekwiwalent is uitdrukkings soos "meer as oorwinnaars" (Rm 8:37) en die feit dat mense in Christus saam met Hom in die hemele sit  -  van waar hulle heers oor die duiwel, die wêreld en die vlees (Ef 2:6).
    Kan jy sien? Getroue onderhouding van die dag van die Here is 'n kragtige genademiddel!

    •    Jy sal die erfdeel van jou vader, Jakob, geniet (OAV). In die Ou Testament sinspeel hierdie uitdrukking veral op die erfenis van die land Kanaän (Ps 105:8-11). In die besonder gaan dit oor welvaart en voorspoed in die land (Ps 144:12-15).
    Die belofte het dus te doen met die praktiese belewing van verlossing. Nuwe Testamenties sou ons kon sê dat dit gaan oor al die voorregte en vreugdes wat die Here aan Sy dissipels belowe.

    •    Hierdie beloftes, indien die voorwaardes nagekom word, staan vaster as die berge: "Ek, die Here, het dit gesê" (NAV). Gehoorsaamheid sal gewis gemeenskap met God, oorwinning oor sonde en verlossingsgenot meebring.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Nuwe Testamentiese kwalifikasies moet ons vertolking van die vierde gebod beheers.
Dit is so dat die Here Jesus en Sy dissipels hulleself baie meer vryhede op die sabbat veroorloof het as wat die Joodse godsdiensleiers kon duld.
    Maar ons moet verstaan dat die skrifgeleerdes nie naastenby die gees van die Ou Testament verteenwoordig het nie. Hulle oortuigings is gevorm deur die Mishnah, 'n opsomming van Joodse mondelinge tradisies en oorleweringe sedert die ballingskap. Hierin het die rabbi's gepoog om die praktiese implikasies van die wet tot in sy fynste besonderhede uit te spel. In die proses is die grens na die belaglike dikwels oorgesteek. Wat die sabbat betref, word nie minder nie as 39 soorte werk verbied. So, byvoorbeeld, is twee naaldwerksteke en die skryf van twee letters as buite perke beskou (terwyl één in elke geval as toelaatbaar beskou is). Selfs die aansteek of blus van 'n vuur, is as oortreding van die gebod beskou.
    Hierteenoor het die Jesus met Sy voorbeeld en lering mense weer teruggeroep na die ware betekenis van die wet. Dáárvan het Hy nie een "letter of letterstrepie" misken nie (Mt 5:17-20). Ons kan dus aanvaar dat Hy 'n lewende vergestalting was van alles wat ons teks wil sê. In elk geval is daar niks daarin wat in stryd is met Nuwe Testamentiese aanbidding in gees en waarheid nie.

2.    Laat ons dus waak teen twee dwalinge.
Enersyds is die versoeking altyd daar om die dag van die Here te gebruik in eiebelang of vir selfbevrediging.
    Andersyds moet ons ten alle koste vermy om, soos die Jode, voorskriftelik te raak met 'n klomp moets en moenies. Sulke wettisisme versmoor die feestelike karakter van die gebod.

3.    Laat ons doelbewus en planmatig die dag van die Here vul met dit waarvoor dit bedoel is.
Dis 'n rusdag. As ons waarlik die ander komponent van die vierde gebod nakom  -  naamlik om vir ses dae toegewyd te werk  -  sal hierdie geleentheid om jou batterye te laai, week na week ervaar word as 'n genadegawe uit die hand van ons Hemelse Vader. Maar dit gaan nie oor leeglê en slegwees nie; dit gaan oor konstruktiewe heropbou. Daar is nie net 'n uitputtende week agter my nie, daar lê ook 'n harde week van roepingsvervulling voor.
    Dis 'n aanbiddingsdag. Wat 'n seën is dit om 'n dag te hê waarop ons, sonder die week se gejaag, rustig in ons binnekamers kan verkeer en saam met geliefde broers en susters die Here kan ontmoet!
    Dis 'n dag vir goeie werke. Meeste Christene is só besig deur die week dat hulle beswaarlik tyd het vir Christelike dienswerk en uitreiking. Dis 'n derde rede waarom ons hierdie dag het. Laat ons dus, soos Jesus, ons ook wy aan goeie werke.

4.    As dit dan nodig is, laat ons ons Sondae met beslistheid reformeer.
Die verantwoordelikheid om hieroor te besin en dan sterk leiding te neem, rus onontkombaar op ouers, veral op die hoofde van huise.
    Dink weer na oor dinge soos: lang reise op 'n Sondag, Sondagkoerante, TV, sport, inkopies, kreunende kostafels wat huisvroue se Sondae opeis en huisgenote laat uitpass vir ure.
    Neem besliste besluite oor jou en jou gesin se bywoning van eredienste. Bywoning van twee dienste op 'n Sondag is nie 'n Bybelse voorskrif nie, maar dis vir seker in lyn met die gees van Jes 58. En bring jou kinders saam. Los hulle by die huis om voor die TV te lê, en jy sal die bittere vrugte pluk!
    Hoor ek iemand sê, ons raak nou wetties? Nee! Ons praat van 'n hartsgesteldheid. Selfdissipline wat vir die regte redes uit 'n hart van toewyding kom, is vir geen oomblik in botsing met die beginsel van Christelike vryheid nie; inteendeel.

5.    Laat ons jaloers waak oor hierdie kosbare kleinood  -  die dag van die Here.
Dis só 'n wonderlike gawe uit die hand van ons Hemelse Vader, dat ons dit met alles in ons vermoë moet bewaar teen die aandrange van die sondige vlees en die God-vyandiggesinde wêreld.
    Onthou Jes 58:13-14 dus. Maak erns met v.13 se voorwaardes vir seën. En begroet die vervulling van v.14 se beloftes met geloofsverwagting.
    En onthou die Here se opstanding. Omhels jubelend die implikasies daarvan! Só het die vroeë Christene mekaar Sondae gegroet: "Die Here het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!"

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment