Saturday, February 16, 2013

E-PREEK No.29 - HD 9:1-9 - WAT 'N BEKERING!

Naas die gebeure rondom die menswording en dood van Jesus Christus, was daar beswaarlik 'n meer rigtinggewende gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis as die bekering van Saulus, oftewel Paulus van Tarsus. Want watter mens, behalwe die Here Jesus, het 'n dieper merk gemaak op die ontwikkeling van die wêreld se denke en historiese ontwikkeling?
    Hierdie bekering is dan seker ook die mees beroemde van alle bekerings. Selfs ongelowiges ken die verhaal. Lukas, die outeur van die boek Handelinge, skryf drie keer uitvoerig daaroor. Hier in ons teks beskryf hy dit self, en twee keer hierna berig hy hoe Paulus in sy redes self daarvan vertel het (Hd 22:1-16; 26:9-18).

'N DIEPER KYK NA HIERDIE BEKERING
Mens hoor dikwels dat mense praat van 'n Damaskuspad-bekering  -  dat jy dit gehad het, of nie gehad het nie. Daarmee word dan gesinspeel op Saulus se dramatiese ommeswaai na Christus toe.

Die bekering van 'n hater van die gemeente
Inderdaad was dit 'n dramatiese bekering. Dink maar aan die Saulus voordat dit gebeur het.
    Voor hierdie hoofstuk verwys Lukas drie maal na Saulus. In 7:58 word gesê dat hy die mense se klere opgepas het toe Stefanus gestenig is. In 8:1 skryf hy dat die jong Fariseër die moord goedgekeur het. En in 8:3 vertel hy van hierdie godsdienstige yweraar se hatige vervolging van die gemeente.
    Lukas se taalgebruik beklemtoon Saulus se bittere en meedoënlose vervolging van Jesus se dissipels. Calvyn sê hy was soos 'n wilde en bloeddorstige ondier.
    Handelinge 8:3 sê dat Saulus die kerk probeer "uitroei" het. In buite-Bybelse Grieks verwys dit na 'n roofdier se uitmekaarskeur van 'n karkas.
    In 9:21 lees ons dat die mense stom verbaas was toe hulle hoor dat die vervolger van die gemeente tot bekering gekom het en die evangelie verkondig. Is dit nie die man wat die Christene wou "uitroei" nie, vra hulle dan. Die woord wat hulle gebruik, sou mens met vermorsel of verwoes kon vertaal. Paulus self gebruik hierdie woord twee keer in Galasiërs as hy sy vervolgingswaansin voor sy bekering beskryf (1:13, 23).
    Paulus het voor sy bekering "dreiging en moord geblaas" (9:1). Ook hierdie uitdrukking sou kon verwys na die gegrom en gesnork van wilde diere.
    G'n wonder nie dat Paulus jare later kon sê dat hy die Christene só gehaat het dat hy "uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg (het), selfs tot in die buitelandse stede (26:11, OAV).
    Waarlik, dramaties was hierdie man se ommekeer gewis. Binne dae het die woedende en wilde wolf 'n lam geword  -  nog meer, 'n herder.

Daar was 'n voorbereidende werk van die Gees.
Het Saulus se bekering regtig so in 'n oogwink plaasgevind soos mense dink?
    Sekerlik is hy in 'n oomblik verander van iemand vol siedende haat, tot 'n gebrokene wat met sy hele hart die Here se wil wou doen.
    Maar moenie dink dat die Here nie vóór die Damaskuspad met Saulus gepraat het nie.

    •    As die apostel in Hd 26 vertel wat met hom gebeur het, sê hy dat, toe hy op die grond val, die Here vir hom gesê het: "Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop" (v.14, OAV). Die beeld praat van 'n skerp voorwerp waarmee 'n wilde dier getem word. Die implikasie is dat die Here reeds vir 'n tyd lank besig was om Saulus in te breek.
    Is daar aanduidings hiervan in die Skrif? Inderdaad! Die Here het Saulus oor 'n tydperk voorberei vir die Damaskuspad.
    Wat was die prikkels waarteen hy geskop het?

    •    Ons kan aanvaar dat Saulus selfs in die tyd wat hy die Christene so gehaat het, met twyfelgedagtes geworstel het. Hy en Jesus was omtrent ewe oud en dis hoogs waarskynlik dat die jong rabbi die Here destyds gesien en gehoor het. Hoe sou hy dan  -  só intelligent en só ingelig oor die Ou Testamentiese Messiaanse profesieë  -  nie soms gewonder het oor die merkwaardige Man van Nasaret nie?

    •    Nog 'n prikkel moes Stefanus se martelaarskap gewees het. Hierdie godvrugtige man se kragtige preek en merkwaardige getuienis móés eenvoudig 'n indruk op die ywerige godsdienstige gemaak het. Het hy nie met sy eie oë gesien hoe Stefanus se gesig voor die Joodse Raad soos dié van 'n engel lyk nie?

    •    Die skerpste prikkel in Saulus se vlees was egter sy eie gewete. Ja, hy kon later skryf dat hy in terme van uiterlike wetsonderhouding onberispelik was (Fl 3:6). Maar hoe jy uiterlik vaar, is één saak; wat in jou binneste aangaan, is iets anders. Daarom beken Paulus in Rm 7:7vv dat dit wat in sy hart aangegaan het, hom gery het. Veral die tiende gebod  -  dié teen sondige begeertes  -  het hom mettertyd van sy verdorwenheid oortuig.
    'n Mens se gewete haal jou uiteindelik in  -  altyd. Niks word kragtiger deur die Heilige Gees in Sy oortuigingswerk gebruik nie.

    •    Wat ons dus moet raaksien, is dat Saulus se Damaskuspad-ervaring nie net 'n skielike bekering was nie, maar ook voorafgegaan is deur 'n lang oortuigingsproses van die Heilige Gees.

In sy bekering was Saulus nie passief nie.
Die Here se genade vir Saulus was nie só dwingend dat sy wil en keuse uitgeskakel was nie.
    Ja, die Here het hom só verneder dat hy op die grond geval het, sê John Stott in sy Romeine-kommentaar, maar Hy het Saulus nie verbrysel nie. Hy het nie van hom 'n robot gemaak nie. Dis nie dat sy denke en wil geen rol gespeel het nie.
    As die Here vir hom vra, "... waarom vervolg jy My?", rig Hy hom tot Saulus se rede en gewete.
    En Saulus was nie só oorweldig dat hy nie kon praat nie. Hy vra immers: "Wie is U, Here?" As die Here dan antwoord: "Ek is Jesus ... Dit is vir My wat jy vervolg", het dit so diep in sy wese ingesny dat hy vir die res van sy lewe 'n onstuitbare yweraar vir Christus se eer, evangelie, koninkryk en kerk was.
    Les bes kan Saulus 'n opdrag uitvoer. Hy kan opstaan en na Damaskus toe stap.

PAULUS SE BEKERING WAS 'N SOEWEREINE WERK VAN DIE HERE
❏    Ten spyte van dit alles, moet mens terselfdertyd onderstreep dat ook hierdie bekering 'n stuk soewereine genade van God was.
    Die hele gebeurtenis is tog onmiskenbaar 'n inisiatief van die Here  -  die lig uit die hemel, die stem, die onweerstaanbare krag. God het besluit dat Saulus se oomblik van heil aangebreek het. En so sou dit onontkombaar wees.

❏    Voorts het Paulus nooit daarvoor moeg geword om in sy latere geskrifte te beklemtoon dat die Here soewerein op sy lewe beslag gelê het nie. Daarom skryf hy in Gl 1:15-16: "Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep." Paulus gaan dan voort om sê dat God Sy Seun aan hom geopenbaar het, sodat hy die evangelie onder die heidennasies sou verkondig.

❏    Paulus se oortuiging dat hy deur soewereine genade gered is, word treffend onderstreep deur sekere uitdrukkings wat hy gebruik.
    In Fl 3:12 skryf hy dat hy "deur Jesus Christus gegryp is" (OAV). Die woord word soms gebruik vir 'n arrestasie. Spesifiek in Paulus se geval het dit ironies gebeur pas voordat hy by Damaskus kon uitkom om die Christene in hegtenis te neem.
    In 2Kor 4:6 vergelyk hy sy bekeringservaring met God se soewereine skeppingswoord: "Laat daar lig skyn uit die duisternis." Só, sê hy, het die Here 'n lig in sy hart laat skyn om hom te verlig met die kennis van die heerlikheid van God. Dit, sê hy dan, is die lig wat van Jesus Christus uitstraal.
    In 1Tm 1:14 skryf hy dat die Here hom oorlaai het met Sy genade en met geloof en liefde. Die beeld wat hy gebruik, sê letterlik dat dat die Here se genade hom oorspoel het soos 'n rivier in vloed.

❏    Stott onthou na aanleiding hiervan in sy kommentaar 'n aantal metafore wat C.S. Lewis in sy outo-biografie (Surprised by Joy) gebruik as hy oor sy eie bekering praat. Lewis skryf dat die Here hom ingekatrol het soos 'n hengelaar 'n vis. Hy het gevoel soos 'n muis wat deur 'n kat gejaag word, of soos 'n jakkals wat deur 'n trop honde ingehaal word. Dit was asof die Heilige Gees hom soos 'n meesterskaakspeler geleidelik in 'n skaakmat posisie ingemaneuvreer het.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Dink 'n oomblik terug aan jou eie bekering.
Die omstandighede en manier van elkeen se bekering tot Christus as Profeet, Priester en Koning, is uniek. Elkeen van ons het sy of haar eie storie.
    Dit was meer of minder dramaties; ons was op verskillende ouderdomme; soms was daar 'n lang en geleidelike aanloop, soms was die stryd gou-gou verby; soms was daar trane van sondeberou, soms is ons gewoon verras deur die vreugde van verlossing.
    Maar daar was ook altyd die gemeenskaplike. Ten minste kan ons dít sê: altyd, altyd was dit 'n bekering tot Jesus Christus. Haal Hom uit die prentjie uit, en jy het per definisie nie bekering nie.

2.    Diegene wat tans nog teen die prikkels skop, moet weet dat hulle ontmoeting met Jesus Christus onontkombaar vir hulle voorlê.
Die Woord van God sê dat elke knie voor Hom sal buig. Mag die Here in Sy goedheid gee dat joune nog in die genadetyd sal buig. Want onthou, miljoene der miljoene se knieë sal eers buig wanneer dit te laat is.
    Ek mag dus nie hierdie geleentheid laat verbygaan sonder om heethoofdige weerstaners van die Heilige Gees op te roep tot bekering nie. Kom nóú na die Here toe, solank jy nog kan. Genade is steeds beskikbaar. En dis gratis  -  selfs vir Christus-haters, soos Saulus van Tarsus!

3.    Julle wat vir onbekeerde dierbares bid, moenie moed verloor nie  -  al vat dit hoe lank!
As die mees onwaarskynlike bekeerling van die eerste eeu soos met 'n oogknip omgedop kon word, wie, maar wie kan Koning Jesus se genade-arrestasie weerstaan?
    En onthou, jou gebede is ingeweef in die uitwerk van God se raadsplan!

4.    Is jy ook vol aanbiddingsverwondering oor ons Koning wat van haters met skuim om die mond, lewenslange liefdesyweraars maak?
Waarlik, vir ons wat deur Sy genade gearresteer is, maak niks méér sin as om Hom met onverdeelde harte lief te hê en te dien nie!

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment